Beloof die Bybel ’n aardse paradys?
“PARADYS is ’n naam vir die hemel”, sê The World Book Encyclopedia. “Jesus het die woord in hierdie sin gebruik toe Hy met die sterwende rower aan die kruis gepraat het.”
Maar het Jesus Christus werklik ’n hemelse paradys aan die sterwende rower beloof? Of het hy ’n aardse paradys beloof?
Die belofte van hemelse lewe
Dit ly geen twyfel dat Jesus die hoop op hemelse lewe aan sy getroue apostels voorgehou het nie. Die nag voor sy teregstelling het hy beloof: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; . . . Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Wat ’n wonderlike belofte van hemelse lewe tog!—Johannes 14:2, 3.
Jesus sal in die hemel regeer as Koning van God se Koninkryk. En God het persone uit die mensdom gekies om saam met hom te regeer. Die Bybel sê vir ons wat Christus met hierdie uitverkorenes doen: “U het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal die koningskap oor die aarde uitoefen.”—Openbaring 5:10, NTP; 2 Timotheüs 2:11, 12.
Die apostel Johannes het gesê dat diegene wat “van die aarde vrygekoop is” om saam met Christus in die hemel te regeer altesaam 144 000 sou wees. Hulle sou ’n “klein kuddetjie” wees vergeleke met diegene wat die ewige lewe ontvang (Openbaring 14:1-3; Lukas 12:32; Johannes 10:16). Vir sulke persone met die hoop om hemel toe te gaan, het Christus beloof: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binnein die paradys van God is” (Openbaring 2:7; Johannes 16:33; 1 Johannes 5:4). Hierdie figuurlike “paradys van God” is in die onsigbare hemele.
Maar is dit reg om aan te neem dat die hemel die enigste paradys is wat aan al Jesus se volgelinge voorgehou word? Aangesien die simpatieke kwaaddoener nie die wêreld oorwin het deur ’n weg van getrouheid aan God te bewandel nie, maar tereg om die lewe gebring is vir sy goddelose dade, kan ons vra: Watter paradys het Christus aan hom beloof?
Watter paradys is aan die kwaaddoener beloof?
Een van die kwaaddoeners wat langs Jesus gehang het, het gesê: “As U die Christus is, verlos Uself en ons.” Die simpatieke kwaaddoener het hom egter bestraf. Toe het hy na Jesus gedraai en gesê: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” Toe het Jesus die merkwaardige belofte geuiter: “Voorwaar ek sê vandag vir jou: Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:39-43, vgl. NW.
Waar is hierdie beloofde paradys? Die wyse waarop hierdie vers in talle Bybelvertalings weergegee word, het baie mense se beskouing hiervan beïnvloed. Die meeste Bybels gee dit weer soos die Afrikaanse Bybel: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” Volgens sulke vertalings het Jesus en die kwaaddoener Paradys toe gegaan op die dag dat hulle gesterf het. Maar hoe is dit moontlik, aangesien die Bybel sê dat Jesus met sy dood na die doderyk (Hades of Sheol) gegaan het? Toe die apostel Petrus vertel het van Sy opstanding drie dae later, het hy gesê: “Hy is nie aan die doderyk [Hades, in Grieks] oorgelaat nie . . . God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan”.—Handelinge 2:31, 32, NTP; Psalm 16:10.
Aangesien dit duidelik is dat Jesus voor sy opstanding in Sheol of Hades (die gemeenskaplike graf van die mensdom) was, sê die Commentary on the Holy Scriptures deur J. P. Lange: “Onder hierdie Paradys moet ons egter nie die hemelse paradys verstaan nie . . . maar daardie deel van Sheol wat in teenstelling met Gehenna ook Paradys genoem is.”
In sy Commentary on the Gospels verstrek D. D. Whedon ‘n bietjie meer informasie oor hierdie beskouing van Paradys waar hy verduidelik: “Die naam [Paradys] is deur die Joodse kerk [van die oorspronklike paradys in Eden] oorgedra op die geseënde deel van Hades, of die toestand tussen die dood en die opstanding. Dit was ongetwyfeld Jesus se bedoeling om dit met die uitdrukking Paradys vir die sterwende rower aan te dui.”
Die Paradys ’n “geseënde deel van Hades”? Dit is klaarblyklik ’n beskouing wat by Joodse leraars ontstaan het; dit word beslis nie in die heilige Hebreeuse Skrifte geleer nie. Die meeste geestelikes aanvaar nie vandag die beskouing dat die Paradys ’n deel van Hades is nie. The Catholic Encyclopedia sê: “Volgens die algemene vertolking van Katolieke teoloë en kommentators word paradys in hierdie geval gebruik as ’n sinoniem vir die hemel van die geseëndes waarheen die rower die Verlosser sou vergesel.”
Talle Protestantse skrywers is dit eens met hierdie beskouing van die Katolieke. In sy kommentaar The Bible-Work roep J. G. Butler uit: “Wat ’n dag vir daardie sterwende man! In die oggend was hy ’n boosdoener wat voor die regbank van aardse oordeel veroordeel is; voordat die aand die Sionsheuwel in duisternis gehul het, het hy goedgekeurd voor die regbank van die hemel gestaan.”
Maar wag! Volgens die Bybel het ons gesien dat Jesus nie hemel toe gegaan het toe hy gesterf het nie, maar na Sheol of Hades. Hy was drie dae lank dood, onbewus in die gemeenskaplike graf van die mensdom (Prediker 9:5, 10). Hy kon dus nie hemel toe gegaan het nie. Die Bybel sê dat Jesus 40 dae na sy opstanding teruggekeer het hemel toe.—Handelinge 1:3, 6-11.
Dit is duidelik dat Jesus bloot vir die kwaaddoener beloof het dat hy in die Paradys opgewek sal word; Jesus het nie gesê dat hy daardie einste dag in die Paradys sou lewe nie. Die korrekte vertaling van Jesus se woorde is dus: “Voorwaar ek sê vandag vir jou, Jy sal saam met my in die Paradys wees.” ’n Aantal Bybelvertalings gee dit so weer, en een van hulle (Lamsa) sê in ’n voetnoot: “Antieke tekste het nie leestekens bevat nie. Die komma kan voor of na vandag kom.”
Waar sal die Paradys wat Jesus aan die kwaaddoener beloof het dan wees? En wanneer sal mense dit geniet?
’n Aardse paradys
Jy sal onthou dat ons vroeër gepraat het oor God se skepping van die oorspronklike paradys in Eden reg hier op aarde. Dit was klaarblyklik God se voorneme om ’n aardse paradys te hê waarin mense die ewige lewe in vrede en veiligheid kon geniet. Dink jy dat God sal toelaat dat hierdie voorneme onverwesenlik bly? Nooit! “Al wat my behaag, sal Ek doen”, sê hy. “Soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom” (Jesaja 46:10, 11). Ja, God sal sy voornemens volbring! En hy beloof: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon”.—Psalm 37:29.
Wanneer ons Jesus se belofte van ’n paradys aan die kwaaddoener lees, moet ons dus in ons geestesoog sien hoedat hierdie hele aarde omgeskep is in ’n pragtige woonplek, soos ’n vrugbare tuin, want dit is wat die woord “paradys” beteken. Gaan Jesus reg hier op aarde saam met die voormalige kwaaddoener in die Paradys woon? Nee, Jesus sal in die hemel as Koning oor die aardse paradys regeer. Hy sal met daardie man wees in die sin dat Hy hom uit die dood sal opwek en in sy fisiese sowel as geestelike behoeftes sal voorsien.
Die kwaaddoener was klaarblyklik nie ’n getroue Christenoorwinnaar wat voldoen het aan die vereistes om ’n medeheerser van Christus in die hemel te wees nie. Hy het goddelose dinge gedoen, net soos miljoene ander mense wat Jesus gaan opwek (Handelinge 24:15). Maar hulle het hierdie goddelose dinge gedoen omdat hulle nie God se wil geken het nie. In die Paradys sal hulle dus geleer word wat God se wil is en sal hulle die geleentheid hê om te bewys dat hulle God werklik liefhet deur sy wil te doen.
’n Beeld van die Paradys
Hoewel die New Catholic Encyclopedia die gevolgtrekking maak dat die Paradys “op ’n ander plek as die aarde” is, sê dit: “Die vrede en ideale geregtigheid wat deur die messiaanse koning verskaf gaan word, sal wees soos dié van die Paradys in Jesaja 11:6-11.” Beskou die pragtige paradys wat daar beskryf word. Nadat hierdie hartroerende profesie in Jesaja hoofstuk 11 van die heerskappy van die Messiaanse Koning, Jesus Christus, vertel het, sê dit voorts in verse 6 tot 9:
“Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hul kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”
Waar sal die paradystoestande wat hier so pragtig beskryf word, verwesenlik word? Die godsdiensleraars van die Christendom glo nie dat dit op aarde vervul gaan word nie. “Al die kenmerke van die beeld wat deur Jesaja geskilder word, dra die stempel van die bestaande aardse stoflikheid”, erken professor J. P. Lange. Maar hy voeg by: “Die profesie kan nie in hierdie ryk verwesenlik word nie. Ons moet ’n nuwe grondslag van geestelike, verheerlikte stoflikheid vir hierdie vervulling veronderstel.”
Maar beskryf hierdie profesie figuurlik die vrede en veiligheid wat mense in ’n hemelse paradys gaan geniet? Glad nie! Dit beskryf toestande reg hier op aarde. In die organisasie van Jehovah se Getuies bestaan daar vandag reeds aardwyd ’n toestand van geestelike voorspoed, vrede en veiligheid, soos God se profeet Jesaja dit so pragtig uitgebeeld het. Maar sal sulke paradys toestande mettertyd in ’n letterlike sin vervul word?
Die meeste godsdiensleraars in die Christendom sal weliswaar spot met die gedagte dat God diere in vrede met mekaar en met die mens gaan laat lewe. Maar ons kan vertrou dat die almagtige God sulke wonderlike veranderinge in die diereryk gaan teweegbring. Een Bybel kommentator het die volgende aangaande hierdie Bybelprofesie gesê: “As alles bloot figuurlik is, wat is dan die doel van sulke gedetailleerde verklarings oor die verandering in diere? Dit lyk ook asof ons hier ’n parallel of ooreenkoms het met die toestand wat bestaan het voor die mens se sondeval. Voor daar sonde in die wêreld gekom het, was die diere vir die mens ’n hulp en het hy hulle name gegee. Alles wat God gemaak het, was goed. Vyandskap tussen mense en diere was onbekend.”
Watter pragtige ooreenkomste is daar inderdaad tussen hierdie profetiese beskrywing in Jesaja van die Messias se heerskappy en die toestande wat in die tuin van Eden bestaan het! Dit was vol van “die kennis van die HERE”, aangesien God ongetwyfeld met sy aardse seun, Adam, gekommunikeer het. Die Bybel sê spesifiek dat “al die groen plante” destyds aan die diere “as voedsel” gegee is. Hulle het nie ander diere geëet nie (Genesis 1:30). En die diere was onderdanig aan die mens. Hulle was byvoorbeeld gehoorsaam aan die bevel om voor hom te verskyn om name te kry.—Genesis 2:19, 20.
Hoe wonderlik sal dit tog wees om te sien hoedat sulke harmonie en veiligheid weer aardwyd herstel is! Watter groot voorreg sal dit tog wees om in ’n glorieryke aardse paradys te lewe waar alle mense mekaar liefhet en waar hierdie wonderlike vrede onder mense selfs weerspieël word deur die staking van vyandelikhede in die diereryk! Die Bybel beloof inderdaad ’n aardse paradys!
[Prent op bladsy 7]
Sal hierdie toestande werklik op aarde heers?