Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 5/15 bl. 11-15
  • Bid vir mekaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bid vir mekaar
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat gebed vir ons kan doen
  • Waarom vir mekaar bid?
  • Vir eenheid, leiding en wysheid
  • Vir geslaagde predikingswerk ondanks vervolging
  • Vir blakende geestelike gesondheid
  • Die voordele as ons vir mekaar bid
  • Bid vir mekaar”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Die voorreg van gebed
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Kom nader aan God deur gebed
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Kom na aan God deur gebed
    Wat vereis God van ons?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 5/15 bl. 11-15

Bid vir mekaar

“Bid vir ons.”—2 THESSALONICENSE 3:1.

1-3. (a) Waarom kan Jehovah se volk hom met vertroue in die gebed nader? (b) Waarom moet Jehovah se Getuies gebedsmense wees?

JEHOVAH is die groot “Hoorder van die gebed” (Psalm 65:3). Sy lojale dienaars kan hom dus met vertroue nader met hulle nederige versoeke en dankbetuigings. Jehovah se Getuies het inderdaad baie redes om gebedsmense te wees.

2 Jesus Christus het immers sy volgelinge geleer om te bid. Hy het vir hulle gesê: “Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons elke dag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” (Lukas 11:2-4). Daardie gebed het God tereg eerste gestel en persoonlike versoeke ingesluit. Hierdie Modelgebed het ook getoon dat ons gebede nie ander mense buite rekening moet laat nie.

3 Jesus se apostels het medegelowiges ook aangespoor om gebedsmense te wees. Die apostel Paulus het byvoorbeeld gesê: “Volhard in die gebed” en “Bid sonder ophou” (Romeine 12:12; 1 Thessalonicense 5:17). En die apostel Petrus het gesê: “Die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid” (1 Petrus 4:7). Watter voortreflike raad tog!

Wat gebed vir ons kan doen

4. Wat is nodig vir die gebede van God se toegewyde dienaars om verhoor te word?

4 Die beroemde digter Alfred Tennyson het geskryf: “Meer dinge word deur gebed bewerk as wat hierdie wêreld droom.” Hoe waar tog! Maar as God se toegewyde dienaars verhoor wil word, moet hulle gebede in geloof deur Jesus Christus tot Jehovah gerig word, moet dit ooreenkom met die goddelike wil en moet dit op die regte manier gestel word (Johannes 14:6; 1 Johannes 5:13-15). Daar is, heel interessant, ook al gesê: “God kyk nie na die retoriek van jou gebede, hoe sierlik hulle is nie; ook nie na die geometrie van jou gebede, hoe lank hulle is nie; ook nie na die rekenkunde van jou gebede, hoe baie van hulle daar is nie; nie na die logika van jou gebede, hoe sistematies hulle is nie; maar hy kyk na die opregtheid daarvan.”—Die 17de-eeuse Engelse, Puritynse predikant Thomas Brooks.

5. (a) Wat kan gebed vir ons doen? (b) Watter vraag in verband met gebed gaan ons bespreek?

5 As ons gereeld met opregte harte bid, bring dit ons nader aan Jehovah. Nederige, opregte gebed help ons om ons predikingsopdrag te vervul (Mattheüs 24:14; 28:19, 20; 2 Korinthiërs 2:17). Dit help ons om besluite te neem wat ons hemelse Vader behaag. Gebed help ons ook om vervolging te verduur en onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf (Psalm 109:3, 4; 119:86). Dit bied ons die geleentheid om ons hartgrondige dank teenoor Jehovah uit te spreek. En daar is ook gebed vir mekaar. Maar hoe kan sulke gebede vir mekaar ons en ons medegelowiges tot voordeel strek?

Waarom vir mekaar bid?

6. Vir wie het Jesus gebid, en vir wie kan ons derhalwe bid?

6 Jesus, ons Voorbeeld, het vir sy dissipels gebid. Hy het Jehovah opreg gesmeek: “Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.” Hoewel Jesus vir die wêreld van die mensdom gesterf het, het hy nie vir die “wêreld”—die mensegemeenskap wat van God vervreemd is—gebid nie. Jesus het nietemin gebid vir diegene wat uit daardie wêreld uitgekom en in hom geglo het. (Johannes 3:16, 17; 17:8, 9; vergelyk 2 Petrus 2:5; 3:6.) Met die oog op Jesus se voorbeeld bid ons tereg vir sulke godvresende individue.

7. Watter apostoliese voorbeeld beweeg Jehovah se volk om vir mekaar te bid?

7 Die apostel Paulus het aangaande medegelowiges gebid. Hy het byvoorbeeld vir Christene in Efese gesê: “Daarom—vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges—hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie” (Efesiërs 1:15, 16). Paulus het boonop nie geaarsel om sy broers aan te spoor om vir hom en ander te bid nie. Nadat hy die Efesiërs aangespoor het om ‘die volle, geestelike wapenrusting aan te trek’ en ‘die swaard van die gees, God se woord, aan te neem’, het hy bygevoeg: “Terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges en vir my, sodat ’n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak” (Efesiërs 6:11-19). Jehovah se volk word ook deur hierdie apostoliese voorbeeld aangespoor om vir mekaar te bid.

8. Waarom is dit gepas dat gesalfde Christene en lede van die “groot menigte” vir mekaar bid?

8 Jehovah se Getuies maak ’n wêreldwye broederskap uit. Die geesverwekte volgelinge van Christus onder hulle het “gemeenskap” met God, sy Seun en ander gesalfde Christene (1 Johannes 1:3, 7). Maar Jesus het getoon dat al sy dissipels liefde onder mekaar sou hê, en die apostel Petrus het gesê: “Julle moet . . . die broederskap liefhê” (1 Petrus 2:17; Johannes 13:34, 35). Hoe gepas is dit dan tog dat gesalfde Christene en hulle metgeselle, die “groot menigte”, vir mekaar bid! (Openbaring 7:9). Maar waaroor kan sulke gebede tereg handel?

Vir eenheid, leiding en wysheid

9. Waarom moet ons bid vir die eenheid van ons Christelike broederskap?

9 Ons moet bid vir liefdevolle eenheid in ons Christelike broederskap. Jesus het gebid dat sy volgelinge een met hom en sy Vader moet wees, en Paulus het mede-aanbidders van Jehovah vermaan om ‘verenig te wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening’ (1 Korinthiërs 1:10; Johannes 17:20, 21). ’n Ware gees van broederskap was nog altyd die stempel van diegene wat aan Jehovah toegewy is. ‘Hoe goed is dit tog dat broers in eenheid saamwoon!’ (Psalm 133:1-3, vgl. NW). En een manier waarop ons tot daardie eenheid kan bydra, is deur daarvoor te bid.

10. Waarom moet ons bid vir leiding en ondersteuning deur die heilige gees?

10 Ons moet bid dat Jehovah die bedrywighede van sy volk deur sy gees sal lei en ondersteun. Sommige het baie moeilike toewysings in God se diens—dinge wat nooit in bloot menslike krag verrig kan word nie. Hierdie lojale Christene, en onsself, het dus Jehovah se hulp deur sy heilige gees nodig.—Sagaria 4:6; vergelyk Lukas 11:13; Handelinge 8:14, 15.

11. Hoe kan ons gepas aangaande wysheid bid?

11 Ons kan bid dat God wysheid aan ons broers skenk. Paulus het gebid dat Christene in Kolosse “vervul mag word met die kennis van [God se] wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag” (Kolossense 1:9, 10). Dit is ook gepas om te bid dat diegene wat die predikingswerk rig en ons publikasies voorberei “die Gees van wysheid” mag hê (Efesiërs 1:15-17). Bid jy vir diegene wat toesig hou oor die Koninkrykspredikingswerk en die voorbereiding van die publikasies wat geestelike “voedsel op tyd” gee?—Mattheüs 24:45-47.

Vir geslaagde predikingswerk ondanks vervolging

12. Hoe hou 2 Thessalonicense 3:1 verband met gebede vir ander?

12 Ons moet ook bid dat medegelowiges die Koninkryksboodskap met welslae mag verkondig. Paulus het Christene aangespoor: “Broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle.” (2 Thessalonicense 3:1; vergelyk Efesiërs 6:18, 19.) Ja, Paulus het medegelowiges gevra om te bid dat hy en sy metgeselle “die woord van die Here” met welslae kan verkondig. Ons moet ook bid vir die snelle verkondiging van God se Woord en die bevordering van Koninkryksbelange. Sulke gebede sluit natuurlik ander in—almal wat Jehovah se wil in hierdie “laaste dae” ywerig doen.—2 Timotheüs 3:1-5.

13. (a) Wat toon 1 Timotheüs 2:1, 2 aangaande gebede vir wêreldlike amptenare? (b) Waarvoor kan ons bid as ons as Koninkryksverkondigers vervolg word?

13 Jehovah se volk kan tereg aangaande wêreldlike amptenare bid. Paulus het gesê: “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is.” Paulus se verdere woorde toon dat hierdie gebede eintlik vir God se volk is, naamlik “sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid” (1 Timotheüs 2:1, 2). Dit is interessant dat Joodse ballinge in Babilon aangesê is om vir die vrede van daardie stad te bid, ‘want in die vrede daarvan sou hulle vrede hê’ (Jeremia 29:7). As Jehovah se Getuies bid ons dus gepas aangaande wêreldlike amptenare sodat ons en ons geestelike broers ’n rustige, stil lewe kan lei wat ons in staat stel om ons opdrag as Koninkryksverkondigers uit te voer. Maar as ons vervolg word, kan ons met vertroue bid dat ons en ons mede-Getuies die goddelike hulp ontvang wat nodig is om God se Woord moedig onder sulke omstandighede te spreek. En ons kan daarvan seker wees dat daardie gebede verhoor sal word.—Handelinge 4:29-31; 5:29.

14. Watter Skriftuurlike grondslag het ons om te bid dat God ons vervolgde broers moet help en vertroos?

14 Dit is beslis gepas om te bid dat Jehovah ons vervolgde broers vertroos en help. In Asië, waar die stad Efese geleë was, het die apostel Paulus ‘uitermate swaar gehad, sodat hy selfs aan sy lewe gewanhoop het’. Hy het moontlik in Efese selfs in ’n arena teen wilde diere geveg! In iedere geval, Paulus het vir Christene in Korinthe gesê: “Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ’n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank” (2 Korinthiërs 1:8-11, NAV; Handelinge 19:23-40; 1 Korinthiërs 15:32). Ons moet dus ongetwyfeld bid dat ons lydende broers en susters vandag Jehovah se hulp en vertroosting mag geniet.—2 Korinthiërs 1:3-7.

15. Wat kan ons vir ons vervolgde medegelowiges doen, al sit ons self in die tronk?

15 Mededienaars van Jehovah het beslis ons gebede nodig wanneer hulle met vervolging, benoudheid of gevare te kampe het. Op sulke tye is ons dalk van hulle geskei en kan ons hulle nie op ’n ander manier help nie. Ons sit dalk self in die tronk! Maar ons kan baie nut stig deur vir ons medegelowiges te bid. Solank ons lewe, kan ons vyande nie sulke gebede verhoed nie. Dit kan selfs ’n stil gebed wees, maar dit het beslis krag.—Vergelyk Nehemia 2:4-6.

Vir blakende geestelike gesondheid

16. Hoe kan ons, in harmonie met 2 Korinthiërs 13:7, vir mede-Christene bid?

16 Ons kan ook gepas bid dat mede-Christene ‘geen kwaad mag doen nie, maar doen wat goed is’ (2 Korinthiërs 13:7). So ’n liefdevolle, onselfsugtige gebed toon dat ons werklik wil hê dat hulle moet aanhou om God se guns te geniet. Die apostel Paulus het geskryf: “Daarom bid ons ook altyd vir julle dat onse God julle die roeping waardig mag ag, en dat Hy alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak” (2 Thessalonicense 1:11). Epafras het gebid dat Christene in Kolosse eindelik “volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kolossense 4:12). Hoewel sulke woorde tot gesalfde Christene gerig was, kan ons gebede vandag tereg soortgelyke gedagtes bevat ten behoewe van almal wat aan Jehovah toegewy is.

17. Watter gebede is gepas in verband met ons broers se geestelike gesondheid?

17 Ons kan in verband met ons medegelowiges se geestelike gesondheid bid. As sommige geestelik siek word, bid die aangestelde ouere manne gepas vir hulle en met hulle in ’n poging om hulle te laat herstel. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig” (Jakobus 5:13-16; 1 Samuel 12:18-25). In ons private gebede kan ons medegelowiges by die naam noem en die wens uitspreek dat hulle “gesond in die geloof” mag bly (Titus 1:13; 2:1, 2). Dit is natuurlik verkeerd om te bid vir diegene wat moedswillig God se voorsiening vir versoening verwerp.—Hebreërs 10:26-29.

Die voordele as ons vir mekaar bid

18, 19. Watter persoonlike voordele hou dit in as ons vir mekaar bid?

18 Ons kan daarvan seker wees dat daar baie voordele sal wees as ons vir mekaar bid. Ons gebede sal sodoende sinvoller word. As ons vir medegelowiges bid, sal dit ongetwyfeld ons gesindheid teenoor hulle verbeter. Trouens, sulke gebede sal ons waarskynlik geduldiger, onselfsugtiger, liefdevoller en meer besorg oor ander maak. Daarbenewens sal gebede vir ons geestelike broers en susters vir Jehovah toon dat ons in sy organisasie en die bedrywighede en welsyn daarvan belangstel.

19 Die wete dat ons geestelike broers en susters vir ons bid net soos ons vir hulle bid, is ’n bron van groot vertroosting. Hoe wonderlik is dit tog om te besef dat ons gebede vir medegetuies van Jehovah deur die “Hoorder van die gebed” gehoor word! Laat ons dus vir mekaar bid ten einde Koninkryksbelange te bevorder terwyl ons ons beywer vir liefde en eenheid in ons geledere.

Wat is jou antwoord?

◻ Waarom moet Jehovah se Getuies gebedsmense wees?

◻ Wat kan gebed vir ons doen?

◻ Waarom moet ons vir mekaar bid?

◻ Waarvoor kan ons aangaande medegelowiges bid?

◻ Watter voordele hou dit in as ons vir mekaar bid?

[Prent op bladsy 12]

Bid jy dat medegetuies van Jehovah die Koninkryksboodskap met welslae mag verkondig?

[Prent op bladsy 13]

Hoe dikwels bid jy vir vervolgde Christene?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel