Hou vas aan die hoop wat voorlê
1, 2. Waarom moet die strewe om aan jou hoop vas te hou jou ernstige aandag geniet?
DIE apostel Paulus het geskryf: “Ons behou deel aan Christus as ons enduit volhard in die vertroue waarmee ons begin het” (Hebreërs 3:14, NTP). Hy het ook gepraat van die nodigheid om “vas te hou aan die hoop wat voorlê”.—Hebreërs 6:18.
2 Jy het moontlik onlangs een van Jehovah se Getuies geword en jy is vas oortuig daarvan dat wat jy glo die waarheid is. Of jy is moontlik al dekades lank ’n Christengetuie en meen dat jy stewig op die weg van die waarheid is. Wat ook al die geval, elkeen van ons kan aan mense dink wat ons ken en wat opgehou het om op die weg van die waarheid te wandel, net soos dit in die eerste eeu die geval was (Filippense 3:18; Handelinge 20:30). Party het geleidelik hulle geloof verloor, opgegaan in materiële strewes of voor versoeking geswig en gesondig.
3-5. Hoe kan die boek Hebreërs nuttig wees wat ons hoop betref?
3 Hoe kan ons voorkom dat dit met ons gebeur? Kom ons dink na oor raad in die boek Hebreërs. Die getroue volharding van talle hedendaagse getuies van Jehovah wat deur sulke raad versterk is, sal ons help om te sien hoe gepas dit vir ons tyd is.
4 Hebreërs is geskryf aan Christene wat “deelgenote van die hemelse roeping” was. Hulle is met God se gees gesalf en het die vaste hoop gehad om Christus, die voorloper, hemel toe te volg. Soos jy jou kan voorstel, was hierdie hoop “’n anker van die siel wat veilig en vas is”. Paulus het nietemin die aandag gevestig op die nodigheid om “vas te hou aan die hoop wat voorlê” (Hebreërs 3:1; 6:18-20). As hulle dit moes doen, hoeveel te meer nie die gesalfde oorblyfsel en die “groot menigte” wat hoop om die komende “groot verdrukking” te oorlewe nie.—Openbaring 7:9, 15.
5 In Hebreërs stel Jehovah ons op ons hoede teen gevare soos ‘wegdrywing’, ‘afvalligheid’, ‘traagheid’, ‘onttrekking tot verderf en ‘verontskuldiging’ (Hebreërs 2:1; 6:6, 12; 10:39; 12:25, NW). Die boek bevat goeie raad om ons te help om “dieselfde ywer [te] toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe” en om die soort te wees wat “geloof tot behoud van die lewe” het.—Hebreërs 6:11; 10:39.
‘Nie die soort wat terugdeins nie’
6. Wat het Hebreeuse Christene verduur, maar wat moes hulle nietemin doen?
6 Baie van die Hebreeuse Christene het klaarblyklik vervolging verduur. Hulle het “’n groot lydensworsteling deurstaan” soos deur ’n skouspel in ’n Romeinse teater te word of deur hulself in gevaar te stel deur diegene in die gevangenis te hulp te kom (Hebreërs 10:32-34). Hulle moes hulle nietemin daarop toelê om nie die soort te wees “wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, [maar die soort wat] glo en . . . sal lewe”.—Hebreërs 10:39, NTP.
7. (a) Watter uitwerking kan die moontlikheid van vervolging op ’n Christen hê? (b) Wat moet jy jou afvra?
7 Die gevaar bestaan dus dat ’n Christen vrees vir vervolging kan ontwikkel en dat dit hom sal laat “terugdeins” of ’n kompromis laat aangaan. Wat van ons? Ons het moontlik ’n mate van teenstand ondervind, soos van medeskoliere of medewerknemers. Party is selfs fisies mishandel deur ’n ongelowige huweliksmaat of ouer. Maar in baie lande is dit taamlik buitengewoon vir ’n Getuie om wreed vervolg te word as gevolg van sy geloof. Dit kan hom minder voorbereid maak vir hewige vervolging en meer geneig om ‘terug te deins’ wanneer dit wel kom. Laat ons ons afvra: ‘Sal ek, nadat ek ’n gerieflike lewe gelei het, in die versoeking kom om terug te deins as ek ernstig bedreig word, soos met die verlies van my huis, my werk of toegang tot my gesin, of met tronkstraf en fisiese mishandeling?’
8. Watter raad gee Hebreërs ons oor hoe om vervolging te beskou?
8 Waar Paulus kommentaar gelewer het oor geloof tydens teenspoed het hy ons aangespoor om te kyk hoe Jesus volhard het (Hebreërs 12:2, 3). Toe het Paulus ons daaraan herinner dat indien ons hewige vervolging ondervind, ons dit as ’n vorm van nuttige dissipline moet beskou. Die vervolging kom natuurlik nie van God af nie; hy laat dit net toe. Vervolging kan ons nietemin leer of help om nodige Christelike eienskappe soos volharding, geduld, lojaliteit en vertroue op Jehovah te vergroot.—Hebreërs 12:4-11; Jakobus 1:2-4.
9. (a) Hoe weet ons dat onvolmaakte mense vervolging kan verduur? (b) Wat het in die sestigerjare met sommige susters in ’n kommunistiese land gebeur?
9 Sodat ons nie moet dink dat slegs ’n volmaakte man soos Jesus kan volhard nie, vestig Hebreërs die aandag op onvolmaakte manne en vroue soos ons wat deur geloof volhard het (Hebreërs 11:35-40; 12:1). Die “wolk van getuies” wat deur geloof volhard het, het op ons dag groter geword. In Augustus 1982 het ’n Switserse tydskrif ’n artikel gepubliseer oor een vrou se ondervindinge met Jehovah se Getuies wat ’n paar dekades tevore gevangenes in ’n vrouearbeidskamp in ’n kommunistiese land was. Hier is die kern van party van haar kommentare:
Slegs die groter kerke het gedeeltelike vryheid omdat hulle verkondig wat die Staat toelaat. Maar dit is nie die geval met die kleiner gelowe wat in huise vergader nie. Jehovah se Getuies word die ergste vervolg. Baie Getuies in wie se huise eksemplare van Die Wagtoring gevind is, is tronkvonnisse van 10 jaar opgelê. ’n Mens kan dus begryp waarom die kampowerheid toornig was toe die Getuies op die een of ander manier ’n goeie voorraad lektuur bly ontvang het. Elke gevangene is kaal uitgetrek en deursoek, en hulle klere is deeglik deursoek. Al die gevangenes wat op die landerye gewerk het, is deur gewapende wagte dopgehou en deursoek wanneer hulle die kamp deur die hek binnegekom het. Die lektuur het nietemin verskyn. Dit was asof engele snags oorgevlieg en dit laat val het. Die meeste van die Getuies was jong vroue. Die eerste vonnis sou 5 tot 7 jaar wees, die tweede sou nie minder as 10 jaar wees nie. Die Getuies was die slegste daaraan toe in die kamp. Wanneer meer as drie van hulle bymekaargekom het, is hulle beveel om uitmekaar te gaan.
10. Watter besluit help Hebreërs ons om in verband met vervolging te neem?
10 Hebreërs sê die volgende aangaande die antieke voorbeelde van geloof tydens vervolging: “Die wêreld was hulle nie werd nie.” Maar Jehovah sal sorg dat hulle in die aardse paradys “volmaak” word. Wie kan enigiets meer verlang? Laat ons dus antieke sowel as hedendaagse voorbeelde van geloof ter harte neem. In plaas daarvan om ‘terug te deins en verlore te gaan’, moet ons vasbeslote wees om ‘geloof te toon tot behoud van die lewe’.—Hebreërs 11:38, 40; 10:39. vgl. NTP.
Laat ons nie “wegdrywe” nie
11. Hoe kan die moontlikheid om ‘weg te drywe’ ’n gevaar wees vir iemand wat al geruime tyd ’n Christen is?
11 Soos Hebreërs toon, is die moontlikheid om ‘weg te drywe’ nog ’n gevaar (Hebreërs 2:1). Kyk hoe dit kan gebeur, ’n Persoon—dit kan enigeen van ons wees—het ’n Christen geword en was bewonderenswaardig geesdriftig. Hy het geredelik velddiens gedoen selfs toe hy nog net beperkte Bybelkennis gehad het (Handelinge 3:1-9; 8:39; 13:48, 49). Na ’n aantal jare moes sy opgewondenheid verander het in vurige ywer en diepe toewyding. Het dit? Beskou hy die Christelike bediening as ’n manier om sy liefde vir God te bewys en ander te help soos hy self gehelp is? Of het dit sleurwerk, ’n las, geword? As hy kinders het, spoor hy hulle gereeld en geesdriftig aan om voltydse bedienaars te word? Of meld hy dit net terloops en met minder oortuiging as wanneer hy praat oor die verkryging van hoër geleerdheid, ’n goed besoldigde betrekking of ’n spoghuis?—Openbaring 2:4.
12. (a) Wat spoor Hebreërs ons aan om te doen sodat ons nie “wegdrywe” nie? (b) Watter vrae kan ons stel om te bepaal hoeveel ag ons op die Woord slaan?
12 Een stap om te voorkom dat ons “wegdrywe”, is om ‘des te meer ag te gee op wat ons gehoor het’ (Hebreërs 2:1). Party Hebreeuse Christene het dit nie gedoen nie. Nadat hulle “die begin van die prediking aangaande Christus” aangeneem het, het hulle nie ‘na die rypheid voortgegaan’ nie. Toe hulle ‘leraars behoort te gewees het’, was hulle nog besig met die eerste beginsels (Hebreërs 5:12-6:2). Wat van ons? “Dryf” ons maar net saam of maak ons vordering deur aandag te skenk aan persoonlike studie? Probeer ons om elke dag die Bybel te lees? Bestudeer ons Christelike publikasies met ware belangstelling en gesels ons selfs met ander oor die nuwe dinge wat ons leer? Help ons ons kinders om verder as ‘die melk van die Woord’ te vorder? Kan hulle die waarheid oor die siel, die opstanding, die Drie-eenheid, die paradysaarde, ensovoorts uit die Bybel verduidelik? Doen hulle dit in die velddiens, of bly hulle op verlede jaar se vlak?—1 Petrus 3:15.
13. Watter voorbeeld het ons gevange susters vir ons gestel op die gebied van studie, en wat moet dit ons aanspoor om te doen?
13 Aangaande gevange Getuies het die artikel gesê:
In die bietjie vrye tyd wat hulle gehad het, het hulle hulle daarop toegelê om Bybelpassasies uit die hoof te leer. Hulle het hulle ook ingespan om vreemde tale, veral Engels, Frans en Duits, te leer. Die lektuur wat hulle ontvang het, was soms in hierdie tale en diegene wat daardie tale geleer het, kon gevolglik die materiaal vir die ander susters vertaal.
Min van ons word verplig om soos hulle lang ure op ’n klein dieet te werk. Gebruik ons egter ons vrye tyd net so vlytig om “meer ag [te] gee op wat ons gehoor het”?
Moenie “afvallig” word nie
14. Wat kan gebeur selfs met persone wat al lank Christene is?
14 Nadat Hebreërs ons aangespoor het om voortdurend vordering te maak, waarsku dit dat diegene “wat eenmaal verlig geword het” “afvallig” kan word, moontlik in so ’n mate dat hulle nie weer tot bekering kan kom nie (Hebreërs 6:4-8). Ja, Christene wat God lank gedien het, selfs gesalfdes wat “die Heilige Gees deelagtig geword het”, kan deur iets aanlokliks in die huidige stelsel getrek word.
15. Hoe het party afvallig geword in verband met seks en sakebedrywighede?
15 ’n Aantal het afvallig geword weens die begeerte van die vlees of die begeerte na rykdom (1 Johannes 2:16). Die geslagsdrang speel natuurlik ’n rol wanneer jongmense hulle aan voorhuwelikse omgang skuldig maak. Maar beskou ’n ander aspek. Party getroudes het moeg geword vir hulle huweliksmaats en het iemand anders ontmoet wat aantrekliker lyk, interessanter gesels of suksesvoller in hierdie wêreld is. Ongelukkig het dit tot egskeidings en onsedelike huwelike gelei. Ander het “afvallig geword” weens materiële strewes, sodat hulle betrokke geraak het by sakegebruike wat duidelik oneerlik is of wat die regering se lisensie- en belastingvereistes ignoreer (Mattheüs 22:21). Of hulle was ondersteuners van piramidale geldelike ondernemings of groot geldmaakskemas wat mense in die versoeking stel om hulle broers hebsugtig uit te buit. (Vergelyk Handelinge 20:33; 2 Thessalonicense 3:10, 11.) Hierdie strewes het nie alleen dikwels Koninkryksbelange oorskadu nie, maar het soms gelei tot kwade gevoelens en twis, indien nie aanklagte van bedrog nie. Die Bybel is waar bewys: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke.”—1 Timotheüs 6:9.
16. Watter goeie voorbeeld het die gevange susters gestel in die wyse waarop hulle versoekings weerstaan het?
16 As ons nederig erken dat ons nie so sterk is dat ons nie kan val nie, moet ons vasbeslote wees om nie te swig voor die eerste gewaarwording van versoeking en sonde nie (Romeine 12:3; 1 Korinthiërs 10:12). Die susters in die arbeidskamp is vir ons ’n goeie voorbeeld:
Party van hulle is een-een na ’n groot stad geneem waar daar winkels, bioskope en ander vermaak was. Twee lede van die geheime polisie het byvoorbeeld ’n suster na ’n winkel met ’n groot verskeidenheid voedsel op die rakke geneem. Hulle het vir haar gesê: ‘Kies wat jy wil hê.’ Sy het gesê dat sy niks nodig het nie. Dit was verskriklik om rakke vol vars brood en terte te wys vir ’n uitgeteerde persoon wat jare lank min gehad het om te eet. Soortgelyke versoekings is by die afdelingswinkels en bioskope op die proef gestel. Hoewel hulle haar ’n paar weke lank daar gehou het en haar haar vryheid beloof het indien sy van haar geloof afstand sou doen, het niks gehelp nie. Net een suster het ’n kompromis aangegaan. Maande later het sy die kamp besoek. Sy het gewig aangesit en was spoggerig geklee. Sy het haar voormalige susters drie uur lank toegespreek, maar hulle het haar nie eens gegroet nie. Die geheime polisie het klaarblyklik gedink dat dit ’n baie slim plan was en dat die susters sou toustaan om hulle geloof te verloën. Dit het die teenoorgestelde uitwerking gehad.
17. Hoe moet ons voel oor versoekings waarvoor ons te staan kom?
17 Meen jy dat jy vasberade sou wees indien jy voor sulke versoekings te staan gekom het? Maar wat van die versoekings waarvoor jy wel te staan kom? Paulus het geskryf: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Hebreërs 3:12, 13). Om nie afvallig te word nie, moet ons op “vandag” konsentreer.
Toon “vandag” geloof
18. Waarom het die Israeliete nie in God se rus ingegaan nie?
18 Paulus het sy kommentaar oor “vandag” gebaseer op ’n aanhaling uit Psalm 95:7-11 (Hebreërs 3:7-11). Soos daardie gedeelte meld, het die Israeliete hulle hart in die dae van Moses verhard. Nadat die Israeliete Josua en Kaleb se verslag oor die Beloofde Land gehoor het, het hulle ’n gebrek aan geloof geopenbaar (Numeri 13:17-14:38). Al kon die Israeliete aldaar vrede en seëninge gedurende God se voortdurende rusdag geniet, het hulle, weens verharde harte en ongeloof, geweier om in die land in te gaan en daar te woon. God het hulle dus 40 jaar lank in die woestyn laat swerf.—Hebreërs 3:17-19.
19. Wanneer en hoe kan ons in Jehovah se rus ingaan?
19 God se groot Sabbatdag, of rusdag, duur voort (Genesis 1:31-2:3). Paulus het geskryf dat “die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou” (Hebreërs 4:1, 9). Ons Christene kan gevolglik nou in daardie “rus” ingaan of daar bly. Hoe? Deur geloof te beoefen, nie in die Josua van lank gelede nie, maar in die Grotere Josua, ons leier Jesus. Ons moet ook werke van ongeloof staak, soos dié wat gedoen word deur mense wat nie waarlik glo dat ’n Nuwe Orde ooit gaan kom nie. Hulle lewens word gebou om ontspanning of plesier. Hulle wil “iemand” wees deur ’n posisie of ’n titel te verkry. Of hulle lewe volgens die filosofie dat ’n mens ’n “gawe” persoon moet wees.
20, 21. (a) Watter werke moet ons vermy? (b) Watter goeie werk moet ons doen, soos toegelig deur die gevange susters?
20 As ons glo in Jesus en in die dinge wat vir God se volk voorlê, moet ons dit deur ons dade toon. Paulus het geskryf: “Wie in [God se] rus ingegaan het, rus ook self van sy werke” (Hebreërs 4:10). In plaas van werke van ongeloof of werke van selfregverdiging, moet ons werke hê wat ons geloof weerspieël.
21 ’n Belangrike Christelike werk is om oor Jehovah God en sy Seun te praat. Aangaande Jesus het Paulus vermaan: “Laat ons die belydenis vashou” (Hebreërs 4:14). Ons kan en moet dit natuurlik tydens Christenvergaderinge doen wanneer ons daar ons hoop in die openbaar bely (Hebreërs 10:23-25). Maar daardie openbare “belydenis” moet die belydenis van ons opvattings en verwagtinge aan buitestaanders insluit. Ons moet ons inderdaad gedronge voel om “’n lof offer” te bring, “dit is die vrug van die lippe wat [God se] Naam bely” (Hebreërs 13:15; 1 Korinthiërs 9:16). Die skryfster van die artikel wat vroeër gemeld is, vertel van ’n gesprek met een suster:
Ek het gesê dat die owerheid julle almal in die tronk stop, nie vanweë julle opvattings nie, maar omdat julle vir ander preek. As julle alleen tuis sou sit en saggies bid, sou niemand weet nie. Sy het geantwoord: ‘Dit is waar, maar ons staan onder verpligting om met ander te praat en nuwe broers en susters te werf. Ons kan nie egosentries wees en net vir ons eie lewe op aarde gedurende die millennium voorberei nie. Almal moet weet hoe die lewe dan sal wees.’
22. Waarvan het Hebreërs jou oortuig?
22 Jy kan sien dat een van Hebreërs se hoofgedagtes is dat ons ons moet “beywer om in te gaan in [God se] rus, sodat niemand in . . . ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:11). Ons kan die innige genoegdoening smaak om nou in daardie rus te wees, asook die vaste hoop om steeds daarin te wees wanneer almal op aarde God aanbid. Daar bestaan geen twyfel oor Jehovah se gewilligheid om diegene wat deur geloof en gehoorsaamheid nou in sy rus ingaan te seën en te bewaar nie. Hy is “’n beloner . . . van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Indien daar enige twyfel bestaan, is dit oor ons. Maar daar hoef selfs nie oor ons twyfel te bestaan nie. Deur ons geloof en volharding, en met God se hulp, kan ons ‘vashou aan die hoop wat voorlê’.—Hebreërs 6:18.
Het jy baat gevind?
◻ Watter besondere raad of les het Hebreërs vir jou bevat?
◻ Hoe kan jy baat vind by die voorbeeld van sekere susters wat opgesluit is?
◻ Wat spoor Hebreërs 2:1 jou aan om te doen sodat jy nie wegdrywe nie?
◻ Hoe kan jy in God se rus ingaan?
[Lokteks op bladsy 24]
Baie Getuies in wie se huise eksemplare van “Die Wagtoring” gevind is, is tronkvonnisse van 10 jaar opgelê
[Lokteks op bladsy 25]
Die Getuies was die slegste daaraan toe in die kamp. Wanneer meer as drie van hulle bymekaargekom het, is hulle beveel om uitmekaar te gaan
[Prent op bladsy 26]
Die Israeliete het Josua en Kaleb se verslag gehoor, maar ’n gebrek aan geloof getoon. Hulle kon dus nie God se rus in die Beloofde Land ingaan nie