Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 11/15 bl. 8-15
  • My vooruitgang saam met God se organisasie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My vooruitgang saam met God se organisasie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geestelike groei
  • Doop en die Christelike bediening
  • Ek brei my diens uit
  • Vooruitgang in die dertigerjare
  • Die Tweede Wêreldoorlog—’n tyd van beproewing
  • Na-oorlogse verwikkelinge
  • Spesiale diensvoorregte
  • ’n Snelbewegende organisasie
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Adverteer die Koning en die Koninkryk! (1919-1941)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • ‘Jehovah het aan my goed gedoen’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Verkondig die goeie nuus sonder ophou (1942-1975)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 11/15 bl. 8-15

My vooruitgang saam met God se organisasie

Soos vertel deur Grant Suiter

IN 1922, toe ek 14 jaar oud was, het ons gesin van Chicago, Illinois, na Kalifornië verhuis. Op pad het ons ou vriende in Idaho besoek. Hulle het vir ons gesê dat daar in Kalifornië mense is wat sê dat, volgens die Bybel, miljoene persone wat toe gelewe het nooit sou sterf nie.

Kort na ons aankoms in Kalifornië het ons in ’n koerant die aankondiging “Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie” gesien. Dit was die titel van ’n openbare toespraak wat in San Jose gehou sou word. Op hierdie manier het my vader, met die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds bekend was) in aanraking gekom, en hy het begin om ons na hulle openbare vergaderinge te neem.

My moeder wou hê dat ek Sondagskool moes bywoon. Hoewel my vader krities gestaan het teenoor predikers van alle gelowe, het hy saamgestem dat dit dalk vir my van nut sou wees. Die gevolg was dat ek gereeld die Metodiste se Sondagskool begin bywoon het. Ek het uiteindelik penningmeester van die skool geword en vir hulle basketbalspan gespeel. Terselfdertyd het ons gesin die openbare toesprake van die Bybelstudente in San Jose, net ’n paar kilometer van ons huis in Santa Clara af, bygewoon.

My vader wou graag sien dat toestande verbeter en het gevolglik propaganda gemaak vir verskillende politieke kandidate. Hy het selfs die naam van een kandidaat op die voorruit van ons Model T-Ford geverf. By die vergaderinge het die Bybelstudente hom vriendelik vertel dat die ware hoop vir die mensdom nie in politieke pogings lê nie, maar in God se Koninkryk onder Christus Jesus. Vader het saamgestem dat dit goed en wel was vir die toekoms, maar ondertussen wou hy toestande graag sover moontlik deur politieke middele verbeter. Mettertyd het ons hele gesin—my moeder, vader, suster en ek—egter ’n beter begrip verkry van Bybelwaarheid en die vereistes van God se Woord.

Geestelike groei

Later kon ek nie meer met ’n goeie gewete in die Metodiste-Sondagskool aanbly nie en het ek bedank. In 1923 het ons gesin na Oakland getrek, net ’n paar kilometer van ons vorige woonplek af. Daar het my vader ’n groentewinkeltjie gehad en is ek hoërskool toe. Toe ek hoor dat Bybelstudente nie rook nie, het ek my vader probeer oorreed om nie sigarette in sy winkel te verkoop nie. Hy het nie met my saamgestem nie, maar het wel die saak met een van die Bybelstudente, Robert Craig, bespreek.

Na hulle bespreking het my vader besluit om die winkel te verkoop en weg te trek. Nog iets wat sy besluit beinvloed het, was die pogings van ’n groep om hom by dranksmokkelary te betrek, wat hy geweet het nie versoenbaar was met die dinge wat hy deur die Oaklandse Ekklesia (Gemeente) van Bybelstudente geleer het nie. Omstreeks dieselfde tyd het ek, met my ouers se toestemming, die hoërskool na net ’n jaar en ’n half verlaat weens die onsedelike invloed in die skole.

Ons het ’n paar kilometer weggetrek na Mountain View, naby genoeg aan San Jose om weer die vergaderinge van die ekklesia aldaar by te woon. My vader het weer ’n winkel aangeskaf en ek het hom voltyds gehelp sonder om ooit betaling daarvoor te ontvang. Vader het op The Watchtower en The Golden Age (nou Ontwaak!) ingeteken, en ek onthou nog hoe ek veral The Golden Age geniet het. Ek het gemeen dat ek meer daaruit geleer het as wat ek sou geleer het as ek op hoërskool gebly het.

Die vergaderinge van die ekklesia het vir my al hoe interessanter geword. Die artikel “Geboorte van die nasie” in The Watchtower van 1 Maart 1925 het my besonder baie beïndruk. Die inligting daarin was ’n groot voorwaartse stap in die Bybelstudente se begrip van Jehovah se Koninkryk onder Christus Jesus, naamlik dat dit in die jaar 1914 in die hemel opgerig is. Gedurende hierdie tyd het ons gesin goed bevriend geraak met die Bybelstudente in Mountain View en het ons heelwat tyd saam met hulle in hulle huise deurgebring.

Uiteindelik het ons geleer dat gebed nie alleen deel uitgemaak het van die ekklesia-vergaderinge nie, maar dat die vriende ook by hulle huise gebid het, byvoorbeeld voor maaltye. Ek moet my vader dit ter ere nagee dat hy graag die regte beskouing van gebed wou hê. Hy het dit oor die algemeen as huigelagtig beskou. Ek onthou dat ek teenwoordig was toe hy en een van die Bybelstudente wat by sy winkel aangekom het die kwessie van gebed bespreek het. Die besoeker het gesê dat ons Jehovah God vir ons seëninge moet dank. Maar my vader wou weet hoe dit kon wees dat ons Jehovah vir al ons seëninge moet dank, want ons het hom tog sekerlik nie vir al ons probleme geblameer nie. Mettertyd het ons as gesin egter ’n duidelike begrip van gebed verkry en ten volle gebruik gemaak van hierdie liefdevolle voorsiening.

’n Voorsiening van die ekklesia waarby ek baie baat gevind het, was die Skool van die Profete. Dit was ’n vergadering van ouderlinge en ander manlike gemeentelede met die doel om opleiding in die openbare spreekkuns te ontvang. Die student het ’n toespraak oor ’n aangewese onderwerp gehou, en die ander het hom nuttige raad gegee. Maar die opbouende kritiek wat ek by die skool gekry het, was niks in vergelyking met wat ek van my vader ontvang het nadat hy een van die sessies bygewoon het om my te hoor toespraak hou nie.

Ek en die res van die gesin het baie hulp gekry van die pelgrims, wat spesiale verteenwoordigers van die Wagtoring-genootskap was. Die ekklesias het jaarlikse versoeke tot die Genootskap gerig vir pelgrimsbesoeke. J. A. Bohnet het veral ’n groot indruk gemaak en my besonder baie gehelp. Hy was ’n man met karaktertrekke wat hom gelief gemaak het by party mense, maar wat die teenoorgestelde uitwerking op ander gehad het. Hy het Jehovah liefgehad en was beslis beskeie, maar hy het hierdie eienskap ietwat verborge gehou onder ’n growwe uiterlike.

Doop en die Christelike bediening

Dit was ’n toespraak deur broer Bohnet in die huis van ’n Bybelstudent in Mountain View wat my lewe diep geraak het. Terwyl ek hom hoor praat het oor die voorreg om Jehovah te dien en die verantwoordelikheid om dit te doen, het ek besef wat my te doen staan en wat ek graag wou doen. Ek het my derhalwe aan Jehovah toegewy, en ongeveer dieselfde tyd het die ander lede van die gesin dit ook gedoen. Op 10 Oktober 1926 het ons almal saam in San Jose, Kalifornië, ons toewyding aan Jehovah God deur middel van waterdoop gesimboliseer.

Doopplegtighede het destyds ’n bietjie anders verloop as vandag. Die ouderling wat die doopwerk gedoen het, het vir my gesê: “Broer Grant, in die naam van die Vader en die Seun en die heilige gees doop ek jou nou in Christus.” Elkeen van die dopelinge het ’n lang, swart kleed met halfmoue gedra. Om te verseker dat die kleed stigtelik bly hang en die dopeling behoorlik bedek, was daar swaar loodgewigte onder in die soom.

Na die doop, en nadat ons verklee het, het my vader vir die ouderling wat die doopplegtigheid waargeneem het, gesê: “Julle mense gaan mos uit met die boeke, nie waar nie? Ons wil van nou af ook daardie werk doen.” En so het ons gesin aan die veldbediening begin deelneem.

Die eerste keer dat ek in die velddiens uitgegaan het, was toe ’n ouderling, H. O. Lawrence, gereël het om my saam te neem. Hy het vir my ’n paar boekies gegee, en ons het na die gebied in San Jose gery. Ek het gedink dat hy met my van huis tot huis gaan werk, maar hy het my beveel om uit te klim en gesê: “Gaan jy hierdie kant van die blok om.” Toe het hy weggery. Ek het daardie kant van die blok omgegaan en drie boekies teen ’n bydrae van 25 sent geplaas. Ek was hoog in my skik. My deelname aan die Christelike bediening het my werklik laat voel dat ek deel van God se organisasie is.

Omstreeks hierdie tyd het ons deur ons maandelikse diensblaadjie The Bulletin (nou Ons Koninkryksbediening) die instruksie ontvang om die huisbewoner iets omtrent die Duiwel se organisasie te vertel. Van toe af, wanneer mense vir my gesê het dat hulle nie belangstel nie, het ek eenvoudig voortgegaan om vir hulle te vertel van die bestaan van die Duiwel se organisasie en die komende vernietiging daarvan. Dit was heel anders as ons gewone aanbieding oor die vooruitsig van ewige lewe op ’n Paradysaarde met die moontlikheid om nooit te sterf nie.

Die ekklesia van San Jose het groot afstande afgelê om vir mense die Koninkryksboodskap te bring. Sogenaamde werwingsgroepe het gereeld in die Santa Clara-vallei en die omliggende heuwels gaan werk. Ek onthou nog dat die vrugteboord soms oortrek was van bloeisels sover as die oog kon sien. Ons het middagete saamgeneem en die hele dag gewerk. Partymaal moes ons 120 kilometer of meer aflê om by die gebied te kom waar ons sou getuig.

Die radiostasie KFWM in Oakland is jare lank gebruik om die Koninkryksboodskap uit te saai, en verskeie ekklesias in die omtrek het beurte gemaak om naweekprogramme vir die stasie te voorsien. Ek het die voorreg gehad om Bybellesings oor die lug te lees, soos die een op 24 Julie 1927. Die roepletters van hierdie radiostasie het hulle geleen tot die woorde ‘Kingdom For World of Mankind’.

Ek brei my diens uit

Terwyl ons eendag van ’n vergadering af huis toe gery het, het broer Lawrence, wat my die eerste keer in die velddiens uitgeneem het, vir my ’n aansoekvorm gegee vir diens by die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York. ’n Tydjie tevore, kort na ons doop, het ek gehoor hoe my vader vir my moeder sê dat as hy in my skoene was, hy Jehovah se diens sy lewenswerk sou gemaak het. Dit is wat ek ook wou doen, en ek gemeen dat ’n aansoek om Betheldiens my die geleentheid sou gee om dit te doen.

The Watchtower van 15 Mei 1928 het aangekondig dat daar van 30 Julie tot 6 Augustus ’n internasionale byeenkoms van die Bybelstudente in Detroit, Michigan, sou wees. Ek wou dit bitter graag bywoon, en my ouers en vriende het dit vir my moontlik gemaak. Gedurende die byeenkoms het Donald Haslett, ’n sekretaris van J. F. Rutherford, die president van die Genootskap, van die verhoog af aangekondig dat broers vir Betheldiens nodig was. Hy het gesê dat broer Rutherford onderhoude sou voer met diegene wat aansoek doen. Ek het nog ’n Bethelaansoekvorm ingevul, en broer Rutherford het vir my gesê om op 13 Augustus 1928 by Bethel aan te meld.

Ons was altesaam 13 wat op 13 Augustus, net een week na die Detroit-byeenkoms, vir Betheldiens aangemeld het. Op daardie tydstip was daar 95 lede van die Bethelgesin wat by die nuwe fabriek te Adamsstraat 117 gehelp het met die druk en versending van Bybellektuur, en ’n ietwat kleiner getal het in die Bethelhuis en in verskillende kantore van die Genootskap gewerk. My eerste taak by Bethel was om boekies te verwyder van ’n masjien wat die boekies gevou het nadat die omslae daaraan vasgekram is. Ek het minder as twee weke in die drukkery gewerk toe ek oorgeplaas is na die kantoor, die Diensafdeling. Hierdie werk het my waarlik laat voel dat ek saam met God se organisasie vooruitgaan.

Omdat ek nêrens gehad het om heen te gaan vir my eerste vakansie in 1929 nie, het ek dit by Bethel deurgebring. Ek was gevolglik aanwesig toe broer Rutherford sy toespraak by die Vrymesselaarstempel in Brooklyn gehou het oor Jehovah se toelating van goddeloosheid en die regverdiging van Sy naam. Vantevore het ons nie hierdie saak verstaan nie, en broer Rutherford se toespraak was ’n opwindende opheldering van hierdie noodsaaklike, fundamentele onderwerp.

Vooruitgang in die dertigerjare

’n Ware hoogtepunt in 1931 was, toe ons die naam Jehovah se Getuies aangeneem het en God se hele volk aldus ’n verenigende naam gekry het. Die volgende jaar is die term vir ’n gemeente van God se volk van “ekklesia” na “groep” verander, gegrond op Psalm 68:11 in die Authorized Version. Dwarsdeur die wêreld het ons toe “groepe” van Jehovah se Getuies gehad, en nie meer “klasse” of “ekklesias” nie.

In 1932 het my vader sy winkel in Kalifornië verkoop, en hy, my moeder en my suster het die pionierdiens betree. Hulle het vir hulle ’n woonwa gebou en dit was die volgende 20 jaar my ouers se pioniertuiste. My suster, Grace, het saam met hulle gewerk tot in 1939 toe sy genooi is om ’n lid van die Brooklynse Bethelgesin te word. Sy dien vandag nog hier, en sedert 1959 as die vrou van Simon Kraker.

Die fabrieksbestuurder, Robert J. Martin, is op 23 September 1932 oorlede, en broer Rutherford het vir Nathan H. Knorr in sy plek aangestel. Broer Knorr het voorheen in die fabriekskantoor gewerk.

Die volgende jaar het daar groot moeilikheid vir God se volk begin. Op 30 Januarie 1933 het Adolf Hitler kanselier van Duitsland geword, en op 28 Junie 1933 is die Duitse tak van die Wagtoringgenootskap in Maagdenburg deur die owerheid gesluit. Pous Plus XI het 1933 tot “Heilige Jaar” verklaar, en broer Rutherford het kort daarna oor 55 radiostasies gepraat oor die onderwerp “Uitwerking van die Heilige Jaar op vrede en voorspoed”. Dit was my voorreg om hom aan die woord te stel.

In die vroeë dertigerjare het daar aansienlike teenkanting teen ons werk ontstaan en is die broers op baie plekke vervolg. Jehovah se Getuies is in “afdelings” ingedeel met die doel om ’n blits-getuienis in probleemgebiede te gee. In Duitsland het die vervolging so erg geword dat groepe van God se volk in baie lande op 7 Oktober 1934 telegramme aan Hitler gestuur het om hom te waarsku om die vervolging te staak.

Min of meer daardie tyd was daar baie besprekings onder God se volk oor die identiteit van die “groot menigte” van Openbaring 7:9. Die algemene opvatting was destyds dat dit ’n ondergeskikte, minder getroue hemelse klas was. By een Bethelstudie wat, deur broer T. J. Sullivan gelei is, het ek gevra: “Toon die feit dat die groot menigte die ewige lewe beërf dat die lede van daardie groep hulle onkreukbaarheid handhaaf?” Daar was baie kommentare maar geen besliste antwoord nie. Toe ek gevra is om self kommentaar te lewer, het ek gesê dat ek maar net ’n bevestiging of ’n ontkenning wou hê.

Wel, op 31 Mei 1935 het broer Rutherford by die byeenkoms in Washington, D.C., oor hierdie einste onderwerp gepraat. Ek het op die balkon gesit en oor die skare heen gekyk, en hoe wonderlik was dit tog om daardie toespraak te hoor! Die groot menigte is duidelik uit die Skrif geïdentifiseer as persone wat Armageddon oorlewe met die vooruitsig van ewige lewe op aarde. Ja, hier was verdere inligting oor ‘die miljoene wat nou lewe maar nooit sal sterf nie’.

Op 12 Julie 1937 het broer Rutherford my as Bethelkneg aangestel. Gedurende die laaste vier en ’n half jaar van broer Rutherford se lewe het ek die voorreg gehad om ten nouste met hom saam te werk. Teen die einde van 1937 is die naam van The Golden Age na Consolation (Vertroosting) verander, wat aanleiding gegee het tot ’n grappige opmerking deur broer Rutherford toe ek en hy deur Scranton, Pennsilvanië, gery het. Dit was naby die tuisdorp van C. J. Woodworth, redakteur van die tydskrif. In daardie dae was dit moeilik om met ’n motor deur Scranton te ry, en broer Rutherford het met verwysing na broer Woodworth gesê: “Dit verbaas ’n mens nie dat ‘Woody’ vertroosting wil hê as jy sien waar hy woon nie.”

Die Tweede Wêreldoorlog—’n tyd van beproewing

In September 1939 het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek. In Oktober is ons takkantoor in Parys gesluit en ons werk in Frankryk in die ban gedoen. Die jaar daarop het Kanada ons werk verbied. Daardie (noordelike) somer van 1940 was broer Rutherford siek, en ons het nie geweet of hy die byeenkoms in Detroit, Michigan, sou kon bywoon nie. Hy het dit bygewoon, maar gedurende sy openbare toespraak het hy vir my ’n boodskap gestuur om te sê dat hy dadelik na Bethel sou terugkeer en dat ek die nodige reëlings moes tref.

Die volgende jaar was daar ’n groot byeenkoms in St. Louis, Missouri, die grootste wat Jehovah se Getuies tot op daardie tydstip gehou het. My werk was om voorrade vir die kafeteria in ontvangs te neem, en ek kon eers op die laaste dag in die hoofsaal kom toe die boek Kinders vrygestel is. Gedurende hierdie byeenkoms is die boekie Jehovah’s Servants Defended ook vrygestel, met inligting om ons te help om godsdiensgeïnspireerde polisie-optrede teen ons huis-tot-huisbediening die hoof te bied.

Die publikasie was baie tydig. Later daardie jaar is my vader in hegtenis geneem en in die tronk gegooi omdat hy aan die bediening deelgeneem het. My moeder, wat toe alleen in die woonwa agtergebly het, is deur ’n gepeupel aangeval. Hoewel sy nie seergekry het nie, het die bullebakke die woonwa gestroop, sodat my moeder verplig was om by Getuies in die omgewing skuiling te soek.

Op 1 Oktober 1941 was dit my voorreg om, in die afwesigheid van broer Rutherford, as voorsitter op te tree by die jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië. Dit was by daardie vergadering dat ek tot direkteur van die Genootskap se Pennsilvanië-korporasie verkies is.

Twee maande later, op Sondag, 7 Desember 1941, was ek, N. H. Knorr en G. E. Hannan in ’n motor op pad terug Bethel toe nadat ons in ’n nabygeleë deel van Long Island velddiens gedoen het. Ons het na die radio geluister en die skokkende aankondiging gehoor dat die Japannese Pearl Harbour gebombardeer het. Dit het verreikende implikasies vir Jehovah se volk gehad—die Verenigde State was nou by die oorlog betrokke, die Genootskap se president was ernstig siek en daar was alkant vyande wat probeer het om ons predikingswerk stop te sit.

Hoewel broer Rutherford net ’n maand en ’n dag later oorlede is, het die Koninkrykswerk onverpoosd voortgegaan. Broer Knorr is tot president verkies en ’n jaar later, op 1 Februarie 1943, het hy die Wagtoring-Bybelskool Gilead geopen vir die opleiding van sendelinge.

Op 8 Mei 1945 het die president van die V.S.A., Harry S. Truman, aangekondig dat Duitsland oorgegee het. In Augustus het die Verenigde State die atoombomme op die Japannese stede Hirosjima en Nagasaki gegooi en het die na-oorlogse tydperk begin.

Na-oorlogse verwikkelinge

Die stadsraad van New York het ons in kennis gestel dat hulle die agterste deel van ons Bethelhuis in Columbia Heights, wat tot in Furmanstraat gestrek het, onteien vir die bou van ’n wandelpad en hoofweg. Die Genootskap het egter daarin geslaag om eiendom in Columbia Heights te koop vir ’n byvoegsel tot die Bethelhuis, en op 11 Oktober 1946 het ons staatsgoedkeuring ontvang vir die bouwerk. Op 27 Januarie 1947 het die sloopwerk aan die agterste deel van ons gebou in Furmanstraat begin, en gedurende 1948 en 1949 is die nuwe Bethelaanbousel opgerig. Hierdie nuwe gebou is in 1950 toegewy. ’n Groot aanbousel van nege verdiepings tot die fabriek in Adamsstraat 117 is ongeveer dieselfde tyd voltooi.

Die Genootskap se sekretaris en penningmeester, W. E. van Amburgh, het weens siekte en hoë ouderdom bedlêend geword en gevolglik uit sy amp bedank. Ek is op 6 Februarie 1947 as sy opvolger aangewys, en broer Van Amburgh is die volgende dag oorlede.

Kort daarna, in die (noordelike) lente van 1947 het die Genootskap my uitgestuur op ’n besoek aan verskeie Europese lande wat deur die Tweede Wêreldoorlog in puin gelê is. Dit was inderdaad ’n voorreg om getroue knegte van Jehovah te ontmoet wat na lang jare in Nazi-konsentrasiekampe vrygelaat is. Dit was vir my ’n vreugde om hulle geestelik te bemoedig as een van die hoofsprekers by die byeenkomste wat toe gehou is.

Van 1928, toe ek Bethel toe gekom het, tot 1947 het ek nooit weer teruggegaan Kalifornië toe nie. My ouers het merendeels in die oostelike state gewerk, en ek het hulle van tyd tot tyd te sien gekry, veral by groot byeenkomste. Maar in die (noordelike) somer van 1947 het die geleentheid hom voorgedoen om Kalifornië weer te besoek. ’n Byeenkoms is van 13 tot 17 Augustus in Los Angeles gereël, en die Genootskap het vervoer voorsien vir broers en susters wat al 15 jaar of langer lede van die Bethelgesin was. Wat ’n aangename reis en byeenkoms!

Spesiale diensvoorregte

Deur die jare heen het ek unieke voorregte in verband met die uitbreiding van God se sigbare organisasie geniet. Ek was dikwels betrokke by kooptransaksies van die Wagtoringgenootskap, waarvan die jongste vroeër vanjaar was toe die Genootskap die geboue by Pearlstraat 175 en Furmanstraat  360 in Brooklyn aangekoop het. Ek hoop van harte dat hierdie groot nuwe geboue gebruik sal word in die grootskaalse uitbreiding van die Koninkryksprediking oor die hele aarde.

