Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 5/15 bl. 8-10
  • Waarom weifel? Luister en gehoorsaam!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom weifel? Luister en gehoorsaam!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lot en sy vrou
  • Besluiteloosheid is gevaarlik
  • Was die vroeë Christene gehoorsaam?
  • Is daar ’n hedendaagse toepassing?
  • Dink aan die vrou van Lot
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Lot se vrou het omgekyk
    My boek met Bybelverhale
  • Voorbereiding vir verlossing tot in ’n nuwe wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Die skyn bedrieg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 5/15 bl. 8-10

Waarom weifel? Luister en gehoorsaam!

“WIE weifel, is verlore”, lui ’n bekende spreekwoord. Dit is beslis die geval waar dit kom by ons reaksie op ons Skepper, Jehovah God, se bevele.

Die Bybel bevat talle pertinente voorbeelde van persone wat geweifel het om God te gehoorsaam, of wat hulle eie koers ingeslaan het. Die lesse wat ons daaruit leer, is vandag vir ons van lewensbelang.

Lot en sy vrou

Een sodanige voorbeeld is dié van Lot en sy vrou, wat sowat 3 900 jaar gelede gelewe het. Lot en sy oom Abram was nomadiese vreemdelinge in die land Kanaan. Oorbeweiding het twiste tussen hulle onderskeie veewagters veroorsaak. Om verdere probleme te vermy, het Abram en Lot besluit om uitmekaar te gaan. Abram het onselfsugtig vir sy broerskind eerste kans gegee om te kies waarheen hy wou trek. Lot het die waterryke streek van die onder-Jordaan en Soutsee gekies. Hy het uiteindelik sy tente naby die stede Sodom en Gomorra opgeslaan. Uit ’n materiële oogpunt was dit skynbaar ’n verstandige keuse. Uit die geestelike oogpunt kon dit kwalik swakker gewees het.

Lot se bure in Sodom was “groot sondaars voor die HERE”. Hulle was verdorwe homoseksuele, “jonk en oud” (Genesis 13:13; 19:4). Hoe het Lot die situasie beskou? Die apostel Petrus antwoord: “Dié regverdige man, wat onder hulle gewoon het, [het] dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke.” Hulle verdorwenheid sou egter nie ongestraf bly nie. Die Bybel deel ons mee: “Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar.” Dit was inderdaad so swaar dat Jehovah besluit het om daardie stede tesame met hulle ontaarde inwoners te vernietig. Lot se waterryke streek was nie meer so ’n aanloklike proposisie nie.—2 Petrus 2:6-8; Genesis 18:20, 21.

Hoe kon Lot en sy gesin die naderende vernietiging ontkom? Die engele wat as skerpregters van die stadsbewoners sou optree, is na Lot gestuur om aan hom lewensreddende instruksies te gee. Wat moes hy en sy gesin doen? Hulle moes die stad sonder versuim verlaat!

Besluiteloosheid is gevaarlik

Hoe het Lot en sy gesin op daardie duidelike instruksies gereageer? Nadat hy deur sy skoonseuns afgejak is omdat hulle die bedreiging as ’n grap beskou het, het Lot nog bly vertoef. In plaas daarvan om dadelik gehoor te gee aan God se bevel om te vlug, het hy getalm. Maar die engele het nie getalm nie. Hulle het hulle instruksies gehad en het dit gehoorsaam. “Toe gryp die manne [verstoflikte engele] hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad.”—Genesis 19:15, 16.

Het Lot en sy gesin toe na die berge gevlug soos hulle beveel is? Nie dadelik nie. Ons weet nie of Lot deur sy vrou beinvloed is nie, maar hy het Jehovah se engel om verlof gesmeek om in ’n nabygeleë stad skuiling te soek. Sy versoek is toegestaan en hulle het na Soar gevlug (Genesis 19:18-22). Hoe het Lot se vrou gereageer op hierdie skielike ontworteling? Sy het blykbaar nie Jehovah se oordeel in hierdie saak vertrou nie. Soos haar man was sy besluiteloos, maar die verskil is dat hy op die ou end gehoorsaam was. Sy was nie. Sy “het agter hom [Lot] omgekyk, en sy het ’n soutpilaar geword” (Genesis 19:26). Sy het geweifel en verlore gegaan.

Was die vroeë Christene gehoorsaam?

Net soos Lot en sy gesin beveel is om sonder versuim van hulle goddelose bure te vlug, so het Jesus die mense van sy geslag gewaarsku om te doen. Hy het vir hulle gesê dat Jerusalem deur leërs omsingel sou word en dat hulle slegs sou kon ontkom deur na die berge te vlug (Lukas 21:20, 21). Hy het gewaarsku teen die gevaar van weifeling of uitstel: “Wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie.”—Mattheüs 24:17, 18.

Toe die Romeinse leërs hulle beleg van Jerusalem in die jaar 66 G.J. tydelik opgehef het, het wakker Christene Jesus se instruksies onthou. Hulle het geluister en gehoorsaam. Hulle het sonder versuim uit Judea padgegee en na die berge aan die oostekant van die Jordaan gevlug. Die ongelowige Jode en enige Christene wat getwyfel het, het agtergebly in ’n heilige stad wat oënskynlik deur God beskerm is. Vier jaar later het die Romeine met mening teruggekeer en meer as ’n miljoen van Jerusalem se inwoners uitgewis. Hulle het die stad in puin agtergelaat. Hoe bly en verlig was daardie gehoorsame Christene in die berge tog nie toe hulle die nuus omtrent Jerusalem se vernietiging ontvang het nie! Hulle is geseën vir hulle onverwylde gehoorsaamheid.

Is daar ’n hedendaagse toepassing?

Wat kan ons leer uit hierdie beeldende beskrywings van die vernietiging van Sodom en Gomorra en van Jerusalem? Jesus Christus het die uitwissing van daardie stede gebruik as ’n parallel van die tyd “wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Lukas 17:28-30; 21:5-36). Vir ernstige Bybelstudente is die gebeure sedert 1914 ’n aanduiding dat daardie dag van afrekening vinnig nader kom. Jehovah en Christus sal binnekort optree om die aarde van alle growwe sondaars te bevry.—Openbaring 19:11-21.

Hoe moet hierdie kennis jou raak? Gestel byvoorbeeld jy dink daaraan om as Christen in water gedoop te word. Moet jy aarsel om hierdie lewensbelangrike stap te doen? Moet die besluit vir jou soos ’n berg wees? Nie as jy na Jesus se gebod luister en aan hom gehoorsaam is nie (Mattheüs 28:19). Nadat jy kennis van Jehovah en die Koninkryk opgedoen het, kan jy toon dat jy waarde heg aan ’n verhouding met Jehovah deur middel van Christus deur in water gedoop te word. Dit sal ’n openlike belydenis wees van jou ondubbelsinnige toewyding aan God.—Mattheüs 10:23, 33.

Christene wat reeds gedoop is, moet ook hulle situasie in oënskou neem. Hoe? Deur na te dink oor die gesindheid van Lot se vrou. Sy het haar lewe verloor omdat sy nie volkome op God vertrou het nie. Sy het nie met vertroue vooruitgegaan nie (Lukas 17:31, 32). Vandag huiwer sommige miskien om meer te doen in Christelike diens, al maak hulle omstandighede dit moontlik. Party is byvoorbeeld in staat om as hulp- of gewone pioniers te dien. Dink aan die seëninge wat hulle kan ontvang! Baie wat hulle geleenthede benut het, dien nou met vreugde as Gilead-sendelinge, in Bethel of as spesiale pioniers, kring- of streekopsieners. Hulle is bly dat hulle deur hierdie geopende deur van diens ingegaan het.—Openbaring 3:8.

Vir Christene is dit nie nou die tyd om te weifel nie. Hierdie verdorwe stelsel is gedoem. Waarom dan weifelend terugkyk? Wees altyd gereed om te luister en te gehoorsaam. Kyk vorentoe en vertrou op Jehovah. Wees soos Abraham wat sonder aarseling gehoorsaam het, soos die apostel Paulus sê: “Hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het.”—Romeine 4:20, 21.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel