Verwerp wêreldse begeertes!
1, 2. (a) Hoe moet Jehovah aanbid word? (b) Wat verg dit van sy Getuies?
JEHOVAH GOD verdien om op ’n rein, opregte wyse aanbid te word deur almal wat aan hom toegewy is. Hulle moet hom te alle tye en in alle opsigte in woord en daad eer. Hulle moet beslis nie “die gees van die wêreld”—sy sondige en selfsugtige, dikwels verdorwe, heersende gevoel of dryfkrag—hê nie (1 Korinthiërs 2:12). As ’n volk wat georganiseer is om God te loof, moet Jehovah se Getuies opvallend anders as hierdie wêreld wees. Hulle moet heelhartig die goddelike instruksie toepas om “goddeloosheid en wereldse begeerlikhede te verloën [en] ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe”.—Titus 2:11-14.
2 Ongelukkig het nie almal wat bely dat hulle Jehovah liefhet hom altyd vereer en duidelik getoon dat hulle wereldse begeertes of weë verwerp het nie. Volgens berig het sekere toegewyde Christenmanne ’n maskerbal bywewoon geklee soos vroue. Kan sulke gedrag as onwêrelds of as ’n eer tot Jehovah beskou word? Dit is beslis nie wat ons sou verwag van diegene wat “nie van die wereld is nie” (Johannes 15:19). Onder die meeste omstandighede sal ’n man met ’n vrouepruik op en vroueklere aan immers nie alleen verwyflyk nie, maar ook die weg vir ander mans open om hulle te nader vir onnatuurlike seks!—Deuteronomium 22:5.
3. Watter vrae in verband met wêreldse weë en begeertes verdien ons aandag?
3 As getuies van Jehovah erken ons moontlik dat ons ‘nie in wêreldse aangeleenthede moet opgaan’, soos in die vorige artikel getoon is nie (1 Korinthiërs 7:31, The New Testament: A New Translation, deur Olaf M. Norlie). Ons besef miskien dat God se onverdiende goedheid ons leer “om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar” (Titus 2:11, 12, NTP). Maar gestel ons hart reageer nie werklik so nie. Of gestel ons wil ons voorneme om wêreldse begeertes te verwerp, versterk. Wat kan ons help?
Doen ’n beroep op die “Hoorder van die gebed”
4, 5. (a) Waaruit kan ons gebede tereg bestaan? (b) Waarvoor kan ons soms ten opsigte van ons hart bid?
4 Een manier om daarin te slaag om wêreldse begeertes te verwerp, is om gereeld opregte versoeke om hulp tot die “Hoorder van die gebed” te rig (Psalm 65:3). Maar hoe kan ons bid as ons hart in ’n mate na wêreldse dinge hunker?
5 As getuies van Jehovah moet ons, ons begeertes in alles aan God bekend maak’. As ons dit in geloof doen, sal die onvergelyklike “vrede van God” ons hart en sinne bewaar. Jehovah het natuurlik self gesê: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Filippense 4:6, 7; Genesis 8:21). Soms moet ons dus vir ’n ander gesindheid, ’n verandering van hart, bid. As die wêreld se verlokkings byvoorbeeld aan ons hart trek, moet ons ons hemelse Vader vra om ons te help om daardie hunkering deur geestelik heilsame begeertes te vervang.
6. Hoe kan ons bid as die wêreld se weë en verlokkings vir ons besonder aantreklik lyk?
6 Eeue gelede het die psalmis Dawid God versoek: “Maak my u weë bekend . . . Lei my in u waarheid en leer my” (Psalm 25:4, 5). Jehovah het dit vir Dawid gedoen, en Hy kan beslis so ’n gebed vir Sy hedendaagse knegte verhoor. Aangesien Jehovah se “weë” en “waarheid” nie wêrelds is nie, kan biddende gedagtes soos Dawid s’n help as hierdie wêreld se weë vir ons besonder aanloklik lyk.
7. Wat is die verstandige weg as ons deur ongesonde, wêreldse vermaak gelok word?
7 Die wêreld huldig onsedelike beskouings en is vol goddeloosheid. Dit blyk dikwels uit wêreldse liedjies, danse, boeke, toneelstukke, rolprente, televisieprogramme en dies meer. Wat moet ons doen as ons, as toegewyde Christene, verlok word deur ongesonde, wêreldse vermaak? Eerstens, dit sal goed wees om moontlike vermaak in die lig van God se Woord te takseer. Dit toon dat ons moet ‘verafsku wat sleg is en die goeie moet aanhang’ (Romeine 12:9). Dan moet ons om Jehovah se hulp bid sodat ons hart, hoewel onvolmaak, sal ophou om skandelike dinge te begeer. Ons God kan gewis ‘’n rein hart in ons skep’ as ons hom opreg vra om dit te doen.—Psalm 51:12.
Hulp deur die heilige gees
8. Wat kan volgens Psalm 51:13 gebeur al het ons nou die heilige gees?
8 Nadat die erns van sy sonde met Batseba dramaties by Israel se koning Dawid ingeprent is, het hy by Jehovah gepleit: “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Psalm 51:13). God het daardie gebed verhoor. Maar let daarop dat ’n mens die heilige gees kan verloor of dat dit onttrek kan word.
9. Wat kan ons in wêreldse verdorwenheid intrek, en met watter moontlike gevolge?
9 As ons, as toegewyde Christene, toelaat dat die wêreld ons terugtrek in sy “uitgieting van losbandigheid”, kan ons geestelik verdrink (1 Petrus 4:4). Dit kan begin met nuuskierigheid, moontlik deur ons verstand en hart te voed met onsedelike, wêreldse gedagtes wat daarin geplant word deur lektuur en vorme van vermaak wat Skriftuurlik afkeurenswaardig is. God se Woord spoor ons aan om “kinders in die boosheid” te wees deur nie kennis van onsedelike of goddelose dinge te soek nie (1 Korinthiërs 14:20). Maar nuuskierigheid kan ons in ’n draaikolk van verdorwenheid laat beland, en ons kan onverstandig die gevolgtrekking maak dat ons geestelik volwasse of sterk genoeg is om nie besmet te word sodat ons nie wil he dat enigeiemand—uiteindelik nie eens God nie—vir ‘ons moet voorskryf wat ons moet doen’ nie. Die gevolge kan rampspoedig wees, aangesien niemand God kan trotseer deur hardnekkig sy raad te verwerp en ‘ongestraf bly’ nie.—Job 9:1-4.
10. (a) Wat kan ons aan die heilige gees doen as ons nie wêreldse begeertes beteuel nie? (b) Wat sal ons dus help om die wêreld en sy verlokkings te weerstaan?
10 As wêreldse begeertes nie beteuel word nie, kan dit veroorsaak dat ons God se heilige gees bedroef deur dit te veronagsaam, ’n weg in te slaan wat bots met die leiding daarvan en ons hart te sit op doelwitte wat verskil van die waarheen die gees ons sou lei. As ’n mens ‘God se heilige gees bedroef, beteken dit ook dat jy sy Woord verwerp. (Efesiërs 4:30; vergelyk Handelinge 7:51-53.) Dit kan lei tot opsetlike opstand teen die duidelike openbaring van Jehovah se gees en kan lastering teen daardie gees, ’n onvergeeflike sonde, beteken. (Mattheüs 12:31, 32; Markus 3:29; vergelyk Hebreërs 6:4-6; 10:26-31.) Mag ons dus nooit weer begin wandel op die weg van onafhanklikheid en die bevrediging van wêreldse gebruike waarvan ons eens deur Jehovah se onverdiende goedheid gered is nie. Laat ons eerder om die heilige gees bid en vatbaar wees vir sy invloed, wat ons sal help om die wereld en sy verlokkings te weerstaan.—Psalm 143:10; Lukas 11:13.
God se Woord is ’n hulp
11. Wat gaan ons nou bespreek wat ons behoort te help om die versoeking om ‘die wêreld ten volle te gebruik’ te weerstaan?
11 ’n Wonderlike produk van God se heilige gees is sy geïnspireerde Woord (2 Samuel 23:2; 2 Timotheüs 3:16; 2 Petrus 1:20, 21). Die bladsye daarvan bevat ‘dinge wat tevore geskrywe is tot ons lering’ asook ‘waarskuwende voorbeelde aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het’ (Romeine 15:4; 1 Korinthiërs 10:11). Hoe het sommige mense in die Bybelverhaal dan die wereld beskou?
12. Wie was Demas, en hoe kan ons baat vind by ’n bespreking van sy handelwyse?
12 Selfs ’n slegte voorbeeld is nuttig, want dit wys vir ons wat ons moet vermy. Ter toeligting: Die apostel Paulus is deur sy medewerker Demas verlaat ‘weens sy liefde vir die teenwoordige wereld’. Daar word nie gese wat die presiese aard en omvangvan hierdie verlating was nie, maar ’n liefde vir wêreldse genietinge en materiële dinge het moontlik sterker geword as dié vir geestelike dinge. Hoe dit ook al sy, Demas het nie sy uitstekende geleentheid gebruik om sy broer Paulus te versterk nie (2 Timotheüs 4:10). Dit behoort ons te beweeg om getrou aan mede gelowiges te bly en hulle nie te verlaat omdat ons toegelaat het dat liefde vir die teenswoordige stelsel ons hart vul nie.
13. Watter bewys is daar dat Abraham en Saranie ‘opgegaan het in wêreldse aangeleenthede’ nie?
13 Ons het vandag die hele Bybel as ons rigsnoer. Maar selfs sonder een volle Bybelboek—Genesis—het die godvresende aartsvaders Abraham, Isak en Jakob en hulle lojale vroue ‘nie die wêreld ten volle gebruik nie’. Abraham (Abram) het byvoorbeeld gedoen soos Jehovah God beveel het en Ur, ’n Chaldeeuse stad met mooi huise en baie voordele, verlaat. Ja, opgrawings aldaar toon dat hy en sy geliefde vrou Sara (Sarai) groot materiële opofferings moes gemaak het om te gaan waarheen God hulle beveel het om te gaan en as vreemdelinge in tente in die beloofde land te woon. Isak en Jakob het ook in geloof gehandel as “mede-erfgename (saam met Abraham) van dieselfde belofte”. Wêreldse belange was vir Abraham betreklik onbelangrik, “want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is”.—Hebreërs 11:8-10.
14. (a) Hoe kan daar getoon word dat Moses ‘nie die wêreld ten volle gebruik het nie’? (b) Hoe kan ons baat vind by Moses se voorbeeld wat ons beskouing van geestelike belange betref?
14 Die profeet Moses is nog ’n goeie voorbeeld van iemand wat op Jehovah vertrou en wêreldse begeertes verwerp het. Deur die geloof het Moses verkies om liewer sleg behandel te word saam met God se volk en “die smaad van Christus [dit wil sê, om God se gesalfde dienaar te wees] groter rykdom geag . . . as die skatte van Egipte”. Hy het gevolglik wonderlike voorregte geniet terwyl hy standvastig gedien het “soos een wat die Onsienlike [Jehovah] sien” (Hebreërs 11:24-27). Dit is duidelik dat Moses geen beter besluit kon geneem het as om geestelike belange eerste in die lewe te stel ondanks enige wêreldse verlokkings nie. Ons ook nie.—Mattheüs 6:33.
15. Watter ondervinding van die Israeliete moet ons beweeg om wêreldse verlokkings tot onsedelikheid te vermy?
15 Onder die dinge van die wêreld wat binnekort daarmee sal verbygaan, is “die begeerlikheid van die vlees”, wat op verskeie maniere, waarvan sommige goddeloos is, geopenbaar word (1 Johannes 2:15-17). Wêreldse verlokkings tot onsedelikheid is talryk en het soms ’n vernietigende uitwerking gehad selfs op mense wat aan Jehovah toegewy was. Hoewel die Israeliete uit Egiptiese slawerny verlos is, is duisende van hulle later om die lewe gebring omdat hulle ‘met die dogters van die Moabiete gehoereer het’ (Numeri, hoofstuk 25; 1 Korinthiërs 10:8). Dit moet ons gewis beweeg om wêreldse verlokkings tot onsedelikheid te vermy!
16. (a) Wat het Josef gedoen toe hy versoek is om onsedelik te wees? (b) Hoe kan ons baatvind by Josef se voorbeeld?
16 Beskou die goeie voorbeeld van Josef, die seun van Jakob. Sy Egiptiese heer se vrou het hom herhaaldelik aangespoor om geslagsomgang met haar te hê. Maar hy het beslis geweier. Daar word nie gesê dat die vrou so lelik was dat sy ’n man sou afstoot nie. Josef het eerder uit haar teenwoordigheid gevlug omdat hy nie teen sy regverdige God, Jehovah, wou sondig nie (Genesis 39:7-20). Moet ons veranderinge in ons leesstof, ontspanning of sekere omstandighede aanbring sodat ons nie teen God sondig nie? Laat ons dit dan net soos godvresende Josef sonder versuim doen.—1 Petrus 2:11, 12.
17. (a) Watter gesindheid word dikwels deur wêreldse denke bevorder? (b) Hoe het sekere hoogmoedige vroue van Juda hulself versier, en wat het met hulle en hulle versiersels gebeur?
17 Wêreldse denke bevorder dikwels onafhanklikheid en hoogmoed. Die wêreld se klem op die materiële aspekte van die lewe raak ook versiering, wat veral betekenisvol is vir vroue wat graag mooi wil lyk. In antieke Juda in Jesaja se dag het hoogmoedige vroue hulle met baie ornamente versier. Dit was klaarblyklik om in die mode te wees dat sulke trotse vroue “voetkettinkies” aan hulle enkelringe gedra het. Hierdie kettinkies het ‘gerinkel’ wanneer ’n vrou geloop het, en hulle het haar verhinder om normaal te loop sodat sy “met trippelgang”, wat as ’n deftige vroulike stap beskou kon word, geloop het. Die Babiloniese verowering van Juda in 607 v.G.J. het natuurlik ’n einde gemaak aan daardie versiersels en aan vryheid.—Jesaja 3:16-24.
18. Wat is die Skriftuurlike standaard vir vroulike versiering?
18 Wat ’n geweldige verskil in gesindheid het daar tog bestaan tussen onbeskeie, wêreldse Isebel en beskeie, vroom, dog welgeklede Ester wat vroulike versiering betref! (2 Konings 9:30; Ester 2:7; 5:1). Christinne sal vanselfsprekend graag soos Ester wil wees. Daarom beklee hulle hulself “met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid”. Hulle vernaamste versiering is “die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God”.—1 Timotheüs 2:9; 1 Petrus 3:3-5.
19. Hoe het Jesus Christus die beste voorbeeld van onwêreldsheid gestel?
19 Jesus Christus het die beste voorbeeld van onwêreldsheid gestel. Hoewel hy ’n volmaakte man was wat baie meer potensiaal vir wêreldse sukses gehad het as enige ander mens. was sy vernaamste belange geestelik van aard—dermate dat hy ‘geen plek gehad het waar Hy sy hoofkon neerlê nie’ (Mattheüs 8:20). Jesus is geensins sedelik deur hierdie wêreld verderf nie. Hy word eerder beskryf as “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” (Hebreërs 7:26). As onvolmaakte mense kan ons nie nou Jesus se voetstappe volmaak navolg nie. Maar ons moet ons bes doen, met Jehovah se hulp.—1 Petrus 2:21, 22.
Gaan voort om wêreldse begeertes te verwerp
20. Hoe kan jy vry van hierdie wêreld se gees bly as jy ’n aanbidder van Jehovah is?
20 As jy jou onder Jehovah se gelukkige aanbidders bevind, is jy voorwaar geseënd. Jy het iets gevind wat baie beter is as alles wat hierdie verdorwe en sterwende wêreld kan bied. Hang dus ware aanbidding aan en bly vry van hierdie wêreldse gees. Te dien einde moet jy dikwels versoeke tot die “Hoorder van die gebed” rig, om die hulp van sy heilige gees vra, jou altyd laat lei deur die raad van God se Woord en nooit die lang—nou eeue-oue—lyn getroue getuies van Jehovah verlaat nie.—Vergelyk Hebreërs 12:1-3.
21. Wat moet ons vaste voorneme ten opsigte van hierdie wêreld wees?
21 Mag dit jou vaste voorneme wees om nie hierdie wêreld ten volle te gebruik nie. Hou eerder jou verstand en hart gerig op die doen van God se wil. Dan sal jy die onfeilbare steun van Jehovah se “ewige arms” geniet (Deuteronomium 33:27). Mag jy, seker van sulke goddelike hulp, voortgaan om ingetoë, regverdig en vroom te lewe terwyl jy goddeloosheid en wêrelse begeertes verwerp.
Hoe sou jy die volgende vrae beantwoord?
◻ Hoe kan gebed help as ons hart na wêreldse dinge hunker?
◻ Hoe kan die heilige gees ons help om die wêreld en sy verlokkings te weerstaan?
◻ Watter Bybelse voorbeelde kan ons help om wêreldse weë en begeertes te verwerp?
◻ Hoe kan ons vry van hierdie wêreld se gees bly?
[Prent op bladsy 21]
Moenie toelaat dat nuuskierigheid jou in wêreldse verdorwenheid intrek nie
[Prent op bladsy 23]
Josef het gevlug om nie te sondig nie. Ons moet ook sonder versuim optree om goddelose gedrag te vermy