Hoe hulle krag bo die normale gevind het
’n STERFGEVAL in ’n gesin is ’n pynlike ervaring. Wanneer die oorledene ’n kind was, is dit selfs nog erger. Maar gestel dat jy, na die ontydige dood van jou kind, van strafbare nalatigheid beskuldig word. Gestel dat mense jou ’n moordenaar noem, jou werkgewer jou afdank en jou bure teen jou gekant is. Hoe sal jy voel? Wat sal jy doen? Dit sal voorwaar ’n tyd wees wanneer jy krag bo die normale nodig het.
’n Onverwagte krisis
Dit was die ondervinding van Dennis en Bernadette Cyrenne in ’n myndorpie in noordelike Ontario, Kanada. Dit het begin toe hulle twaalfjarige dogter, Sara, skielik siek geword het as gevolg van ’n seldsame bloedkwaal. Die dokter by die plaaslike hospitaal het bloedoortappings aanbeveel. As gevolg van hulle eerbied vir God se wet in verband met lewe en bloed, en as gevolg van mediese informasie wat hulle oor die jare verkry het, het hulle teen die behandeling besluit.—Genesis 9:4; Handelinge 15:28, 29.
Omdat hulle gehoop het om ander behandeling te verkry, het hulle 400 kilometer met Sara na Thunder Bay gejaag, slegs om dieselfde reaksie by die dokters aldaar te kry. Hulle het Sara uit die hospitaal geneem en met hulle soektog voortgegaan. Agt uur later het Sara se stryd om aan die lewe te bly, geëindig. Vir haar ouers was dit slegs die begin.
Die druk neem toe
Hulle is dadelik aangekla van onverskilligheid omdat hulle hulle dogter uit die hospitaal ontvoer het, asook van strafbare nalatigheid in verband met haar dood. Hulle moes huis toe gaan en wag totdat die saak voorkom.
Tuis het die nuus van Sara se dood en die aanklagte gou in die klein gemeenskap die ronde gedoen. Foto’s en berigte het in die koerante verskyn, en iedereen het gepraat van die ‘verskriklike dinge’ wat hulle gedoen het. Die lewe is baie moeilik gemaak vir die Cyrenne’s.
Binne twee weke het ’n groep vroue van die dorp ’n petisie opgetrek waarin hulle daarop aangedring het dat Bernadette se werkgewer haar ontslaan, anders sou hulle sy winkel boikot. Sy het gevolglik haar werk verloor. Net waar hulle gegaan het, het hulle mense teëgekom wat sleg van hulle gepraat het, hulle moordenaars genoem het, vir hulle gesê het dat hulle nie welkom was nie en dat hulle uit die dorp verdryf behoort te word.
Hoe sou jy in hulle posisie gevoel het? Na wie kan jy jou wend om hulp wanneer almal skynbaar teen jou gekant is? “Dit was nie maklik om met jou kop omhoog op straat te verskyn nie”, het Bernadette gesê. “Maar ons het dit gedoen, omdat ons geweet het dat ons die regte ding gedoen het en dat Jehovah God aan ons kant was.” Waarom het sy dit gesê? Wat het hulle so laat voel?
Bronne van krag
Die dinge wat hulle uit die Bybel geleer het, het uit die staanspoor by hulle opgekom en hulle gehelp om hulle besluite te neem. Dennis het later vertel dat die teks in Jakobus 2:24 voortdurend by die hospitaal by hom opgekom het. Dit sê: “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?” Dit het hom gehelp om te besef dat hoewel hy geweet het wat die Bybel oor ’n sekere saak sê, dit die toepassing daarvan was wat belangrik is. Daar het dus nooit enige twyfel by hom bestaan oor wat hy moes doen nie.
Sy vrou, Bernadette, het klaarblyklik dieselfde beskouing gehad, want toe hy vir haar van sy besluit vertel het, het sy sonder aarseling geantwoord: “Maak so, ek sal jou ondersteun.” Dit was voorwaar vir hom baie bemoedigend en gerusstellend.
Intussen het die liefde, gebede en ondersteuning van die Christene in Thunder Bay hulle laat voel dat hulle “nooit alleen was nie”, al was hulle ver van die huis af. “Die broers het ons baie liefdevol behandel”, het Dennis gesê. “Hulle het aangebied om ons finansieel en geestelik te help, en ons kon die uitwerking van hulle gebede waarneem.”
Een van die persone wat hulle gehelp het, was Peter Cramb, ’n ouere man van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies. Hy was byderhand van die oomblik dat die Cyrenne’s by die hospitaal opgedaag het en het hulle tot aan die einde bygestaan. Hoewel hy deeglik besef het dat hy daardeur in ’n hofsaak betrokke kon raak, het hy hulle bygestaan. Die gevolg was dat hy ook van kriminele oortredings aangekla is.
Terwyl hulle die verhoor afgewag het, was Peter en die Cyrenne’s onder baie druk en baie benoud. Hoewel hulle geweet het dat Jesus vir sy dissipels beloof het dat daar vir hulle gegee sou word wat hulle moes spreek en dat hulle hulle nie moes kwel nie, het die Cyrenne’s besef dat dit nie beteken het dat hulle maar net kon stilsit en wag nie (Markus 13:11). Inteendeel, meer as ’n jaar lank het hulle alles in verband met hulle besluit bestudeer en weer bestudeer. Die bemoediging van die Skrifte, veral tekste soos Hebreërs 13:6 en Psalm 84:12, het hulle geloof gedurende hierdie tydperk versterk.
Lonende ondervindinge
Hoewel baie mense in die gemeenskap negatief gereageer het, was party oënskynlik nare ervarings op die ou end baie bemoedigend en lonend. Bernadette het byvoorbeeld vertel van ’n vrou wat in ’n plaaslike restaurant gewerk het. “Sy het haar dit ten doel gestel om kliphard in die winkel te praat en my ’n moordenares te noem en te sê dat ek deur en deur sleg is en dat niemand van my hou nie”, vertel Bernadette. “Daar was niks wat sy nie gesê het nie.” Omstreeks hierdie tyd is die vrou se agttienjarige seun in hegtenis geneem, verhoor en tronk toe gestuur omdat hy ’n polisieman se motor opgeblaas het.
Eendag het Bernadette en die reisende opsiener se vrou, Helen, tydens hulle huisbesoek by hierdie vrou se huis uitgekom. Bernadette het gedink: “As ek hierdie vrou in die oë kan kyk, sal ek enigiemand kan aandurf.” Hulle het dus aan die deur geklop.
“Nee, ek stel nie belang nie”, het die vrou neerbuigend gesê toe sy sien wie haar twee besoeksters is. Sy het op die punt gestaan om die deur toe te maak.
Maar Bernadette, wat vasbeslote was om die saak nie daar te laat nie, het taktvol geantwoord: “Mev. M--, ek het baie aan jou gedink en ek is jammer oor al die probleme wat jy gehad het.”
“Werklik?” het die vrou verbaas geantwoord. “Kom gerus binne.”
Die volgende twintig minute lank het sy haar hart uitgestort en kon sy nie ophou praat oor haar seun nie. Helen, wat die situasie opgesom het, het haar in die rede geval en kalm gesê: “Mev. M--, jy het nog jou seun, maar sy het nie haar dogter nie.”
Daarop het hulle begin gesels oor wat die Bybel oor die dood en die opstanding sê, en hoe dit Bernadette gehelp het om die druk en ontbering te verduur. Dit, tesame met die onselfsugtige liefde wat aan die vrou betoon is ondanks alles wat sy gedoen het, het haar gesindheid heeltemal laat verander.
Later, ten tye van die Cyrenne-verhoor, het die vrou na die hof gekom. Dit was dieselfde hof waar haar seun skuldig bevind is. Ten tye van haar seun se verhoor was net sy en haar man aanwesig. Maar hierdie keer was die hof gevul met 260 mense, almal baie besorg oor die Cyrenne’s. Dit was vir haar ’n groot getuienis. Trouens, sy was so geroer dat sy Bernadette omhels het.
Dennis het vertel hoedat Jehovah hulle op onverwagte maniere bemoedig het. Gedurende die maande voor die verhoor het hy dikwels gedink oor wat met sy werk en sy huis sou gebeur indien hy tronk toe moes gaan, want hy het sy huis deur die mynmaatskappy gekoop. Toe hy dit met sy bestuurder bespreek het, het die bestuurder net gesê: “Moet jou nie daaroor bekommer nie, Dennis. Moenie eens aan so iets dink nie. Mense soos jy gaan nie tronk toe nie.”
Een van sy jong medewerknemers het gesê dat dit baie moeilik moes wees wanneer mense so onvriendelik is. “Party het selfs gesê dat hulle jou sal skiet as hulle die kans kry”, het hy bygevoeg. Na ’n kort verduideliking het Dennis voorgestel dat die medewerknemer Jesaja 50:7 en 9 lees wanneer hy by die huis kom. Die gevolg was dat hierdie jong man en sy gesin ’n gereelde Bybelstudie aanvaar het en begin het om Christenvergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal by te woon.
Hoewel Peter Cramb al sowat 25 jaar lank ’n Getuie is, het hy gesê dat die ondervinding hom geleer het wat dit beteken om op Jehovah te vertrou. Dit het ware betekenis gegee aan die psalmis se woorde: “Ek roep die HERE aan in my benoudheid, en Hy verhoor my. o HERE, red my siel van die valse lippe, van die bedrieglike tong!”—Psalm 120:1, 2.
Die uitspraak
Drie maande na die verhoor het die streekshof in Thunder Bay uitspraak gelewer in die saak. Al drie verweerdes is vrygespreek van die kriminele aanklagte. Hoewel die regter nie saamgestem het met hulle Bybelse beskouing in verband met bloed nie, het hy erken dat hulle besluit “nie die gevolg van wispelturigheid of dogmatisme was nie, maar op ware geloof gebaseer was”.
Die regter het ook bevind dat die honende houding van party dorpsbewoner ongeregverdig was. Hy het gesê: “Bernadette Cyrenne . . . lyk vir my na ’n opregte, liefdevolle en medelydende moeder met ’n gesonde en beskaafde gesinslewe. Trouens, die gesinslewe van die Cyrenne-gesin is van so ’n aard dat elke Christengesin dit gerus kan navolg.”
Hierdie ondervinding het die Cyrenne’s en Peter net verder daarvan oortuig dat Jehovah “die goeie nie [sal] onthou aan die wat in opregtheid wandel nie” (Psalm 84:12). Hulle het persoonlik God se liefde, krag en wysheid in aksie gesien deur die hoop en bemoediging van sy Woord, die Bybel, en die onvermoeide steun van hulle mede-Christene. Hierdie dinge, meer as enigiets anders, was die bron van hulle krag bo die normale.—2 Korinthiërs 4:7, NW.