Ek het honderdduisende kilometers gereis, nie net in die Verenigde State nie maar ook in baie ander lande, om groot gehore van God se volk toe te spreek en hulle in hulle Christelike bediening aan te moedig. Tydens die “Ewige Goeie Nuus”-byeenkomstoer rondom die wêreld in 1963 het ek byvoorbeeld as een van die Genootskap se amptelike verteenwoordigers opgetree, slegs een van die baie voorregte waarvoor ek Jehovah dankbaar is. Dit was ook ’n besondere voorreg om as spreker op te tree by die talle geskiedkundige byeenkomste van Jehovah se Getuies in Yankee-stadion, soos in 1958 toe daar meer as ’n kwartmiljoen mense aanwesig was.

’n Snelbewegende organisasie

Die jare bring veranderinge, waarvan party ’n mens ongelukkig stem, soos in die geval van my vader se dood op 31 Desember 1954 in Illinois, die staat waar sy laaste pioniertoewysing was. Die volgende jaar het ek en my suster, Grace, gereël dat my moeder haar in New York kom vestig, waar sy tot met haar dood op 6 Mei 1962 gewoon het. Maar ’n baie blye verandering vir my was toe Edith Rettos, ’n ywerige pionier, op 12 Mei 1956 my vrou geword het. Van daardie tyd af dien sy getrou aan my sy hier by Bethel.

Iets wat my baie bly maak namate my diensjare hier by die hoofkwartier, van Jehovah se sigbare organisasie aanstap, is die voortdurende blyke van God se seën op die werk wat hy aan sy volk opgedra het, naamlik om hierdie goeie nuus van die Koninkryk oor die hele aarde te verkondig voordat die einde kom (Mattheüs 24:14). Ek het gesien hoe die Bestuursliggaam in 1971, en weer in 1974, vergroot is, en het sedertdien ’n aandeel gehad in baie van die verantwoordelike besluite wat die takke en die wêreldwye predikingswerk geraak het. Ek het ook gesien die getal Koninkryksverkondigers groei van 44 080 wêreldwyd toe ek in 1928 Bethel toe gekom het tot sowat 2 500 000 wat vandag aan daardie werk deelneem. God se organisasie het voorwaar vooruitgang gemaak, en ek is dankbaar vir die baie diensvoorregte wat ek geniet het in verband met die groot, finale getuieniswerk.

My geloof in die Bybel se beloftes aangaande God se regverdige regering en die seëninge wat dit vir die aarde sal bring, is sterker as ooit. As ek my lewe kon oorhê, sou ek dit op geen ander manier wou bestee nie. Wat ’n vreugde en voorreg was dit tog om die afgelope 55 jaar hier in Bethel te dien saam met die grootste en wonderlikste Christelike gesin op aarde!

Terwyl die voorgaande artikel vir publikasie voorberei is, het broer Suiter in sy kamer in die Brooklynse Bethel geval en sy rug ernstig beseer. By die ter-perse-gaan het hy alle moontlike liefdevolle sorg in die Wagtoringgenootskap se siekeafdeling by Bethel ontvang. Sy toestand word bestempel as kritiek maar bestendig. Ons bid dat Jehovah vir hierdie lojale broer sal sorg en hom en sy gesin sal vertroos gedurende hierdie moeilike tyd.

[Prent op bladsy 9]

J. A. Bohnet het ’n groot invloed op my lewe gehad

[Prent op bladsy 11]

Saam met my suster en my ouers

[Prent op bladsy 12]

My ouers het 20 jaar lank uit hierdie woonwa pionierdiens gedoen

[Prent op bladsy 13]

In 1947 het ek W. E. van Amburgh as sekretaris-penningmeester van die Wagtoringgenootskap opgevolg

[Prent op bladsy 14]

Ek het dikwels groot skares toegespreek—soos hier by Yankee-stadion in 1958

[Prent op bladsy 15]

Edith is sedert 1956 my getroue gesellin

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel