Wat 1914 vir jou kan beteken
DIE Eerste Wêreldoorlog was verreweg die omvattendste en vernietigendste mensekonflik tot op daardie tyd. Die Tweede Wêreldoorlog—eintlik net ’n voortsetting van die eerste—was baie erger. In hierdie twee oorloë het meer as 25 miljoen soldate, benewens burgerlikes, gesneuwel.
Indien daar ooit ’n derde wêreldoorlog sou wees waarin die supermoondhede van hulle kernarsenale gebruik maak, kan dit internasionale selfmoord beteken. Kenners verseker ons dat dit ten minste die einde sal beteken van die beskawing soos ons dit ken en miskien nog die uitwissing van die mensdom. Sommige lede van die geslag wat die dood van die Oostenrykse troonopvolger in 1914 gesien het, het lank genoeg gelewe om hierdie potensiële klimaks in menslike oorlogvoering te aanskou.
Maar ons tye is om meer as net politieke redes belangrik. Bybelprofesie vertel ons van dinge wat gedurende die afgelope 70 jaar gebeur het wat vir mense-oë onsigbaar was. Dit was gebeure wat ’n groot geleentheid voor JOU stel. Laat ons die belangrikste van hierdie gebeure beskou.
Jesus en 1914
Terwyl Jesus eenmaal alleen saam met vier van sy volgelinge was, het hulle hom gevra: “Wat is die teken van u [teenwoordigheid] en van die voleinding van die wêreld?” Jesus het nie vir hulle ’n datum gegee nie. Hy het eerder ’n reeks wêreldgebeure en -tendense beskryf wat sy volgelinge in staat sou stel om te weet dat sy geestelike “teenwoordigheid” begin het. Sy profesie lui: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.” Toe het hy bygevoeg: “Al hierdie dinge is ’n begin van die smarte.”—Mattheüs 24:3, 7, 8, vgl. NW.
Kan jy nou die werklike rede sien waarom die groot oorloë van hierdie eeu so belangrik is? Hulle vervul Jesus se profesie. Geen ander oorloë in die geskiedenis vergelyk met die twee wêreldoorloë nie. Slegs ’n noodlottige derde wêreldoorlog kan groter wees, maar dit is nie wat Jesus voorspel het nie, want die oorloë waarvan hy gepraat het, het deel uitgemaak van “’n begin van die smarte”. Die moeilikhede sou ná die oorloë voortduur en selfs vererger. Sy profesie is sonder twyfel vervul in die wêreldoorloë wat in 1914 begin het.
Hierdie gevolgtrekking word gestaaf wanneer ons al die ander aspekte van die ‘teken van sy teenwoordigheid’ beskou wat Jesus in Mattheüs 24 en ander dele van die Bybel gegee het. Lees dit gerus self. Ander nommers van Die Wagtoring het dit breedvoerig bespreek, en die vervulling van al hierdie aspekte tesame bewys onteenseglik dat ons eeu inderdaad die “teenwoordigheid” van Jesus beleef. Wat beteken dit in praktiese terme?
Jesus se “teenwoordigheid” beteken niks minder as die begin van sy heerskappy as Koning van God se Koninkryk nie. Dit is nie iets wat ons met ons letterlike oë kan sien nie, want God se Koninkryk is hemels en nie aards nie (Johannes 18:36). Vandaar die nodigheid vir ’n “teken” sodat ons sal weet dat dit gebeur het. Dit is nietemin ’n lewensbelangrike waarheid dat die allergrootste wêreldmag—God se Koninkryk—in die vroeë dae van hierdie eeu, toe wêreldryke verbrokkel het en nuwe moondhede vorm aangeneem het, gebore is.
Satan en 1914
Maar as die “teenwoordigheid” van Jesus onsigbaar is, waarom is dit dan so belangrik? Weens die uitwerking wat dit op die mensdom het. Ander profesieë help ons om dit te verstaan. In die boek Openbaring het die apostel Johannes byvoorbeeld ’n gesig opgeteken van wat sou gebeur wanneer Jesus as Messiaanse Koning begin heers: “Daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.”—Openbaring 12:7-9.
Die Eerste Wêreldoorlog was dus nie die enigste oorlog wat in 1914 uitgebreek het nie. Daar het ’n groter oorlog gewoed, hoewel dit vir mense-oë onsigbaar was. Maar die gevolge is hier op aarde gevoel: “Toe hoor ek ’n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus . . . Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openbaring 12:10, 12.
Hier kom ’n nuwe dimensie by die probleme van die mensdom in die 20ste eeu. Satan en sy demone is tot die omgewing van die aarde beperk. Verbaas dit ons dan dat van die boosste mense in die geskiedenis in ons tyd gelewe en gefloreer het? Satan se bedrywighede sal nog net ’n kort tydjie voortduur. Maar gedurende daardie tyd sal toestande nie verbeter nie. Dit is geen wonder dat Jesus gesê het dat die Eerste Wêreldoorlog en verwante gebeure net die “begin van die smarte” is nie!
Maar daardie smarte sou nie vir ewig duur nie. Trouens, Jesus het getoon dat dit net ’n kort tydjie sou duur. Aangaande diegene wat in 1914 sou lewe en die vervulling van die ‘teken van sy teenwoordigheid’ sou sien, het hy voorspel: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:34). Onder die dinge wat gedurende die leeftyd van hierdie geslag moet plaasvind, is die vervulling van ’n profesie uit ’n ouer deel van die Bybel.
1914 en wêreldregering
Honderde jare voor Jesus se tyd het ’n Hebreeuse profeet met die naam Daniël ons ’n voorskouing van die opeenvolging van wêreldmoondhede van sy tyd af tot op ons dag gegee. Aan die einde van die profesie het hy in verband met die regerings van ons dag gesê: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.
Die geboorte van God se Koninkryk in 1914 is dus van kardinale belang in die wereldgeskiedenis. Dit is waarlik ’n wêreldregering. Dit sal binnekort die daaglikse administrasie van die aarde oorneem.
Die uitwerking daarvan sal letterlik tydvakskeppend wees. Die jaar 1914 het ’n eeu van verwarring en geweld ingelui. Na Armageddon sal die Koninkryk van God ’n eeu van rus en vrede inlui. ’n Ou profesie skilder ’n pragtige prentjie van die wêreldeenheid wat eersdaags onder Jesus se heerskappy sal bestaan: “In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.”—Psalm 72:7, 8.
Die internasionale onrus wat die aarde sedert 1914 aanskou het, is dus ’n duidelike bewys van “die voleinding van die wêreld”. Dit is ’n bewys van Satan se toorn omdat hy weet dat sy tyd byna verstreke is. Dit is ’n bewys van die feit dat ’n nuwe en beter stelsel ophande is.
1914 en Christene
Waarom het Jesus nie reeds daardie vrede en eenheid vir die mensdom gebring nie? Omdat ’n belangrike taak eers afgehandel moet word. Dit is deur Jesus voorspel toe hy ‘die teken van sy teenwoordigheid’ gegee het. Hy het gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Die einde sal nie kom voordat die mensdom van die gebeure vertel is nie. En word hulle vertel?
Ja. Van die vroeë dae na die Eerste Wêreldoorlog af preek Jehovah se Getuies ywerig en onbevrees oor die nuutopgerigte Koninkryk van God. Vandag doen hulle steeds huisbesoeke by mense in meer as 200 lande om aan hulle die ware rede vir hierdie eeu se probleme te verduidelik. Hulle vertel hulle van die nuwe stelsel wat weldra onder God se Koninkryk sal bestaan, en so deel hulle hulle hoop vir die toekoms met ander. Die einde sal nie kom voordat hierdie predikingswerk afgehandel is nie.
Buiten dat dit die mensdom in die algemeen omtrent die Koninkryk inlig, het die predikingswerk nog ’n ander doel. Dit bied mense die geleentheid om onderdane van God se Koninkryk te word. Jehovah God spoor die nasies sowel as hulle heersers aan: “Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie” (Psalm 2:11, 12). Die nasies as geheel het nie hierdie uitnodiging aangeneem nie, maar baie individue het wel. Dit het hulle nie opstandelinge teen die huidige heersers van die aarde gemaak nie (Romeine 13:1-7). Maar dit het hulle begerig gemaak om die wette van God se Koninkryk te leer en dit te gehoorsaam.
Die resultaat was ’n merkwaardige verskynsel, iets wat nog ’n profesie in verband met ons tyd vervul: “Baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel . . . en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:2-4.
Daardie profesie word vandag deur individue vervul. Letterlik miljoene mense uit alle nasies en tale het hulle aan die wette van God se Koninkryk onderwerp, en hulle lewe in vrede met mekaar. Eeue-oue stam- en godsdienstwiste word onder individue bygelê. Op hierdie manier word ’n groep mense van die wêreld afgeskei om die kern te vorm van die nuwe wêreldstelsel wat onder God se Koninkryk sal bestaan.—Openbaring 7:9-17.
1914 en jy
Kan jy nou sien hoe belangrik die jaar 1914 is en watter uitwerking dit op jou kan hê? In daardie jaar is gebeure aan die gang gesit wat tot ’n algehele verandering in die wêreldtoneel sal lei. Die sleutel tot die veranderinge is God se Koninkryk. Toe Jesus in daardie Koninkryk begin regeer het, kon dinge nooit weer dieselfde wees nie. Satan is uit die hemel gewerp. ’n Wêreldorde het verbrokkel, en die mens het niks blywends gevind om die plek daarvan in te neem nie. Maar God se Koninkryk sal uiteindelik die menslike regeringstelsels “verbrysel” en vir ewig verdring.
Die jaar 1914 het dus ’n tyd van groot dringendheid maar ook van groot geleentheid ingelui. Daar is nog tyd om ‘die Seun te kus’ as blyk van jou onderworpenheid aan hom. Diegene wat dit doen, sal die naderende einde van hierdie stelsel oorleef en deel uitmaak van ’n verenigde en vreedsame mensegemeenskap onder net een Koning, Jesus Christus.
Hierdie toekoms kan die ware betekenis wees wat 1914 vir jou inhou.
[Lokteks op bladsy 6]
ln die vroeë dae van hierdie eeu is die allergrootste wêreldmag—God se Koninkryk—gebore
[Lokteks op bladsy 7]
Al die dinge wat deur Jesus voorspel is, sal plaasvind gedurende die leeftyd van ten minste sommige lede van die geslag van 1914