‘Die kleine het ’n duisend geword’ in Italië
“DIE kleine self sal ’n duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek, Jehovah, sal dit op sy tyd bespoedig.”—Jesaja 60:22, NW.
Jehovah se Getuies in Italië het inderdaad ‘’n duisend geword’ in die jare sedert die Tweede Wêreldoorlog. Die Getuies is vandag die tweede-grootste godsdiensorganisasie in Katolieke Italië, en hulle getalle het in daardie tydperk meer as duisendvoudig toegeneem—van 95 in 1946 tot oor die 100 000 vandag.
Dit is ongetwyfeld Jehovah wat die eer moet kry vir hierdie fenomenale groei. Maar ander bydraende faktore was die werk van die ywerige Italiaanse Getuies, hulle getroue volharding tydens beproewinge en hulle gewilligheid om hulle tyd, krag en middele in Jehovah se diens te bestee. Om met hierdie vooruitgang tred te hou, en om die nodige leiding en ondersteuning te gee, moes die Takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Italië ook deur die jare vergroot word.
Uitbreiding by die tak
Die heel eerste takkantoor in Italië is in 1946 in Milaan geopen. Na twee jaar is dit verskuif na ’n huisie in Rome wat deur die Genootskap gekoop is. Teen 1972 het die getal Getuies in Italië tot 25 000 aangegroei. In daardie jaar het die Genootskap ’n nuwe takgebou en Bethelhuis opgerig op ’n perseel aan die noordelike buitewyke van Rome.
Net vier jaar nadat daardie gebou betrek is, het die Koninkryksverkondigers in Italië tot sestigduisend vermeerder. Weer was dit nodig om die takgeriewe te vergroot. Dit was egter geen maklike taak om ’n boupermit te kry nie. Uiteindelik, in 1978, is daar begin met die werk aan ’n plaasgebou, en dit is in 1980 voltooi. In die tweede helfte van 1979 het die bouwerk aan ’n nuwe Bethelhuis en drukkery begin.
Die nuwe geboue
Die Bethelhuis is ’n vierverdiepinggebou met ’n kelderverdieping. Op die grondvlak is daar ’n gerieflike sitkamer met ’n marmervloer en paneelwerk van olyfhout. Daar is ook ’n eetsaal en ’n volledig toegeruste kombuis. Die eetsaal het plek vir 200 mense. Die mure is met rustige landskapskilderinge versier. ’n Koninkryksaal met 350 sitplekke is op die eerste verdieping geleë. Op die tweede verdieping is daar ’n biblioteek. In die kelderverdieping is die elektriese werkwinkel, die masjienwerkwinkel en bergruimte.
Die res van die gebou bestaan uit 70 gerieflike kamers, elk met sy eie bad en balkon. Tesame met die kamers in die bestaande gebou is daar nou plek vir 170 persone, wat ruim voorsien in die behoeftes van die 158 lede van die Bethelgesin.
Die drukkery is besonder lig en lugtig, danksy die baie vensters. Dit het ’n hoof-en kelderverdieping, elk met meer as 1 100 vierkante meter vloerruimte. Drie M.A.N.-drukperse is reeds geïnstalleer. Twee hiervan, tesame met ’n outomatiese boekbindmasjien, is onlangse toevoegings.
Hierdie drukkery lewer elke maand meer as 2 300 000 eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! Dit is beslis vooruitgang as ’n mens daaraan dink dat die 95 Koninkryksverkondigers in 1946 net 268 eksemplare van hierdie tydskrifte in Italië versprei het. Die drukkery kan ook 60 000 boeke per week lewer.
Die plaasgebou is langs ’n boombelynde pad ’n paar honderd meter van die nuwe geboue af geleë. Die plaas beslaan altesaam 50 hektaar en voorsien vleis, eiers, melk, groente en vrugte vir die Bethelgesin. Gesonde voedsel word dus betreklik goedkoop voorsien. Al die geboue het sonpanele op die dak vir waterverhitting.
’n Gesamentlike onderneming
Bouwerk is deesdae iets algemeens. Maar wat was anders omtrent die oprigting van hierdie nuwe Bethelhuis en drukkery? Al die werk is deur ongeveer ’n duisend Getuies gedoen wat hulle dienste vrywillig aangebied het. Timmermanne, ontwerpers, arbeiders, messelaars, elektrisiëns, verwers, loodgieters en ander het uit alle dele van Italië, asook Sicilië en Sardinië, gekom. Ambagsmanne en sakemanne het gekom en harde handearbeid verrig. Drie timmermanne—’n vader en sy twee seuns—het van tyd tot tyd kom help, al het hulle kort tevore ’n aansienlike verlies gely weens ’n brand by hulle werkwinkel. ’n Ander broer wat met die bouwerk gehelp het, het maande lank elke naweek ongeveer 100 kilometer ver gery sodat hy ook ’n bietjie tyd saam met sy gesin kon deurbring.
Baie broers het hulle huise en werk verlaat of hulle jaarlikse verlof gebruik om vir lang tydperke met die werk te kom help. En die gesinne wat agtergebly het, verdien baie eer vir die opofferinge wat hulle gemaak het om een gesinslid in staat te stel om met hierdie spesiale projek te kom help.
Die feit dat die meeste broers nie baie lank kon bly nie, het beteken dat die personeel op die bouspan feitlik elke week verander het. En dit het ’n groot uitdaging gebied vir die broers wat toesig gehou het oor die werk. Gelukkig was almal bereid om hulle aan te pas en opdragte uit te voer. Hulle gees van samewerking het waarlik bewys gelewer van “die vrug van die Gees”.—Galasiërs 5:22.
Baie broers het bygedra deur hulle private sakeondernemings tot beskikking van die Genootskap te stel. Een firma wat aan broers behoort, het byvoorbeeld 300 deure vir die nuwe Bethelhuis vervaardig. Diegene wat nie kon kom werk nie, het geld, materiaal en toerusting aangebied. Selfs kinders was gretig om te help. Een kindjie het al die geld geskenk waaraan hy vyf jaar lank gespaar het.
Die bou-opsiener het die volgende gesê aangaande die mooi gees onder die vrywilligers: “Dit was bemoedigend en aandoenlik wanneer ons van hierdie broers afskeid moes neem. Hulle het ons bedank vir die voorreg wat hulle geniet het om hulle arbeid by te dra ten einde reine aanbidding te bevorder.” In hierdie verband het die koördineerder van die Takkomitee opgemerk: “Hierdie gebou het nie deur die inspanning van ’n enkele persoon of ’n aantal persone tot stand gekom nie. Dit is gebou deur middel van die gesamentlike ondersteuning van God se hele volk in Italië. Dit is ’n blyk van Jehovah se seën.”
Inhuldiging en toewyding
Die broers was baie verheug oor die voltooiing van die nuwe takgeriewe. Hulle blydskap was duidelik te sien by ’n spesiale geleentheid—die inhuldiging en toewyding van die nuwe geboue tot eer van Jehovah! Dit het op 24 April 1982 plaasgevind. Maar hoe kon meer van Jehovah se Getuies in die vreugde van hierdie bemoedigende geleentheid deel? Om dit moontlik te maak, is die spesiale program in die Koninkryksaal van die nuwe gebou telefonies verbind met vergaderplekke in Rome, Novara, Ascoli Piceno, Napels, Sirakuse en Cagliari.
Die aangewese dag was winderig, koud en nat. Desnieteenstaande en hoewel die meeste van die groepe in oop stadions vergader het, het ’n geesdriftige skare van 27 372 die program geniet. Oor diegene wat in Novara byeen was, het Corriere della Sera berig:
“Die reën het neergegiet in die koue, winderige strate. Die meeste mense was in hulle huise of in die kroeg verskans, maar hulle [Jehovah se Getuies] was die uitsondering. Hulle het gekom van Triëst, Gorizia, Verona en Alessandria—per trein, in busse en in motors. Die kinders was toegedraai in skipakke, ou dames was opgestop soos matrasse, en bejaarde egpare het onder komberse geskuil waar hulle op die klein paviljoen van die stadion gesit het. . . . Daar was geen teken van onbeheerstheid, murmurering of ongeduld nie.”
’n Nasionale televisiekanaal het daardie aand nuusdekking aan die gebeurtenis verleen. Dit het dele van die vergadering en tonele van die nuwe tak ingesluit.
Die hoofspreker by die tak self was M. G. Henschel, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Sendelinge wat al meer as 30 jaar in in Italië dien, was ook teenwoordig.
Broer Henschel het sy toewydingsrede ingelei deur die woorde “die kleine self sal ’n duisend word” aan te haal. Hierdie woorde het besondere herinneringe by die ouer garde gewek. Maar hulle het ook by al die aanwesiges diepe waardering gewek vir Jehovah God, wat dit inderdaad ‘op sy tyd bespoedig het’.—Jesaja 60:22, NW.
Verdere uitbreiding
Hoewel “die kleine” in Italië reeds ‘’n duisend geword het’, is dit duidelik dat daar nog baie werk vir Jehovah se Getuies in die land is. Met die nuwe en groter takgeriewe is hulle goed toegerus vir die werk wat voorlê om die vermeerdering te gee.
En Jehovah het inderdaad aangehou om die vermeerdering te gee. In Maart 1983 het 233 042 persone—meer as twee maal die getal Koninkryksverkondigers in Italië—die Herdenking van die dood van Jesus Christus bygewoon. Die broers is baie bly dat hulle die voorreg het om hierdie belangstellendes te help om geestelike vooruitgang te maak. Baie van hulle het gunstig gereageer. In Mei verlede jaar het ’n hoogtepunt van 105 463 persone in die Italiaanse veld aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk deelgeneem.
Jehovah se Getuies in Italië meen dat God werklik ‘alle genade oorvloedig oor hulle laat wees het’. Benewens die getalle-aanwas geniet hulle ook ryk geestelike seëninge. Hulle is Jehovah dankbaar vir sy milddadigheid en hulle is vas van voorneme om in die jare wat voorlê nog oorvloediger te saai.—2 Korinthiërs 9:8-10.