’n Aanbevole boek
OP 23 Januarie verlede jaar het die Sunday Sun, ’n koerant van die Karibiese eiland Jamaika, die volgende opskrif bevat: “Getuies beur vooruit.” Nadat dit onlangse vermeerderinge in hulle geledere beskryf het, het die koerant gesê:
“Die Getuies het nou ’n nuwe, mooi geïllustreerde, oortuigend en eenvoudig geskrewe boek met 255 bladsye vrygestel wat hulle baie behoort te help om hulle getalle aan te vul. Die gebonde boek, met die titel JY KAN VIR EWIG IN DIE PARADYS OP AARDE LEWE, word teen die billike prys van J$4.50 [R3.00] verkoop. . . .
“Die Getuies het al menige persoon se Sondagsrus verstoor en al baie uit die bed opgeklop, gewoontes wat hulle nie juis gelief maak nie.
“Maar die Getuies verdien ’n horende oor. As jy hulle nie kan toelaat om ’n voet in die deur te sit nie, neem dan gerus JY KAN VIR EWIG IN DIE PARADYS OP AARDE LEWE, wat die teologie en gebruike van Jehovah se Getuies sistematies en breedvoerig uiteensit. . . .
“Die Getuies het nog altyd die slag gehad om godsdiens met die polsslag van die daaglikse lewe te versoen. Getuiepublikasies handel nie merendeels oor verkrampte en kleinlike godsdiensgeskille en -debatte waarmee baie Fundamentaliste skynbaar behep is nie. Die alledaagse probleme waarmee mense worstel—soos depressie, eensaamheid, seksuele probleme, geldelike kwellinge, vrees—word kragtig in Getuie-teologie behandel.
“Terwyl baie Christene van die Evangelie praat in terme wat skynbaar geen verband hou met gebeure in die werklike wêreld nie, en terwyl baie hulle geestelike lewe van hulle sosiale en intellektuele lewe skei, oorheers die Getuies se geloof alles wat hulle doen. Dit word duidelik getoon in JY KAN VIR EWIG IN DIE PARADYS OP AARDE LEWE. . . .
“Die boek en, trouens, Getuie-teologie het een oorheersende tema: Die voortreflikheid van die Koninkryk van God. Die boek voer kragtige bewyse aan dat die Koninkryk van God die sentrale tema van Jesus se bediening was. Die Getuies bring selfs die genesingswerk van Jesus, wat oorheersend was in Sy bediening, met die Koninkryk van God in verband. Die Getuies toon dat die verlenging van menselewe op sigself nie Jesus se vernaamste prioriteit was nie. Die wonderwerke het eerder ‘bewys dat alle menslike probleme deur God se krag opgelos kan word. Ja, hulle het op klein skaal getoon wat onder die Koninkryk van God op aarde gaan gebeur.’”
Hoewel hierdie koerantskrywer sekere leerstellings van Jehovah se Getuies kritiseer, moedig hy tog, soos hierbo gemeld, sy lesers aan om die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe te bekom. Jy het moontlik ook die geleentheid gehad om hierdie puik publikasie te lees. Is jy gretig om die kosbare inhoud daarvan met ander te deel?
Talle persone is, soos blyk uit die feit dat daar binne die eerste jaar van publikasie miljoene eksemplare van die Paradys op aarde-boek versprei is. Een so ’n persoon uit Noord-Carolina het verlede jaar aan die Wagtoringgenootskap geskryf. Hy het sy brief gerig aan “Geagte Meneer en Broer” en gesê: “Ek hoop nie u gee om dat ek u so aanspreek nie. Ek skryf egter aan u in verband met ’n boek wat u uitgee met die titel Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe.
“So ongeveer die eerste Maart het ’n Getuie by my huis aangeklop saam met ’n klein seuntjie wat my onthou het. Hy het vir my die boek gewys en ek het dit geneem. Wel, ek het die boek gelees en baie daarvan gehou. Ek is ’n vragmotorbestuurder van beroep, en die volgende week het ek na Long Island, New York, gegaan. Daar het ek kennisse ontmoet wat stiefkinders het en wat probleme ondervind. Ek het vir hulle die boek gegee. Ek het eers weer in Hayti, Missouri, ’n ander boek gekry.
“Van daar af het ek na Houston, Texas, gery. Op pad na Houston het ek by die Koninkryksaal in Lufkin, Texas, stilgehou en 10 boeke gekry. In Houston het ek al 11 die boeke geplaas. Ek het toe weer by Lufkin langs gery en nog 8 boeke gekoop (die aand van die Pasga). Toe ek by Conway, Arkansas, kom, het ek nie een oorgehad nie. Ek het nog 10 gekry. Teen die tyd dat ek Durham, Noord-Carolina, bereik het, was hulle ook klaar. Ek het nog twee by broer J-- gekry. Daardie Sondag het ek 15 by die Saal in Durham gekry. Hulle het ook nie lank gehou nie, met die gevolg dat ek in Wilmington, Delaware, nog 16 gekoop het. Ek het 3 in Rockton, Illinois, gekoop. In Noord-Dakota was my boeke op, en ek kon eers weer in Memphis, Tennessee, nog 10 in die hande kry. Toe in Brooklyn, New York (by die Wagtoringhoofkwartier), het ek nog 27 gekoop. Die laaste keer wat ek boeke gekry het, was in Springfield, Illinois, waar ek op 1 Mei 1983 10 gekoop het.
“Van 27 Maart tot 27 April het ek altesaam 96 van daardie boeke geplaas. Wel, dit is nou ’n nuwe maand en ek begin al weer stadig maar seker. Maar elke keer as ek boeke kry en tussenin vra ek die broers om met my studie te hou omdat ek nog nie ’n Getuie is nie. Met die Koninkryksopnames in my vragmotor, die studies wat ek hier en daar kry (en die rooi boek) en die onverdiende goedheid van Jehovah ons Vader en Jesus Christus die Seun, tesame met volgehoue gebede, kan ek ook miskien die ewige lewe verkry.”
Nadat hy gevra het dat daar vir hom gebid word, en hy sy brief met ’n liefdesbetuiging afgesluit het, het hierdie vragmotorbestuurder die volgende naskrif bygevoeg: “Vandag, 17/5, het ek nog 25 boeke by die Wagtoring gekry.”
Hoe kry hierdie man dit reg om so baie eksemplare van die Paradys op aarde-boek te versprei? Bob Rodish, ’n lid van die Brooklynse hoofkwartierpersoneel wat ’n Bybelstudie met hom gehou het toe hy nog lektuur kom haal het, verduidelik: “Hy het vir my gesê dat hy eenvoudig vir mense die boek wys, vir hulle sê dat hy baie wonderlike dinge daaruit geleer het en dat die dinge wat hy geleer het werklik sy lewe verander het. Dan maak hy by sekere bladsye oop om te wys wat die boek bevat—byvoorbeeld, bladsye 140 en 141, wat chronologiese bewys lewer dat God se Koninkryk reeds in die hemel opgerig is en nou regeer.”
’n Mens se eie geesdrif en persoonlike waardering vir die publikasie is inderdaad die sleutel tot die doeltreffende verspreiding daarvan. Terloops, Bob Rodish sê dat hy later verneem het dat sy vriend die vragmotorbestuurder nog steeds die boeke plaas by mense wat hy teëkom—meer as 200 boeke teen die einde van Junie verlede jaar.
Gedurende Maart en April vanjaar sal Jehovah se Getuies weer ’n spesiale kampanje voer om hierdie uitstekende Bybelstudiehulp in die hande van die publiek te kry. Jy word ook aangemoedig om ’n volle aandeel in die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk te hê deur die boek “Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe” by elke gepaste geleentheid aan te bied.