Die goeie herder en “hierdie stal” van hom
1, 2. (a) Hoe het koning Dawid Jehovah in Psalm 23:1 beskryf? (b) Waarom was dit gepas om Jehovah met ’n herder en Israel met sy skape te vergelyk?
“DIE HERE [Jehovah, NW] is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.” Met daardie woorde het die eertydse herderseun en harpspeler, wat later ’n koning van die nasie Israel geword het, een van sy gewilde melodieë ingelei.—Psalm 23:1, 2.
2 Dit was aan geen ander nasie as eertydse Israel dat ’n ander psalmis die woorde van Psalm 95:6, 7 kon rig nie: “Laat ons kniel voor [Jehovah] wat ons gemaak het. Want Hy is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand.” Hoewel Israel se mensekoning met ’n herder vergelyk kon word, kon die nasie vergelyk word met skape van die allerhoogste Herder, Jehovah God. Hy is die beste Herder wat nagevolg kan word deur manne wat as figuurlike herders in ’n gemeente van Jehovah se toegewyde volk dien.
3. Hoe was dit gepas om Jehovah selfs ten opsigte van Jesus ’n Herder te noem?
3 Koning Dawid het Jesus Christus afgeskadu. Laasgenoemde is egter veel groter as Dawid van die ou tyd, wat sy koninklike voorvader was. Hy kon heel gepas Dawid se woorde aanhaal en dit sy eie maak: “[Jehovah] is my herder.” Het sy voorloper, Johannes die Doper, nie sy omstanders se aandag op die naderende Jesus Christus gevestig en gesê nie: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”? (Johannes 1:29, 36). Toe Johannes van Jesus gepraat het as ’n skaaplam, het hy moontlik die woorde van Jesaja 53:7 in gedagte gehad: “Hy is . . . soos ’n lam wat na die slagplek gelei word.” In die heel laaste boek van die Bybel, van Openbaring 5:6 af aan, word die verheerlikte Jesus 28 keer ’n figuurlike Lam genoem.
4. Hoe het Jesus soos ’n skaap in ’n skaapstal geword, en wat was daardie skaapstal?
4 In die jaar 2 v.G.J. is hy deur ’n wonderdadige geboorte op aarde in die nasie Israel gebore. Sodoende het hy onder die Wetsverbond gekom wat Jehovah, die Herder van Israel, met daardie uitverkore volk gesluit het. Daardie Wetsverbond, met sy Tien Gebooie, is deur middel van die profeet Moses aan die nasie Israel gegee (Galasiërs 4:4, 5). En as ’n lid van daardie uitverkore volk is Jesus as een van die figuurlike skape gebore waarvan Jehovah die Opperherder was. Jesus self was dus in ’n figuurlike skaapstal, die begunstigde verhouding met die Goddelike Herder wat deur die muuragtige Mosaïese Wetsverbond beskerm is.
5. Waarom het ons nou ’n ander beskouing van die skaapstal van Johannes 10:1?
5 Identifiseer ons die “skaapstal” van Johannes hoofstuk 10, vers 1, hier as die Mosaïese Wetsverbondreëling? Ja! Die vorige verduideliking dat die skaapstal die Abrahamitiese verbond is, was gebaseer op die beskouing dat Johannes hoofstuk 10 slegs een stal regstreeks meld en dat die Abrahamitiese verbond daarom die logiese betekenis sou wees. Maar verdere studie van hierdie hoofstuk het getoon dat Jesus in werklikheid van meer as een skaapstal gepraat het. Soos ons sal sien, is ’n wysiging in die uitleg daarvan dus gepas.
6. Hoe voel jy oor sulke aanpassings in ons begrip van Bybelse gedagtes?
6 Sulke aanpassings is van tyd tot tyd nodig, want Spreuke 4:18 deel ons mee: “Die pad van die regverdige is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” O, afvallige teëstanders van die waarheid ‘kners wel op die tande’ teen sulke progressiewe openbarings, maar dit ontstel ons nie (Handelinge 7:54). Ons dank Jehovah eerder dat ‘lig vir die regverdige gesaai is en vrolikheid vir die opregtes van hart’ (Psalm 97:11). Ons is seker dat jy bly sal wees om te weet presies watter betekenis Jesus se gelykenis van die skaapstalle vandag vir jou en alle ander getuies van Jehovah het.
’n Vroeë skaapstal, onder die Wet
7. Hoe het Jesus in 29 G.J. ’n nuwe rol ten opsigte van die Israelitiese skaapstal aangeneem?
7 Wat dan van daardie skaapstal, die Mosaïese Wetsverbond? Nadat Jesus deur Johannes die Doper gedoop is, deur Jehovah se heilige gees gesalf is en 40 dae van versoeking in die woestyn van Judea deurgebring het, het hy in die jaar 29 G.J. as ’n geestelike Herder na die Israelitiese skaapstal gekom. Jesus Christus het gesê dat hy spesifiek na “die verlore skape van die huis van Israel” gestuur is (Mattheüs 10:6; 15:24). Tot met sy doop was hy bloot een van die natuurlike Israeliete wat in die skaapstalreëling, die Mosaïese Wetsverbond, gelewe het. Maar nou, nadat hy deur Jehovah se gees gesalf en verwek is, kon Jesus Christus in sy nuwe rol as “die goeie herder” na daardie skaapstal kom.—Johannes 10:11.
8. Wie was die figuurlike deurwagter van Johannes 10:3, en hoe so?
8 Johannes die Doper was die eerste een wat Jesus erken het as die Ware Herder wat deur die Opperherder, Jehovah God, aangestel is. Jesus het nie gekom om die skaapstal te beroof nie, maar het op wettige sake gekom. Hy kon hom eerbaar as ’n geestelike Herder vir die skaapstal van die nasie Israel aanbied. Ooreenkomstig die profesie in Maleagi 4:5 (vergelyk Mattheüs 11:12-14; Lukas 1:13-17) is Johannes deur die Opperherder aangestel as die figuurlike “deurwagter” van die Israelitiese skaapstal (Johannes 1:15, 17, 19-28; 10:3). Johannes het Jesus Christus se getuigskrifte as die Onderherder van Jehovah God erken en was dadelik bereid om hom te laat binnekom, om hom as die voorspelde Messiaanse Herder te identifiseer wat sy skape by die naam sou noem en hulle sou uitlei sodat hulle kan wei.
9, 10. Hoe het Jesus aan sy eie beskrywing van ’n herder voldoen, en hoe het Israelitiese herders hulle skape behandel?
9 Jesus het aan sy eie beskrywing van die Ware en Goeie Herder in Johannes 10:1-5 voldoen: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is ’n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.”
10 Die herder in eertydse Israel het sy skape baie goed leer ken. Hy het ’n algemene roep gehad wat net hy gebruik het en waarmee hy al sy skape bymekaar geroep het sodat hulle sy persoonlike aandag kon kry. Daarbenewens het hy aan elk van sy skape ’n naam gegee. Elke skaap het gehoorsaam gereageer wanneer sy naam uitgeroep is. Die skape het die toon en timbre van die stem van hulle herder herken en sou dus nie op die stem van vreemdelinge reageer nie.
11. Hoe moet ons persoonlik oor Jesus se rol as herder voel?
11 Watter troos is dit eweneens vir ons om verseker te word dat ons geestelike Herder elkeen van ons by die naam ken en ons sy persoonlike sorg en aandag kan gee! Laat ons nie soos baie van die hoorders in Jesus se dag wees wat nie die strekking van sy sinvolle gelykenis gesnap het nie. As ’n waarskuwende voorbeeld vir ons staan daar in Johannes 10:6 geskryf: “Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle [sy Joodse hoorders] vertel; maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie.”
12. Wie was die “vreemdes” waarvan Jesus gepraat het, en hoe was dit die geval?
12 Dit was ander Israeliete wat gekom en beweer het dat hulle die beloofde Messias of Christus is wat deur Jesus as “vreemdes” bestempel is. Hulle is nie deur Jehovah se aangestelde “deurwagter”, naamlik Johannes, as Sy Messiaanse Herder voorgestel nie. En dit was na Johannes wat Jesus self gekom het om gedoop te word. Hierin het Jesus geen fout begaan nie (Mattheüs 3:1-7; Markus 1:1-7; Lukas 3:1-9). Dit was met die doel om die volk te beskerm dat Jesus dit nou goedgedink het om homself te identifiseer as die Een wat deur Jehovah na hulle gestuur is as hulle geestelike Herder en om die bedrieglike herders aan die kaak te stel.
’n Nuwe stal onder die Goeie Herder
13. Watter verandering het God ten opsigte van sy skaapstal aangebring?
13 Die belangrike saak, destyds en vandag, is dat ’n persoon in die regte “skaapstal” kom. Wil ons daardeur te kenne gee dat daar ’n verandering kon wees in die skaapstalle wat deur Jehovah God goedgekeur word? Ja. Beide Jesus se volgende woorde in Johannes hoofstuk 10 en die geskiedkundige feite toon dat God die Israelitiese skaapstal onder die Wet deur ’n nuwe stal sou vervang. Let hierop terwyl ons Jesus se woorde verder bespreek.
14, 15. Waarom is dit duidelik dat Jesus in Johannes 10:7-10 na ’n nuwe skaapstal verwys het?
14 “Jesus het toe weer”, in Johannes 10:7-10, “vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers: maar die skape het nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
15 Let in hierdie gedeelte op dat Jesus van homself praat as die deur van die stal wat hy nou meld, die deur na hierdie stal van die Opperherder, Jehovah God. Jesus was nie die figuurlike deur tot die skaapstal van natuurlike Israel nie, want hyself is daarin gebore deur sy geboorte uit die Joodse maagd Maria. Jesus was nie die deuragtige middelaar van die Wetsverbond waardeur die nasie Israel in ’n eksklusiewe verhouding met Jehovah God gebring is nie. Dit was lank voor Jesus se aardse geboorte dat Jehovah God vir die nasie Israel gesê het: “Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde” (Amos 3:2). Dit was uit die simboliese Joodse skaapstal dat die ware Onderherder van Jehovah God die eerste skape van sy kudde moes roep en na ’n spesiale geestelike weiveld moes lei. Jesus het dus ongetwyfeld nou begin praat van ’n nuwe skaapstal waarvan hy, die Goeie Herder, in ’n ander sin die deur was.
16. (a) Watter vroeëre aanduiding was daar dat Jehovah ’n nuwe skaapstal sou hê? (b) Hoe het Jesus getoon dat die nuwe skaapstal kort daarna in aansyn sou kom?
16 Die Jode wat geweier het om sy dissipels te word, het gemeen dat hulle stal die enigste skaapstal was wat Jehovah God in gedagte gehad het en dat dit ongetwyfeld tot in die onbepaalde toekoms sou voortbestaan. Hulle het nie die “nuwe verbond” in aanmerking geneem wat Jehovah God in die profesie in Jeremia 31:31-34 beloof het om te sluit nie. Dit het ’n nuwe verhouding met Jehovah God, en, gevolglik, ’n nuwe, figuurlike skaapstal beteken. Jesus Christus was nie die deur tot ’n skaapkraal wat verouderd sou word en nie langer deur die muur van Jehovah se beskerming omsluit sou wees nie (Hebreërs 8:7-13). Die nag toe Jesus sy laaste Pasga saam met sy Joodse dissipels gevier het, het hy betekenisvolle woorde gebesig toe hy vir hulle die Pasgawyn gegee het. Hy het ’n simboliese betekenis aan die wyn geheg deur te sê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.”—Lukas 22:20, NAV; Mattheüs 26:27-29.
17, 18. (a) Wat was hierdie nuwe skaapstal waarvan Jesus die Goeie Herder was? (b) Hoe kon hy ook met die deur van hierdie nuwe stal vergelyk word?
17 Jesus Christus sou die deur na ’n blywende skaapkraal wees, een wat die vorige skaapkraal vir die natuurlike Israeliete onder die Mosaïese Wetsverbond sou vervang. Toe Jesus 40 dae na sy opstanding sy dissipels op aarde agtergelaat het en opgevaar het hemel toe, was hy steeds in besit van sy reg op volmaakte menselewe, ’n reg wat hy nie deur enige sonde in die vlees verbeur het nie (Jesaja 53:3-12; Handelinge 8:30-35). Hy was gevolglik toegerus om as ’n Middelaar te dien en om hierdie lewensreg, wat deur sy bloed afgebeeld is, aan te wend om ’n nuwe en beter verbond ten behoewe van sy dissipels op aarde te beseël. Dit is wat hy gedoen het, uiterlik op Pinksterdag van 33 G.J., toe die heilige gees uitgestort is op sy gehoorsame Joodse dissipels wat in Jerusalem gewag het.
18 Hierdie dissipels is aldus in die nuwe verbond ingebring, en ’n nuwe skaapkraal het in aansyn gekom, naamlik ’n verhouding met Jehovah God op grond van die nuwe verbond wat deur die bloed van Jesus Christus beseël is. Die simboliese skape in hierdie nuwe kraal is deur Jehovah se gees verwek en met sy gees gesalf. Jesus Christus was die deur tot hierdie kraal sowel as Jehovah se aangestelde Goeie Herder oor die skape in hierdie kraal of stal.
19. Hoe is die profesie in Sagaria 13:7 vervul?
19 Gedurende die dele van drie dae wat Jesus onder arres en in die graf dood was, moes hy die versorging van sy dissipels geheel en al aan die Opperherder, Jehovah God, oorlaat. Dit was toe dat Jehovah se woorde in Sagaria 13:7 vervul is, naamlik: “Slaan die herder, sodat die skape verstrooi word; en Ek sal my hand weer uitstrek oor die geringes.” Die hand van die almagtige Herder, Jehovah, is oor hierdie geringe dissipels uitgestrek totdat hulle weer aan die sorg van sy verrese Onderherder, Jesus Christus, toevertrou kon word.—Mattheüs 26:31, 32.
20. Hoe laat die woorde in Johannes 10:16 ons nog ’n stal verwag, en waarom moet dit vir ons van belang wees?
20 Maar met hierdie nuwe skaapstal onder die Goeie Herder in gedagte, kan ons oplet wat Jesus in Johannes 10:16 gesê het: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei.” Toon dit nie dat hy ’n ander, ’n tweede, stal sou hê waarvan hy die Goeie Herder sou wees nie? Indien wel, wanneer sou dit bestaan en wie sou die skape daarin wees? Dit was uiters tydige vrae, en die antwoorde daarop kan ’n regstreekse uitwerking op jou hoop en ewige vooruitsigte hê. Kom ons ondersoek dus die saak.
Hoe sal jy die volgende beantwoord?
◻ Hoe het Jesus deur sy geboorte in ’n skaapstal gekom, en wie was die Herder daarvan?
◻ Watter nuwe rol het Jesus in 29 G.J. aangeneem?
◻ ln watter hoedanigheid het Johannes die Doper ten opsigte van die Israelitiese skaapstal gedien?
◻ Wat was die nuwe skaapstal waarvan Jesus die Goeie Herder was?
◻ Wat toon dat daar nog ’n skaapstal in aansyn sou kom?
[Prent op bladsy 20]
As die figuurlike deurwagter het Johannes die Doper die Goeie Herder, Jesus, verwelkom
[Prent op bladsy 21]
Jesus het sy skape in ’n nuwe skaapstal ingelei. Wat was dit?