“Die Israel van God” en die einde van die Heidense Tye
1, 2. (a) Watter situasie in die ommuurde Jerusalem van vandag toon dat Jehovah nie wêreldheerskappy vanuit daardie stad hervat het nie? (b) Maar met watter ander stad met dieselfde naam moet daar nou rekening gehou word?
IN DESEMBERMAAND van die midde-oorlogse jaar 1917 is aardse Jerusalem deur die Britse troepe onder generaal Allenby van die Mohammedaanse Turke verower. Oor die hele aarde het natuurlike Jode hierdie gebeurtenis verwelkom. Maar tot vandag toe het die aanwesigheid van die Mohammedaanse heiligdom op die berg Moria binnekant ommuurde Jerusalem verhinder dat ’n tempel vir Joodse aanbidding gebou word op daardie terrein waar koning Salomo se tempel eens gestaan het. Die God vir wie Dawid se koninklike seun daardie tempel gebou het, oefen weliswaar nie wêreldheerskappy deur middel van sy Messiaanse Koninkryk vanuit aardse Jerusalem uit noudat “die tye van die heidene” geëindig het nie. Maar wat van die ander Jerusalem? Watter Jerusalem? Die een wat gemeld word in die geïnspireerde brief wat aan die dissipels van die Messias Jesus in die Romeinse provinsie Galasië geskryf is enkele jare nadat hy die vernietiging van die herboude stad Jerusalem voorspel het—’n vernietiging wat in 70 G.J. plaasgevind het. Daar lees ons in Galasiërs hoofstuk 4, verse 25, 26:
2 “Hagar [die slavin van die Hebreeuse aartsvader Abraham] staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders [haar burgers en onderdane] in slawerny. Maar Jerusalem daarbo is vry [soos Abraham se vry vrou, Sara]; en dit is die moeder van ons almal.”
3, 4. (a) Wie het Paulus, asook die Christene in Galasië, as hulle geestelike “moeder” erken? (b) Hoe was die nasie Israel deel van God se universele organisasie?
3 Die skrywer van daardie woorde was die bekeerde Jood Saulus van Tarsus wat ’n uitverkore apostel van die Messias Jesus geword het. “Die teenswoordige Jerusalem” waaroor hy geskryf het, is uit God se organisasie weggestuur; net soos Hagar uit Abraham se gesin weggestuur is, en is in 70 G.J. vernietig. Paulus het nie langer daardie aardse Jerusalem as sy geestelike moeder erken nie. Hy het die “Jerusalem daarbo”, dit wil sê, die Jerusalem in die hemele, as sy geestelike moeder erken. Saam met daardie Christene in Galasië was Paulus een van “haar kinders”.
4 Toe God die volk Israel by die berg Sinai in ’n verhouding met hom gebring het deur middel van die Wetsverbond wat deur Moses bemiddel is, het daardie nasie Israel die sigbare deel van Jehovah se universele organisasie geword. Dit het aan daardie organisasie behoort net soos die slavin Hagar aan Sara, Abraham se oorspronklike vrou, behoort het. Sara het die vry “Jerusalem daarbo” afgebeeld. Dit bring die beloofde afstammeling voort.
5. Waar sou Jehovah dus wêreldheerskappy aan die einde van die Heidense Tye hervat en watter vraag sou dit toe vir hom tyd wees om te beantwoord, en hoe sou hy dit beantwoord?
5 Met die oog daarop sou dit met betrekking tot hierdie “Jerusalem daarbo” wees dat Jehovah God, aan die einde van die Heidense Tye in die oorlogsjaar 1914, weer sou begin om sy wêreldheerskappy uit te oefen. Toe het die tyd vir hom aangebreek om die vraag wat deur die geïnspireerde skrywer, koning Dawid, in Psalm 2:1-6 gestel is daadwerklik te beantwoord:
“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde [sy Messias] en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.”—Kyk ook Handelinge 4:24-26.
6. (a) Waarom was die inhuldiging van, die Messiaanse Koning aan die einde van Heidense Tye onsigbaar vir aardse heersers? (b) Waarvoor het die wêreldlike heersers op daardie kritieke tyd voorbereidings bly tref, al is hulle dekades lank voor die tyd ingelig?
6 Ja, aan die einde van die Heidense Tye in 1914 was dit gepas vir Jehovah om hierdie profetiese woorde wat deur koning Dawid in Psalm 110:1, 2 neergeskryf is, te vervul: “Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete. U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande.” Die Messiaanse Koning is op die hemelse berg Sion ingehuldig en gevolglik was daardie gebeurtenis onsigbaar vir konings en hoë regeringsamptenare op aarde. Hoewel die publikasies van die Wagtoringgenootskap dekades lank aangekondig het dat die Heidense Tye in 1914 sou verstryk, was daardie heersers vasbeslote om die hemelse Messias se oorname van wêreldheerskappy teen te staan. Hulle het voortgegaan om die mees gevorderde voorbereidings vir internasionale oorlog te tref. Op die oog af het 1914 vreedsaam begin. Maar op 28 Julie het die nasies hulle in die oorlog gewerp.
7. Watter nuwe verhouding van die Messias ten opsigte van die aarde het begin met sy inhuldiging as Koning aan die einde van die Heidense Tye in 1914, en hoe so?
7 Die inhuldiging van die Messias as Koning aan Jehovah se regterhand in daardie selfde jaar het die begin van sy onsigbare teenwoordigheid met betrekking tot ons aarde gekenmerk. Waarom? Omdat dit vir hom as die pas ingehuldigde Koning oor die aarde, gepas was om sy aandag te rig op sy aardse domein wat destyds beset is deur sy vyande, aspirante om keiserlike wêreldheerskappy. Sy “magtige septer” is uit die “Jerusalem daarbo” na ons aarde uitgestrek. Op Jehovah se bevel het hy begin om ‘te midde van sy vyande’ op die aarde ‘te heers’. Dit was ook op die aarde dat hy die Duiwel en sy demone uit, die hemel neergewerp het.—Openbaring 12:7-17.
8. Om watter “teken” het Jesus se apostels hom gevra, en in watter toestand sou die nasies volgens Psalm 2:1 dan wees?
8 “Die teken” wat die Messias Jesus beskryf het as bewys van sy onsigbare “teenwoordigheid” het sigbaar geword aan die einde van die Heidense Tye in 1914. Kort voor Jesus se marteldood het die apostels vir hom gevra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie, dinge gebeur—en wat is die teken van u teenwoordigheid en die voleinding van die eeu” (Mattheüs 24:3, The Emphasised Bible, deur J. Rotherham: The Emphatic Diaglott, deur Benjamin Wilson; Young se Literal Translation; New World Translation). Volgens Psalm 2:1 sou die nasies woel wanneer die tyd vir God aanbreek om die Messias Jesus as Koning in die Jerusalem of Sion in die hemele in te huldig.
9. (a) Het die weetgierige apostels in die eerste eeu ’n verdrukking aanskou wat so groot was dat dit vir ewig geen gelyke sou hê nie? (b) Watter soort vervulling was dit toe hulle die dinge gesien het wat Jesus in Mattheüs 24:7-15 gemeld het?
9 Ons weet nie of Jesus Psalm 2:1 en Psalm 110:1-4 in gedagte gehad het toe hy geantwoord het nie. Sy antwoord kom in elk geval sedert 1914 baie indrukwekkender met daardie profesieë deur koning Dawid ooreen as gedurende die 37 jaar wat verloop het tussen die apostels se vraag en die vernietiging van Jerusalem deur die Romeinse legioene in 70 G.J. Daardie verskriklike Joodse ramp hef beslis nie sonder gelyke gebly nie. Dit was byvoorbeeld nie erger as die slagting van die geraamde 6 000 000 Jode voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog onder Hitler se Nazi-bewind nie. Jerusalem se vernietiging was nie ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheüs 24:21). Die dinge wat die weetgierige apostels tot aan die einde van die eerste eeu G.J. in die vorm van hongersnode, aardbewings, pessiektes, oorloë en vervolging, asook die uitwissing van “die teenswoordige Jerusalem” gesien het, was ’n kleinskaalse vervulling van Jesus se profesie. Dit was nie vir hulle nodig om daaroor te ween nie, want die Jerusalem in die hemele het voortbestaan.
10. Watter gevolgtrekking laat die groter vervulling van Jesus se profesie ons maak?
10 Die dinge wat destyds gebeur het, het nie ’n samegestelde “teken” uitgemaak wat sy “teenwoordigheid” en “die voleinding van die eeu” aangedui het nie. Daar was dus later, gedurende die dae van die laaste lede van Jesus se “klein kuddetjie” Koninkrykserfgename, ’n groter vervulling van sy woorde gewees om die waaragtigheid van sy profesie te staaf (Lukas 12:32). Dit sou van die einde van die Heidense Tye af tot nou toe wees. As ons wêreldgeskiedenis sedert daardie jaartal in die lig van Bybelprofesie beskou, moet ons eenvoudig tot die gevolgtrekking kom dat ons in “die voleinding van die wêreld” lewe (Mattheüs 24:3; Markus 13:4). Hierdie oortuiging word gesteun deur die vervulling van Openbaring 6:3-17, wat meer as ’n kwarteeu na Jerusalem se vernietiging neergeskryf is en vertel van die vier ruiters van Openbaring, soos mense dit noem.
11. Wat kan die oorlewende lede van “die gemeente van eersgeborenes” omtrent die dae van die Eerste Wêreldoorlog onthou en hoe vergelyk die vervulling van Jesus se profesie in die eerste eeu met hierdie latere gebeure?
11 Sommige lede van die oorblyfsel van “die gemeente van eersgeborenes wat indie hemele opgeskrywe is”, lewe nog vandag, en hulle kan die Spaanse griep goed onthou (Hebreërs 12:23). Hierdie verskriklike pes het as een van die voorspelde pessiektes teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog oor die aarde getrek en meer lewens geëis as die miljoene wat gedurende die meer as vier jaar van die Eerste Wêreldoorlog gedood is. Lede van die oorblyfsel wat nog lewe, onthou ook die vervolging van die Christelike Bybelstudente wat probeer het om van die wêreld se bloedskuld vry te bly. Hulle onthou hoedat hierdie vervolging ’n hoogtepunt bereik het met die gevangesetting van die president (48 jaar oud), die sekretaris-penningmeester (54 jaar oud), en ses ander lede van die hoofkwartierpersoneel van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, op aanklagte wat in 1919 deur die hof verwerp is. Van die Genootskap se lektuur is ook in Kanada en die Verenigde State van Amerika verbode verklaar, en die verbod is eers na die Eerste Wêreldoorlog opgehef. Alles in ag genome is die dinge wat in apostoliese tye in die eerste eeu ter vervulling van Jesus se profesie plaasgevind het nie te vergelyk met soortgelyke gebeure op ’n wêreldskaal gedurende 1914-1918 nie.
Gehoorsame optrede deur “die Israel van God”
12. (a) Wie het Jesus gesê sou vervolg word toe hy die vraag oor “die teken” van sy teenwoordigheid beantwoord het, en aan watter ras het die eerste van daardie persone behoort? (b) Waardeur is “Israel na die vlees” vervang?
12 In antwoord op die vraag oor “die teken” van sy onsigbare “teenwoordigheid” het Jesus geen vervolging vir “Israel na die vlees” gemeld nie (1 Korinthiërs 10:18). Hy het die vervolging van sy dissipels voorspel, en die eerste van daardie dissipels was natuurlike, besnede Jode en proseliete. Maar deur die vervulling van die profesie in Joel 2:28, 29, het sy dissipels vanaf Pinksterdag van 33 G.J; ’n nuwe Israel, ’n geestelike Israel, geword (Handelinge 1:6-2:42). Omstreeks die middel van die eerste eeu het die bekeerde Jood, die apostel Paulus, aan die Christene in Galasië geskryf en vir hulle gesê: “Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal” (Galasiërs 4:26). En teen die einde van sy brief het hy gesê: “Want, in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ’n nuwe skepsel. En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!”—Galasiërs 6:15, 16.
13. In watter besondere kenmerk van “die teken” van “die voleinding van die wêreld” probeer die oorblyfsel en hulle metgeselle ’n aandeel hê, en met watter resultate tot op hede?
13 Watter weg moet die oorblyfsel van daardie “Israel van God” nou gehoorsaam inslaan aangesien hulle sien hoedat die “teken” van “die voleinding van die wêreld” vervul word? Die weg wat hulle ’n aandeel sal gee in die vervulling van daardie besondere kenmerk van “die teken” wat Jesus voorspel het toe hy gesê het: “Wie [tydens die vervolging] volhard tot die einde [Grieks: telos] toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies [die gojim]; en dan sal die einde [telos] kom” (Mattheüs 24:13, 14; Markus 13:9, 10). Die oorlewende oorblyfsel van “die Israel van God” het in die jaar na die einde van die Eerste Wêreldoorlog gehoorsaam begin om daardie profetiese bevel uit te voer. Die gevolg is dat “hierdie evangelie van die koninkryk” vandag in 205 lande en in nagenoeg 190 tale verkondig word deur die oorblyfsel geestelike Israeliete en hulle medegetuies van Jehovah. En dit alles ondanks vervolging en die Tweede Wêreldoorlog.
14. Deur middel van hierdie getuienis maak hulle bekend dat watter “tye” vir die nasies geëindig het, en hoe was dit inderdaad die geval?
14 Deur hierdie onbedwingbare getuienis oor die opgerigte Koninkryk word die Heidene, die gojim, “die nasies”, daarvan verwittig dat hulle “tye”, hulle “sewe tydperke” om Jerusalem te vertrap, in die noordelike herfs van 1914 geëindig het (Lukas 21:24). Die Jerusalem wat hier ter sprake is, is nie die aardse Jerusalem in die Midde-Ooste nie, maar die Jerusalem in die hemel, want dit is daar, in die hemel, dat Jehovah God sy Messias, sy gesalfde Seun Jesus, op die troon geplaas het toe die Heidense Tye in 1914 verstryk het. “Die heilige stad” wat die nasies, die Heidene, volgens Openbaring 11:1, 2 “twee-en-veertig maande lank [sou] vertrap”, was dus nie “die hemelse Jerusalem” waarin die Messias Jesus sedert 1914 regeer nie (Hebreërs 12:22) Dit was eerder die oorblyfsel van “die Israel van God” wat deur die vervolging gedurende die Eerste Wêreldoorlog 42 maanmaande, of drie en ’n half maanjare lank, vertrap is. Maar teen die tyd van die tweede byeenkoms van die Bybelstudente te Cedar Point, Ohio, V.S.A., in die noordelike somer van 1922, het hulle geestelik ten volle herstel. Die vervolging van die oorblyfsel gedurende die Eerste Wêreldoorlog was dus deel van “die teken” wat sou aandui dat Jesus vanaf 1914 teenwoordig is in sy Koninkryk in Jerusalem
15. Wat het die oorblyfsel en hulle metgeselle toe soos nog nooit tevore nie begin doen, en het hulle toegelaat dat hulle in hierdie opsig vertrap word?
15 Dit was toe dat die oorblyfsel van “die Israel van God” uitgetrek het om “die Koning en die Koninkryk” soos nog nooit tevore nie te “adverteer”. Geestelik gesproke het hulle nooit weer gaan lê om deur die Heidene vertrap te word nie.—Openbaring 11:7-15.
16. Watter koning trek sedert 1914 uit en heers sedertdien te midde van sy vyande, en hoe gaan die vertrappers binnekort vertrap word?
16 In ’n glorieryke ommekeer sedert die einde van die Heidense Tye in 1914 regeer die gekroonde Koning, Jesus Christus, in die Jerusalem in die hemel en heers hy te midde van sy aardse vyande. Binnekort, nadat die Koninkryksgetuienis internasionaal gelewer is, sal die einde van “die voleinding van die wêreld” aanbreek. Daardie vyandelike Heidene, of “nasies”, sal soos, ’n wingerdstok vol vrugte afgekap word. ‘Dan sal hy hulle gooi in “die groot parskuip van die grimmigheid, van Go”, en daar sal hy hulle na verdienste vertrap en hulle lewensbloed uitpers (Openbaring 14:18-20). “Hy sal [die nasies] met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.”—Openbaring 19:15.
17. Wat is die laaste gelykenis in Jesus se profesie oor “die teken”, en hoe word daar aan die geestelike “broeders” van die heerser goed gedoen?
17 Die vervulling van Jesus se gelykenis van die skape en die bokke sou deel uitmaak van “die teken” van sy onsigbare “teenwoordigheid” en “die voleinding van die wêreld” Mattheüs 24:3; 25:31-46). Net soos daar voorspel is, het miljoene al die Koninkryksgetuienis aangeneem wat deur die oorblyfsel van “die Israel van God” gelewer is. Hulle het reg, met waardering gereageer. Hierdie figuurlike “skape” doen goed selfs aan die geringste van die geestelike “broeders” van die heersende Koning, Jesus Christus. In samewerking met hierdie “broeders” van hom, doen die “skape” verreweg die grootste deel van die voorspelde verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk” oor die hele aarde tot ’n finale getuienis.
18. Watter “koninkryk” wil die simboliese skape beërf, en hoe sal hulle die uitnodiging ontvang om dit te doen?
18 Hierdie figuurlike “skape” wil ‘die koninkryk beërf wat vir hulle berei is van dip grondlegging van die wêreld af’ (Mattheüs 25:34). Hulle sal hierdie uitnodiging ontvang van die heersende “Seun van die mens” wanneer hulle die “groot verdrukking” binnegaan met die vooruitsig om dit met God se beskerming te oorleef. Dit sal wees ter vervulling van die woorde waarmee Jesus die gelykenis afgesluit het: “En hulle [die simboliese bokke wat versuim om goed te doen aan Christus se “broeders”] sal weggaan in die ewige straf [in die dood], maar die regverdiges [die simboliese skape] in die ewige lewe” (Mattheüs 25:46). Hulle sal die “vlees” wees wat bewaar word regdeur die “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”. Ter wille van God se “uitverkorenes” (die oorblyfsel van “die Israel van God”) sal die dae van die grootste van alle aardse verdrukkings verkort word.—Mattheüs 24:21, 22.
19. Waaruit gaan die “groot menigte” kom, en wat gaan hulle doen met die ‘Koninkryksdomein’ waarin hulle gebring word?
19 Die “grootmenigte” “skape” sal gevolglik “uit die groot verdrukking kom” en die gereinigde aardse domein van die Koning, Jesus Christus, binnegaan (Openbaring 7:9-14). Reg van die begin van die nuwe stelsel af sal hulle meehelp om hierdie Koninkryksdomein te verander in die wêreldwye aardse paradys wat die Skepper bedoel het dit moes wees toe hy die goddelike mandaat aan die ouers van die ganse mensdom, Adam en Eva, gegee het.—Genesis 1:27-31; 2:5-9.
20. Wat doen daardie “skape” intussen saam met die oorblyfsel, en aan watter betekenis van “die teken” glo hulle reg tot aan “die einde”?
20 Totdat hulle die uitnodiging van die heersende “Seun van dier mens” in hemelse heerlikheid hoor: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af”, sal hierdie regverdige “skape” voortgaan om skouer aan skouer saam met die oorblyfsel van “die Israel van God” te werk (Mattheüs 25:34). Net soos hierdie geestelike Israeliete behou hulle hulle geloof in die betekenis van die einde van die Heidense Tye in 1914. Omdat hulle nie hulle oë verblind vir die verhelderende “teken” van die “teenwoordigheid” van die Messias Jesus as Koning nie, verheerlik hulle hulle bediening as sy aardse onderdane en gaan hulle vreugdevol vooruit deur “hierdie evangelie van die koninkryk” oor die hele aarde te verkondig terwyl hulle die snel naderende “einde” tegemoetgaan.—Mattheüs 24:14.
Kan jy die volgende beantwoord?
◻ Wat bewys die vervulling van al die kenmerke van die voorspelde “teken”?
◻ Watter werk doen “die Israel van God” en hulle metgeselde?
◻ Wat is “die heilige stad” wat “twee-en-veertig maande lank vertrap” sou word, en watter “Jerusalem” is nie vertrap nie?
◻ Wat sal onderskeidelik met die simboliese skape en bokke gebeur nadat die twee groepe van mekaar geskei is?
[Prent op bladsy 24]
Watter sigbare bewyse het Jesus voorspel sodat sy volgelinge sou weet dat die Heidense Tye geëindig het?