Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 4/1 bl. 23-27
  • Die onlangse kraal vir “ander skape”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die onlangse kraal vir “ander skape”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Soortgelyke materiaal
  • Die “goeie herder” en sy “ander skape”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Die goeie herder en die skaapkrale
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Die sigbare deel van God se organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • ’n Groot menigte ware aanbidders—Waar kom hulle vandaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 4/1 bl. 23-27

Die onlangse kraal vir “ander skape”

“Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.”—JOHANNES 10:16.

1. Hoe was daar in 36 G.J. ’n byvoeging tot die skaapstal van geestelike Israel?

MET die ontstaan van die nuwe skaapstal van geestelike Israel op Pinksterdag van 33 G.J. het die voormalige skaapstal vir die natuurlike Jode onder die Mosaïese Wetsverbond verbygegaan as iets wat aan sy doel beantwoord het. Drie en ’n halwe jaar later is die Romeinse hoofman Cornelius en sy gelowige gesin en vriende in Cesarea bekeer, gedoop en met gees gesalf. Sodoende is nie-Jode wat nie proseliete of besnede was nie in die skaapstal ingebring waarvan Jesus Christus “die deur” is (Handelinge, hoofstuk 10). Hierdie stal sluit “die Israel van God”, Israeliete na die gees, of geestelike Israeliete, in. Kon daar van enige van hulle—Jood of nie-Jood—gesê word dat hulle “nie aan hierdie stal behoort nie”, dit wil sê, aan die stal wat kragtens die nuwe verbond in aansyn gekom het? Beslis nie!—Galasiërs 6:16; Johannes 10:16.

2. Hoe dien Jesus nog steeds as die Goeie Herder van diegene in die nuwe verbond?

2 Daar is vandag nog steeds ’n oorblyfsel van hierdie Israel van God op aarde, en hierdie feit bewys dat Jesus Christus, die Middelaar van die nuwe verbond, ’n Getroue en Goeie Herder is. Selfs vandag nog, meer as 19 eeue later, kan die verheerlikte Jesus Christus dus met reg en sonder om groot te praat sê wat hy voor sy dood en opstanding gesê het en wat ons in Johannes 10:14, 15 kan lees: “Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. Net soos die Vader [die Opperherder] My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

3, 4. Waarom moet ’n onderskeid getref word tussen die “ander skape” en die “klein kuddetjie”?

3 Toe het Jesus hierdie merkwaardige maar groothartige verklaring gedoen: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal [of, “kraal”, NAV; Die Lewende Bybel] behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Johannes 10:16). Na wie het hy as “ander skape” verwys?

4 Aangesien daardie “ander skape” nie aan “hierdie stal” behoort het nie, sou hulle nie deel wees van die Israel van God waarvan die lede ’n geestelike of hemelse erfenis het nie. Hierdie geestelike Israeliete sou hoogstens ’n “klein kuddetjie” wees, want Jesus het vir sy dissipels wat in aanmerking kon kom vir die heilige gees wat op Pinkster uitgegiet sou word, gesê: Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32). Die klein kuddetjie skape aan wie die hemelse Koninkryk gegee gaan word en wat saam met die Goeie Herder, Jesus Christus, in daardie Koninkryk gaan regeer, sal uit slegs 144 000 geestelike Israeliete bestaan.—Openbaring 7:1-8; 14:1-5.

5. Hoe kan jy Openbaring 14:4 gebruik om te toon dat die ander skape logies ’n ander hoop as die klein kuddetjie het?

5 Openbaring 14:4 sê: “Dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.” Hoe kon daardie 144 000 geestelike Israeliete simboliese eerstelinge uit die mense wees as daar geen ander vrugte, geen na-oes, sou wees nie? Benewens die 144 000 geestelike Israeliete wat die klein kuddetjie koninklike skape in die “nuwe verbond”-skaapstal uitmaak, móét daar dus eenvoudig ander skape wees wat later bymekaargemaak sou word. En dit is hoe sake verloop het, nie waar nie?

6, 7. Hoe word Openbaring 22:17 vervul, en wie word nie hier genooi om te “kom” nie?

6 In Openbaring 22:17 is daar voorspel dat “die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” Die geestelike bruid van Christus rig nie die uitnodiging “Kom!” aan haarself, dit wil sê, aan diegene wat Jehovah God nog sou nodig hê as deel van die bruidsklas sodat dit uit 144 000 lede kan bestaan nie. Dit is gedurende hierdie “voleinding van die wêreld”, wat in 1914 begin het, dat ons hoor hoedat die “bruid”, in samewerking met die heilige gees van die Opperherder, die uitnodiging rig.—Mattheüs 24:3.

7 Daardie uitnodiging word gerig aan mense hier op aarde wat volmaakte menselewe na God se beeld en gelykenis wil verkry in die Paradys wat God se Koninkryk in die hande van Christus op die aarde gaan herstel. Vandag, gedurende die voleinding van die stelsel, is die genooides die “ander skape” van Jesus se verreikende profesie in Johannes 10:16. Hulle behoort nie aan “hierdie stal” wat die Goeie Herder, Jesus, daar gemeld het nie. Maar hulle ontvang die uitnodiging deur die oorblyfsel van die “skape” wat in “hierdie stal” is, en saam met die geestelike oorblyfsel rig hulle die uitnodiging aan nog ander reg tot aan die einde van hierdie voleinding van die stelsel.

8. Watter beskouing van die ander skape is in 1905 gehuldig?

8 In Zion’s Watch Tower se nommer van 15 Maart 1905 is ’n artikel gepubliseer met die titel “Ware Herder, ware skape, ware stal”. Dit het ’n onderskeid getref tussen die skape van “hierdie stal” en dié wat die ander skape genoem word. Dit het beklemtoon dat “hierdie stal” verband hou met die gemeente Christene wat gedurende die sogenaamde “Evangelie-eeu” bymekaargemaak word. Na die tussenhofies “Ander skape van ’n ander kudde” en “Mede-erfgename van dieselfde belofte” (bladsye 89, 90) is daar gesê:

“Die kudde wat die Here ten tye van hierdie gelykenis bymekaargemaak het, was nie natuurlike Israel nie, maar geestelike Israel. . . . Die beskouing van sommige dat ons wat uit die nie-Jode of die gemelde ‘ander skape” kom nou in die een stal ingebring word, is gevolglik nie korrek nie. . . . Hierdie gemelde ‘ander skape’ in hierdie gelykenis is klaarblyklik diegene wat die Here se skape sal word nadat die huidige ‘klein kuddetjie’ voltallig is.”

9, 10. (a) Waarom kan die gelykenis van die skape en die bokke nie gedurende die Millennium van toepassing wees nie? (b) Wanneer sou die ander skape ingesamel word?

9 In ’n latere paragraaf van daardie artikel word die “ander skape” gelykgestel met die “skape” wat beskryf word in Jesus se gelykenis van die skape en die bokke, soos uiteengesit in Mattheüs 25:31-46. In 1905 is daar gemeen dat daardie gelykenis van toepassing sou wees gedurende die Duisendjarige Bewind van Christus na “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” op die slagveld genaamd Armageddon (Openbaring 16:14-16). Ons moet egter in gedagte hou dat die gelykenis van die skape en die bokke die laaste deel van Jesus se antwoord was op sy dissipels se vraag oor die teken van sy “teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel” (Mattheüs 24:3, NW). Die vervulling van hierdie gelykenis moet dus verwesenlik word gedurende die voleinding van die stelsel wat in die jaar 1914 begin het.

10 Ons besef dus dat die Goeie Herder Jesus Christus nie begin het om die “ander skape” van Johannes 10:16 in die eerste eeu bymekaar te maak toe daar begin is om die besnede Samaritane tot die Christelike godsdiens te bekeer nie. En hy het dit ook nie gedoen toe die Romeinse hoofman, die onbesnede nie-Jood Cornelius, omstreeks 36 G.J. bekeer is nie. Wel, wanneer het die Goeie Herder dan begin om sy ander skape bymekaar te maak? Baie eeue later, ja, in hierdie 20ste eeu, volgens die feite van die saak.—Handelinge 8:4-17; 10:9-48.

11. Waarop het die geestelike Israeliete hulle tot 1935 toegespits?

11 Ons merk dat die oorblyfsel geestelike Israeliete wat in “hierdie stal” hoort tot die noordelike lente van die jaar 1935 besig was om die laaste lede na daardie stal of kraal te bring sodat die 144 000 geestelike Israeliete voltallig sou wees. Hulle sou die laaste persone wees wat ingebring word in die nuwe verbond wat bemiddel is deur die Goeie Herder, wat as die Lam van God gesterf het om “die bloed van die ewige verbond” te voorsien (Hebreërs 13:20, NAV; Psalm 50:5). Wat het dan in 1935 gebeur?

12. Wat was buitengewoon omtrent die byeenkoms in 1935?

12 ’n Algemene byeenkoms van Jehovah se Getuies is gehou in die hoofstad van die Verenigde State van Amerika, Washington, D.C., en Godvresende Bybelstudente, wat soos die nie-Israelitiese Jonadab was, is in die besonder daarheen uitgenooi. Op die tweede dag van die byeenkoms, 31 Mei, is die byeenkomsgangers aangegryp deur die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap se toespraak oor Openbaring 7:9-17 oor die “groot menigte” (Openbaring 7:9). Hy het verduidelik dat hierdie voorspelde “groot menigte” sou bestaan uit die “ander skape”, wat afgeskadu is deur Jonadab, die nie-Israelitiese man wat Jehu, die koning van Israel, vergesel het in vertoning van ywer vir Jehovah en téén die aanbidders van die valse God Baal (2 Konings 10:15-28; Jeremia 35:6-19). Jehu het aldus sy “ywer vir die HERE” getoon, of, soos die New World Translation sê, dat hy “geen mededinging met Jehovah duld nie”.—2 Konings 10:16.

13, 14. (a) Wie het hedendaagse Jonadabs geword? (b) Wat moes hulle gepas doen, en waarom?

13 Honderde van diegene wat soos Jonadab en onder die “ander skape” van die Goeie Herder wou wees, het die gepubliseerde uitnodiging aangeneem en die byeenkoms in Washington bygewoon. Om hedendaagse, teenbeeldige Jonadabs te word, was dit vir hulle Skriftuurlik nodig om hulself ten volle aan Jehovah God toe te wy deur sy Goeie Herder en hierdie toewyding deur algehele onderdompeling in water te simboliseer, net soos die skape wat aan “hierdie stal” behoort, gedoen het. So het dit dan gekom dat 840 byeenkomsgangers op Saterdag, 1 Junie 1935, in water gedoop is. Dit het ooreengekom met die massadoop wat op Pinksterdag van die jaar 33 G.J. in Jerusalem plaasgevind het. Watter indrukwekkende, tydvakskeppende wyse was dit tog vir die Goeie Herder om te toon dat hy nou gereed was om die ander skape wat na sy stem as dié van hulle gekose Herder sou luister, onder sy herderlike toesig te bring! Hoe bly moes dit hom tog gemaak het! Na die byeenkoms van 1935 in Washington is die belangrike toespraak ter verduideliking van Openbaring 7:9-17 in The Watchtower se nommers van 1 en 15 Augustus 1935 gepubliseer onder die titel “Die groot menigte” (Dele 1 en 2).

14 Derduisende lesers het toe gesien dat hulle die voorreg het om waarlik ander skape van die Goeie Herder te word en om na die regte stal of kraal toegewys te word. Te dien einde het hulle hulle by die eerste geleentheid laat doop as simbool van hulle intelligente toewyding aan die Opperherder deur sy Onder-herder, Jesus Christus. Omdat hulle erken dat Jehovah se Onderherder sy mensesiel vir al die skape gegee het, het hulle as ’t ware hulle identifiserende “klere gewas” in die “bloed” van hierdie “Lam” van God en “hul klere wit gemaak” om nie tydens die goddelike inspeksie afgekeur te word nie.—Openbaring 7:14.

15. Hoe talryk het die ander skape geword, en waarvan getuig dit?

15 Met die oog op die feit dat die Goeie Herder sy lewensreddende aandag op die ander skape gevestig het, het die voleinding van die stelsel, wat aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 begin het, nie in 1935 geëindig nie. Maar dit het voortgeduur tot vanjaar, 1984, en die einde moet nog bereik word nadat die finale Koninkrykspredikingswerk volbring is. Miljoene het reeds by vierings van die Here se Aandmaal getoon dat hulle in die stal van die ander skape is, terwyl tallose ander nog na die stal kom. Hulle is reeds baie meer as die voorbestemde getal van 144 000, ’n beperkte getal wat vasgestel is vir diegene wat ingebring word in “hierdie stal” wat bewaar word vir die geestelike Israeliete, die mede-erfgename van die Goeie Herder in sy hemelse Koninkryk. Hierdie feit is verdere bewys dat hulle nie in “hierdie stal” van die Goeie Herder se “klein kuddetjie” is nie.—Lukas 12:32.

16, 17. (a) Wat is die verhouding tussen die ander skape en die klein kuddetjie? (b) Hoe is Jesus se woorde dat hulle “een kudde” sou word, vervul?

16 Het hulle verskillende verwagtinge—die hemelse hoop vir die skape in “hierdie stal” en die aardse hoop vir die ander skape in die ander stal wat onlangs voorsien is—hulle beïnvloed om uitmekaar te gaan asof hulle niks met mekaar gemeen het nie? Die verwikkelinge sedert die jaar 1935 antwoord: Beslis nie! Jesus, die Goeie Herder, het voorspel dat dit nie die geval sou wees nie, want hy het voorts gesê: “En dit sal wees een kudde” (Johannes 10:16). Ons merk op dat hy nie gesê het ‘een kudde in een stal’ nie. Hoewel daar aparte stalle sou wees, sou daar slegs “een herder” wees, en dit is die Herder-Koning wat sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914 in die hemele regeer. Dienooreenkomstig het die “skape” die een, gemeenskaplike taak, naamlik om ‘hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies te verkondig’ voordat die einde van hierdie ou wêreld kom.—Mattheüs 24:14.

17 Die ander skape meen glad nie dat hulle van die klein kuddetjie afgeskei is nie. Hulle maak saam die een kudde skape van die Goeie Herder uit. Die ander skape verbly hulle oor hulle intieme omgang met die klein kuddetjie en beskou dit as ’n groot voorreg om ’n ruk lank te dien saam met daardie toekomstige konings en priesters wie se onderdane hulle gedurende die Duisendjarige Koninkryk gaan wees.

18. (a) Wat hou die toekoms vir die nuwe verbond en die gesalfde skape in “hierdie stal” in? (b) Watter vooruitsig het die ander skape?

18 Wanneer die oorblyfsel geestelike Israeliete op God se bestemde tyd hulle aardse loopbaan voltooi en van die toneel verdwyn om hulle hemelse beloning te ontvang, sal die nuwe verbond op grond van die bloed van die Middelaar, die Goeie Herder, Jesus Christus, nie meer geld nie daar dit aan sy doel beantwoord het. Dan sal die viering van die Here se Aandmaal op die Pasgadag van elke jaar ophou. Dan sal “hierdie stal” vir die kudde geestelike Israeliete ook ophou bestaan. Die toegewyde, gedoopte ander skape sal op die aarde agterbly om die seëninge te ontvang wat die Koninkryk, wat uit die Goeie Herder, Jesus Christus, en sy 144 000 mede-priesters en -konings bestaan, dan op hulle sal uitstort. Die kudde wat op die gereinigde aarde gaan agterbly, sal slegs uit die verenigde ander skape bestaan. Hulle sal voortgaan om te luister na die stem van hulle Herder-Koning, en dit sal meebring dat hulle die ewige lewe in menslike volmaaktheid op ’n paradysaarde verkry.

Kan jy verduidelik?

◻ Wat toon dat die ander skape verskil van diegene in die klein kuddetjie?

◻ Hoe word Openbaring 22:17 vandag vervul?

◻ Wanneer en waar het die ander skape na vore begin kom?

◻ Hoe maak hulle almal een kudde uit, aangesien die ander skape in ’n ander stal as die gesalfdes is?

[Prent op bladsy 26]

Toe die insameling van die “klein kuddetjie” ten einde geloop het, het Jesus ’n menigte “ander skape” ingesamel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel