Ná die troue
1, 2. Watter leersame teenstelling vind ons by huwelike in Japan?
DIE tydskrif Time (6 Desember 1982) het gesê dat troues in Japan ’n ‘$17 000 000 000-bedryf is, wat neerkom op “’n verstommende $22 000 per egpaar”a. En tog het “Japan se egskeidingsyfer ’n hoogtepunt bereik; drie uit tien egpare sal uitmekaar gaan”.
2 In teenstelling hiermee het die koerant Hokuu Shimbun die volgende gesê oor die troue van twee getuies van Jehovah in Nosjiro: “Albei is ywerige Christene, en op grond van daardie lering dink hulle: ‘Die troue kan eenvoudig wees en tog almal se seën wegdra.’” Vergeleke met die duur, oordadige troues wat so algemeen is, het die eenvoud van hierdie troue dit nuuswaardig gemaak. “En tog”, het die koerant gesê, “het almal se gelukwense aan die paartjie die troue ’n baie vreugdevolle geleentheid gemaak.”
3. Hoe kan jou troudag jou geluk raak?
3 ’n Paartjie se beskouing en die eise van ’n troue kan regstreeks verband hou met hulle toekomsgeluk. Waarom? Volgens dr. Sally Witte, ’n sielkundige, “toon studies dat spanning nie net veroorsaak word wanneer slegte dinge met jou gebeur nie, maar ook goeie dinge”. Deskundiges op die gebied van geestesgesondheid sê dat dit groter spanning veroorsaak om te trou as om jou werk te verloor. Dit spreek vanself dat jy groter spanning sal ondervind wanneer die troue enorm is pleks van beskeie, of swierig pleks van eenvoudig.
4. Wat gebeur dikwels ná oordadige troues?
4 Baie wat deesdae trou, lê boonop soveel klem op die troue—en koester soveel onrealistiese verwagtinge daaromtrent—dat hulle agterna bitter teleurgesteld is. Een pasgetroude vrou het vertel: “Maande lank was almal wat ek ken opgewonde, nie net ek nie. Maar die troue was in omtrent ’n sekonde verby, en toe ons ná die onthaal by die huis kom, het die terneergedruktheid my beetgepak.” ’n Jong man wat in die boek Getting Married aangehaal word, het gesê:
‘Die tydperk van jou verlowing is veronderstel om baie heerlik en opwindend te wees. Dan is jy veronderstel om ’n groot, swierige troue te hê. Dis fantasties. Dan vertrek jy op die wittebroodsreis, en dis éérs fantasties. Jy bou ’n verwagting op dat iets wonderbaarliks en ongeloofliks gaan gebeur sodra jy getroud is. Dan sak daardie stilte skielik neer. Meteens sit jy stoksielalleen met hierdie vrou, en sy sit met jou.’
5. Watter perspektief moet Christene ten opsigte van hulle troue hê?
5 Ons sal almal saamstem dat ’n paartjie tereg na hulle troue behoort uit te sien as ’n heuglike, spesiale, gewigtige geleentheid, want dit is ’n groot stap in hulle lewe. Maar hulle sal hulle eie geluk vergroot as hulle nie soveel klem op die troue lê dat dit die belangriker saak oorskadu nie, naamlik hulle daaropvolgende lewe as getroude Christene.
Voorbereiding vir ’n gelukkige huwelik
6. Wat is dit raadsaam om voor die troudag te doen?
6 Jesus het ’n onomstootlike feit gestel wat ongetroudes kan toepas: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?” (Lukas 14:28). Ja, dit is verstandig om ’n onderneming eers te deurdink voordat jy dit aanpak. Dit geld ook vir die huwelik. Baie huweliksraadgewers beveel aan dat voornemende egpare kursusse loop of spesiale klasse bywoon sodat hulle kan leer hoe om hulle by die huwelikslewe aan te pas en potensiële probleme op te los. Een raadgewer het gesê: “As kinders wat hulle hoërskoolopleiding voltooi net ’n honderdste soveel van die huwelikslewe geweet het as wat hulle van rekenaars weet, sou die huwelik ’n baie bevredigender ondervinding gewees het.”
7. Waar kan jy nuttige inligting oor die huwelikslewe vind?
7 Jehovah se Getuies voorsien goeie leiding op hierdie gebied, leiding wat nie gegrond is op wisselvallige menseopinies oor hoe om ’n sukses van die huwelik te maak nie, maar op die volmaakte raad van die Insteller van die huwelik (Psalm 119:98-105). Sowel Die Wagtoring as Ontwaak! bied ’n wye verskeidenheid artikels oor die huwelikslewe. Jy kan die rykdom van sulke materiaal beter besef deur na die baie tussenhofies en verwysings onder die lemma “Huwelik” in die registers van die Wagtoringgenootskap se publikasies, soos die register vir 1976-1980, te kyk. Baie artikels oor die huwelik word in die gemeente bestudeer, en dit gee voornemende egpare die geleentheid om te luister na praktiese kommentare deur Christen-manne en -vroue wat persoonlike ondervinding het en ywerige studente van God se Woord is.
8. Watter voordelige stap kan jy doen as jy van plan is om te trou?
8 As jy van plan is om te trou, moet jy ook kennis neem van tersaaklike materiaal in ander Bybelstudiehulpe. Die boek Geluk—Hoe om dit te vindb het byvoorbeeld hoofstukke wat handel oor geldprobleme, seks en hoe om ’n sukses van die gesinslewe te maak. Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bouc bevat verdere praktiese raad uit God se volmaakte Woord. Daar is hoofstukke soos “Hoe om ’n goeie grondslag vir jou huwelik te lê”, “Na die troudag”, “’n Man wat diepe eerbied afdwing”, “’n Vrou wat innig bemin word” en “Liefde ’n volmaakte band van eenheid’”. Bestudeer daardie materiaal saam met jou aanstaande voor julle troue. En hoe voordelig sal dit tog nie vir julle wees om daardie materiaal te bespreek met ’n ryp Christenbroer vir wie julle agting het en wat vir julle nuttige wenke kan gee nie (Spreuke 4:1-9). Dit sal julle albei help om julle planne vir die troue ondergeskik te hou aan die belangriker saak, naamlik julle lewe saam as ’n getroude paar.
Wees gereed om te werk
9, 10. (a) Waarom is ’n realistiese beskouing van die huwelik belangrik? (b) Hoe word Christene gehelp om dit te verkry?
9 Ons het reeds gesien dat baie hulle troudag tegemoetgaan met die verwagting dat ‘iets wonderbaarliks en ongeloofliks gaan gebeur sodra hulle getroud is’. Mense met hierdie onrealistiese beskouing is maklike slagoffers van ontnugtering, frustrasie en ongelukkigheid. Die feit is dat ’n gelukkige huwelik werk verg, baie meer werk as wat ’n troue verg, al is dit ook hoe groot. By ’n huweliksterapiesessie wat deur professor E. M. Pattison gereël is, het ’n jong vrou met die naam Betty gesê: “Ek het towerfantasieë omtrent die huwelik gekoester, en dit is net versterk deur eers saam te lewe. Maar daar is niks toweragtigs in die huwelik nie—net baie, harde werk.”
10 ’n Studie van God se Woord behoort Christene te help om hulle op die werklikhede van die getroude lewe voor te berei. Waarom? Eerstens, omdat ons weet dat alle mense onvolmaaktheid van Adam geërf het. Romeine 3:23 verseker ons: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Dit is dus ’n uitgemaakte saak dat die onvolmaakte mens wat jou huweliksmaat gaan word nie altyd aan al jou verwagtinge sal voldoen nie. As die roetine van die daaglikse lewe eers begin, kan jy vind dat jou man ongeduldig, ’n bietjie humeurig of aan die lui kant is, of dat hy geneig is om sy Skriftuurlike pligte as hoof van die gesin te ontduik. Of, as jy eers met jou vrou saamlewe, kan die intiemheid van die huwelik onthul dat sy effens ydel, ’n bietjie baasspelerig, nou en dan krities of verbasend gesteld op besittings is.
11, 12. Hoe help die feit dat jy ’n Christen is jou om die gehalte van jou huwelikslewe te verbeter?
11 Die feit dat julle albei Christene is met geloof in die volmaaktheid van God se raad, bied ’n grondslag vir verbetering. Julle kan taktvol maar eerlik die gebiede bespreek waarop elkeen graag wil sien dat die ander meer gehoor gee aan God se raad. Lê wysheid en insig aan die dag wanneer julle die tyd kies om sulke sake te bespreek. Dit moenie gedoen word wanneer een van julle ergerlik of ontsteld is nie. Sulke besprekings sal van die grootste nut wees indien julle opreg probeer om nie mekaar se standpunte verkeerd te bewys nie. Luister eerder na jou huweliksmaat se beswaar of versoek en erken die geldigheid daarvan.—Spreuke 15:28; 18:13.
12 Soms kom sulke sake heel natuurlik te berde terwyl ’n man en vrou besig is met hulle gesinstudie van die Skrif. Daardie agtergrond kan uiteraard nuttig wees, want dit beklemtoon dat albei ’n opregte begeerte het om God se raad te aanvaar sowel as ’n begeerte om mekaar te behaag. Hierdie Skriftuurlike belangstelling van huweliksmaats om mekaar te behaag, strook met wat die apostel Paulus geskryf het: “In alle geval moet elkeen van julle [mans] ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.”—Efesiërs 5:33; vergelyk 1 Korinthiërs 13:4-7.
Kweek vertroue in jou huwelik
13. Wat is die toedrag van sake wat vertroue tussen huweliksmaats betref?
13 Huweliksmaats sal dit aansienlik makliker vind om huweliksprobleme of -botsings op te los as albei ’n eienskap aankweek wat in baie wêreldse huwelike ontbreek—vertroue. Die jammerlike toestand van daardie huwelike stem ooreen met toestande wat ’n tyd lank in Israel bestaan het: “Vertrou geen metgesel nie, maak op geen vriend staat nie, let op die poorte van jou mond teenoor haar wat in jou skoot lê” (Miga 7:5; Jeremia 9:4, 5). Daar was geen vertroue tussen man en vrou nie; elkeen was bang dat selfs persoonlike sake liefdeloos oorvertel of misbruik sal word. Watter hoop is daar, wanneer sulke wantroue bestaan, dat huweliksmaats ná die troudag sal saamwerk om hulle verskille uit te stryk en die huweliksband te versterk?
14. Waarom is vertroue so belangrik in die huwelik, en hoe kan ons dit in die Skrif sien?
14 Profesor Ned L. Gaylind het die volgende geskryf oor die belangrikheid van vertroue: “’n Praktiese, bevredigende en blywende huwelik het twee hoekstene: liefde en vertroue. . . . Sonder vertroue is die huwelik hoogstens ’n brose kontrak met twyfelagtige lewensvatbaarheid.” Let op hoe Spreuke 31:11 ’n deugsame vrou beskryf: “Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie.” Haar man, ’n oudste in die dorp, het natuurlik sekere gemeenskapsake behartig wat hy waarskynlik nie met sy vrou bespreek het nie. Dit was bedagsaam van hom, want op dié manier is sy vrou nie belas met dinge wat sy nie moes geweet het nie (Spreuke 31:23; 20:19). Afgesien daarvan moes hulle verhouding een van openhartigheid en vertroue gewees het. Elkeen het die ander se liefde vertrou en was daarvan seker dat hy sy innerlike gevoelens kon openbaar sonder om verkleineer te word of sonder dat sulke persoonlike sake uitgelap word.
15. Wat leer Jesus se handelinge met sy volgelinge ons omtrent vertroue in die huwelik?
15 Daar bestaan ook vertroue tussen Jesus en sy figuurlike bruid van gesalfde Christene (Efesiërs 5:22-32; 2 Korinthiërs 11:2). Daar was ’n paar dinge wat hy nie aan die apostels vertel het terwyl hulle dit nie kon dra nie. Jesus het ook nie die dag en die uur van God se groot dag bekend gemaak nie; trouens, Jehovah het dit nie eens aan die Seun geopenbaar nie (Johannes 16:12; Markus 13:32). Maar afgesien van sulke sake was Jesus openhartig teenoor hulle. Hy was nie bekend vir oordrewe vertroulikheid of as iemand wat geheimsinnig en wantrouig was teenoor die wat sy geestelike bruid sou uitmaak nie. Hy het geredelik en lank met hulle gepraat en selfs dinge bespreek wat hulle eers later sou verstaan.—Johannes 13:7; Markus 8:17.
16. Hoe kan vertroue tot ’n beter huwelik bydra?
16 Wanneer jy en jou huweliksmaat wedersydse vertroue kweek, sal dit julle huweliksband versterk. Julle sal die vertroue hê dat julle julle ware gevoelens kan uitspreek. En wanneer julle ’n meningsverskil uitpraat of gesels oor ’n aspek waarin een van julle kan verbeter, is die kanse kleiner dat dit summier verwerp sal word of tot ’n verdedigende houding en gekrenktheid sal lei. Jy sal eerder vertrou dat jou lewensmaat jou liefhet en in opregtheid ’n standpunt stel of ’n wenk gee wat jou sorgvuldige aandag verdien.—Spreuke 27:6.
17. Wat is wenslik ten opsigte van ons troue, hetsy dit verby is of nog voorlê?
17 Hierdie vertroue kan ook versterk word deur terug te dink aan die tere, romantiese gevoelens wat jy gedurende julle hofmakery en op die troudag teenoor jou aanstaande gekoester het. Sulke aangename herinneringe sal jou help om gekrenktheid of ergerlikheid te onderdruk. As jy dus nou besig is om iemand die hof te maak of jou troue te beplan, moet jy dit doen op ’n wyse wat jou sal laat met aangename, rustige, positiewe herinneringe wat lank na jou troudag nog teerheid en ander goeie gevoelens sal wek.—Hooglied 3:11.
[Voetnote]
a $1 = R1,22.
b Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.
c Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.
d Direkteur van Huweliks- en Gesinsterapie, -Onderrig en -Opleiding, Universiteit van Maryland.
Wat het jy geleer?
◻ Watter praktiese stappe kan tot ordeliker huweliksonthale bydra?
◻ Wat is die nadraai van menige oordadige troue?
◻ Hoe kan hierdie gevolg jou vooruitsigte op ’n gelukkige huwelik raak?
◻ Hoe kan die feit dat jy ’n Christen is jou huweliksgeluk in die hand werk?
◻ Waarom is vertroue tussen huweliksmaats so belangrik?