Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 6/1 bl. 14-18
  • Jerusalem—’n rede “om bly te wees”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jerusalem—’n rede “om bly te wees”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Antieke Jerusalem
  • Jerusalem van konings Dawid en Salomo
  • Vernietiging en herstelling
  • Jerusalem se huis woes gelaat
  • Die afval afgeskadu
  • Die Koninkryk word herstel
  • Jerusalem—“die stad van die groot Koning”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Aardse Jerusalem in teenstelling met hemelse Jerusalem
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • “Juig vir ewig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • “Die Israel van God” en die einde van die Heidense Tye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 6/1 bl. 14-18

Jerusalem—’n rede “om bly te wees”

“Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees. En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk.”—Jesaja 65:17-19.

1. (a) Waarom moet die woorde van Jesaja 65:17-19 vir God se volk aangrypend wees? (b) Watter vrae word egter oor Jerusalem geopper?

HOE aangrypend tog is hierdie woorde wat die Soewereine Heer Jehovah deur sy profeet gespreek het! Dit spreek van matelose vreugde. Wil jy in daardie vreugde deel? Ongetwyfeld! Maar jy vra dalk: Wat is die Jerusalem waarvan hier gepraat word? Hou dit enigsins verband met die hedendaagse stad—’n sentrum van gewelddadige godsdienstige en politieke geskille? Sal “Jerusalem” ooit ’n rol vervul wat ooreenkom met die betekenis van sy naam—“Besitting [of, Grondslag] van dubbele vrede”? Watter verband bestaan daar tussen die “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” en die Jerusalem van hierdie profesie? Ons sal sien.

Antieke Jerusalem

2. Wat was die vroeë geskiedenis van die plek waar Jerusalem geleë is?

2 Die plek waar Jerusalem geleë is, is lank deur Jehovah begunstig. Dit was ongetwyfeld hier dat koning-priester Melgisedek Abraham meer as 3 900 jaar gelede geseën het. Hy het Jehovah ook geseën as “die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde” (Genesis 14:18, 19). Maar mettertyd het daardie bergstad, Salem, ’n vesting van die demon-aanbiddende Jebusiete geword.

3. Wat word gedurende en ná Josua se tyd oor Jerusalem gesê?

3 Meer as 400 jaar het verstryk, en in Josua hoofstuk 10 vind ons die eerste vermelding van “Jerusalem” in die Bybel. Ons lees daar hoe koning Adoni-Sedek van Jerusalem ’n beroep op vier naburige konings gedoen het om saam met hom teen Israel te gaan veg. Maar Jehovah het vir Israel geveg. Selfs die son en die maan het stilgestaan sodat die Kanaäniete heeltemal verslaan kon word. Die vyf konings is om die lewe gebring. Maar dit sê nie dat Josua Jerusalem ingeneem het nie. Trouens, die verslag sê: “Maar die kinders van Juda [wat die gebied geërf het] kon die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, nie verdryf nie.”—Josua 10:1-27; 15:63; Rigters 1:21.

Jerusalem van konings Dawid en Salomo

4. Hoe is Jerusalem in die dae van Dawid en Salomo gesien?

4 Sowat 400 jaar later het Dawid koning oor die hele Israel geword. In die jaar 1070 v.G.J. het “Dawid . . . die bergvesting Sion ingeneem, dit is die stad van Dawid”, in Jerusalem. Daar op die berg Sion het hy as Jehovah se gesalfde koning geheers. Sy seun, Salomo, het ook “op die troon van die HERE gaan sit as koning”. Gedurende sy vrederyk het Salomo ’n glorieryke tempel op die berg Moria in Jerusalem gebou. Hierdie tempel het die middelpunt van die aanbidding van Jehovah en van onderrigting uit Sy woord en Wet geword.—1 Kronieke 11:5; 29:23; 2 Kronieke 7:12-16.

5. Hoe beskryf die boek Psalms Jerusalem en sy “groot Koning”?

5 Baie van die psalms prys Sion en Jerusalem se skoonheid. Die seuns van Korag het in sang daarna verwys as “die stad van onse God, sy heilige berg”. Ja, “skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning [Jehovah God]!” Dawid self het dit soos volg beskryf: “Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem! Jerusalem wat gebou is soos ’n stad wat goed saamgevoeg is, waarheen die stamme optrek, die stamme van die Here—’n voorskrif vir Israel!—om die Naam van die HERE te loof.” Daar is gesê dat hierdie “groot Koning” “in Jerusalem woon” en die liefdevolle Beskermer van sy mense is. “Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid.”—Psalm 48:2, 3; 122:2-4; 135:21; 125:1, 2.

Vernietiging en herstelling

6. (a) Waarvan het Jerusalem ’n simbool geword? (b) Watter oordeel is aan Jerusalem voltrek, en waarom?

6 Jerusalem en die berg Sion het later heel gepas ’n simbool van die nasie Israel en sy mense geword. Maar in minder as 500 jaar het daardie volk afvallig geword en het goddelose konings “Jerusalem met onskuldige bloed gevul” (2 Konings 24:4). Hulle het geweier om ag te slaan op die waarskuwing van God se profete, sodat die Soewereine Heer Jehovah uiteindelik oordeel oor Sedekia, die laaste koning wat in Jerusalem geregeer het, uitgespreek het deur te sê: “Die kroon moet af! . . . Puinhoop, puinhoop, puinhoop sal Ek dit maak. Ook dit sal nie bly nie—totdat Hy kom wat daarop reg het, en aan Hom sal Ek dit gee” (Esegiel 21:26, 27). Nebukadnesar van Babilon het Jerusalem en sy tempel in 607 v.G.J. vernietig en die oorlewendes na Babilon weggevoer.

7. (a) Watter herstelling het plaasgevind, en waarom was dit verbasend? (b) Wat was toe anders omtrent Jerusalem, maar wat het die herstelling moontlik gemaak?

7 Maar Jehovah se profete het ’n glorieryke herstelling van Jerusalem voorspel, en Jeremia het selfs gesê dat dit aan die einde van 70 jaar sou plaasvind (Jesaja 44:24-45:7; Jeremia 25:11, 12; 29:10). Verbasend genoeg, en ook ter vervulling van Jehovah se profesie deur Jesaja, is Babilon omvergewerp en het die veroweraar, koning Kores van Persië, ’n bevel uitgevaardig wat Godvresende Jode in staat gestel het om terug te keer en Jehovah se aanbidding presies op die voorspelde tyd—in 537 v.G.J.—in Jerusalem te herstel. “Die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God” was weer eens in Juda en Jerusalem te sien, net soos Jesaja voorspel het. Hierdie keer het geen koning in Jerusalem geregeer nie. Maar Jehovah het weer eens daardie stad begunstig omdat sy naam daar geplaas is en vanweë die getrouheid van ’n oorblyfsel van sy volk. Dit het ook wonderliker dinge in die toekoms afgeskadu. Die stad is herbou en dit het die voorspelde verskyning van die Messias aldaar moontlik gemaak.—Jesaja 35:2; 62:1-7.

Jerusalem se huis woes gelaat

8. (a) Waarom het Jerusalem nie die Messias verwelkom nie? (b) Watter profesie van Jesus is vir Jerusalem vervul, en hoe?

8 Meer as 500 jaar na daardie herstelling het die Messias homself inderdaad vir die Jode in Jerusalem aangebied. Dit het ook presies op Jehovah se vasgestelde tyd, in 33 G.J., plaasgevind ter vervulling van Daniël se profesie in hoofstuk 9, verse 24-27. Maar het Jerusalem die Messias verwelkom? Nee, want Jerusalem se verwagtinge was nou polities van aard. Dit het afvallig geword van die leerstellings van Jehovah se Woord, en die heersers van die Jode het die onvergeeflike misdaad gepleeg om die Seun van God om die lewe te bring! Net drie dae voordat hy wreed aan ’n folterpaal genael is, het die Messias, Jesus Christus, vir daardie volk gesê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Mattheüs 23:37, 38). Aardse Jerusalem is in daardie jaar, 33 G.J., deur Jehovah veroordeel en verwerp. In 70 G.J. het die Romeinse leërs Jerusalem en die meeste van sy mense uitgewis en is die tempel, saam met die geslagsregisters en ander verslae in verband met die Joodse stelsel, vernietig.

9. Het aardse Jerusalem die betekenis van sy nageleef?

9 Het die aardse, herboude Jerusalem sedertdien God se seën geniet? Sy onstuimige geskiedenis van die afgelope 1 900 jaar verstrek die antwoord. En Jerusalem is vandag nog ’n godsdienstig verdeelde stad. Geen “besitting van dubbele vrede”, geen heerlikheid van Jehovah, kan daar gevind word nie. Die aardse Jerusalem speel nie meer ’n rol in sy goddelike voorneme nie.

Die afval afgeskadu

10. (a) Wat beeld afvallige Jerusalem goed af? (b) Hoe kan Mattheüs 7:20 op hierdie hedendaagse “Jerusalem” toegepas word?

10 Die Jerusalem wat twee keer afvallig geword het, en wat Jehovah gestraf het deur eers die Babiloniese invallers en later die Romeinse legioene daarteen te laat opruk, beeld ’n ander afvallige stelsel goed af—die georganiseerde godsdiens van die valse Christendom. Net soos die huigelagtige heersers van Jerusalem lippehulde aan Jehovah se Wet gebring het, beweer die geestelikes van die Christendom dat hulle namens die God van die Bybel spreek. Maar Jesus Christus het gesê: “So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Mattheüs 7:20). En watter soort “vrugte” het die hedendaagse Christendom voortgebring? Het hulle enige “Grondslag van dubbele vrede” voorsien? Nee. Die vrug was eerder twee verskriklike wêreldoorloë, wat albei in die ryk van die valse Christendom uitgebreek het en gevoer is met die seën van die geestelikes aan albei kante. Die profetiese woorde van Jehovah aan afvallige Jerusalem is selfs meer van toepassing op die leiers van die godsdienstige Christendom: “Ook is aan jou some die bloed gevind van die siele van onskuldige armes . . . by hierdie almal.”—Jeremia 2:34.

11. Hoe het die valse Christendom Jesus se woorde in Mattheüs 24:11, 12 en Markus 7:6-8 vervul?

11 Dit is in die hedendaagse valse Christendom dat ons ’n buitegewoon groot oes onsedelikheid, egskeidings, gebroke gesinne, dwelmmisbruik en allerhande misdade vind. Die Christendom se godsdiens was magteloos om die vermeerdering van ongeregtigheid te stuit (Mattheüs 24:11, 12). Hoe goed is Jesus se woorde tog van toepassing op die geestelikes daarvan! Hy het gesê: “Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas.” Op die valse Christendom, die hedendaagse afvallige “Jerusalem”, en op alle ander “anti-christe”, wag daar die “verdrukking” van God by die openbaring van die Here Jesus Christus uit die hemel om wraak uit te oefen op ongehoorsame persone.—Markus 7:6-8; 1 Johannes 2:18, 19; 2 Thessalonicense 1:6-9.

Die Koninkryk word herstel

12. Watter tydperk van ‘vertrapping’ is in Lukas 21:24 voorspel?

12 Maar het Jesus dan nie ’n herstelling van aardse Jerusalem voorspel toe hy gesê het nie: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die [vasgestelde] tye van die nasies vervul is”? (Lukas 21:24, vgl. NW). Jerusalem is weliswaar in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs vertrap, en ondanks die heerlikheid van ’n herstelling het geen koning uit Dawid se geslag ooit weer in daardie stad geregeer nie. En destyds, in die eerste eeu, is Jerusalem vertrap deur die Romeine, wat vir die politiekgesinde Jode ’n gruwel was. Tot vandag toe is geen teokratiese koninkryk in Jerusalem herstel nie. Dit sal ook nooit gebeur nie.

13. (a) Wat voorspel Lukas 21:7-11, 24-26 vir die einde van die “tye van die nasies”? (b) Wat het gebeure sedert 1914 bevestig?

13 Maar “die [vasgestelde] tye van die nasies” is wel vervul! Die verband van Jesus se profesie in Lukas 21 toon dat dit die geval moet wees. Sien ons dan nie vandag om ons die einste dinge wat Jesus voorspel het nie—‘een nasie wat teen die ander nasie opstaan’ in warm en koue oorloë, ‘aardbewings, pessiektes, hongersnode, verskriklike dinge, benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, en mense wie se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom’? Ja, die verstryking van die “tye van die nasies” hou verband met hierdie kardinale gebeure wat die aarde sedert die jaar 1914 getref het! (Lukas 21:7-11, 24-26). Dit was nie blote toeval dat Jehovah se volk die voorafgaande 35 jaar lank die aandag op daardie jaartal gevestig het nie. Hulle het begryp dat die “sewe tydperke” van Daniël se profesie, hoofstuk 4, in 1914 sou verstryk en die einde van die nie-Joodse nasies se heerskappy oor die aarde sonder inmenging deur God sou kenmerk.

14. Waarom kon Lukas 21:24 nie op die aardse Jerusalem betrekking hê nie?

14 In 1914 sou die nasies dus ophou om ‘Jerusalem te vertrap’. Watter “Jerusalem” is dit? Dit kon nie die aardse Jerusalem wees wat in 1917 deur Britse generaal Allenby verower is en wat tot 1948 volgens mandaat onder Britse bewind was, toe die republiek—nie koninkryk—van Israel tot stand gekom het nie. Na watter “Jerusalem” het Jesus dan verwys?

15. Waarom sou ons verwag dat ‘die saad van Dawid’ in 1914 G.J. in “Jerusalem” op die troon geplaas is?

15 Ons onthou dat Jehovah ’n teokratiese koninkryk met Dawid as koning in Jerusalem opgerig het. Dit was vir Dawid wat Jehovah daar belowe het: “Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie! Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My. Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou” (Psalm 89:36-38). Met die verstryking van die vasgestelde “tye van die [nie-Joodse] nasies” in 1914 G.J. het die bestemde tyd vir die ‘saad van Dawid’ met die reg daarop aangebreek om weer in “Jerusalem” of Sion te begin regeer. Maar nie in die aardse Jerusalem nie!

16. (a) Waar regeer die Messias dan sedert 1914? (b) Watter getuienis is daar dat Christus begin heers het?

16 Hy heers eerder in die Jerusalem of Sion waarvan Jehovah in Psalm 2:6 sê: “Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.” Dit is die stad waarna Dawid in Psalm 110:1, 2 verwys wanneer hy profeties van die Here Jesus Christus sê: “[Jehovah] het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete. U magtige septer sal [Jehovah] uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande.” Ja, die Messiaanse koning, Jesus Christus, is op ’n hemelse berg Sion, of Jerusalem, op die troon geplaas om te midde van sy vyande te heers. Hy het reeds die aartsvyand, Satan die Duiwel, na die omgewing van die aarde neergewerp. Omdat Satan weet dat hy min tyd oor het, het hy die nasies laat “woel”, soos die psalmis dit so gepas stel.—Psalm 2:1; Openbaring 12:7-12.

17. Waarom moet ons verwag dat ’n vroeë einde aan die ‘gewoel’ van die nasies gemaak sal word?

17 Maar sal die Soewereine Heer Jehovah toelaat dat daardie nasies onbepaald in flagrante teenstand teen sy Koninkryk in die hande van sy Seun “woel”? Onthou, die eerste-eeuse Christene is daarvan beskuldig dat hulle ‘Jerusalem met hulle leer vervul het’; en nadat daardie kragtige veldtog van openbare prediking van huis tot huis die waarskuwing gerig het, is Jehovah se oordeel aan aardse Jerusalem voltrek (Handelinge 5:28, 41, 42; 4:16). Jehovah se Getuies het vandag eweneens Sy dag van wraak dwarsdeur die ryk van die valse Christendom verkondig.

18. Waarom wag ons met vertroue op die sege van Jehovah se “ewige voorneme”?

18 Sal Jehovah nou nalaat om hierdie grootste globale verkondiging in die hele geskiedenis af te rond met sy genadeslag te Armageddon? Sal Jehovah nalaat “om die verderwers van die aarde te verderf”? Dit is onmoontlik! Diegene wie se verwagtinge in God se beloftes geanker is, sien met vertroue uit na die sege van sy “ewige voorneme” (Openbaring 11:18; Efesiërs 3:10-12). Ons “groot Koning”, Jehovah, sal sy Soewereine Naam laat regverdig deur die Koninkryk in die hande van die Messias, wat nou in die hemelse “Jerusalem” regeer. Deur die mensdom dan die ewige lewe in volmaaktheid op ’n paradysaarde te gee, sal Jehovah toon dat hy “onse God is, vir ewig en altyd”, en dat hy die aarde “nie geskape [het] om woes te wees nie”.—Psalm 48:15; Jesaja 45:18, 22-24; 46:9-11; 55:11; Jeremia 25:31.

Hoe sal jy kommentaar lewer oor die volgende:

◻ Wat beteken die naam “Jerusalem”?

◻ Het die stad sy naam opgehou?

◻ Watter parallel vir ontroue Jerusalem sien ons vandag?

◻ Wat toon Lukas 21:24-26 oor die einde van die “tye van die nasies”?

◻ Watter “Jerusalem” word dan nie langer “vertrap” nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel