Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 6/1 bl. 19-23
  • “Juig vir ewig”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Juig vir ewig”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Hemelse Jerusalem”
  • Die “nuwe Jerusalem”
  • Die “Jerusalem daarbo”
  • “Nuwe hemele en ’n nuwe aarde”
  • “’n Nuwe aarde” juig
  • ‘Nie meer die stem van geween nie’
  • Aardse Jerusalem in teenstelling met hemelse Jerusalem
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Jerusalem—’n rede “om bly te wees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Wat is die Nuwe Jerusalem?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die luisterryke stad
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 6/1 bl. 19-23

“Juig vir ewig”

1. (a) Wat is die “stad” van Hebreërs 11:10? (b) Tot wanneer moet die “groot menigte” op die “vervulling van die belofte” wag?

ONS kan inderdaad juig omdat die Messiaanse Koning, Christus Jesus, nou in ’n hemelse “Jerusalem” heers. Dit is die “hemelse” stad wat in Hebreërs hoofstuk 11 gemeld word en waarna Abraham, Isak en Jakob “verlang” het. Hulle het “bely dat hulle vreemdelinge en bywoners” in die land Kanaän was, want hulle “het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is”. Maar net soos die hedendaagse “groot menigte” wat hoop om vir ewig op aarde te lewe, moet die “vervulling van die belofte” aan daardie manne van die ou tyd wag totdat gesalfde Christene hulle erfenis in die hemelse koninkryk ontvang het.—Hebreërs 11:8-16, 39, 40, vgl. NW; Openbaring 7:9.

“Hemelse Jerusalem”

2. (a) Hoe vestig Hebreërs 12:1, 2 die aandag op die hoop op die Messiaanse Koninkryk? (Psalm 110:1, 2). (b) Hoe is die koms van die Koninkryk by die berg Sinai afgeskadu?

2 Hebreërs hoofstuk 12 spoor gesalfde Christene voorts aan om baat te vind by die voorbeeld van daardie getroue getuies van vervloë tye en ook om “die oog gevestig [te hou] op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat, nadat hy volhard het, “aan die regterkant van die troon van God gaan sit het” totdat “die vasgestelde tye van die nasies” sou eindig (Hebreërs 12:1, 2). Om die Koninkrykshoop van hierdie Christene te beklemtoon, beskryf Paulus dan die ontsagwekkende vertonings van Jehovah se heerlikheid by die berg Sinai toe die Wetsverbond met vleeslike Israel ingewy is. Dit was toe dat Jehovah vir Israel gesê het: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, . . . sal [julle] vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees.”—Exodus 19:5, 6.

3. Hoe het geestelike Israeliete by iets ontsagwekkenders “gekom”?

3 Maar geestelike Israeliete—hedendaagse, gesalfde Christene—is in “’n nuwe verbond” (Hebreërs 8:8-11). En hulle het nou by iets baie ontsagwekkenders “gekom”. Wat is dit? Paulus antwoord in Hebreërs 12:22: “Julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem.” Daardie nadering het begin met die Koninkrykserfgename van Paulus se dag, aangesien hulle “tot ’n geestelike huis” opgebou is op die fondament, Christus Jesus, wat nou in Sion gelê is (1 Petrus 2:4-9). Ander gesalfde Christene sou voortgaan om na die hemelse Jerusalem te kom totdat al 144 000 by die Lam vergaderd was om saam met hom op daardie hemelse berg Sion te staan.—Openbaring 14:1-5.

4. By watter ander dinge wat met die Messiaanse Koninkryk verband hou, het gesalfde Christene “gekom”?

4 Hier in Hebreërs 12:22-24 beskryf Paulus ook ander dinge waarby Christene “gekom” het en wat met die Messiaanse Koninkryk en die doel daarvan verband hou. Hy praat van die teenwoordigheid van “tienduisende engele”, wat volgens Daniël 7:9-14 sowel as Mattheüs 25:31 aanwesig is wanneer die Een “soos die Seun van ’n mens” die Koninkryk ontvang. Paulus verwys ook na “die gemeente van eersgeborenes” wat die Koninkryk beërf. Hy verheerlik God as “die Regter van almal”, wat hierdie “eersgeborenes” regverdig verklaar sodat hulle ’n party kan word in die nuwe verbond wat Jesus met sy eie kosbare bloed bemiddel het (Hebreërs 9:13-15; Romeine 5:1, 9). Paulus meld ook ‘die geestelike lewens van hierdie regverdiges’, die Koninkrykserfgename, wat nou in “’n nuwe lewe” wandel.—Romeine 6:4; 8:16.

5. (a) Hoe staaf Hebreërs 12:28, 29 dat die “hemelse Jerusalem” die Messiaanse Koninkryk is? (b) Hoe toon Hebreërs 13:14, 15 dat hierdie “stad” nog iets toekomstigs is?

5 Dat die “hemelse Jerusalem” van Hebreërs 12:22 betrekking het op die Messiaanse Koninkryk waarna gesalfde Christene “gekom” het, word verder gestaaf deur verse 28 en 29, waar Paulus hulle aanspoor deur te sê: “Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur.” Sulke vermanings tot ywer wanneer die hemelse Jerusalem of Messiaanse Koninkryk genader word, word reg tot aan die einde van Paulus se brief gevind, want in die laaste hoofstuk, naamlik Hebreërs 13:14, lees ons: “Ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.” Nou het daardie koninkryk gekom—in die tydvakskeppende jaar 1914! Hoe ywerig moet die oorblywende gesalfdes op aarde tog ‘eers die Koninkryk soek’ en voortdurend vir Jehovah “’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely”!—Mattheüs 6:33; Hebreërs 13:15.

Die “nuwe Jerusalem”

6. (a) Wat is die “nuwe Jerusalem” wat in Openbaring beskryf word? (b) Waarom behoort die “groot menigte” intens in hierdie, “Jerusalem” belang te stel?

6 Wat dan van “die nuwe Jerusalem” wat vir die eerste keer in Openbaring 3:12 gemeld word? Hier sê die verheerlikte Jesus van ‘hom wat oorwin’: “Ek sal hom ’n pilaar in die tempel van my God maak, . . . en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal.” Later, in Openbaring 21:1, 2 en 10, sê Johannes dat hierdie oorwinnaars in “’n nuwe hemel” is en beskryf hy die samegestelde groep as “die heilige stad, die nuwe Jerusalem” . . . [wat] neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man [Christus, die bruidegom] versier is”. Hierdie Nuwe Jerusalem is God se instrument waardeur hy “water van die lewe” na gehoorsame mense laat vloei terwyl hulle genees word en volmaaktheid hier op aarde ontvang. So sal God, die Insteller van hierdie wonderlike reëling, op ’n baie letterlike wyse “al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”. Hoe verheug die “groot menigte”, die metgeselle van die oorblyfsel van die “bruid”-klas, hulle tog in daardie vooruitsig!—Openbaring 22:1, 2; 21:4.

7. Hoe verskil die “nuwe Jerusalem” van die “hemelse Jerusalem”?

7 Daar is egter ’n klein verskil tussen die “nuwe Jerusalem” wat in Openbaring beskryf word en die “hemelse Jerusalem” van die boek Hebreërs, aangesien die “nuwe Jerusalem” uit die 144 000 bestaan wat aan die hemelse bruidegom verloof is, terwyl die “hemelse Jerusalem” uit 144 001 bestaan, waar die ekstra “een” die Bruidegom-Koning is. Die Bybelboeke Hebreërs en Openbaring toon gevolglik dat daar ’n groot ooreenkoms tussen die “hemelse Jerusalem” en die “nuwe Jerusalem” bestaan.

Die “Jerusalem daarbo”

8, 9. (a) Wie of wat is die “Jerusalem daarbo”? (b) Hoe beskryf Paulus haar vroulike funksie deur uit Jesaja 54 aan te haal?

8 In Galasiërs 4:26 lees ons van nog ’n “Jerusalem”. Dit is die “Jerusalem daarbo”. En wie is sy? Die apostel Paulus sê van haar: “Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.”—Vergelyk Jesaja 54:13.

9 Hierdie “Jerusalem daarbo” is Jehovah se gemalin-organisasie in die hemele. Dit bestaan uit die tienduisende lojale engele, en sluit nou die verheerlikte aartsengel, Jesus Christus, in (Openbaring 12:7). Hulle vervul die rol van “vrou” vir hulle Soewereine Heer. Paulus sê voorts aangaande hierdie “vrou”: “Daar is geskrywe [dit wil sê, in Jesaja 54:1]: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want dle kinders van die eensame is meer as van haar wat ’n man het.”—Galasiërs 4:27.

10. Hoe het “Jerusalem daarbo” hardop ‘geroep’ van vreugde?

10 Ter vervulling van hierdie profesie moes Jehovah se “vrou”, sy grootse hemelse organisasie geesskepsele, gejuig het toe dit gesien het hoe Christus Jesus by sy doop in 29 G.J. as die vernaamste “saad” verwek is. Haar beker moes oorgeloop het van vreugde toe Jesus, wat sy onkreukbaarheid bewaar het, in 33 G.J. uit die dood opgewek en tot God se regterhand in die hemele verhef is. En hoe bly moes dit haar tog gemaak het om te sien hoe die “saad” vermeerder het namate dissipels van Jesus Christus ingesluit is om ook haar geestelike kinders te word! Dit was alles ter vervulling van God se belofte aan Abraham dat Hy ‘sy saad sou vermeerder’ tot seën van al die nasies van die aarde.—Genesis 22:15-18; Galasiërs 3:29.

11. Hoe is “Jerusalem daarbo’’ in ons dag verbly?

11 In 1914 G.J. was die hemele ook verheug toe dit gesien het hoe God se “vrou” “’n manlike kind”, Christus se koninkryk, baar. En toe Christus die koning (ook genaamd Migael, wat beteken “Wie is soos God?”) Satan se uitdaging beantwoord het deur die Duiwel en sy engele uit die hemelryk te werp, het die engeleleërskare ongetwyfeld met groot blydskap gereageer op die “groot stem” wat gesê het: “Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon.” Hulle was ook van 1919 af aan verheug om te sien dat die oorblywende “kinders” van “Jerusalem daarbo” op die aarde alle bande met Babiloniese godsdiens verbreek het (Openbaring 12:1-12; 18:4, 5). En watter blydskap moet daar tog nou onder die tienduisende lojale engele van die “Jerusalem daarbo” bestaan terwyl die aantog van hierdie vrygekooptes na die “hemelse Jerusalem”, die Messiaanse Koninkryk, ten einde loop!—Jesaja 62:11; Openbaring 19:7.

“Nuwe hemele en ’n nuwe aarde”

12. (a) Op watter “Jerusalem” het Jesaja 65:17, 18 betrekking? (b) Wat is die verband tussen “nuwe Jerusalem” en die “nuwe hemele”, en watter diens verrig “die nuwe Jerusalem”?

12 Die “Jerusalem daarbo”, God se gemalin-organisasie, is bly oor alles wat haar Soewereine Heer, Jehovah, doen. Maar kom ons ondersoek nou Jesaja 65:17-19. Die profesie sê hier dat Jehovah iets nuuts skep. Hierdie “Jerusalem” moet dus die “nuwe Jerusalem” wees wat nou voortgebring word as “die dogter van Sion” wat verloof is aan die Bruidegom-Koning, Jesus Christus (Jesaja 62:11). Jehovah sê van hierdie “bruid”: “Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees.” Groot is die vreugde van hierdie hemelse “bruid” omdat haar ledetal van 144 000 voltallig is, en omdat sy sien hoedat God “’n nuwe aarde” skep—’n verenigde, teokratiese gemeenskap onder die mensdom.—Openbaring 21:1-5.

13, 14. (a) Waarom word die uitnodiging om ‘bly te wees’ nou gerig? (b) Watter pragtige prentjie word in Openbaring 21:9-27 geskilder? (c) Watter rede het ons om die “nuwe Jerusalem” as ’n rede “om te juig” te beskou

13 Die uitnodiging word aan al die lede van God se volk gerig: “Wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep.” Daar is alle rede om bly te wees! Want Jehovah gaan binnekort sy roemryke naam regverdig deur alle teëstanders te vernietig (Psalm 83:18, 19). Dan sal die “nuwe hemele” in volle beheer wees! En watter pragtige prentjie skilder Openbaring 21:9-27 van “die heilige Jerusalem [die “bruid” van die Lam, Jesus], wat uit die hemel van God neerdaal; en dit het die heerlikheid van God gehad”! Omdat hierdie Nuwe Jerusalem figuurlik met allerhande edelstene skitter en deur God se heerlikheid verlig word, vervul dit sy rol wonderlik om die “water van die lewe”, wat “uitstroom uit die troon van God en van die Lam”, aan die “nasies” van die mensdom te gee.—Openbaring 22:1, 2, 17.

14 Dit is dus logies met betrekking tot “die bruid . . . , die vrou van die Lam”, wat saam met Christus, haar bruidegom, deel van die goewermentele “nuwe hemele” gemaak word, dat Jehovah sê: “Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees” (Jesaja 65:18). Maar hoe gaan die “nuwe aarde” in daardie vreugde in?

“’n Nuwe aarde” juig

15. Hoe is die fondament van “’n nuwe aarde” gelê?

15 Dit is nie net in die hemele nie, maar ook reg hier op die aarde dat Jehovah ’n rede “om bly te wees” geskep het. Want hy het die fondament van “’n nuwe aarde” gelê, ’n godvresende gemeenskap onder mense wat sal uitbrei totdat dit mettertyd die hele aardbol vul, alles tot Jehovah se lof (Jesaja 11:9). Dit was in die jaar 1919 dat Jehovah sy vrou, die “Jerusalem daarbo”, ’n “land”—’n uiters voorspoedige staat—laat voortbring het waarin hy die oorblywende lede van sy geestelike Israel op aarde gebring het (Jesaja 66:8, 10, 22). Hierdie “land” is ’n geestelike paradys, en dit is hier dat Jehovah se volk as die kern van die “nuwe aarde” versamel is. Dit is nie nodig om tot na die finale verdrukking te wag om daardie geestelike paradys binne te gaan nie. Dit is reeds hier!

16. Watter heerlike vervulling het Jesaja 62:1, 6, 7?

16 Noudat Jehovah se volk in hierdie vrugbare “land” gebring is, is die groot profesie van Jesaja hoofstuk 62 in verband met Sion, die “Jerusalem daarbo” vervul. Haar ‘geregtigheid breek uit soos ’n glans’ en word na al die nasies van die mensdom weerkaats deur haar volk, wat Jesaja met hierdie woorde beskryf: “o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie . . . totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ’n lof op aarde!” Jehovah se hemelse organisasie het waarlik so “’n lof op aarde” geword namate sy Getuies oor die hele aardbol preek. En die grootste deel van hierdie lof word nou gebring deur die metgeselle van die gesalfde “wagte”—daardie “groot menigte . . . uit alle nasies”, wat voor die troon van God staan en “dag en nag” vir Hom heilige diens verrig.—Jesaja 62:1, 6, 7; Openbaring 7:9, 14, 15.

17. (a) Hoe het “dag en nag”-diens ’n kenmerk van Jehovah se Getuies geword? (b) Watter besondere rede om te juig was daar in 1982? (c) In watter seisoen is hierdie vreugde oorvloedig, en waarom is dit gepas?

17 Hierdie “dag en nag”-diens van die “wagte” en van hulle metgeselle, die “groot menigte”, vorder vinnig! Sulke heelhartige diens was nog altyd belangrik vir getroue reisende opsieners en hulle vrouens, sendelinge, gewone en spesiale pioniers en Bethelwerkers. In die laaste tyd het duisende ywerige Getuies, jonk en oud, opofferings gemaak om ’n maand of langer hulppionierdiens te doen en gemiddeld ten minste twee uur per dag aan die huis-tot-huiswerk en ander velddiens te wy. In 1982 het hierdie wêreldwye bedrywigheid ’n hoogtepunt bereik toe altesaam 305 778 pioniers vreugdevol hul diens gerapporteer het—op bekwame wyse bygestaan deur 2 000 000 en meer lojale Koninkryksgetuies. Jehovah het waarlik “Jerusalem [geskep] om te juig, en sy mense om bly te wees”—’n blydskap wat elke jaar oorvloedig is tydens die seisoen wanneer die Gedenkmaal, wat deur die Here Jesus gelas is, gevier word.—1 Korinthiërs 11:23-26.

‘Nie meer die stem van geween nie’

18. Watter belofte is ondanks ontberinge vir die “groot menigte” vervul, en hoe?

18 Hoewel daar ontberinge en vervolging sal wees solank Satan toegelaat word om weë op hierdie aarde te veroorsaak, ondervind die “groot menigte” toegewyde aanbidders nie meer enige verskroeiende “hitte” van God se onguns nie. Omdat hulle die bede “om ’n goeie gewete” gedoen het en hulle versoek toegestaan is, dien hierdie toegewyde, gedoopte verkondigers van die Koninkryksevangelie vreugdevol terwyl die Lam, Christus Jesus, hulle na “lewende waterfonteine” lei. Die volgende belofte is reeds vir hulle in die geestelike paradys vervul: “God sal alle trane van hulle oë afvee.”—1 Petrus 3:21; Openbaring 7:16, 17.

19. (a) Waarom word geen “geskreeu” in “Jerusalem” gehoor nie? (b) Wat sê Jesaja 65:21-25 wat strook met die betekenis van die naam “Jerusalem”?

19 Jehovah se verklaring in Jesaja 65:19 kom nou met hierdie laaste teks ooreen: “Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie.” Die oorblywende lede op aarde wat nog tot in die “nuwe Jerusalem” opgewek moet word, ervaar hierdie vreugde, en nou stort Jehovah soortgelyke seëninge op die “groot menigte” “ander skape” uit (Johannes 10:16). Hoe wonderlik beskryf die daaropvolgende woorde in Jesaja 65:21-25 die paradysagtige toestand van God se “volk” wat as die kern van die “nuwe aarde” versamel is! Hier is gewis ’n “Grondslag van dubbele vrede”—vrede nóú onder Jehovah se aanbidders, en ’n vrede wat tot in die fisiese paradys sal voortduur wanneer God se wil oor die hele aarde geskied.—Openbaring 21:3-5; Mattheüs 6:10.

20. Watter vrae kan ons ons gepas afvra?

20 Wil jy Jehovah vir ewig op die paradysaarde loof vir die wonderlike dinge wat hy deur die “Jerusalem daarbo”, sy toegewyde gemalin-organisasie, tot stand bring? Wil jy sien hoedat die “hemelse Jerusalem” met Christus sy Koning, die Grotere Dawid, oor alle ongeregtigheid seëvier? Wil jy sien hoedat die bruidagtige “nuwe Jerusalem” se invloed van God en sy Christus in die hemel af uitbrei om alle trane van die mensdom se oë af te vee?

21. Hoe kan ons waardering toon vir alles wat getroue Jerusalem afbeeld?

21 As dit jou begeerte is, moet jy lojaal voortgaan met jou “heilige diens” ter ondersteuning van alles wat afgebeeld is deur getroue Jerusalem van die ou tyd, daardie stad van “die groot Koning”, die Soewereine Heer Jehovah (Openbaring 7:15, NW). Dan sal jy saam kan sing aan die vrolike tempelmelodie van Psalm 87:3. Jy sal jubelend kan sing: “Heerlike dinge word van u gesê, o stad van God!”

Wat verstaan jy onder die volgende nadat jy die bygaande artikel bestudeer het?—

□ “Hemelse Jerusalem”—Hebreers 12:22

□ “Nuwe Jerusalem”—Openbaring 21:2

□ “Jerusalem daarbo”—Galasiers 4:26

□ “Nuwe hemele en ’n nuwe aarde”—Jesaja 65:17, 18

[Prent op bladsy 21]

Die Nuwe Jerusalem—’n rede “om te juig”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel