Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 12/1 bl. 28-31
  • Musiek—Jehovah se genotvolle gawe aan ons

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Musiek—Jehovah se genotvolle gawe aan ons
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die raaisel van musiek
  • Die hemelse oorsprong van musiek
  • Ons plig teenoor die Gewer van musiek
  • Goeie musiek in oorvloed!
  • Hoe sal jy hierdie gawe gebruik?
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Ontwaak!—1993
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Musiek—Kan dit gevaar inhou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Maak dit saak watter musiek ek kies?
    Jongmense vra
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 12/1 bl. 28-31

Musiek—Jehovah se genotvolle gawe aan ons

TOE ons eerste vader, Adam, ’n lewende siel geword het, het as ’t ware ’n konsert sy ore begroet. Daar, in daardie pragtige tuin van Eden, was ’n inwonende orkes van kleurryke voëls wat die lug met hulle melodieuse gefluit en opgeruimde getjirp gevul het. Watter pragtige musiek het Jehovah God tog nie vir die mens se luistergenot gekomponeer nie!

Daardie geveerde musikante het instinktief gesing, en nie omdat hulle op intelligente wyse kennis van melodie, harmonie en ritme verkry het nie. Die note waaruit hulle liedere bestaan, is deur God gekomponeer en in hulle DNS ingeplant op die “dag” toe hy “die gevleuelde voëls volgens hulle soorte” geskape het (Genesis 1:21, 23). Wat ’n ontsaglike musiekprestasie!

Die liedere wat God vir elke soort voël gekomponeer het, het goed te pas gekom. Met hierdie melodieuse getjirp het hulle gebiede afgebaken en maats gelok. Maar nog wonderliker is die feit dat Jehovah God in sy oneindige wysheid en deurdagte ekonomie hierdie praktiese funksie ook ontwerp het om vreugde aan mense te verskaf.

Maar waarom sing die mens? Waarom word mense deur musiek aangevuur en bekoor?

Die raaisel van musiek

Die wetenskap kan nie verduidelik waarom mense musiek kan komponeer, musiekinstrumente kan ontwerp en bespeel nie, of selfs waarom ons musiek en sang geniet nie. Dit is alles ’n groot raaisel!

Dr. Lewis Thomas, wat aan die Wetenskaplikes se Instituut vir Openbare Inligting verbonde is, het gesê:

“As jy soek na groot raaisels, wesenlike aspekte van ons bestaan waarvoor nòg die wetenskap nòg die geesteswetenskappe enige verduideliking kan gee, stel ek voor dat jy by musiek begin. Die professionele musikoloë, vir wie ek die grootste respek koester, het nie die vaagste benul wat musiek is nie, of waarom ons dit maak en nie daarsonder menslik kan wees nie, of selfs—en dit is die belangrike punt—hoe die menslike verstand vanself musiek kan skep voordat dit neergeskryf of opgevoer word. Die bioloë is hier van geen hulp nie, nòg die sielkundiges, nòg die fisici, nòg die filosowe, waar hulle hulle ook al deesdae bevind. Niemand kan dit verklaar nie. Dit is ’n verborgenheid. . . . Die Brandenburgkonserte [van J.  S. Bach] en die laaste Kwartette [van Beethoven] . . . toon dat daar diep sentra in ons verstand is waarvan ons niks weet nie, behalwe dat hulle bestaan.”—Discover, Julie 1981, bladsy 47.

Musiek is ’n verhewe kuns wat sy ontstaan by ’n hoër intelligensie het. Jehovah het die mens met ’n sensitiewe, kunssinnige geaardheid geskape wat emosioneel en intelligent op die unieke sang van voëls sou reageer. Sulke Godgegewe musiek sou nie net die mens se hart en verstand verbly nie, maar sou hom ook verkwik en sodoende tot sy fisiese en geestelike welsyn bydra. Musiek kom dus ongetwyfeld van dieselfde liefdevolle Skepper.

Ja, musiek kom van die Een wat ‘die oor geplant het’ en wat “vir die mens die mond gemaak” het (Psalm 94:9; Exodus 4:11). Ons het hierdie gawe van musiek, hierdie vermoë om te komponeer en dit te geniet, van Jehovah af ontvang. Wat ’n wonderlike gawe van ons Vader!—Jakobus 1:17.

Die hemelse oorsprong van musiek

Musiek is inderdaad ’n skepping van God. Dit is sy kuns. Lank voordat hy ons aarde, al sy gevleuelde sangers en die mensdom geskape het, het God self die soete genot van musiek ervaar! Hy het miljoene engele geskape met die vermoë om pragtig te sing. Saam het hulle met voortreflike harmonieë eer, lof en danksegging aan hom gebring.

Daardie “[engele]seuns van God” het gejubel toe hulle sien hoe hulle Vader die aarde skape (Job 38:4-7). Wat ’n wonderbaarlike gesig! Hier was ’n betreklik klein bol, soos ’n kleurryke edelsteen deur digte wolke omhul, wat in die lig van die son teen die fluweelagtige, swart agtergrond van die heelal draai. Net spontane koorsang kon uiting gee aan hoe die hemelse skare toe gevoel het!

Reg tot in ons 20ste eeu weergalm musiek in die hemelryk (Openbaring 5:9, 10; 14:1-3). Die kroning van Jesus Christus in 1914 is bes moontlik gevier met die vreugdevolste sang wat tot nog toe onder hemelinge gehoor is. Koor-lofsange het waarskynlik weerklink toe Jesus by Jehovah, “die Oue van dae”, gekom het. In die teenwoordigheid van “tienduisend maal tien-duisende” is hy voor Jehovah se skitterende troon nader gebring en is “heerskappy en eer en koningskap” aan hom gegee. ’n Heerlike gesig! Heerlike musiek!—Daniël 7:9-14; vergelyk 2 Samuel 6:15; Psalm 27:6.

Daar is natuurlik net in ‘die tale van engele’ gesing (1 Korinthiërs 13:1). Aangesien hierdie engele magtige geesskepsele is, is hulle musiek sonder twyfel so harmonies en melodies dat dit ons beperkte gehoor en begrip ver te bowe gaan. Maar hoe raak dit ons wanneer ons aan die hemelse oorsprong van musiek dink en aan die grootsheid van hierdie gawe wat ons van ons Skepper ontvang het? Watter uitwerking moet dit alles op ons keuse van musiek hê?

Ons plig teenoor die Gewer van musiek

Jehovah se gawe van musiek plaas dieselfde verpligting op ons as enige ander gawe wat ons ontvang. Dit is dat ons musiek gebruik vir die doel waarvoor dit gegee is. Watter verstandige persoon sal ’n nuwe kledingstuk wat hy as geskenk ontvang het, gebruik om kos of olie op te vee? As hy dit doen, sal hy geen waardering vir die geskenk of die doel daarvan toon nie, asook algehele minagting vir die gewer. Dit sal hom diep seermaak.

Dit is die geval met musiek. Jehovah het dit aan ons gegee vir ons genot en geluk. Musiek is bowenal nog ’n manier waarop ons ons liefdevolle, hemelse Vader kan loof en nader aan hom kan kom. Dit is bedoel om tot ons geestelike welsyn by te dra.—Psalm 149:1-3; 150:1-6.

Hoe Godonterend tog is die mite wat leer dat die god Pan met sy bokpote musiek oorspronklik tydens sy onsedelike geslagseskapades geskep het! Maar vandag bevorder baie liedjies onsedelikheid. Ons vind dat daar gedurende hierdie wêreld se “tyd van die einde” ’n groot toename in goddelose musiek is (Daniël 12:4). Trouens, die kritieke jaar 1914 het ’n tydperk van sedelike verval, geweld en verwording ingelui wat sonder gelyke in die mensegeskiedenis is. Gevolglik weerspieël baie hedendaagse musiek die seksuele permissiwiteit, verwarring en dwaasheid van “die laaste dae” van hierdie goddelose stelsel.—2 Timotheüs 3:1-5.

Hoe noodsaaklik tog dat “liefhebbers van die HERE” goddelose musiek verwerp en eerder aanhang wat goed is in God se oë! (Psalm 97:10). Van tyd tot tyd het hierdie tydskrif en sy metgesel, Ontwaak!, derhalwe artikels bevat wat teen “onheilige” musiek waarsku. (Vergelyk 2 Timotheüs 2:16.) Hierdie besprekings het die gevare van musiek se subtiele, hartstogwekkende invloede en aanhitsing tot opstandigheid blootgelê.a

’n Begeerte om Jehovah God te behaag en ’n eerlike beoordeling van baie van die moderne musiek kan ’n persoon homself weliswaar laat afvra: Watter musiek bly oor? Is daar musiek waarna ons met veiligheid kan luister sonder dat dit gevaar vir ons geestelikheid inhou?

Goeie musiek in oorvloed!

Van al die baie musiek wat sedert die middel van die 17de eeu gekomponeer is, is slegs ’n klein hoeveelheid Skriftuurlik afkeurenswaardig. Hierdie verdagte werke op die klassieke terrein word hoofsaaklik in operas en balletwerke aangetref, waarvan baie op onsedelike, tragiese temas of heidense mitologie gebaseer is. Maar al sou ons selfs al hierdie musiek vermy, is dit wat oorbly so omvangryk dat ons in ’n gemiddelde leeftyd nooit na alles sal kan luister nie.

Dit sal jare duur om net met die aanvaarbare werke van Bach, Vivaldi, Telemann, Handel, Haydn en Mozart vertroud te raak. En dit sluit nie eers werke deur hulle tydgenote in nie. En dan praat ons nie eers van die goeie instrumentale en volksmusiek van baie lande nie. Ons hoef maar net vlugtig na die katalogusse van Europese en Amerikaanse bladmusiek te kyk om te besef dat daar goeie musiek in oorvloed is!

Ja, elke vorm van musiek denkbaar is op plate en kassetbande beskikbaar. Daar is so baie klassieke musiek beskikbaar dat ’n persoon baie selektief kan wees en steeds oorgenoeg sal kry om na te luister.

Hoe sal jy hierdie gawe gebruik?

“Liefhebbers van die HERE” wil hom graag in alles behaag. Dit is ook hulle wens wanneer hulle musiek kies. Die besluite wat hulle neem, is hulle eie verantwoordelikheid (Galasiërs 6:5). Maar wat sal hulle help om ’n keuse te doen?

Gewoonlik skep die sekulêre musiek wat in die 18de en vroeë 19de eeu gekomponeer is geen probleem vir die gewetensgetroue Christen nie. Dit is boonop baie maklik om te leer om hierdie musiek te geniet. Luister ’n paar keer daarna en jy sal vertroud raak met die sprankelende melodieë en lewendige ritmes.

Wanneer jy musiek kies, is dit natuurlik nie genoeg om net die titel in ag te neem nie. Die komponis het mooi melodieë gekomponeer en dit tot ’n harmonies strelende geheel ontwikkel. Programmusiek het ’n titel wat ’n verhaal of voorval uitbeeld of ’n sekere stemming weergee. Maar moet jou nie laat mislei nie. Heelparty betitelde stukke het nie meer die name wat komponiste daaraan gegee het nie.

Ter toeligting: Beethoven het nooit sy klaviersonate nr. 27 in C# mineur die “Maanligsonate” genoem nie. En hy het ook nie sy vyfde klavierkonsert die “Keiserkonsert” genoem nie. Baie van die name wat aan Chopin se stukke gekoppel word, is ook nie sy werk nie. Hulle is gebaseer op wat ander gedink het hulle in hierdie werke gehoor het of is bygevoeg deur ’n musiekuitgewer wat kon sien dat hy meer profyt daaruit sou kon maak.

’n Praktiese manier om die keuse te doen, is om die aantekeninge op die omslag van die plaat wat jy graag wil koop te lees, net soos jy die etikette op verpakte voedsel sal lees. As die musiek beskryf word as kakofonies, dissonant, 12-toons, dodekafonies, serieël of perkussief, kan jy daarvan verseker wees dat dit skel sal klink met geen maklik herkenbare temas nie en dat die ritme baie voortstuwend sal wees. Dit kan verstandelik steurend en uitputtend wees. ’n Ware Christen sal dit natuurlik nie eers oorweeg om musiek te koop wat ’n mitologiese tema het en sodoende ’n leuen bevorder of wat suggestief is nie.

Dit is opmerkenswaardig dat Jehovah se Getuies geloofinspirerende musiek het met woorde wat God vereer en loof in ooreenstemming met sy geopenbaarde waarhede. Daar word glad nie daarop aanspraak gemaak dat hierdie liedere groot meesterwerke is nie. Dit is eenvoudige melodieë wat deur toegewyde musikante gekomponeer is wie se hart en verstand hulle beweeg het om uiting te gee aan hulle liefde vir Jehovah en sy voornemens, en vir al hulle medegelowiges. Hierdie melodieë, wat op plate en kassette vasgelê is, kan baie ure van genot en ontspanning verskaf. Ons word daaraan herinner om Jehovah gedurig te loof wanneer ons hierdie Bybelse liedere by gemeentelike vergaderinge of tuis sing.

Jehovah God het onder geen verpligting gestaan om vir ons hierdie genotvolle gawe van musiek te gee nie. Hy kon dit in die hemel opgesluit gehou het vir sy eie genot saam met sy engelegesin. Maar omdat hy so onselfsugtig is en musiek hom soveel vreugde verskaf, wou hy hê dat ons dit ook moes geniet. Beweeg hierdie blyk van Jehovah se goedertierenheid ons nie om hom selfs liewer te hê nie?

Laat ons dan deur ons liefde vir God aangespoor word om al Jehovah se gawes tot sy lof te gebruik. Trouens, ‘of ons dan eet of drink of enigiets doen’—en dit sluit die musiek in wat ons sing, waarna ons luister en wat ons uitvoer—laat ons “alles tot verheerliking van God” doen (1 Korinthiërs 10:31). Laat ons derhalwe, as sy getroue getuies, opregte waardering vir musiek, een van Jehovah se genotvolle gawes aan ons, toon.

[Voetnoot]

a Kyk asseblief Die Wagtoring van 1 April 1983, bladsye 3-10, en Ontwaak! van 22 April 1980, bladsye 7-11.

[Prent op bladsy 30]

Jehovah se Getuies loof God gereeld met sang

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel