Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 6/15 bl. 4-7
  • Die Eerste Wêreldoorlog en die begin van die smarte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Eerste Wêreldoorlog en die begin van die smarte
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ongekende smarte
  • Wêreldbenoudheid neem toe
  • Vrede van die aarde af weggeneem
  • Die oorlog om ’n einde aan orloë te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Vrede en veiligheid—die behoefte daaraan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Wie sit werklik agter oorlog en lyding?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Is die wêreld se einde naby?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 6/15 bl. 4-7

Die Eerste Wêreldoorlog en die begin van die smarte

VAN die vroegste tye af is die mensdom se geskiedenis vol geweld en oorloë. Dit was omdat ‘die aarde vol geweld was’ dat God die Sondvloed in Noag se dag gebring het (Genesis 6:11-13). Daarna vertel die Bybel en sekulêre geskiedenis van honderde oorloë wat selfs voor Jesus se dag gevoer is. “Oorloë en gerugte van oorloë” was dus nie iets nuuts vir die mensdom nie.

Hierdie “oorloë en gerugte van oorloë” sou opvallend anders moes wees om vir Jesus se dissipels betekenis te hê. Hy het voorts verduidelik: “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte.” (Mattheüs 24:7, 8; vergelyk Lukas 21:10, 11.) Dit sou dus nie net ’n gerug van ’n enkele oorlog hier en daar wees nie. Hierdie aspek van die teken sou baie nasies en koninkryke raak. Dit sou totale oorlog wees!

Het ons sulke oorlogvoering gesien? Ja, ons het, en dit vanaf die geslag van 1914. Trouens, ons het twee sulke aardomvattende oorloë in hierdie eeu gesien. Die feit dat hierdie soort oorlogvoering inderdaad iets nuuts was in die annale van mensegeskiedenis, word bevestig deur die titels wat geskiedkundiges daaraan gegee het. Die eerste een is die Groot Oorlog genoem. Later is dit verander na die Eerste Wêreldoorlog, en sy opvolger is die Tweede Wêreldoorlog genoem. Wêreldoorlog was ’n verskynsel vanaf die jaar 1914.

Ongekende smarte

Net soos Jesus voorspel het, was die Eerste Wêreldoorlog ’n “begin van die smarte”. Die uitgewers van die boek The End of Order het op die boek se omslag gesê: “Die Eerste Wêreldoorlog en die Verdrag van Versailles wat daarop gevolg het, het die ernstigste omwenteling in die lang en stormagtige loop van hedendaagse wêreldgeskiedenis veroorsaak. . . . Die diplomate wat in 1919 in Parys en by Versailles vergader het, het nie die orde in die wêreld herstel nie, maar die wêreld weer eens, en hierdie keer onherroeplik, in die chaos van die twintigste eeu gedompel. Dit was die einde van orde.”

In die boek verduidelik skrywer Charles L. Mee, Jr., verder: “Aan die einde van die Groot Oorlog het die diplomate te staan gekom voor ’n wêreld wat verdeeld was, ’n wêreld wat oënskynlik ’n groot psigiese verbrokkeling beleef het, ’n verbrokkeling van ou kombinasies van state en ryke, die disintegrasie van ekonomiese stelsels, van negentiende-eeuse kapitalisme, van die uitbarsting van skielike rampe, van onluste en sluipmoorde, van tirannie en wanorde, van ligsinnigheid en wanhoop, opgewektheid en vrees wat so groot was dat dit die verstand gevoelloos gelaat het. . . . Hulle het glad nie orde in die wêreld herstel nie, maar die chaos van die Groot Oorlog geneem en . . . dit as die permanente toestand van ons eeu verseël.”

Hierdie smarte—die sterftes en mense-lyding wat met die Eerste Wêreldoorlog begin het—het geen gelyke in mensegeskiedenis nie. Moderne gemeganiseerde oorlogvoering—tenks, masjiengewere, vliegtuie en duikbote—asook die ontdekking en gebruik van gifgasse in oorlogvoering—het verwoesting in die wêreld gesaai. “’n Geslag is op die slagvelde van Europa afgemaai”, sê die boek The End of Order. “Niemand het nog ooit die gelyke van so ’n slagting gesien nie: die aantal soldate wat per dag gesterf het, was 10 keer groter as in die Amerikaanse Burgeroorlog, 24 keer groter as die sterfte in die Napoleontiese Oorloë, 550 keer meer as die sterfte in die Boere-oorlog.”

Maar Jesus het gesê dat dit slegs ’n “begin van die smarte” sou wees. Ander vertalings gee Jesus se woorde weer as “die begin van die geboortepyne” (NTP; Jerusalem Bible; Phillips se New Testament in Modern English). ’n Vrou wat besig is om te kraam, ondervind pyne wat hewiger word, al hoe gouer kom en langer duur. Die Eerste Wêreldoorlog en die gepaardgaande weë was maar ’n begin van die smarte.

Wêreldbenoudheid neem toe

Ander en hewiger pyne sou volg met die koms van die Tweede Wêreldoorlog. “Daar word geraam dat die totale sterfte weens militêre optrede en kwale wat deur oorlog versprei word tydens die Eerste Wêreldoorlog meer as veertigmiljoen was en dié tydens die Tweede Wêreldoorlog meer as sestigmiljoen was”, skryf Quincy Wright in die boek A Study of War. “Ten minste 10 persent van die sterfte in die moderne beskawing kan regstreeks of onregstreeks aan oorlog toegeskryf word.”

Burgerlike sterfte in die Tweede Wêreldoorlog was besonder hoog. Professor Wright verduidelik: “Verhongering, bombardement, die konfiskering van eiendom en terrorisering wat uit die vernietiging van hele stede bestaan het, is in die Tweede Wêreldoorlog teen die hele bevolking en gebied van die vyand aangewend. . . . Die ganse lewe van die vyandelike staat het ’n teiken geword. Die veroweringsleer is deur party state uitgebrei tot die uitwissing van ’n bevolking en sy eiendomsregte om die gebied wat dit beset het vir kolonisasie te open.”

Die benoudheid wat veroorsaak is deur die brandbomme wat in 1945 op Dresden en Tokio gewerp is, en wat 235 000 lewens geëis het, is in die skadu gestel deur die afgryse wat ’n paar maande later ontketen is deur die twee atoombomme wat op Hirosjima en Nagasaki gewerp is. Die vernietiging van menselewens wat vantevore tienduisende bomme geverg het, kon nou deur slegs een bom teweeggebring word. Maar die dodelike gevolge van die stralingvergiftiging, wat tot ons dag toe voortduur, is selfs vernietigender.

World Press Review van Junie 1982 het die volgende gesê oor die gevolge van net die een atoombom wat op Hirosjima gewerp is: “Die Vier Ruiters van Openbaring is losgelaat. Die gelukkiges was diegene wat in die eerste aanval gesterf het—nagenoeg 100 000 manne, vroue, skoliere, grootoog-kleuters en pasgebore babas. Die meeste van die bykomende 100 000 slagoffers het pynlik gesterf aan gebarste organe, afgryslike brandwonde of die stadige hel van stralingsiekte.” Die geboortepyne het al hoe hewiger geword.

Vrede van die aarde af weggeneem

Die verwysing na die “Ruiters van Openbaring” is interessant aangesien dit gebaseer is op die Bybelverhaal in die 6de hoofstuk van die boek Openbaring. Vers 4 lui: “En ’n ander perd, ’n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee.” Hoe goed kom dit tog ooreen met die aspek van die teken wat Jesus gemeld het, naamlik van nasie wat teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk!

Vrede is inderdaad van die aarde af weggeneem. Hoewel geskiedskrywers jare van vrede voor 1914 opgeteken het, was daar sedertdien nie ’n enkele een nie. Mense het tevergeefs gehoop dat die laaste wêreldoorlog ’n eeu van vrede sou inlui. Die boek The Violent Peace sê: “Die vrede wat in 1945 aangebreek het, het nie, soos ons gehoop het, die einde van oorlog beteken nie. Mense veg sedertdien in feitlik elke hoek van die aardbol—van Griekeland tot Suid-Viëtnam, van Kasjmir tot die Kongo—en opstande skiet soos paddastoele in arm nasies van die wêreld op.”

Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake het onlangs berig dat daar ten minste 130 internasionale en burgeroorloë sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog gevoer is. “Ongeveer 701 600 000 van die wêreld se mense is betrokke by oorloë van een of ander aard”, berig die Toronto Star van 13 Junie 1982. “Dit is omtrent een uit ses mense dwarsoor die aardbol en ’n syfer wat nie veel kleiner is as die getalle wat regstreeks by die Tweede Wêreldoorlog betrokke was nie. Daar sterf jaarliks nagenoeg 250 000 vegters en tot 2 000 000 burgerlikes in hierdie oorloë.”

“Oorloë en gerugte van oorloë” duur onverpoos voort. Die boek The Violent Peace sê: “Sedert [1945] verklaar mense nie meer oorlog of maak hulle nie meer ’n einde aan oorlog nie. Hulle voer bloot oorlog. Ons eeu is ’n eeu van massagewelddadigheid wat vrede genoem word.”

Sal daar nog ’n globale geboortepyn, in die vorm van ’n derde wêreldoorlog wees? “Ons lewe in ’n vooroorlogse en nie ’n na-oorlogse wêreld nie”, sê Eugene Rostow, hoof van die Verenigde State se Agentskap vir Wapenbeheer en Ontwapening. Die nasies is beslis voorbereid vir so ’n botsing! Hulle bestee op die oomblik naastenby R1 000 000 per minuut aan wapentuig. Van die R550-miljard wat in 1981 aan oorlogvoorbereidsels bestee is, is ongeveer R110-miljard aan kernwapens bestee. Die voorraadstapels kernwapens se vernietigingskrag is nou gelyk aan eenmiljoen van die atoombomme wat Hirosjima verwoes het. Vrede is inderdaad van die aarde af weggeneem.—Openbaring 6:4.

Die getuienis in verband met oorlog in ons dag dui op hierdie gevolgtrekking: Ons lewe inderdaad in die “laaste dae” van die huidige stelsel.

Maar Jesus het nie net ’n wêreldwye oorlog gemeld nie. Hy het ’n aantal aspekte van die teken gemeld wat gelyktydig sigbaar sou wees en aldus afdoende bewys sou lewer dat ons in die tyd van sy “koms [teenwoordigheid, NW] en van die voleinding van die wêreld” lewe.

Hierdie ander aspekte van die teken sal in die volgende nommers van hierdie tydskrif bespreek word.—Mattheüs 24:3-12; Lukas 21:7-11.

[Lokteks op bladsy 6]

“Ten minste 10 persent van die sterftes in die moderne beskawing kan regstreeks of onregstreeks aan oorlog toegeskryf word”

[Lokteks op bladsy 7]

Meer as 130 internasionale en burgeroorloë is sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog gevoer

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel