Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 4/1 bl. 3-6
  • Is die lewe op aarde ’n stapsteen na die hemel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is die lewe op aarde ’n stapsteen na die hemel?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat van die aarde se toekoms?
  • Sal die aarde verbrand?
  • Sal ons aarde ooit vernietig word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Die lewe het ’n wonderlike doel
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • “Soos in die hemel net so ook op die aarde”
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Watter soort plek is die hemel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 4/1 bl. 3-6

Is die lewe op aarde ’n stapsteen na die hemel?

IS ONS planeet net ’n plek om op gebore te word, ’n paar smartvolle jare op te lewe en dan, as ons goed is, agter te laat vir ’n lewe van ewige saligheid in die hemel—of, as ons sleg is, vir ’n lewe in ’n vurige plek van foltering? En sal die aarde self eendag tot as verbrand?

Talle godsdiensleiers van die Christendom sal ja sê. Stem jy met hierdie sienswyse saam? Wat sê die Bybel egter oor die aarde en die rede waarom God mense daarop geskape het? Psalm 115:16 antwoord saaklik: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.”

As ons alle godsdiensdogma opsy skuif en die Bybelverhaal ondersoek, sien ons dat God die eerste mensepaar reg van die begin van hulle lewe op aarde af na Sy beeld en gelykenis gemaak het (Genesis 1:26-28). Ons lees nêrens, nie eers tussen die reëls nie, dat God in gedagte gehad het dat hulle en hulle kinders uiteindelik sou sterf en na die hemel of elders sou vertrek nie. Namate hulle hulle Godgegewe opdrag uitgevoer het om ‘vrugbaar te wees en te vermeerder en die aarde te vul’, sou die aardbol geleidelik gevul geraak het met hulle nakomelinge.

’n Spesiale plek, die tuin van Eden, is deur God ingerig sodat die eerste mense ’n volmaakte tuiste gehad het. Die verhaal lui: “Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak” (Genesis 2:8, 15). Dit sou uitgebrei word totdat die hele aarde uiteindelik ’n paradys was met ’n onuitputlike voorraad heerlike en gesonde voedsel en ander hulpbronne.

Dat die aarde meer as net ’n tydelike tuiste of ’n stapsteen na ’n ander bestemming sou wees, blyk duidelik uit God se volgende woorde aan Adam: “Die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”—Genesis 2:16, 17.

Toe hulle deur die Duiwel versoek is, het Eva en daarna Adam hierdie bevel veronagsaam en God se regverdige straf, die dood, ontvang. Maar vra jouself af: ‘Wat sou gebeur het as hulle nie ongehoorsaam was nie?’ Die duidelike implikasie is dat hulle sou bly lewe het en nooit sou sterf nie. Ja, Adam en Eva sou vandag nog gelewe het, in volmaakte gesondheid en geluk.

Wat van die aarde se toekoms?

In sy Notes on the New Testament vat Albert Barnes die algemene opvatting van die Christendom met betrekking tot die aarde se toekoms saam. Met verwysing na 2 Petrus 3:10 skryf hierdie kommentator:

“Die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Dit wil sê, hetsy dit die werke van God of die mens is—die ganse plante- en diereskepping, en al die torings, die dorpe, die paleise, die geniale uitvindsels, die skilderye, die standbeelde, die boeke, wat die mens gemaak het.”

Ja, die konsensus in die Christendom is al lank dat daar ’n tyd sal kom wanneer die aarde nie meer deur mense en ander lewende dinge bewoon sal word nie. Ons planeet, so glo baie kerkgangers, sal aan sy doel beantwoord het, want vir hulle is die aarde bloot ’n proefterrein wat òf na die hemel òf na die hel lei.

Maar dink gerus na oor die volgende: Het God se voorneme met die aarde en die mens verander toe Adam en Eva gesondig het? Jy sal vind dat niemand ’n enkele Bybelvers kan aanhaal wat so sê nie. Inteendeel, baie jare nadat die eerste mensepaar gesondig het, het die profeet Jesaja onder inspirasie geskryf:

“So sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word.” Jesaja het Jehovah soos volg aangehaal: “My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 45:18; 46:10). Die psalmis het ook aangaande Hom geskryf: “U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan.”—Psalm 119:90.

Jy kan dus sien dat die Bybel duidelik sê dat toe God die aarde geskape het, hy dit as ’n permanente plek in die heelal gemaak het en dat dit onteenseglik sy doel was dat mense dit moet bewoon. Daardie voorneme het nie verander nie. God sal sorg dat sy voorneme tot in die kleinste besonderheid vervul word.

Maar sê die Bybel nie dat sommige mense hemel toe sal gaan nie? Ja, die Bybel leer wel dat ’n beperkte getal om ’n bepaalde rede hemel toe gaan. God het nie mense in die hemel nodig nie; en hy hoef hulle ook nie hemel toe te neem om vir hulle ewige geluk te gee nie. Hy kon hulle mos in die eerste plek in die hemel geskape het sodat hulle nie al die lyding en beroering hier op die aarde hoef deur te maak nie, nie waar nie?

Toe Adam en Eva besluit het om God ongehoorsaam te wees deur hulle Godgegewe vrye wil as intelligente skepsele uit te oefen, het God dadelik stappe gedoen om te verseker dat sy voorneme met die aarde en die mens daarop verwesenlik sal word. Die volle besonderhede is eers eeue later aan mense geopenbaar. Maar dit blyk duidelik uit die openbaring van wat die Bybel ’n “verborgenheid” noem dat God toe reeds sy groot voorneme vir die verlossing van die mens opgevat het. Dit was “voor die grondlegging van die wêreld”, dit wil sê, voordat Adam en Eva kinders kon voortbring wat verlos kon word, soos hulle getroue seun Abel.—Romeine 16:25; Efesiërs 1:4.

’n Vlugtige blik op hierdie voorneme is voorsien toe die belofte gemaak is dat ’n “saad” uit ’n sekere “vrou” gebore sou word en dat hierdie “saad” die kop van die “slang” sou vermorsel en sodoende verligting sou bring van die probleme wat deur die opstand veroorsaak is (Genesis 3:14, 15). Soos ’n pragtige blom wat oopgaan, is addisionele inligting oor die “saad” progressief geopenbaar sodat die betekenis van die “verborgenheid” ná die koms van Jesus heeltemal duidelik geword het. Ja, God het dit bekend gemaak dat hierdie “saad” sou bestaan uit sy eniggebore Seun en 144 000 metgeselle wat “uit die mense” gekoop sou word. Saam met Christus vorm hulle die Koninkryk, of nuwe regering, oor die aarde.—Openbaring 14:3, 4; Galasiërs 3:16, 26-29.

God het nie die individue wat van die aarde af hemel toe geneem sal word om hierdie regering uit te maak by name verordineer of voorbestem nie, maar hy het voorbestem dat so ’n groep volgens sy goddelike wil in aansyn sou kom. God sou later, nadat sy Seun na die aarde gekom en die weg tot hemelse lewe geopen het, besluit wie hy as lede van hierdie groep sou kies.

Nadat hierdie “verborgenheid” ten volle geopenbaar is, kon die apostel Paulus, as een van diegene wat gekies is om hemel toe te gaan, daaroor skryf aan almal wat dieselfde hoop gehad het. Paulus het aangaande hierdie onverdiende goedheid van God geskryf:

“Hy [het] aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak . . . na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—in Hom in wie ons ook ’n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is [nie as individue nie, maar as ’n groep met ’n bepaalde getal) ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.”—Efesiërs 1:8-11; Openbaring 14:1-4.

Sal die aarde verbrand?

Maar wat van Petrus se woorde dat ‘die teenswoordige hemele en die aarde vir die vuur bewaar word’? (2 Petrus 3:7). Petrus kon beslis nie van die letterlike hemele en die aarde gepraat het nie, want die Bybel sê dat dit vir ewig bly staan (Prediker 1:4). God het geen rede om ’n einde te maak aan die hemele waar hy woon of aan al die fisiese hemelliggame nie. En die aarde self het hom geen rede gegee om dit te vernietig nie, ongeag wat mense gedoen het om die oppervlak daarvan te verderf en te besoedel. Jehovah self deel ons mee dat, toe die aarde in sy enigheid en skoonheid geskape is, sy hemelse seuns “saam gejubel en . . . gejuig het”.—Job 38:4-7.

Die hele rede waarom God ’n gekose getal hemel toe neem, is om sy wil op die aarde te volbring, ja, om die eeue-oue gebed te vervul: “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Jesus het boonop, in ’n sinspeling op Psalm 37:10, 11, die volgende woorde in sy beroemde Bergpredikasie ingesluit: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheüs 5:5). Uit hierdie woorde kan jy duidelik sien dat Jesus nie gedink het dat die aarde ’n blote stapsteen is nie. Hoewel ’n beperkte “klein kuddetjie” vir ’n bepaalde tyd heerskappy oor die aarde sal beërwe, sluit Jesus se belofte ook al die duisendmiljoene lede van die mensdom in wat ’n aardse erfenis sal ontvang (Lukas 12:32; Openbaring 7:9, 10). Dit sal nie net vir ’n kort lewe van verdriet wees soos ons dit vandag ken nie, maar vir ’n ewigheid van geluk!

Waar Petrus praat van “hemele” wat sal verbrand, bedoel hy simboliese “hemele”. Dit is die regerings oor die mense wat die “aarde” uitmaak. Soos McClintock en Strong se Cyclopœdia dit stel:

“Waar die toneel van ’n profetiese gesig geskik word, beteken hemele . . . die hele vergadering van die heersende owerheid, wat, ten opsigte van die onderdane op aarde, ’n politieke hemel uitmaak wat oor die onderdane is en oor hulle heers, net soos die natuurlike hemel oor die aarde staan en daaroor heers.”—DI. IV, bl. 122.

Regeringsowerhede wat uit onvolmaakte en dikwels verdrukkende mense bestaan, het hopeloos misluk, en hulle sal in “die dag van die Here” vergaan, soos Petrus gesê het. Hulle sal vervang word deur “nuwe hemele” wat sal bestaan uit Jesus Christus en die beperkte getal wat hemel toe gaan om die Koninkryksregering te vorm. Daarom het Petrus geskryf: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”—2 Petrus 3:12, 13.

Die Bybel sê aangaande diegene wat die “nuwe hemele”, hierdie nuwe hemelse regering vir die aarde, uitmaak: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”—Openbaring 20:6.

Oor wie sal hulle regeer? Oor onderdane op aarde natuurlik—anders sou hierdie vers geen sin hê nie. Die ou “aarde” sal as ’t ware deur vuur aan sy einde kom, wanneer goddelose mense en hulle instellinge verdelg word. Net ’n “nuwe” aardse gemeenskap sal oorbly. Wanneer misdadigheid en opstand tot die verlede behoort, en wanneer volmaakte gesondheid en grenslose geluk die erfenis van elke lewende persoon is, sal dit voorwaar ’n “nuwe” mensegemeenskap, ’n “nuwe aarde”, wees!

Hoe kan ons werklik seker wees dat hierdie beloftes van God vervul sal word? Aangesien hulle so lank gelede gemaak is, ontstaan die vraag: Wat het God intussen gedoen om te verseker dat die beloftes uiteindelik vervul sal word? Lees gerus die twee artikels wat op bladsy 18 begin vir die antwoorde op hierdie vrae.

[Prent op bladsy 5]

Waar het God Adam en Eva geplaas en wou hy hê dat hulle moet lewe?

[Lokteks op bladsy 6]

Christus sal as Koning heers oor miljoene menslike onderdane wat in ’n herstelde, aardse paradys woon

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel