Dankbaar vir ’n genotvolle lewe van diens
Soos vertel deur John Booth
IN OKTOBER 1921 is daar geadverteer dat die toespraak “Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie” in ons stadsaal in Wallkill, New York, gehou sou word. Hoewel ons nuuskierig was, het nie een van die lede van ons gesin dit bygewoon nie. Maar ek het geskryf om die lektuur wat op die strooibiljet gemeld is. Toe die boekie What Say the Scriptures About Hell? en die boek The Divine Plan of the Ages albei deur C. T. Russell, aangekom het, was hulle so boeiend dat ek hulle amper nie kon neersit nie.
Ek het vroeër daardie jaar gematrikuleer, ek het na ’n doel in die lewe gesoek. Ons gesin was baie godsdienstig en het gereeld die Nederduits Gereformeerde Kerk bygewoon waar ek ’n Sondagskoolonderwyser was. Die predikant wou hê dat ek universiteit toe moes gaan en vir predikant moes leer, maar ek wou nie, omdat dit vir my gelyk het of predikante ’n selfsugtige lewe lei. Ek wou egter graag die mensdom help, en daarom het ek gedink dat dit goed sou wees om ’n sendeling in die buiteland te word.
Toe ek verneem het waar die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds bekend was) vergader het, het ek die volgende somer gereeld 24 kilometer per fiets afgelê om die vergaderinge in Newburgh, New York, by te woon. Toe die predikant van ons kerk ’n preek oor die “hel” gehou het wat strydig was met die Bybelleer dat die dode onbewus is, het ek en my moeder uit die kerk bedank (Prediker 9:5, 10). Hoewel my vader dit geniet het om ons Bybellektuur te lees, het hy ’n lid gebly van die kerk waaraan hy van kleins af behoort het. My twee broers en drie susters het egter mettertyd Getuies geword.
Werk op Staten-eiland
In die somer van 1923 het ek ’n uitnodiging aanvaar om met die bou van die Wagtoring-genootskap se nuwe uitsaaistasie WBBR op Staten-eiland te help. Een van diegene wat naweke vanaf die hoofkwartier in Brooklyn gekom het om te kom help, was die agttienjarige Nanthan H. Knorr, wat in 1942 die derde president van die Wagtoring-genootskap geword het. Dit was terwyl ek daar gewerk en ’n byeenkoms in die stad New York bygewoon het dat ek op 19 Oktober 1923 gedoop is. Dit was my eerste geleentheid om my toewyding om Jehovah God te dien te simboliseer.
Daardie winter het ek teruggekeer huis toe om op my ouers se melkplaas naby Wallkill te werk. Maar in die lente was ek terug op Staten-eiland om te help met die tuin- en padaanleg. Toe my tydelike werk aldaar amper klaar was, het baie beplan om die groot byeenkoms in Julie 1924 in Columbus, Ohio, by te woon. Ek het die voorreg gehad om saam met die hoofkwartierpersoneel op ’n spesiale trein daarheen te reis. By hierdie byeenkoms is reëlings getref dat al die lede van die gemeentes van huis tot huis preek.
Predikingswerk in Wallkill
Nadat ek van Columbus af teruggekeer het, het ek begin om rondom my ouers se plaas, in die gebied waar Watchtower Farms nou geleë is, te preek. Ek het aanvanklik met ’n fiets gery, maar later ’n Model T-Ford gekoop en dit gebruik om afgeleë gebied te dek. Toe die boek Verlossing in 1926 vrygestel is, het ek ’n Bybelstudie in een van die huise in Scotts Corners, naby Walden, gereël. Sommige van diegene wat dit bygewoon het, het vordering gemaak en later Getuies geword.
Ek en ons gesin het gereeld die vergaderinge in Newburgh bygewoon. Toe die Gebed-, Lof- en Getuienisvergadering wat gedurende die week gehou is mettertyd vervang is deur Diensvergaderinge, wat ons huis-tot-huisbediening beklemtoon het, het ’n paar nie daarvan gehou nie. Maar ek was bly oor die klem op die verkondiging van die Koninkrykboodskap op hierdie apostoliese manier (Handelinge 20:20). In April 1928 het ek as ’n gewone pionier begin preek.
Predikingswerk in die Suide
In daardie jare was dit die gebruik dat pioniers in die somer gebied in die noorde dek en dan in die winter na die suide gaan om te getuig. Gedurende die winters van 1928 tot 1935 het ek en my pioniermaat Rudolph Abbuhl dus in die state Virginië, Wes-Virginië, Noord-Carolina, Georgia, Tennessee en Kentucky gewerk.
Getuieniswerk in die Suide in daardie jare was ’n onvergeetlike ondervinding. Daar was min teerstrate en ons het later presies geweet hoe ver ons kon gaan sonder om tussen die klippe of in die modder vas te sit. Ons het baie geloop, omdat baie mense op plekke gewoon het waar motors nie kon uitkom nie.
Op die platteland was mense gewoonlik arm en het hulle nie moderne geriewe gehad nie. Trouens, in dele van Kentucky was blokhuise nie buitengewoon nie en het party mense nog spinnewiele gebruik. Die lewe het nie veel verander van die dae van Daniel Boone, sowat 150 jaar tevore nie.
Vir verblyf het ons ’n kamer gehuur, gewoonlik vir sowat R10 per maand. Maar soms het ons in die huise van die plaaslike mense gewoon en om en by R1 per nag betaal, maaltye ingesluit. Baiemaal het ons ’n huisvrou gevind wat ons klere in ruil vir lektuur gewas het. Omdat mense min geld gehad het, is baie van ons lektuur in ruil vir voedselware versprei.
’n Huisvrou het dikwels gesê: “Julle kan ’n hen kry as julle haar kan vang.” Ons was voorbereid en het ’n hoenderhok agter in die motor gehad. Deur ’n draadhaak te gebruik, het ons later net geweet hoe om ’n hoender aan die been te vang. Eiers was nog ’n ruilmiddel, maar ons het ook allerhande ingelegte vrugte in ruil aanvaar. Items wat ons nie self gebruik het nie, het ons verkoop om petrol te koop. Op een stadium was daar ’n aantal restaurante wat gereeld die artikels gekoop het wat ons in ruil vir lektuur gekry het.
Wanneer ons die vertroue van die mense gewin het, het dit ons gehelp om teenstand en moeilikhede te bowe te kom. Dit was die geval in Cleveland, Georgia, waar ’n prokureur, wat ook ’n Sondagskoolonderwyser was, ons in hegtenis laat neem het op aanklag dat ons lektuur sonder ’n lisensie verkoop. ’n Aantal persone het tydens die verhoor vir ons getuig, onder meer die eienaar van die huis waar ons gewoon het. Toe ons die aard van ons werk verduidelik het, is die saak afgewys en is ons om verskoning gevra.
Net soos in sommige ander plekke was onwettige stokerye in die heuwels naby Ferrum, Virginië, algemeen. Gewapende manne het die brandewynketels bewaak en geen vreemdelinge is in die omgewing toegelaat nie. Maar sonder dat ons dit besef het, het ons die vertroue van die mense gewen en het ’n goeie berig ons vooruitgeloop. Ons kon dus sonder inmenging of leed in die omgewing getuig. Ons het een vrou teëgekom wat lektuur geneem en haar waardering getoon het deur met ander te praat oor die dinge wat sy geleer het nadat sy ons radioprogramme gehoor het. Sy is later gedoop en was jare lank ’n getroue Getuie.
Toe ons in Harlan-graafskap, Kentucky, was, het dit bekend gestaan as bloedige Harlan, en met goeie rede. Die mense het vuurwapens gedra en dit gebruik. My pioniermaat, Raymond Hall, is eenkeer in die skouer geskiet deur ’n groep manne wat hom klaarblyklik net die skrik op die lyf wou jaag. By die hospitaal waarheen ons hom geneem het vir behandeling, het hulle nie eens vrae gestel nie; sulke wonde was klaarblyklik iets alledaags. Nadat ons in die gebied getuig het, het ons die berig geglo dat agt onderbalju’s en omtrent ’n honderd ander mense doodgemaak is gedurende die jaar wat ons daar was. Ons was egter verheug om twee gesinne te vind wat op die waarheid gereageer het. Later het een van die seuns na die Bethel in Brooklyn gekom.
Predidingswerk in die Noorde
In die somermaande was ons plaas naby Wallkill my basis vanwaar ek in die omliggende vier graafskappe getuig het. Ek het voorrade geneem en ’n week lank gekampeer terwyl ek in daardie gebied getuig het. Dan het ek naweke huis toe gegaan om vergaderinge in Newburgh by te woon. Sodoende kon ek tien uur per dag in afgeleë gebiede getuig. Ek het dit lonend gevind om herbesoeke by talle belangstellende mense te doen. Dit het my baie bly gemaak toe ’n vrou later by ’n byeenkoms na my gekom en gese het dat die boeke wat ek by haar gelaat het haar gehelp het om die weg na die lewe te vind.
In daardie jare is die Getuies voortdurend in hegtenis geneem, veral in New Jersey. In die somermaande was ek daar naby en het ek gehelp wanneer ’n veldtog gereël is om in ’n probleemgebied te getuig. Soms is ons in hegtenis geneem en dan teen die aand vrygelaat, maar ander kere is ons aangehou vir ’n verhoor. Terwyl ons eenkeer ’n vonnis van tien dae uitgedien het, het ons vir een van die ander gevangenes getuig. Hy het die goeie nuus aangeneem en later ’n pionier geword.
Dit was omstreeks hierdie tyd dat ons op groot skaal plaatopnames van kort Bybelbesprekings in ons huis-tot-huis-bediening begin gebruik het. Draagbare masjiene is ook op motors geïnstalleer om hulle in klankmotors om te skep. Ek is na die hoofkwartier in Brooklyn en het een op my motor laat installeer teen ’n koste van R175. Op someraande het ek op die punt van ’n vallei stilgehou en dan kon die opnames een en ’n half kilometer of verder gehoor word. In die daaropvolgende jare het ek derduisende kilometers met hierdie groot luidsprekers op die motor afgele en baie mense met die Koninkryksboodskap bereik.
In die somer het ons gereeld ’n groot byeenkoms bygewoon. ’n Besonder heuglike byeenkoms was die een in 1931 in Columbus, Ohio, waar ons die Skriftuurlike naam Jehovah se Getuies aangeneem het.
Nuwe toewysings
Laat in die herfs van 1935 het ons van ons pionientoewysing in die Suide teruggekeer om met die werk by die Bethel in Brooklyn te help. Nadat ek slegs ’n paar dae in die fabriek gewerk het, het broer Knorr my na sy kantoor ontbied en gevra of ek bereid sou wees om die gemeentes as ’n Streekdiensdirekteur te besoek. “Ek het nog nooit ’n toespraak voor ’n gemeente gehou nie en ek weet niks van gemeentelike organisasie af nie”, het ek gesê.
“Ons het nie goeie sprekers nodig nie, net iemand wat die diens liefhet en wat die leiding daarin sal gee en by die vergaderinge oor diens sal praat”, het broer Knorr verduidelik.
Gedurende die volgende paar maande het ek opleiding vir my nuwe toewysing ontvang deur broer Knorr en ander op naweekbesoeke aan gemeentes te vergesel. Die groot taak was om die gemeentes op te lei vir die herbesoek- en Bybelstudiewerk wat destyds ’n betreklik nuwe bedrywigheid was. Ek is een naweek huis toe (my laaste besoek vir ses jaar), het van onnodige items ontslae geraak en my voorberei om te reis. In Maart 1936 is ek toe daar weg met die gevoel dat ek glad nie teen so ’n toewysing opgewasse is nie.
As reisende opsiener
My eerste besoek was aan Easton, Pennsilvanië. Ek het soggens gewoonlik net betyds vir velddiens op ’n plek aangekom, dan het ek saans vroeg ’n vergadering met die knegte van die gemeente gehad en daarna nog een met die hele gemeente. Ek het gewoonlik net twee dae saam met ’n gemeente deurgebring en slegs een dag saam met ’n kleiner groep sodat ek soms ses sulke groepe per week besoek het. Ek was voortdurend op reis.
Gedurende 1936 en 1937 het ek dele van Pennsilvanië, Wes-Virginië, Ohio, Indiana, Illinois, Iowa, Nebraska, Wyoming, Colorado, Nieu-Mexiko en Texas gedek. Die Weste was vir my nuut en interessant—die lewenswyse, die vlaktes, die berge en die lang afstande. Ek het al die gemeentes in Nieu-Mexiko in twee weke besoek. Teen die somer van 1937 was ek in Texas. Daar was geen Spaanssprekende streekknegte daar nie, en daarom het ek ook die Spaanse gemeentes besoek en deur ’n tolk met hulle gepraat.
In een Engelse gemeentetjie in Texas het ’n agttienjarige meisie as gemeentekneg vir die groep opgetree. Hulle het verwag dat haar vader daardie dag sou sterf, wat dan ook gebeur het, en ek is versoek om te bly en die begrafnis waar te neem. Ons het velddiens gedoen, ons vergadering in die aand gehou en die volgende oggend het ek die begrafnisdiens waargeneem. Hoewel dit ’n droewige geleentheid was, was hulle so bly dat ek gekom en die toespraak gehou het.
Nadat ek in September 1937 die byeenkoms in Columbus, Ohio, bygewoon het, het ek gemeentes in die noordelike state Noord-Dakota, Montana en Idaho gedurende die winter besoek. In Februarie 1938 het ek die bergreeks oorgesteek en was ek aangenaam verras om te vind dat dit warmer was en dat die grasperke langs die Stille Oseaan groen was. Seattle het destyds net een vergaderplek gehad, terwyl dit nou 21 gemeentes het.
Sonebyeenkomste
In die lente van 1938 is ’n spesiale vergadering vir die gemeentes in die omgewing van San Francisco-baai belê en is dit bygewoon deur sowat 600 Getuies. Dit was die voorloper van die sonebyeenkoms (nou bekend as kringbyeenkoms). Die nuwe reëling vir gereelde besoeke deur die soneopsiener (kringopsiener) en vir sonebyeenkomste het op 1 Oktober 1938 begin.
As ’n streekkneg het ek die verantwoordelikheid gehad om elke week oor ’n sonebyeenkoms toesig te hou. Daardie vergaderinge vir geestelike onderrig het ook die byeenkomsgangers die geleentheid gebied om van huis tot huis te preek en vir nuwelinge om gedoop te word. Voordat daar sonebyeenkomste was, het ons nuwelinge te eniger tyd en op enige plek gedoop. Ek onthou dat ek ’n man in die yskoue water van ’n bergstroompie in Oregon en by ’n ander geleentheid ’n man in ’n drinkbak op sy plaaswerf gedoop het.
Dit was tydens hierdie sonebyeenkomste dat ons begin het om inligtingsoptogte te hê. Ons het tekens gedra wat aan die een kant gesê het “Godsdiens is ’n strik en bedrogspul”, en aan die ander kant “Dien God en Christus die Koning”. Dit het baie aandag getrek en soms teenstand uitgelok. In September 1939 het die Tweede Wêreldoorlog in Europa uitgebreek en het die teenstand teen ons werk toegeneem.
Gepeupeloptrede het ons byeenkomste in Hannibal, Missouri; Columbus, Nebraska; en St. Cloud, Minnesota, uitmekaar gejaag. In Marinette, Wisconsin, het die burgemeester ons beveel om ons byeenkomssaal te verlaat, maar toe die polisie sien dat ons die reg gehad het om daar te wees, het hulle ons beskerm. Die polisie van Huttonsville, Wes-Virginië, het daarenteen deelgeneem aan die gepeupeloptrede teen ons tydens ons byeenkoms in Elkins. Ons het hulle in hegtenis laat neem en hulle moes R500 borg betaal. Die saak is verskeie kere afgestel en eindelik afgewys, maar die polisie aldaar het nie weer met ons werk ingemeng nie.
Ek was dikwels in die hof in verband met sulke voorvalle. Soms het ek opgetree as prokureur vir die verweerder, en in ander gevalle was ek die verweerder, soos by Quincy, Illinois, waar ons die saak gewen het. Hayden Covington, destyds die Genootskap se prokureur, en Fred Franz, nou president van die Wagtoring genootskap, het ons met sommige sake bygestaan, soos die een in London, Kentucky, wat ons ook gewen het.
In die hofsaak in Indianapolis, Indiana, waar sowat 60 Getuies van oproer aangekla is, was ek en broer Franz in die getuiebank gedurende die verhoor wat vyf dae geduur het. Hoewel ons broers skuldig bevind is, is hulle later deur ’n hoër hof vrygespreek. Daardie einste week was ek ’n verweerder in nog ’n saak in Joliet, Illinois, ’n prokureur vir ’n broer in ’n ander saak in Madison, Indiana, en daarbenewens was ek elke naweek verantwoordelik vir ’n sonebyeenkoms. Ek sou ’n boek moes skryf om al die besonderhede van daardie opwindende tye te verhaal.
Die vyfdaagse byeenkoms in St. Louis in Augustus 1941 was ’n groot glanspunt. Ek is ’n paar weke tevore ingeroep en het die aanwysing ontvang om met die voorbereiding van die woonwakamp te help. Nadat ons ’n boer se hooioes ingesamel het, het ons ’n stad vir 5 000 in die saailand uitgelê. Maar selfs voordat die byeenkoms begin het, was daar 1 000 in die kamp, met baie motors, vragmotors en woonbusse wat in ’n tou in die pad gewag het om in te kom. Uiteindelik was daar meer as 15 000 in die kamp, waar baie die program per kabel gehoor het. Toe die 15 000 kinders in die gehoorsaal opgestaan en hulle gratis eksemplaar van die boek Kinders ontvang het, het ek gratis eksemplare van die boek aan die talle kinders in die kamp uitgedeel.
Kingdom Farm en Watchtower Farms
Kort na die byeenkoms in St. Louis het dit al hoe moeiliker geword om ons sonebyeenkomste te hou. Daar is dus besluit om daarmee op te hou. Ek is gevra om my by die Bethel in Brooklyn aan te meld. Ek was net ’n paar dae daar toe broer Rutherford my gevra het om op Kingdom Farm naby Ithaca, New York, te dien. Voordat ek na hierdie nuwe toewysing vertrek het, het ek ons huis naby Wallkill besoek. Moeder is oorlede, en al my broers en susters was getroud. Ek het toe na Kingdom Farm gery waar ek na die kamer aangewys is waarin ek die volgende 28 jaar gewoon het.
Na meer as 13 jaar in predikingswerk was dit moeilik om te begin boer. Maar dit is wat ek gedoen het, en ek het baie diensvoorregte in verband met die bedrywighede op Kingdom Farm geniet. Ek het terselfdertyd voortgegaan om gereeld saans en oor naweke te preek. Ek het Bybelstudies met baie mense gehou, waarvan ’n aantal gedoopte Getuies geword het.
Maar my vernaamste taak was nou die werk op die plaas. Ek het my toegelê op ’n studie van diere en plantvoeding deur die nabygeleë Cornell-Universiteit en sy biblioteek te benut. As gevolg van ons pogings het ons daarin geslaag om die plaasopbrengs te vergroot. Mettertyd het ons die meeste van die voedsel geproduseer wat gebruik is deur die groeiende Bethelgesin in Brooklyn, asook op Kingdom Farm.
Op 1 Februarie 1943 het die plaaspersoneel geweldig toegeneem toe die nuwe Gileadskool in werking getree het. Elke ses maande was daar ’n nuwe klas van ongeveer ’n honderd studente wat van oor die hele wêreld gekom het. Hoe aangenaam was dit tog om die bykans 3 700 studente van die 35 klasse wat opleiding vir sendingwerk op die plaas ontvang het persoonlik te leer ken voordat Gileadskool in 1961 na Brooklyn verskuif is! Gedurende daardie jare het ons baie teenstand ondervind, is ons een keer deur gepeupel aangeval en was daar ’n hofsaak, wat ons gewen het. Mettertyd het ons groepie in die gebied tot vier gemeentes gegroei.
Toe Gileadskool op Kingdom Farm ten einde geloop het, het die nuwe Koninkryksbedieningskool vir opsieners in die gemeentes daar begin. Gedurende die volgende sewe jaar of wat het ongeveer 7 000 ouere manne die maandlange kursus bygewoon. Die kursus is later tot twee weke verkort.
In Januarie 1963 het die Genootskap die eienaars geword van eiendom by Wallkill, New York, waar ek grootgeword het. Die eiendom is Watchtower Farms genoem. Met verloop van jare is die fasiliteite vergroot en verbeter, en is daar selfs ’n drukkery opgerig. Op 1 Januarie 1970 is ek soontoe gestuur, sodat ek weer terug was in dieselfde gebied waar ek bykans 45 jaar tevore begin getuig het! ’n Paar ouer lede van die gemeenskap het my nog onthou.
Toe ek op Watchtower Farms aangekom het, het die gesin uit 55 lede bestaan, maar nou is daar meer as 750! Dit sluit drie van my neefs in. Ek het ook ’n niggie wat saam met haar man in die streekwerk reis. Dit maak my baie bly dat meer as 30 lede van my familie met Jehovah se Getuies assosieer. In November 1974 was dit my voorreg om as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies aangestel te word, en as gevolg van daardie aanstelling het ek teruggetrek na die hoofkwartier in Brooklyn.
Ek is so bly dat Jehovah God my oë geopen het vir die wonderlike lewensdoel om hom te dien nadat ek gematrikuleer het. Die nastrewing van daardie doel die afgelope 60 jaar was waarlik lonend en bevredigend. Dit het my na aan ons hemelse Vader gebring en my in staat gestel om eerstehands te sien hoedat hy sy volk beskerm en seën.
[Prent op bladsy 29]
In die dertigerjare het ek ’n klankmotor gebruik om te getuig
[Prente op bladsy 30]
Ek was 28 jaar lank op Kingdom Farm, waar Gileadskool aanvanklik geleë was
Twee van die 3 700 wat ek uit Gileadskool sien gradueer het
[Prent op bladsy 31]
Ek het ook vyf jaar lank op Watchtower Farms gedien