Jehovah se Woord is onfeilbaar!
‘Ek, Jehovah, vervul die woord van my kneg.’—JESAJA 44:24-26, Byington.
1. Watter toekoms is in 1864 voorspel?
WAT hou die toekoms in? Mense wil graag weet. Maar hoe onbevredigend is hulle voorspellings tog! Ter toeligting: In 1864 het natuurkundige Alfred R. Wallace die volgende mensgemaakte ‘toekoms vir die mensdom’ voorspel: “Elkeen . . . sal sy eie geluk met betrekking tot dié van sy naaste uitwerk; . . . die goed gebalanseerde morele vermoëns sal niemand ooit toelaat om op die gelyke vryheid van ander inbreuk te maak nie; . . . elke mens sal deur die allerbeste wette gelei word; ’n deeglike waardering vir die regte, en ’n volmaakte simpatie met die gevoelens van almal om hom.” Wallace het dan glad voorspel dat die mens ons aarde sou omskep in “die allermooiste paradys waaroor enige siener of digter nog ooit gedroom het”!
2. Watter vrae ontstaan as gevolg van die mislukking van bloot menslike voorspellings?
2 Die skrywer van daardie woorde is oorlede net nege maande voordat die mensdom in die donker nag van die Eerste Wêreldoorlog gedompel is. Waar was daardie ‘mooi paradys’ vol medelydende mense toe? En wat van vandag? ‘Dit is ongetwyfeld so dat ‘die liefde van die meeste verkoel het’—en dit ondanks enige teenoorgestelde voorspellings (Mattheüs 24:12). Maar moet dit ons aan alle profesieë laat twyfel? Jehovah God identifiseer homself as die Een “wat die wyse agteruit laat wyk en hulle kennis domheid maak; wat die woord van sy kneg vervul” (Jesaja 44:24-26). Maar sommige vra dalk: ‘Kan ons op Bybelprofesieë peil trek? Is Jehovah se Woord werklik onfeilbaar?’
Verwoesting en herstelling
3. Wat het in die sewende eeu v.G.J. met Juda en Jerusalem gebeur ooreenkomstig Levitikus 26:27-35?
3 Daar is oorvloedige getuienis dat ons inderdaad op Bybelprofesie kan peil trek. Profesieë oor verwoesting en oor herstelling is byvoorbeeld in die geval van God se eertydse volk, die Israeliete, vervul. Wanneer hulle Jehovah getrou aanbid het, was hulle voorspoedig in hulle Godgegewe ‘land van melk en heuning’ (Levitikus 20:24; 1 Konings 4:1, 20). Maar hulle is gewaarsku dat hierdie paradys ’n verlate woesteny sou word as hulle ongehoorsaam was (Levitikus 26:27-35). In die jaar 607 v.G.J., sowat 900 jaar nadat Moses Levitikus neergeskryf het, het die Babiloniërs Juda en Jerusalem verower. Kort daarna het die Jode wat in die land oorgebly het na Egipte gevlug en was die voorspelde verwoesting volkome—Jeremia 39:8-10; 40:5; 41:2; 43:1-7.
4. (a) Watter belofte het Jehovah lank voor Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. aan sy volk gedoen? (b) Hoe is hierdie belofte vervul?
4 Maar meer as ’n eeu voor Jerusalem se vernietiging het Jehovah beloof om sy berouvolle volk na hulle verwoeste tuisland terug te bring en die paradysagtige prag daarvan te herstel (Jesaja 35:1-4). God het ook gesê: “Ek, [Jehovah], . . . wat die woord van [my] kneg vervul en die voorsegging van [my] boodskappers volbring: wat van Jerusalem sê: Dit moet bewoon word; en van die stede van Juda: Hulle moet herbou word, en Ek sal sy puinhope oprig” (Jesaja 44:24-26, vgl. Byington). In 539 v.G.J. is Babilon verower deur die Meders en die Perse onder aanvoering van Kores, net soos Jesaja voorspel het (Jesaja 44:27-45:6). Kores se bevel wat die Jode in staat gestel het om na hulle tuisland terug te keer en die tempel te herbou, het in 537 v.G.J. in werking getree, en mettertyd het die land Juda die voorspelde transformasie ondergaan (Esra 1:1-4; Jesaja 35:5-10; Esegiel 36:35). Hoe onfeilbaar is Jehovah se Woord tog!
Tirus kon nie profesie trotseer nie
5. Wat het Jehovah deur Esegiel omtrent Tirus voorspel?
5 Goddelik geïnspireerde profesie is ook vervul ten opsigte van die eertydse stad Tirus, wat tereg “die vorstin van die see” genoem is. Aangaande hierdie Feniciese seehawe het Jehovah gesê: “Ek het dit teen jou, o Tirus! en Ek laat baie nasies teen jou optrek . . . Ek laat Nebukadresar, die koning van Babel . . . teen Tirus kom . . . En hy sal . . . jou torings met sy breekysters afbreek . . . en hulle sal jou klippe en jou houte en jou puin in die water slinger. . . . Ek sal jou ’n kaal rots maak, ’n droogmaakplek van nette sal jy wees.”—Esegiel 26:3-14.
6. Wat het ter vervulling van profesie met eertydse Tirus gebeur?
6 So ’n val het onmoontlik gelyk. Volgens die Joodse geskiedskrywer Josephus het die Babiloniese beleëring van Tirus 13 jaar geduur (Josephus, Against Apion, Boek I, hoofstuk 21). Hoewel die geskiedenis nie vir ons sê hoe doeltreffend Nebukadnesar se pogings was nie, moes Tirus se verlies aan eiendom en lewens groot gewees het. ’n Latere profetiese godspraak deur Sagaria het aangedui dat God die stad heeltemal sou vernietig (Sagaria 9:3, 4). Hierdie profesie is vervul bykans 200 jaar nadat dit gegee is. Teen daardie tyd het diegene wat in die nabygeleë eilandstad Tirus gewoon het veilig gevoel agter sy gedugte mure. Maar in 332 v.G.J. het die leërs van Alexander die Grote daardie eilandstad omvergewerp deur die puin van Tirus op die vasteland te gebruik om ’n verhoogde pad na die eiland te bou. Sedertdien is hierdie kunsmatige skiereiland vergroot deur sand wat deur die water soontoe gespoel is. En in die huidige kusdorpie kan ’n mens sien hoedat vissers hulle nette droogmaak—nog ’n vervulling van profesie. Jehovah se Woord is inderdaad onfeilbaar!
Die “bloedstad” buig
7, 8. (a) Wat het Jehovah deur sy profete omtrent Nineve voorspel? (b) Waarom sou dit onmoontlik gelyk het dat Nineve ’n “verwoesting” kon word?
7 God se profetiese woord was ook waar in die geval van eertydse Nineve, die hoofstad van die Assiriese Ryk wat Jehovah se volk verdruk het (2 Konings 17:1-6; 1 Kronieke 5:6, 26). Gedurende Nineve se bloeityd het Jehovah deur sy profete aangaande daardie stad gesê: “Roof silwer, roof goud! En onuitputlik is die voorraad . . . Leegheid, ontlediging, vernieling! . . . Wee die bloedstad” (Nahum 2:9, 10; 3:1). “Hy sal . . . Nineve tot ’n verwoesting maak, . . . en binne-in die stad sal troppe vee lê.”—Sefanja 2:13, 14.
8 Hoe kon dit ooit gebeur? Nineve was “die groot stad” (Jona 1:2). Volgens die eertydse geskiedskrywer Diodorus het Nineve ’n 30-meterhoë muur gehad wat breed genoeg was sodat drie strydwaens langs mekaar daarop kon ry. In die profeet Jona se dag (die negende eeu v.G.J.) het meer as 120 000 manne in die stad gewoon (Jona 4:11). Sou dit alles ’n “verwoesting” word?
9. Hoe het Nineve verdere bewys gelewer dat Jehovah se Woord onfeilbaar is?
9 In 632 v.G.J., 16 of meer jaar na Sefanja se profesie, het die Babiloniërs en die Meders Nineve beleër. Volgens Diodorus (Boek II, hoofstuk 27 het, swaar en aanhoudende reën” die Eufraatrivier sy walle laat oorstroom. Dit het “’n deel van die stad oorstroom en ook die mure oor ’n afstand van twintig stadieë weggespoel”. Nineve is ingeneem. “Hulle het baie buit uit die stad en die tempelgebied weggedra en die stad omgeskep in ’n terp en ’n puinhoop”, sê die antieke Babiloniese Kroniek. Nineve was eeue lank ’n verlore stad. Die omverwerping daarvan was beslis ’n “goeie boodskap” vir God se volk, wat daarvan verseker is dat ‘Jehovah goed is’ en dat ‘Hy die ken wat by Hom skuil’ (Nahum 1:7, 15). ’n Hedendaagse besoeker aan Nineve se ruïnes in Irak sal sien hoedat skape naby die terpe wei, net soos voorspel is. Hierin het ons verdere bewys dat Jehovah se Woord onfeilbaar is.
“’n Aansienlike horing” word gebreek
10. (a) Watter profetiese gesig is in Daniël 8:1-8 opgeteken? (b) Hoe het Gabriël hierdie profesie uitgelê?
10 In ’n profetiese gesig het Daniël gesien hoedat ’n ram met twee horings doodgemaak word deur ’n bokram met “’n aansienlike horing”. Hierdie horing is afgebreek en deur vier horings vervang (Daniël 8:1-8). Wat kon dit beteken? Die engel Gabriël het verduidelik: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse. En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning. En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het—vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.”—Daniël 8:16, 20-22.
11, 12. Hoe is Daniël 8:20-22 vervul?
11 Magtige Babilon is verower deur Medo-Persië, die simboliese ram met die twee horings. Maar God se engel het voorspel dat “die harige bok”, Griekeland, die ram sou doodmaak. Dit is presies wat plaasgevind het in die vierde eeu v.G.J., toe die Griekssprekende leërs van Alexander die Grote die Medo-Persiese Ryk omvergewerp het. Maar Alexander is in 323 v.G.J. skielik op die ouderdom van 32 oorlede sonder om ’n bekwame opvolger agter te laat. Met Alexander se dood is die “aansienlike horing” gebreek. Maar wat van die voorspelde ‘vier horings wat in sy plek ontstaan het’?
12 Alexander het ’n aantal generaals gehad, maar vier van hulle het eindelik die bewind oorgeneem. Die “aansienlike horing” is dus gebreek en mettertyd deur ‘vier horings’, of “vier koninkryke”, vervang. Teen 301 v.G.J. het die volgende generaals die bewind oorgeneem: Ptolemaeus Lagus (Egipte en Palestina); Seleukos Nikator (Mesopotamië en Sirië); Cassander (Macedonië en Griekeland); en Lysimachus (Thracië en Klein-Asië).a Ons sien weer eens dat Jehovah se Woord onfeilbaar is.
“’n Gesalfde, ’n Vors”, verskyn!
13. Wat sê Daniël 9:24, 25 oor die verskyning van die Messias?
13 Die boek Daniël lewer heel besondere bewys dat Jehovah se Woord onfeilbaar is. Daniël is eeue voor die tyd geïnspireer om die tyd vir die Messias se verskyning op aarde haarfyn aan te dui. Hierdie aangrypende profesie het ten dele gelui: “Sewentig [weke] is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe [weke]: en twee-en-sestig [weke].”—Daniël 9:24, 25, vgl. NW.
14. (a) Op watter Skriftuurlike grondslag kan ons sê dat elke dag in die “weke” van Daniël 9:24, 25 een jaar verteenwoordig? (b) In watter jaar het ‘die woord om Jerusalem op te bou’ uitgegaan? (c) Hoe lank was die 69 “weke”, en wanneer het hulle begin en geëindig?
14 Was dit letterlike “weke”? Nee, want al die dinge wat hier oor die Messias voorspel is, het nie in 70 weke, of minder as ’n jaar en ’n half plaasgevind nie. Dit was “weke” waarin elke dag een jaar verteenwoordig het. (Vergelyk Numeri 14:33, 34.) “Die woord . . . om Jerusalem te herstel en op te bou” het in die 20ste jaar van Persiese koning Artasasta (Longimanus) uitgegaan (Nehemia 2: 1-18). Aangesien hy in 474 v.G.J. begin regeer het, was sy 20ste jaar 455 v.G.J. Die 69 weke van jare “van die woord af om Jerusalem . . . op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors,” was dus 483 jaar (7 x 69) lank en het in 29 G.J. geëindig.
15. Wat het die Jode in 29 G.J. verwag?
15 In daardie jaar het Johannes die Doper “die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig”. En wat van die Jode? “Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie” (Lukas 3:3-6, 15, vgl. NAV). Oor hierdie verwagting het die Joodse geleerde Abba Hillel Silver gesê: “In die eerste eeu, veral in die geslag voor die vernietiging [van Jerusalem], was daar ’n merkwaardige opwelling van Messiaanse emosionalisme. Dit kan toegeskryf word . . . nie aan ’n intensifisering van Romeinse vervolging nie, maar aan die heersende opvatting wat gewek is deur die algemeen aanvaarde chronologie van daardie dag . . . Die Messias is omstreeks die tweede kwart van die eerste eeu G.J. verwag.” Daardie “algemeen aanvaarde chronologie” was gebaseer op die boek Daniël.
16. (a) Waarom was die 15de jaar van die regering van keiser Tiberius betekenisvol? (b) Wat het gebeur toe Jesus gedoop is?
16 Daniël se profesie het aangedui dat die 69 weke van jare tot in 29 G.J. sou duur. Wel, het die Messias op tyd in daardie jaar verskyn? Inderdaad! Johannes die Doper het “in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tiberius” begin preek en doop (Lukas 3:1-3). Aangesien Tiberius op 17 Augustus 14 G.J. (Gregoriaanse kalender) die Romeinse keiser geword het, het Johannes se werk in die 15de jaar daarna, of in die noordelike lente van 29 G.J., begin. In die noordelike herfs van daardie jaar is Jesus van Nasaret deur Johannes gedoop en het die heilige gees toe uit die hemel neergedaal om Jesus as die Christus of Messias te salf (Lukas 3:21, 22). Messiaanse profesie is vervul.b Daar is weer eens bewys dat Jehovah se Woord onfeilbaar is.
17. Wat is sommige van die Messiaanse profesieë wat ten opsigte van Jesus Christus vervul is?
17 Talle ander profesieë in die Hebreeuse Skrifte is ten opsigte van Jesus Christus vervul. Jesus is byvoorbeeld uit ’n maagd in Betlehem gebore (Jesaja 7:14; Miga 5:1; Mattheüs 1:18-23; 2:3-6). Jong kinders is na sy geboorte om die lewe gebring (Jeremia 31:15; Mattheüs 2:16-18). Hy het ’n voorloper gehad (Jesaja 40:3; Mattheüs 3:1-3). Jesus het ons siektes gedra (Jesaja 53:4; Mattheüs 8:16, 17). Hy het op die vul van ’n eselin in Jerusalem ingery (Sagaria 9:9; Johannes 12:12-15). Een apostel het hom vir 30 silwerstukke verraai (Psalm 41:10; Sagaria 11:12; Mattheüs 26:14-16, 46-56; Johannes 13:18). Nadat Jesus aan die paal genael is, het soldate sy klere onder hulle verdeel en die lot oor sy binnekleed gewerp (Psalm 22:19; Johannes 19:23, 24). Sy bene is nie gebreek nie, maar hy is deurboor (Psalm 34:21; Sagaria 12:10; Johannes 19:33-37). Nadat hy dele van drie dae in die graf was, is hy opgewek (Jona 1:17; 2:10; Mattheüs 12:39, 40; Markus 9:31; Handelinge 10:40). Dit is net ’n paar voorbeelde van hoe Jesus Messiaanse profesieë vervul het. Maar hulle bewys ook dat Jehovah se Woord onfeilbaar is.
Ons kan weet wat die toekoms inhou
18, 19. (a) Waarom is dit nie tevergeefs om te vra wat die toekoms inhou nie? (b) Watter verdere vrae word geopper?
18 Jesus, die Messias, het self hoopinboesemende profesieë geuiter. Hy het byvoorbeeld sy toekomstige “teenwoordigheid” voorspel (Mattheüs 24:3-14, vgl. NW). Trouens, verskeie Bybelskrywers het bemoedigende profesieë met betekenis vir die 20ste eeu neergeskryf. Dit is dus nie tevergeefs om te vra nie: ‘Wat hou die toekoms in?’ Ons kan uitvind!
19 Tot dusver het ons enkele Skriftuurlike profesieë bespreek wat in die verlede vervul is. Maar wat van ons dag? Het ons nog aangrypende bewys dat Jehovah se Woord onfeilbaar is?
[Voetnote]
a Vir meer besonderhede, kyk asseblief bladsye 188-195 van die boek “Laat u wil geskied op aarde”, wat in 1958 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is.
b Vir nadere besonderhede oor die “sewentig weke”, kyk asseblief hoofstuk 7 van die boek “Let Your Kingdom Come”, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word.
Kan jy onthou?
◻ Wat het, soos voorspel is, met eertydse Tirus gebeur?
◻ Hoe het Nineve bewys gelewer van die feit dat Jehovah se Woord onfeilbaar is?
◻ Wat het ter vervulling van Daniël 8:20-22 gebeur?
◻ Hoe lank was die 69 “weke”, en wanneer het hulle begin en geëindig?
◻ Wat is party van die Messiaanse profesieë wat ten opsigte van Jesus vervul is?