Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 5/1 bl. 11-21
  • Christelike troues wat vreugde verskaf

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christelike troues wat vreugde verskaf
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die probleem van oordaad
  • Wettig getroud—in Bybelse tye en vandag
  • Troues by die Koninkryksaal
  • Vergroot die vreugde en waardigheid van jou troudag
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Troues wat Jehovah eer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Vreugdevolle troues wat Jehovah vereer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Troues wat eerbaar is in die oë van God en die mens
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 5/1 bl. 11-21

Christelike troues wat vreugde verskaf

1, 2. Hoe reageer die meeste mense op die woord “bruilof”, en waarom? (Mattheüs 19:4-6).

DIE apostel Johannes, ’n ooggetuie, berig: “Daar [was] ’n bruilof te Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. En Jesus en sy dissipels was ook na die bruilof genooi.” (Ons kursiveer.)—Johannes 2:1, 2.

2 Hoe reageer jy op daardie woorde in Johannes 2:1, 2? Dit sou nie vreemd wees as jy met opgewondenheid reageer nie, want die woord “bruilof” het ’n vreugdevolle konnotasie. Mense geniet troues. Soos ons in Genesis 2:18-24 lees, het die eerste troue in die Paradys plaasgevind, toe mense sonder sonde was. Daardie troue van ’n volmaakte man en vrou is deur ons Skepper gereël en goedgekeur. Dit het ’n verhewe toon gehad en het ’n mooi presedent gestel vir toekomstige troues.

3. Watter gees word in die Skrif met troues vereenselwig, maar watter probleem het ontstaan? (Jeremia 7:34).

3 Jou genieting van troues klop met wat ons in God se Woord lees. Waar dit die deelnemers aan ’n koninklike bruilof beskryf, sê Psalm 45:16 (NAV): “Onder uitbundige vreugde word hulle ingelei, betree hulle die paleis van die koning!” Vreugde word ook weerspieël in die Bybel se simboliese verwysings na figuurlike huweliksfeeste (Mattheüs 22:2-4; 25:1-10; Openbaring 19:6-9). Ja, hoewel ’n ernstige stap gedoen word—’n paartjie se betreding van die heilige huweliksreëling—behoort troues onthou te word as vreugdevolle, waardige geleenthede. Berigte uit baie dele van die wêreld toon egter dat baie troues in daardie opsig te kort skiet, wat probleme en verdriet vir die paartjie en verleentheid vir die aanwesiges veroorsaak. Soms geld dit selfs vir troues onder knegte van Jehovah. Waarom?

4. (a) Waarom is die meeste troues publieke aangeleenthede? (b) Wat het Jesus aangaande trouery in ons tyd gesê?

4 In die meeste lande kan ’n paartjie in die huwelik bevestig word tydens ’n private plegtigheid wat aan die wetlike vereistes voldoen. As ’n paartjie tot so ’n plegtigheid besluit, moet ander hulle nie kritiseer of dink dat hulle iets het om oor skaam te wees nie. Dit kan bloot hulle voorkeur wees en kan selfs wesenlike voordele inhou, soos kostebesparing ter voorbereiding vir groter deelname aan Jehovah se diens (Lukas 12:29-31). Die meeste troues is egter meer publiek, met baie vriende en familielede aanwesig. So word die paartjie se veranderde status algemeen bekend in die gemeenskap. As daar ’n godsdiensplegtigheid of Bybeltoespraak is, kom daar ’n geestelike element by. En ander kan in die paartjie se vreugde deel. Dit is positiewe voordele hierdie. Groter troues hou nietemin gevare in, veral noudat die wêreld so besig is om te ‘trou en in die huwelik uit te gee’ dat hulle nie ‘daarop ag slaan’ dat die goddelose stelsel binnekort gaan eindig nie.—Mattheüs 24:37-39, vgl. NW.

5. Wie behoort belang te stel in God se raad in verband met troues?

5 As jy ’n vreugdevolle Christelike troue in jou eie toekoms voorsien, is daar sake wat jou aandag verdien. Ons kan inderdaad almal baat vind by ’n bespreking van die Bybel se raad oor hierdie onderwerp, aangesien ons gaste of deelnemers by Christelike troues kan wees.

Die probleem van oordaad

6. Watter soort probleme kan groot troues oplewer?

6 Vir wêreldse mense kan ’n groot troue ’n statussimbool wees, sigbare bewys van hulle finansiële of sosiale meerderwaardigheid. Ongelukkig kan selfs Christene in die strik trap om ander met swierige klere of oordadige reëlings te probeer beïndruk (Galasiërs 5:26). Sommige Christen- ouere manne in Wes-Afrika het onlangs hulle teleurstelling uitgespreek oor die “sterk neiging om die wêreld ‘na te aap’ wat betref gebruike, vertonerigheid en onbeteuelde vermaak” by troues. Dit doen afbreuk aan die waardigheid en vreugde wat gepas is in die lewens van persone wat nie meer ‘wandel in die begeerlikhede van die vlees deur die wil van die vlees en die sinne te doen nie’ (Efesiërs 2:3). In plaas van vreugde en aangename herinneringe, lei sulke troues dikwels tot ‘ongebondenheid, vyandskap, jaloersheid, naywer, afguns, brassery’—die werke van die vlees.—Galasiërs 5:19-21.

7. Waarom wil party mense oordadige troues hê?

7 Die geskiedenis deel ons mee dat, toe Ptolemaeus VI Filometor sy dogter as vrou gegee het aan Alexander Balas van Sirië, hulle “met groot seremonie, soos onder konings gebruiklik is, in Ptolemaïs haar bruilof gevier” het (1 Makkabeërs 10:58). Vandag voel baie wat beperkte fondse tot hulle beskikking het dat hulle (of hulle kinders) ook “met groot seremonie, soos onder konings gebruiklik is,” moet trou. Hulle is moontlik deur reklame in hierdie waan gebring. Sakemanne met gevestigde belange in groot, swierige troues propageer die idee van ’n bruid wat “vir ’n dag koningin” is, asof sekere soorte gedrukte uitnodigings, foto’s, blomme of ringe jou van ’n volmaakte troue verseker. Hulle wil hê dat jy moet dink: ‘Hierdie een maal verdien ek die allerbeste’—of jy dit kan bekostig of nie. Hierdie “opsigtige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” behoort tot die wêreld wat verbygaan (1 Johannes 2:15-17. NW). Sommige Christen- ouere manne het gesê: “Ons bespeur ’n gees van wedywer. Onder die invloed van wêreldlike gebruike kan die bruid en haar gevolg [byvoorbeeld] vier of vyf duur uitrustings aantrek.”

8. (a) Wat kan ons uit Bybelverse leer in verband met troudrag? (b) Wat het party Christene beinvloed in hulle keuse van trouklere?

8 Die Bybel sê nie dat troues Spartaanse, sobere geleenthede hoef te wees nie. Ons lees byvoorbeeld van “’n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en . . . ’n bruid wat haar versier met haar juwele” (Jesaja 61:10; Psalm 45:14, 15; Jesaja 49:18; Jeremia 2:32; Esegiel 16:9-13; Openbaring 21:2). Die figuurlike bruid van Christus is “bekleed . . . met rein en blink fyn linne”. Dit is dus gepas dat die bruid en bruidegom (en hulle gevolg) skoon, mooi klere dra, maar hulle het nie drag nodig wat ’n swaar finansiële las veroorsaak nie. Sommige paartjies het opsetlik klere gekies wat baie goedkoper is as wat hulle kan bekostig. Waarom? Om kleredrag te vermy wat, hoewel dit dalk bewondering uitlok, die gaste ontuis kan laat voel of wat afbreuk kan doen aan die eenvoudige waardigheid, vreugde en geestelikheid van die troue.—Openbaring 19:8; Spreuke 11:2; 1 Timotheüs 2:9.

9. Wat moet ons beskouing van trougebruike of -tradisies wees?

9 Nog ’n oorsaak van oordadigheid by troues is onnodige klem op protokol—die talle voorskrifte wat volgens die “kenners” van etiket gevolg moet word. Dit beteken nie dat God se knegte alle plaaslike gebruike in verband met troues sonder meer sal verwerp nie.a Die Bybel vertel in verband met ’n huwelikseremonie: “Simson het daar ’n maaltyd berei; want so het die jongmanne gewoonlik gedoen” (Rigters 14:10). Maar die slaafse navolging van sosiale formaliteite kan ’n troue ontsier, die ware betekenis van die viering laat vervaag en almal beroof van die vreugde wat daar behoort te wees.

Wettig getroud—in Bybelse tye en vandag

10. Hoe het mense in Bybeltye getrou?

10 Ons kan baat vind by wat die Bybel oor troues sê, al geld daar ook ander gebruike in ons tyd en omgewing. In Bybeltye was geen spesiale wetlike of godsdienstige seremonie nodig nie. Die bruidegom het na die huis van sy verloofde gegaan en haar in die openbaar na sy huis begelei. Dit het gepaard gegaan met groot vreugde aan die kant van die bruidspaar, hulle naasbestaandes en toeskouers wat die blye gebeurtenis met opgewondenheid gade geslaan het. Die bruid en die bruidegom was gewoonlik fyn uitgevat, en by sy huis het hulle saam met genooide gaste ’n huweliksfees gehou.—Genesis 24:65-67: Mattheüs 1:24, NW; 25:1-10; vergelyk 1 Makkabeërs 9:37, 39.

11. Was huweliksdokumente in vervloë tye nodig?

11 Nasies rondom die Hebreërs het wette gehad wat skriftelike huweliksooreenkomste vereis het. Hoewel die Bybel nie van sulke dokumente melding maak nie, praat dit van die huwelik in terme van ’n “verbond” (Maleagi 2:14). Die Bybel se gedetailleerde geslagsregisters dui daarop dat huwelike op die een of ander manier opgeteken is, en dit is interessant dat Josef en Maria aan ’n soort wetlike registrasie voldoen het (Lukas 2:1-5; 3:23-38). Papirusse wat uit die vyfde eeu v.G.J. dateer en by ’n Joodse kolonie op Elefantine (Egipte) gevind is, bevat huweliksooreenkomste, waarvan een lui:

. . . . Ek het na jou huis gekom sodat jy my jou dogter Miftahia as vrou kan gee. Sy is my vrou en ek is haar man van vandag af tot in ewigheid. Ek het jou (’n bedrag van) 5 sikkels as die bruidsprys van jou dogter Miftahia gegee . . . .’

12. (a) Hoe beskou Jehovah se Getuies siviele huwelikseremonies? (b) Wat is raadsaam indien daar ’n siviele en ’n godsdienstige seremonie is?

12 Jehovah se Getuies besef dat ’n troue aan die landswet moet voldoen, sodat hulle ‘aan die keiser betaal wat die keiser toekom’ (Markus 12:17; Romeine 13:1, 7). Die wet vereis miskien dat ’n paartjie ’n bloedtoets ondergaan, ’n lisensie verkry en geloftes aflê voor ’n gemagtigde huweliksbevestiger. In party lande mag slegs siviele beamptes, soos ’n burgemeester of ’n regter, huwelike voltrek. Maar lede van die Christendom se kerke voel dikwels dat hulle nie werklik getroud is voordat hulle nie ’n kerkplegtigheid gehad het nie. Ware Christene besef dat ’n siviele huwelikseremonie geldig is, maar party verkies nogtans (of plaaslike sentiment maak dit raadsaam) dat die siviele seremonie deur ’n Skriftuurlike toespraak gevolg word. In so ’n geval is dit die beste dat hierdie toespraak kort na die siviele huweliksbevestiging volg.b

13. Wat sal waarskynlik voor die troue gebeur indien ’n Christen- ouere man die plegtigheid gaan waarneem?

13 Sommige lande gee aan bedienaars van Jehovah se Getuies magtiging om huwelike te voltrek. Dit word gewoonlik gedoen deur gemeentelike ouere manne, manne met ervaring, insig, rypheid en kennis van God se Woord. ’n Ouere man wat gevra word om die plegtigheid waar te neem, sal waarskynlik vooraf met die voornemende bruid en bruidegom gesels. Hulle sal hom natuurlik wil verseker dat daar moreel en wetlik niks is wat hulle huwelik belet nie. Hy kan hulle goeie Skriftuurlike raad en vaderlike advies gee. Hy sal ook die reëlings vir die seremonie en enige geselligheid daarna wil bespreek, aangesien hy ’n skoon gewete wil hê ten opsigte van hierdie gebeurtenis waarin hy gevra word om ’n vername rol te speel.—Spreuke 1:1-4; 2:1; 3:1; 5:15-21; Hebreërs 13:17, 18.

14. Watter soort troutoesprake is gepas?

14 ’n Troutoespraak deur ’n bedienaar van Jehovah se Getuies sal, hetsy dit deur ’n siviele seremonie voorafgegaan word of nie, help om die feit te beklemtoon dat ’n huwelik van die begin af ’n geestelike aspek moet hê. Sulke toesprake is nie baie lank, asof hulle alles bevat wat die Bybel oor die huwelik te sê het nie, en hulle moet ook nie te vol humor of lof vir die paartjie wees nie. Die bruidspaar en al die ander aanwesiges kan baat vind by die gebalanseerde, vreugdevolle en Skriftuurlike inhoud van die toespraak.c—2 Timotheüs 3:16.

15. Hoe verskil die geloftes wat Jehovah se Getuies gebruik van ander geloftes wat vandag gebruik word?

15 By die meeste troues word geloftes afgelê. Die geloftes wat by party “moderne”, wêreldse troues gebruik word, word gefabriseer uit vreemdsoortige gedigte of getuig van ’n eksentrieke lewensbeskouing. ’n Essay in die tydskrif Time oor “Die gevare van tuisgemaakte geloftes” het vertel van ’n predikant wat gevra het: “Gina, beloof jy om Peter liewer te hê as sjokolade?” En aan Peter: “Beloof jy om Gina liewer te hê as die oggendkoerant?” Die artikel het egter beklemtoon dat “’n troue ’n openbare aangeleentheid is” en dat dit waardigheid moet verleen aan die belangrike sosiale stap wat gedoen word. By troues van Jehovah se Getuies sal die geloftes aan die vereistes van die landswet voldoen. Waar toelaatbaar gebruik paartjies die volgende geloftes wat God, die Insteller van die Huwelik, eer:

“Ek -- neem jou -- tot my wettige vrou om lief te hê en te koester ooreenkomstig die goddelike wet vir Christenmans soos uiteengesit in die Heilige Skrif solank as wat ons albei saam op aarde lewe onder God se huweliksreëling.”

“Ek -- neem jou -- tot my wettige man om lief te hê en te koester en te eerbiedig, ooreenkomstig die goddelike wet vir Christenvroue soos uiteengesit in die Heilige Skrif solank as wat ons albei saam op die aarde lewe onder God se huweliksreëling.”

Hierdie geloftes moet nie gewysig of vervang word om ’n gier van die paartjie te bevredig nie.d

Troues by die Koninkryksaal

16, 17. (a) Hoe is die liggaam van ouere manne betrokke by troues in die Koninkryksaal? (Jakobus 3:17). (b) Waarom is sulke betrokkenheid raadsaam?

16 Christene word beveel om “net in die Here” te trou (1 Korinthiërs 7:39). Wanneer twee Christene wat goed aangeskryf staan by die gemeente graag die Koninkryksaal vir hulle troue (of, troutoespraak) wil gebruik, moet hulle die liggaam van ouere manne om toestemming vra.e Hierdie manne sal nie hulle persoonlike smaak aan die paartjie opdwing nie, maar hulle sal navraag doen oor die paartjie se planne om seker te maak dat niks by die Saal gedoen word wat die gemeente sal ontstel nie.—Vergelyk 1 Korinthiërs 14:26-33.

17 Ontstellende dinge is byvoorbeeld berig aangaande troues wat nie by die Koninkryksaal gehou is nie. Voor een troue is luide musiek gespeel en het die bruid, bruidegom en hulle gevolg al dansende die gehuurde saal binnegekom. Die gaste het saam begin dans totdat ’n voorsitter die dansery onderbreek het sodat ’n gebed gedoen kon word en die troutoespraak kon begin. Dit was ongetwyfeld nie die regte atmosfeer vir ’n Christelike troue nie. Dit lig egter toe waarom die ouere manne versigtig moet wees waar dit by troues in die Koninkryksaal kom. By die Saal word slegs verheffende musiek gebruik, soos die musiek wat in die liedereboek van Jehovah se Getuies aangetref word. Blommerangskikkings of soortgelyke versierings moet beskeie en binne die perke van redelikheid wees, en dit geld ook vir die manier waarop die trougeselskap die saal binnekom en die manier waarop foto’s geneem word.—Filippense 4:5, NW.

18. Wie kan by die troue saam met die bruid en bruidegom wees? (1 Korinthiërs 5:13; Jakobus 2:1-4).

18 In Bybeltye was daar gewoonlik ’n “vriend van die bruidegom” en vriendinne van die bruid (Johannes 3:29: Psalm 45:15). Dit is ook dikwels die geval by Koninkryksaaltroues. Daar moet egter redelikheid aan die dag gelê word ten opsigte van die aantal deelnemers, asook hulle kleding en gedrag. Dit sou onvanpas wees om mense in die trougeselskap te hê wat uitgesit is of wie se skandalige lewenswyse lynreg met Bybelbeginsels bots (2 Korinthiërs 6:14-16). In plaas daarvan om mense te kies wat prominent is of ’n duur geskenk kan gee, verkies baie Christenpaartjies (en -sprekers) om persone in die trougeselskap te hê wat na aan hulle is in Jehovah se diens.

19. Aan watter ander sake moet aandag gegee word om te verseker dat ’n Koninkryksaaltroue ’n vreugdevolle geleentheid sal wees?

19 As die Koninkryksaal gebruik gaan word, kan die tyd van die troue kortliks aangekondig word. So sal die gemeente weet dat die Saal gebruik gaan word en dat hulle die geleentheid kan bywoon as hulle wil. Aangesien die Koninkryksaal hoofsaaklik vir Christelike vergaderinge gebruik word, sal die troue plaasvind op ’n tyd wat nie met sulke vergaderinge sal bots nie. Watter tyd ook al gekies word, dit toon liefde en bedagsaamheid as almal betyds opdaag. In ’n gelykenis van Jesus wat gaan oor ’n bruilof, het ‘die bruidegom getalm om te kom’, en dit het vir party ernstige probleme veroorsaak.—Mattheüs 25:1-12.

20. Watter ander aspek van troues verdien ons aandag?

20 Die profeet Jesaja het geskryf van ’n ‘bruidegom se blydskap oor die bruid’ (Jesaja 62:5). Die bruid verheug haar ook op haar troudag. En talle vriende ‘verbly hulle baie’ by Christelike troues (Johannes 3:29). Daardie vreugde kom dikwels tot uiting en word vergroot by ’n geselligheid ná die troue, ’n onthaal of huweliksfees. Watter raad gee Jehovah in sy Woord wat geluk by sulke geleenthede in die hand sal werk en probleme sal voorkom? Kom ons kyk.

[Voetnote]

a Kyk Die Wagtoring van 1 Mei 1969, bladsye 213, 214 vir ’n bespreking van trougebruike.

b As ’n lang tydperk tussenin verloop, kan mense in die gemeenskap gestruikel word deur die egpaar se gedrag, hetsy hulle as man en vrou saamlewe of nie.—2 Korinthiërs 6:3.

c Skriftuurlike materiaal vir sulke toesprake kan gevind word in Die Wagtoring van 15 Junie 1969, bladsye 276-281; 1 Maart 1975, bladsye 117-120; 15 Junie 1977, bladsye 271-284.

d As ’n huwelik deur ’n siviele beampte voltrek is en later deur ’n Christelike troutoespraak gevolg word, kan die bedienaar meld dat die wetlike stap reeds gedoen is. Sommige paartjies verkies nogtans om hierdie geloftes voor God en die gemeente te herhaal.

e Die ouere manne verleen soms toestemming vir die gebruik van die Koninkryksaal aan twee persone wat God dien en vir ’n byeenkoms wag om gedoop te word.

Onthou jy?

◻ Teen watter gevare in verband met oordadige troues moet Christene waak?

◻ Watter standpunt neem Jehovah se Getuies ten opsigte van siviele of godsdienstige huweliksplegtighede in?

◻ Hoe kan ’n paartjie se besluite in verband met hulle huweliksplegtigheid die Christelike vreugde van die geleentheid vermeerder?

◻ Vir watter soort troues mag die Koninkryksaal gebruik word?

[Prent op bladsy 19]

Die Hebreeuse bruidegom het sy bruid met vreugde en waardigheid na sy huis gebring

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel