Gee ag op God se profetiese woord vir ons dag
“Wat Ek vroeër aangekondig het, het plaasgevind. Ek kondig nuwe dinge aan. Voor dit begin gebeur, laat Ek julle al daarvan hoor.”—JESAJA 42:9, NAV.
1. Waarom kan ons sê dat Jehovah die God van onfeilbare profesie is?
JEHOVAH is die God van onfeilbare profesie. Dit was beslis die geval met die ondergang en herstelling van Jerusalem, die val van antieke ryke en die vervulling van Messiaanse profesieë! Maar is alle Bybelprofesieë slegs in die verlede vervul? Hoe verkeerd sal dit tog wees om so te dink!
2. Hoe verskil Jehovah se knegte van die wêreld ten opsigte van profesie?
2 God het vir sy eertydse volk gesê: “Wat ek vroeër aangekondig het, het plaasgevind. Ek kondig nuwe dinge aan. Voor dit begin gebeur, laat Ek julle al daarvan hoor” (Jesaja 42:9, NAV). Deur vir sy lojale dienaars ’n begrip te gee van profesieë wat reeds in die Bybel is, gee Jehovah hulle steeds voorkennis, en ons moet beslis daarop ag gee. Die apostel Petrus het dit so goed gestel: “Ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek” (2 Petrus 1:19). Trouens, die feit dat Jehovah se volk op Sy profetiese woord ag gee, kenmerk hulle as anders as hierdie duister, verwarde wêreld. Spreuke 4:18, 19 sê gepas: “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is: die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.”—NAV; vergelyk Psalm 119:105.
Luister wanneer God se Seun spreek!
3. Watter bewys is daar dat Jesus vandag teenwoordig is?
3 Dit is noodsaaklik dat Jehovah se Getuies “des te meer ag gee” op dinge wat Jesus Christus gespreek het (Hebreërs 2:1-4). En watter dramatiese profesie het hy tog oor ons dag gegee! Jesus het na die laaste dae van hierdie sterwende stelsel gewys en ’n opvallende “teken” van sy “teenwoordigheid” gegee. Hy het verwikkelinge soos totale oorlogvoering, pessiektes, hongersnode en aardbewings voorspel (Mattheüs 24:3-8, vgl. NW). Kan enige ingeligte persoon die oorweldigende bewys van Jesus se teenwoordigheid vandag ontken? Die Eerste Wêreldoorlog het meer as 9 miljoen stryders en miljoene burgerlikes se lewens geëis, terwyl die Tweede Wêreldoorlog 55 miljoen lewens geëis het. Die Spaanse griep van 1918-19 het ongeveer 20 miljoen mense se dood veroorsaak. Volgens ’n raming van die Voedsel-en-Landbou-organisasie is 450 miljoen nou op die randjie van verhongering, en het tot ’n duisendmiljoen te min om te eet. Aardbewings het nagenoeg 1 600 000 lewens in die 20ste eeu geëis—meer as 22 000 elke jaar sedert 1914.
4. (a) Wanneer het die Tye van die Nasies begin, en wanneer het hulle geëindig? (b) Watter bewys is daar dat Jehovah se volk voorkennis omtrent 1914 gehad het?
4 En wat van die jaar 1914? Meer as ’n eeu gelede het C. T. Russell (wat die eerste president van die Wagtoringgenootskap geword het) die Tye van die Nasies verbind met die “sewe tydperke” wat in die boek Daniël gemeld word (Daniël 4:16, 23, 25, 32; Lukas 21:24). In die Bible Examiner van Oktober 1876 het Russell geskryf: “Die sewe tye sal in 1914 n.C. eindig.” Hy was ook ’n mede-uitgewer van die boek Three Worlds, and the Harvest of This World wat in 1877 verskyn het en (op bladsye 83 en 189) getoon het dat die tydperk van Heidense wêreldoorheersing van 2 520 jaar sonder inmenging deur enige koninkryk van God begin het met die Babiloniese omverwerping van die koninkryk van Juda teen die einde van die sewende eeu v.G.J. en in 1914 G.J. sou eindig. Die Watch Tower se nommer vir Maart 1880 het eweneens gesê: “‘Die Tye van die Nasies’ strek tot 1914, en die hemelse koninkryk sal dan eers ten volle aan die bewind wees.”
5. Hoe kon Jehovah se Getuies vooraf geweet het hoe betekenisvol 1914 sou wees?
5 Vandag vestig Jehovah se Getuies die aandag op die “teken” wat Jesus gegee het en kyk hulle terug op 1914 as die jaar toe sy onsigbare teenwoordigheid in Koninkryksmag ’n werklikheid geword het. Maar hoe kon hulle voorkennis van so ’n kardinale gebeurtenis gehad het? Nie as gevolg van buitengewone mensewysheid nie. Nee, maar omdat hulle die Skrif biddend bestudeer het, op God se profetiese woord ag gegee het en besonder baie aandag geskenk het aan wat God se Seun voorspel het (2 Petrus 1:19; Hebreërs 1:1, 2; 2:1). Omdat die Getuies dankbaar is dat Jehovah ‘vir hulle nuwe dinge aangekondig het voordat dit gebeur het’, verskaf dit hulle genoeë om hierdie kennis aardwyd bekend te maak (Jesaja 42:9, AV). Hulle doen dit ooreenkomstig Jesus se woorde: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies.” En dan? “Dan sal die einde kom”!—Mattheüs 24:14.
Mededingende konings bots
6. Watter twee konings word in Daniël hoofstuk 11 bespreek, en watter vrae ontstaan omtrent hulle?
6 Maar voordat “die einde” kom, is daar ander 20ste-eeuse verwikkelinge wat ons aandag verdien. Daniël se profesie sê byvoorbeeld: “In die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom [die koning van die Noorde] in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm” (Daniël 11:40). Wie is hierdie strydende konings, en van watter belang is hulle voorspelde dade?
7. (a) Wanneer het hierdie stryd tussen die twee konings begin? (b) Waarom was die name “koning van die Noorde” en “koning van die Suide” gepas? (c) Met watter eerste-eeuse moondheid word “die koning van die Noorde” geïdentifiseer, en hoe het ‘’n eiser deur die koninkryk getrek’?
7 Die stryd tussen hierdie konings het begin nadat die ryk van Alexander die Grote verdeel is. Seleukos Nikator het beheer oor onder meer Sirië verkry, en Ptolemaeus Lagus het ’n dinastie in Egipte gestig. Hierdie strydende dinastieë, wat noord en suid van die land van Jehovah se volk, die Israeliete, geleë was, het die eerste “koning van die Noorde” en “koning van die Suide” geword (Daniël 11:2-5). Maar met verloop van tyd het die identiteit van hierdie konings verander. Teen die eerste eeu G.J. het die Romeinse keiserryk “die koning van die Noorde” geword. Op daardie stadium in die geskiedenis sou ‘iemand opstaan wat ’n eiser deur die pragtige koninkryk laat trek’ (Daniël 11:20-22, vgl. NW). Soos voorspel is, het keiser Augustus ’n “eiser” uitgestuur deur te beveel “dat die hele wêreld ingeskryf moes word”. As gevolg van hierdie bevel het Josef en Maria in 2 v.G.J. na Betlehem gegaan om geregistreer te word, met die gevolg dat Jesus in daardie voorspelde plek gebore is.—Lukas 2:1-7; Miga 5:1.
8. (a) Hoe weet ons dat die twee konings by 20ste-eeuse verwikkelinge betrokke sou wees? (b) Wanneer was “die vasgestelde tyd” vir “die koning van die Noorde” om teen die suide op te ruk? (c) Met watter moondhede vroeër in hierdie eeu kan die twee konings geïdentifiseer word?
8 In die noordelike lente van 33 G.J. het Jesus Christus ’n wonderlike profesie oor “die tyd van die einde” gegee. Hy het uit Daniël 11:31 aangehaal en sodoende getoon dat daar dramatiese verwikkelinge in die 20ste eeu sou wees waarby “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” betrokke sou wees (Mattheüs 24:15). Daar is voorspel dat “die koning van die Noorde” “op die vasgestelde tyd” teen die suide sou opruk (Daniël 11:29, 30). Wanneer was dit? In 1914—die einste jaar waarin die Tye van die Nasies geëindig het en die Koninkryk van God in die hemele opgerig is! In daardie jaar het ’n Duitse “koning van die Noorde” begin veg teen “die koning van die Suide”, die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid. Duitsland en sy bondgenote is in die Eerste Wêreldoorlog en weer in die Tweede Wêreldoorlog verslaan. Die “koning van die Noorde” het toe ’n nuwe identiteit verkry.
9. (a) Watter standpunt handhaaf Jehovah se Getuies ten opsigte van politieke aangeleenthede? (b) Verhinder dit hulle om sekere politieke verwikkelinge voor die tyd te sien?
9 Jehovah se Getuies handhaaf strenge Christelike neutraliteit. Hulle is nie deel van hierdie wêreld nie en bemoei hulle nie met die politieke aangeleenthede daarvan nie (Johannes 17:16). Hulle gee nietemin ag op Gou oe profetiese woord, en dit het hulle in staat gestel om te sien hoedat Daniël se profesie nou die laaste stadium van sy vervulling bereik (Jesaja 42:9). In die tydperk na die Tweede Wêreldoorlog beklee twee supermoondhede weer eens die middel van die verhoog en ding hulle met mekaar mee in ’n noodlottige wapenwedloop wat die wêreld se jaarlikse militêre begroting oor die R1-biljoenkerf gestoot het.
10. (a) Wat is die “gruwel” van Daniël 11:31? (b) Hoe het albei konings Jehovah se volk behandel, en waarom?
10 Toe Jesus gepraat het van Daniël se profesie oor “die gruwel van die verwoesting” het hy gesê: “Wie dit lees, moet dit goed begryp” (Mattheüs 24:15, vgl. NAV; Daniël 11:31). ‘Begrip’ van die vervulling van Bybelprofesie het getoon dat daardie “gruwel” die VVO is wat in die lewe geroep is om God se Koninkryk teen te staan. ‘Begrip’ laat ook geen twyfel oor die identiteit (op hierdie hoogtepunt van die profesie se ontplooiing) van “die koning van die Noorde” nie terwyl hy meeding met “die koning van die Suide” tydens hulle finale, volskaalse magstryd. Nòg hy nòg “die koning van die Suide” is bereid om hul soewereiniteit af te staan aan God se hemelse Koninkryk wat nou aardwyd deur Jehovah se Getuies aangekondig word. Albei konings het deelgeneem aan die vervolging van die Getuies.—Daniël 11:36-39; Mattheüs 5:10-12; Johannes 15:19, 20.
11. (a) Wat beweer “die koning van die Noorde”? (b) Hoe spreek hierdie “koning” teen Jehovah?
11 Aangaande “die koning van die Noorde” sê die profesie: ‘Die koning sal . . . homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; . . . hy sal homself bo alles groot hou” (Daniël 11:36, 37). Hierdie ateïstiese “koning van die Noorde” beweer dat die Staat die reg het om veel van sy onderdane te eis. Daarbenewens spreek hierdie “koning” teen Jehovah deur sy visier te stel op wêreldoorheersing met uitsluiting van God se Koninkryk. “Die koning van die Suide” wil natuurlik ook niks met daardie Koninkryk te doen hê nie, al haal sy politieke woordvoerders ook die Bybel vroom aan.—Openbaring 11:17, 18.
’n “Koning” met ’n buitengewone god
12. Watter god vereer ‘die koning van die Noorde”?
12 Al kom die “koning van die Noorde” ook hoe ongodsdienstig voor, het hy wel ’n god. Die profesie sê: “Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer” (Daniël 11:38). Het hierdie “koning” hulde bewys aan “die god van die vestings” deur moderne, wetenskaplike militarisme as die verlosser van die volke van sy blok nasies te verhef?
13. Waarom kan daar gesê word dat albei hierdie konings ‘op strydwaens vertrou’?
13 Hy het beslis. Volgens The Military Balance 1981-1982 het die Internasionale Instituut vir Strategiese Studies geraam dat die gewapende magte van die vernaamste nasie in die ryk van die ‘noordelike koning’ uit meer as 4 000 000 bestaan, vergeleke met meer as 2 049 000 vir die vernaamste nasie van die “Suide”. In die middel van 1982 het SIPRI (Stockholm se Internasionale Vredesnavorsingsinstituut) berig dat die “Suide” 9 540 kernplofkoppe met ’n gesamentlike plofkrag van 3 448 megaton kon werp, vergeleke met 8 802 plofkoppe van die “Noorde” met ’n krag van 4 535 megaton. Wat ’n potensiaal vir vernietiging tog, aangesien net een megaton die plofkrag van ’n miljoen ton TNT besit! Dit is duidelik dat albei mededingende konings ‘op strydwaens vertrou’.—Jesaja 31:1.
14. (a) Watter “botsing” vind nou plaas? (b) Kan jy bewys aanvoer dat die mensdom bedreig word?
14 “Die koning van die Suide” kom nou polities en selfs militêr met sy mededinger in “botsing” (Daniël 11:40). Daar is vandag ’n meedoënlose wapenwedloop aan die gang wat die mensdom met kernverbranding bedreig. Waar dit hierdie gevaar beklemtoon, het die SIPRI Yearbook 1982 gewaarsku:
“Die balans tussen die twee groot moondhede wat betref interkontinentale kernwapens raak onstabiel. . . . In plaas van wat eens na ’n stabiele stelsel van afskrikking kon gelyk het—’n balans van wedersyds versekerde vernietiging—word die vrees vir ’n aanval nou gebruik as die rede vir die verwagte, geweldige vermeerderinge in strategiesewapenprogramme en -aanskaffing. Met die kernwapens tot hulle beskikking het die twee groot moondhede gesamentlik ’n vernietigingskrag wat waarskynlik gelykstaande is aan ongeveer ’n halfmiljoen Hirosjima-bomme: maar dit is nie genoeg nie. Daar is geen beter voorbeeld van hoe verwikkelinge op die gebied van die wapentegnologie—in hierdie geval die toenemende akkuraatheid van interkontinentale ballistiese missiele—ons sekuriteit laat afneem in plaas daarvan om dit te vergroot nie.”
15. (a) Sal hierdie konings ooit hulle wapens teen mekaar gebruik? (b) Maar wat toon God se profetiese woord duidelik?
15 ’n ‘Botsing’ met “die koning van die Suide” sou daartoe lei dat “die koning van die Noorde” “op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe”. Ja, die konings sou die geleentheid kry om ten minste hulle konvensionele wapens teen mekaar te gebruik. “Die koning van die Noorde” sou ook mag verkry oor baie “skatte” van hierdie wêreld (Daniël 11:40-43). Teen 1981 het “die koning van die Noorde” gesag uitgeoefen oor ongeveer 1,5 miljard mense in 16 nasies, en slegs die tyd sal leer hoe ver hierdie “koning” sy mag gaan uitbrei. Maar die vernietigingsvonnis oor hierdie konings kom uit ’n ander bron. God se profetiese woord toon dit duidelik.
Skrikwekkende gerugte—en dan die einde!
16. Van wie kom die ‘skrikwekkende gerugte’ af, en hoe bereik hulle “die koning van die Noorde”?
16 Hierdie dramatiese profesie eindig met die woorde: “Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref. . . . maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Daniël 11:44, 45). Hierdie skrikwekkende gerugte kom in werklikheid deur Jesus Christus van Jehovah af. Die Skrif plaas God, betreklik gesproke, in die noorde, en hy en Christus word simbolies genoem “die konings wat van die Ooste af kom” (Openbaring 16:12; Psalm 48:3; 75:6, 7, NW). Maar hoe kan hierdie “gerugte” “die koning van die Noorde” bereik? Deur God se aardse organisasie, Jehovah se heiligdomklas en hulle metgeselle, die “groot menigte”!
17. (a) Wat sal “die koning van die Noorde” doen as gevolg van die “gerugte”? (b) Sal “die koning van die Suide” net passief toekyk? (c) Wat sal Jehovah dan ten behoewe van sy lojale getuies doen?
17 God bepaal die inhoud van hierdie “gerugte”. Wat ook al die aard daarvan, hulle sal “die koning van die Noorde” so woedend maak dat hy Jehovah se volk sal probeer vernietig. Trouens, Satan die Duiwel, die simboliese Gog van Magog, sal “die koning van die Noorde” sowel as “die koning van die Suide” manipuleer om hierdie volskaalse aanval op God se ware knegte te doen (Esegiël 38:10-12). Maar Jehovah se lojale getuies hoef nie uitwissing te vrees nie. Die Allerhoogste sal hulle red, en albei konings sal onder die wees wat met “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon vernietig word.—Openbaring 16:14-16; Esegiël 38:18-23.a
18. (a) Moet Jehovah se Getuies toekomstige verwikkelinge vrees? (b) Waarom vertrou hulle steeds God se profetiese woord?
18 Jehovah se Getuies sal die Koninkryksboodskap dus reg tot aan die einde van hierdie stelsel onverskrokke verkondig (Mattheüs 24:14). Nie “die koning van die Noorde”, “die koning van die Suide” of die Duiwel en sy demonmagte sal hulle kan keer nie. Ons is vas oortuig hiervan. Waarom? Omdat sulke oortuiging stewig gebaseer is op die beloftes van ons hemelse Vader, en Jehovah se Woord is onfeilbaar (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-5). Goddelike profesieë en beloftes is nog altyd vervul. Mag al die lede van Jehovah se georganiseerde volk dus met volkome vertroue voortgaan om ag te gee op God se profetiese woord vir ons dag.
[Voetnoot]
a * Vir nadere inligting oor hierdie konings, kyk asseblief hoofstukke 10 en 11 van die boek “Laat u wil geskied op aarde”, wat in 1958 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is.
Kan jy onthou?
◻ Hoe weet ons dat Jesus vandag in Koninkryksmag teenwoordig is?
◻ Watter standpunt handhaaf Jehovah se Getuies ten opsigte van politieke aangeleenthede?
◻ Wie is vandag “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide”?
◻ Wat is die lot van hierdie konings?
◻ Waarom moet ons vertroue in God se profetiese woord hê?