Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 5/15 bl. 15-26
  • Voorsien van krag bo die normale

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Voorsien van krag bo die normale
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se wonderlike voorsienings
  • Goddelike onderrig
  • Die koning en sy vorste
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Sien die seëninge van Koninkrykseenheid!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 5/15 bl. 15-26

Voorsien van krag bo die normale

“Die krag bo die normale is uit God en nie uit onsself nie.”—2 KORINTHIËRS 4:7, NW.

1. Wat het Jehovah vooruit omtrent ons dag geweet, en hoe het hy sy knegte daaromtrent gewaarsku?

JEHOVAH het lank gelede al geweet watter kritieke tye al die nasies van die aarde sou beleef. Hy het vooruit geweet dat die selfsug en die goddeloosheid van die mensdom eindelik ’n aaklige oes van verdorwenheid en geweld sou oplewer. Die apostel Paulus is deur Jehovah se gees beweeg om hierdie duidelike waarskuwing te uiter: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Timotheüs 3:1-5). Voorwaar ’n gevaarlike klimaat vir diegene wat probeer om die God van waarheid te dien!

2. Sou dit vir getuies van Jehovah maklik wees om sy voorneme met hulle uit te voer, en wat sou hulle nodig hê om welslae te behaal?

2 Tog het Jehovah hom voorgeneem dat sy naam en Koninkryk te midde van sulke toestande dwarsoor die aarde verkondig moes word. Deur wie? Deur ’n volk aan wie hy sy betekenisvolle naam en voornemens geopenbaar het—Jehovah se Getuies (Jesaja 43:10-12, vgl. NW). Hy het vooruit geweet dat hulle teenstand sou ondervind van heersers wat God se Koninkryk as ’n uitdaging en mededinger sou beskou (Psalm 2:2, 3). Hy het ook geweet dat sy getuies die probleme en lyding sou ervaar wat eie aan alle mense is. Hulle sou meer krag nodig hê as wat hulle self gehad het. Het hulle God in daardie behoefte voorsien?

3. Met watter voorsiening wat vir die apostel Paulus gemaak is, kom Jehovah se voorsiening vir sy knegte op hierdie kritieke tyd ooreen?

3 Die ondervindinge van die apostel Paulus verstrek die antwoord op daardie vraag. Sommige van die gevare waaraan hy blootgestel is, word vir ons in 2 Korinthiërs 11:23-27 opgenoem. Aangesien Paulus deur Jehovah as ’n apostel en ’n leraar van die nasies aangestel is, het daardie onderrigtingswerk by uitstek sy aandag geniet (Romeine 11:13). Maar hoe kon hy al die gevare oorleef en die werk voltooi wat aan hom opgedra is? Jehovah het sy oog oor sy lojale dienaar gehou en hom dikwels op die laaste oomblik uit elke kritieke situasie verlos. God het “krag bo die normale” aan Paulus gegee sodat hy die Christelike bediening met welslae kon vervul (2 Korinthiërs 4:7, NW). Dit het die apostel in staat gestel om lyding en ontberings te verduur. Paulus het sulke goddelike hulp vryelik erken toe hy geskryf het: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13, NAV.

4. Het Paulus hierdie goddelike bystand erken, en watter uitwerking het dit op hom gehad?

4 Dit blyk dus dat God nie alleen op wonderdadige wyse ten behoewe van Paulus ingegryp het nie, maar ook ‘krag aan hom gegee het’. Dit het die apostel in staat gestel om met welslae te volhard en sy bediening te vervul. Hy het gevolglik geskryf: “Ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Romeine 1:16). Die evangelie is tesame met die betekenis en toepassing van talle profesieë van die ou tyd aan Paulus geopenbaar en hy was oortuig van die waaragtigheid daarvan. Kennis van die waarheid en waardering daarvoor het ongetwyfeld ook vir hom bronne van krag geword.

Jehovah se wonderlike voorsienings

5. Slaan Jehovah enigsins minder ag op die behoeftes van sy getuies wat nou op die aarde is?

5 Maar wat van Jehovah se knegte op aarde in hierdie laaste dae? Het God vir hulle gesorg? Hy het inderdaad! Net soos die apostel Paulus het ons die talle wonderlike profesieë in die Heilige Skrif. Omdat Jehovah voorkennis besit het van die behoeftes van sy volk, het hy hierdie geskrifte mildelik voorsien om hulle gerus te stel en te troos. Hierdie profesieë sou opgehelder word wanneer die dae vir hulle vervulling aangebreek het.

6. Hoe het die profesie wat God aan Jesaja gegee het Jehovah se volk vandag vertroos en versterk?

6 Een van hierdie profesieë is sowat 700 jaar voor die geboorte van Jesus Christus deur Jesaja, die seun van Amos, opgeteken (Jesaja 1:1). Jesaja het sterk veroordelings nie net van sy eie nasie Israel neergeskryf nie, maar ook van die talle omliggende lande, groot en klein. Tussen hierdie oordeelsboodskappe het die profeet ook goeie nuus vir die lojale aanbidders van Jehovah gebring —nuus wat hulle in al hulle verdrukkinge sou vertroos. En net soos getroue Jode in Jesaja se dag krag en hoop uit Jehovah se goeie nuus geput het, word lojale dienaars vandag opgebeur, versterk en geseën deur die vervulling van Jehovah se wonderlike beloftes teenoor hulle.

7, 8. (a) Hoe het die woorde van Jesaja 32:1, 2 eerbiedige Jode van Jesaja se dag versterk en bemoedig, en veral met die oog op watter omstandighede? (b) Hoe is daardie selfde woord nou van toepassing onder Jehovah se Getuies?

7 In Jesaja hoofstuk 32 vind ons juis sulke bemoediging. Die eerste twee verse bevat ’n belofte wat nou reeds vervul word: “Kyk, ’n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg. En elkeen sal wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag.” Watter goeie nuus moes dit tog vir regskape aanbidders van God in Jesaja se dag gewees het nadat hulle lank trouelose konings en vorste gehad het!

8 Maar watter goeie nuus is dit tog vandag vir Jehovah se Getuies! Veral sedert 1919 het die gekroonde Koning Jesus Christus ’n voortreflike toestand onder sy volgelinge op aarde geskep. Hy het “vorste” (Hebreeus, sarim) onder hulle aangestel wat inderdaad regverdige en liefdevolle toesig uitoefen. In teenstelling met die verdrukkende en selfsugtige heersers wat so algemeen oor die hele wêreld voorkom, het die Koning in God se organisasie verantwoordelike manne verwek wat nie as hiërargiese “kerkvorste” of iets soortgelyks vereer word nie. Hulle is eerder nederige dienaars, manne wat waarlik besorg is oor die welsyn van al die “skape” wat Jehovah in een kudde vergader het. Die toesig van hierdie manne, wat ook toekomstige “vorste” van die Nuwe Orde is, is waarlik verkwikkend.*

9. Watter transformasie het onder Jehovah se volk plaasgevind?

9 Watter transformasie het dit tog in die organisasie van Jehovah se aardse knegte meegebring! Dit is net soos Jesaja 32:3 sê: “Dan sal nie meer verblind wees die oë van die wat sien nie; en die ore van hulle wat hoor, sal luister.” As gevolg van hulle hartgrondige begeerte om Jehovah te eer en te dien, het hy die oë van hulle hart en die ore van hulle verstand geopen. Hy het hulle aangrypende insig in sy wil vir hulle gegee. Lojale Getuies is nie geneig tot demokratiese gesindhede en prosedures nie. Hulle is bewus van die feit dat hulle in ’n teokratiese organisasie dien, ’n organisasie wat vasstel wat God se wil is en dit dan doen. Die Groot Teokraat kry die eer vir die openbaring van sy voornemens aan sy nederige, gewillige knegte op aarde.

10. Wat is sommige van die wonderlike seëninge wat Jehovah se verligte volk geniet?

10 Tel gerus die seëninge wat Jehovah se diensknegte ontvang het. Hulle geniet onder meer juiste kennis oor die volgende: Jesus Christus se koninklike teenwoordigheid sedert 1914; die duidelike skeidslyn tussen God se sigbare organisasie en Satan s’n; die geweldige omvang van die predikingswerk wat gedoen moet word voor die einde van Satan se wêreld aanbreek; die heiligheid van bloed en die belangrikheid daarvan om aan God te gee wat God toekom. In die organisasie van Jehovah se Getuies was daar ’n herstelling van die bestuur wat onder die eerste-eeuse Christene bestaan het. Die teenswoordige paradysagtige toestand onder ware aanbidders is ook ’n ryke seën. Al hierdie dinge, en baie ander gawes van Jehovah af, gee nie alleen krag nie, maar ook vrede, eenheid en vergenoegdheid aan sy volk, selfs op hierdie kritieke tyd in die geskiedenis.

11. Hoe het Jehovah sy aardse verteenwoordigers getugtig of geleer, en watter tekste toon dat dit nodig was?

11 Jehovah se knegte het ’n Bybelgeoriënteerde gewete ontvang, sodat hulle sy getuienisse hoor en daarna luister deur dit in hulle daaglikse lewens toe te pas (Psalm 25:10). Hulle is gewaarsku teen die onrein en vieslike gebruike wat God haat. Die selfsugtige, onsedelike, agterbakse dinge wat sommige van hulle in die verlede gedoen het, is nou die rug toegekeer en heeltemal verwerp (1 Petrus 4:3). Dit is ’n vereiste vir almal wat wil voortgaan om Koninkrykseëninge deelagtig te wees. Almal moet verstandelik, sedelik en fisies rein wees om die voorreg te geniet om lofoffers “in geregtigheid” aan Jehovah te bring (Maleagi 3:3; Jesaja 52:11). Watter wonderlike gevoel van veiligheid ervaar alle lojale Getuies tog terwyl hulle assosieer met menigtes wat waarlik verenig is in die gelukkige diens van die Skepper!

Goddelike onderrig

12. Hoe is Jesaja 32:4 onder Jehovah se hedendaagse knegte vervul?

12 Jesaja 32:4 sê voorts: “En die hart van die onbedagsames sal leer om te verstaan, en die tong van die hakkelaars sal gou wees om duidelik te spreek.” Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Jehovah se gesalfde oorblyfsel ’n gebrek aan behoorlike insig gehad, was hulle steeds besmet met Babiloniese idees en het hulle dinge nie op die teokratiese wyse gedoen nie. Maar in 1919 het God hulle uit Babiloniese gevangenskap bevry en hulle breër kennis van sy waarhede begin gee. Deur sulke waarhede het hulle geleer om redelik te wees, nie onbedagsaam of oorhaastig nie. Hulle spreek nou met oortuiging en hakkel nie meer in vrees en onsekerheid nie. En hoe kan ons persoonlik volwasse, moedige verkondiger van die goeie nuus wees? Deur ten volle baat te vind by goddelike onderrig, waarvan ’n groot deel gegee word tydens vergaderinge by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies. Dit ly byvoorbeeld geen twyfel dat die Teokratiese Bedieningskool een van die maniere is waarop Jehovah sy knegte geseën het en hulle in staat gestel het om die waarheid moedig en duidelik te spreek nie.

13. Teen watter soort woorde moet ons op ons hoede wees?

13 Goddelike onderrig het God se knegte eweneens geleer om nie beloftes te maak wat hulle nie van plan is om na te kom nie of om lasterlike of kwetsende dinge van iemand anders te sê nie. God se seën rus gewis op diegene wat ag gee op hierdie raad wat in Prediker 5:1 opgeteken is: “Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou ’n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees.” Dit is so belangrik om nooit die stem te verhef in bittere kritiek teen die Here se organisasie of sy aangestelde verteenwoordigers nie. Jehovah is die alwetende Regter aan wie rekenskap gegee moet word vir hierdie en ander ydele woorde.—Mattheüs 12:36, 37; Levitikus 19:16; Judas 8.

14. Watter waarskuwing word hier tot Jehovah se volk gerig, en hoe onderstreep Spreuke 29:20 dit?

14 Diegene wat Jehovah se leer verag, sluit individue in wat Jehovah se rein organisasie en sy reëls vir die handhawing van vrede en orde kritiseer en daaroor kla. Daar is slegs ’n klein onderskeid tussen sulke persone en diegene wat openlike rebelle is. Korag en sy ondersteuners het dit tot hulle algehele ondergang uitgevind toe hulle dit durf waag het om haastig teen God se kneg Moses te spreek (Numeri 16:1-40). Spreuke 29:20 sê hieroor: “Het jy ’n man gesien wat haastig is in sy woorde? Vir ’n dwaas is daar meer hoop as vir hom.”

15. Hoe is die woorde van Jesaja 32:5, 6 vandag van toepassing op Jehovah se knegte?

15 Jehovah het ook sy volk geseën met die wysheid om tussen goed en kwaad te onderskei. Hulle is op hulle hoede teen enigiemand wat met mooi woorde en vleitaal kom en soms selfs geskenke bring, om die harte van die onbehoedsames te mislei. (Vergelyk 1 Timotheüs 6:20, 21; Judas 16.) Godsdiensbeoefenaars probeer dalk om vir hulle ’n ander goeie nuus te bring as wat hulle reeds van Jesus Christus en sy apostels ontvang het. Daarbenewens kom dwase en beginsellose individue nie in aanmerking vir aanstelling as knegte in Jehovah se organisasie nie. Dit kom ooreen met die woorde: “Die dwaas sal nie meer ’n edele genoem word nie, en van die skelm sal nie gesê word dat hy vernaam is nie. Want ’n dwaas spreek dwaasheid en sy hart bring onheil voort, deur goddeloosheid te bedrywe en dwaling [“kranksinnigheid”, Delitzsch] te spreek oor die HERE, deur die begeerte van die hongerige onvervuld te laat en die drank van die dorstige te laat ontbreek.”—Jesaja 32:5, 6.

16. (a) Wat is party van die idees wat afvalliges voorstaan? (b) Wat sê Jesaja 32:7 in hierdie verband?

16 Is dit nie so dat diegene wat deur die jare heen van ons uitgegaan het omdat ‘hulle nie van ons was nie’, en wat probeer om ander te oorreed om dieselfde lewensgevaarlike weg te bewandel, hulself afgesny het van die bron van vaste geestelike spys en verkwikkende geestelike water nie? (1 Johannes 2:19). En in plaas daarvan dat hierdie dwase vrygewig en rojaal is teenoor die lede van die mensdom wat na geregtigheid honger en dors, sien hulle geen dringende behoefte aan ’n georganiseerde predikingswerk in ons dag nie. Hulle wil hê dat elkeen gelei moet word deur sy eie private lesing en vertolking van die Bybel in plaas daarvan om hulle te voeg by ’n verenigde groep mense wat geleer is om volgens die verhewe beginsels en getuienisse van God se Woord te lewe en op te tree (Psalm 133:1-3; 1 Korinthiërs 1:10). Hulle wil ander mislei om te glo dat Jehovah onbepaald sal voortgaan om sondaars te vergewe solank hulle berou veins. Dit is interessant om te sien wat Jesaja 32:7 in hierdie verband oor die afvalliges van eertydse Israel sê: “En die skelm—sy middele [om sy doel te bereik) is sleg, hý beraam skandelike dade om die ellendiges te ruïneer met leuentaal, ook as die behoeftiges spreek wat reg is.”

17. (a) Wie het Jesus as sy volgelinge gekies? (b) Watter vrae ontstaan oor hulle toekomstige bedrywighede te midde van verslegtende toestande in hierdie bose wêreld?

17 Jesus se ware volgelinge, wat hy gekies het omdat hulle bewus is van hulle geestelik behoefte, ‘spreek beslis wat reg is’. Maar die dwase teenstanders stel nie belang in die ware welsyn van diegene wat na die waarheid soek nie. Hulle is daarop uit om volgelinge weg te trek agter hulle aan, ongeag die gevaar waarin hulle hulself en ander plaas. Maar sal Jehovah toelaat dat regskapenes verstrik word deur valse redenasies? Het hy voorsiening gemaak tot seën van sy eie knegte en hulle wêreldwye predikingsdiens?

[Voetnoot]

Kyk asseblief Die Wagtoring van 15 Maart 1952, bladsye 83-91.

Hoe sal jy antwoord?

□ Hoe het Jehovah sy getuies vandag krag gegee?

□ Hoe is die woorde van Jesaja 32:1, 2 van toepassing onder Jehovah se Getuies?

□ Wat is sommige van die seëninge wat God se verligte volk geniet?

□ Wat is die hedendaagse toepassing van Jesaja 32:5, 6?

[Prent op bladsy 25]

Weier jy om na bittere kritiek teen Jehovah se organisasie te luister? Jy behoort te weier

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel