Sien die seëninge van Koninkrykseenheid!
“Almal wat hulle sien, sal hulle daarvoor aansien dat hulle ’n geslag is wat die HERE geseën het.”—JESAJA 61:9.
1. (a) Watter hedendaagse voorsiening van Jehovah toon sy vrygewigheid teenoor menigtes wat hom nog nie ken nie? (b) Hoe word sy geseënde volk uitgeken?
SEDERT 1914 is ’n hemelse Koning op die troon geplaas en gemagtig om te regeer. En voorsiening is gemaak vir ’n aardse organisasie onder “vorste” wat heers volgens reg (Jesaja 32:1, 2). Jehovah het sodoende groot vrygewigheid getoon teenoor almal wat honger en dors na geregtigheid. En die hongeriges en dorstiges stroom na die volk wat Jehovah so geseën het. Maar hoe herken hulle hulle? Is hulle sosiaal, polities of finansieel prominent? Nee, dit is om geeneen van hierdie redes dat hulle herkenbaar is nie. Dit is omdat hulle hulle vrygewige God weerspieël deur hulle gewilligheid om die seëninge wat hulle reeds ontvang het met ander te deel.
2. Watter eienskap word in ooreenstemming met Jesaja 32:8 vandag onder Jehovah se knegte op aarde aangetref, en die toepassing van watter raad van hulle Leier het meegebring dat hulle hierdie eienskap besit?
2 Die vrygewige God het sy knegte geleer om ook vrygewig te wees. Aangaande ’n vrygewige persoon sê Jesaja 32:8 (NW): “Wat die edelmoedige betref, met betrekking tot edelmoedige dinge het hy raad gegee, en ten gunste van edelmoedige dinge sal hyself opstaan.” Net soos Jesus sy eie wil opsy geskuif het en homself baie dinge ontsê het om sy Godgegewe opdrag uit te voer om die heerlike goeie nuus van die Koninkryk aan ander te verkondig, is sy volgelinge vasbeslote om dieselfde te doen. Hulle luister na Jesus se raad: “Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word” (Lukas 6:38). Dit is Jehovah en Christus Jesus wat sulke vrygewigheid aan die kant van hulle knegte kan en sal beloon deur vir hulle tevredenheid, gemoedsrus en vreugde in die vrug van hulle lojale diens ter bevordering van Koninkryksbelange te gee.
3. Hoe vorm die gesindheid van Jehovah se lojale knegte ’n teenstelling met dié van die lede van die Christendom en haar medepligtiges?
3 Die vrygewige, arbeidsame gesindheid van rojale verkondigers van die goeie nuus vorm ’n teenstelling met dié van ander. God se profeet spreek van onheil vir vroue in ontroue Jerusalem wat sorgeloos en gemaksugtig was (Jesaja 32:9-14). Hulle gesindheid herinner ons aan sommige wat beweer dat hulle knegte van God en Christus is, maar wat nie vlytig of ywerig in Jehovah se diens is nie. Ons kan inderdaad dink aan diegene in die valse Christendom en diegene wat nie waarlik besorg is oor die menigtes wat honger en dors nie. Hulle beheptheid met sekulêre aangeleenthede, met geen gedagte om hulle besig te hou met die werk wat Jehovah beveel het in hierdie tydperk van die geskiedenis gedoen moet word nie, kan vir hulle slegs rampspoedig wees, net soos ’n misoes ’n ramp is.
4. Watter toekoms wag op almal wat God se Woord oneerlik gebruik?
4 Daar wag slegs droefheid en vernietiging op die valse Christendom en haar medepligtiges. Geestelike verhongering en die gevolglike ontvolking sal die gevolg van haar gebrek aan vrygewigheid en vrugbaarheid in Jehovah se diens wees. Aangesien al daardie naamchristene versuim het om behoorlik te plant en nat te maak, en nie die Woord van God eerlik gebruik nie, staan Jehovah onder geen verpligting om ‘dit te laat groei’ nie.—Vergelyk 1 Korinthiërs 3:6-9.
Goeie nuus vir die lojales
5. Wat is in Jesaja 32:15 voorspel, en met watter wonderlike verwikkelinge reg tot hier in 1984?
5 Heel bemoedigend is daar goeie nuus vir diegene wat geduldig op Jehovah wag terwyl hulle lojaal woeker met die Koninkryksbelange wat aan hulle toevertrou is. Dit is in Jesaja 32:15 opgeteken met hierdie woorde: “Totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn ’n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir ’n bos gereken.” God se heilige gees is op sy hedendaagse getuies uitgegiet baie soos dit op Pinkster van 33 G.J. op die wagtende apostels en dissipels uitgegiet is (Handelinge 2:1-4, 14-18; Joel 2:28, 29). Net soos destyds is die gevolg nou ook dat Jehovah se lojale knegte op aarde hulself besig hou met die werk om meer dissipels te maak. Dit was in die besonder in 1919 en 1922 dat Jehovah se gees op sy volk uitgegiet is, en veral vanaf 1922 het die Koninkrykspredikingswerk ’n groot stoot gekry. Hierdie bedrywigheid het voortgeduur en uitgebrei tot vanjaar, 1984, toe, ondanks die moeilike toestande wat die aarde oordek. Die vrygewige verkondigers van die goeie nuus het van net 7 000 of 8 000 in 1922 vinnig toegeneem tot die wonderlike hoogtepunt van 2 652 323 vandag.
6. Watter ander wonderlike gevolge het die uitgieting van die heilige gees op Jehovah se aardse organisasie gehad?
6 Die ‘uitgegote gees’ het beslis vrugbaarheid tot gevolg gehad. Ons het nie meer deel aan die woestynagtige toestand van Satan se wêreld nie en ook nie aan die geestelike hongersnood na die Woord van Jehovah nie (Esegiel 36:29, 30). Sedert Pinkster van 33 G.J. het Jehovah “groot bome”—onwrikbare, standvastige Christene—in die geestelike staat van sy volk geplant. Sulke statige, vrugbare “bome”, die “planting van die HERE”, het gegroei en toegeneem tot ’n ware bos namate die sigbare organisasie van Jehovah se aanbidders die verkwikkende skadu en geestelike voedsel van hulle God af aan alle gewilliges gee.—Jesaja 61:3, NW.
7. Wat het ’n groot menigte regskape persone beweeg om hulle aan die kant van Jehovah se sigbare organisasie te skaar?
7 Regskape persone wat nou na Jehovah se sigbare teokratiese organisasie stroom, word getrek deur die wonders van ’n geestelike paradys. Nêrens anders op aarde het hulle geregtigheid en reg gevind nie. Hulle is siek en sat van ontroue geestelikes, selfsugtige politici en hebsugtige kommersiële magnate. Hulle oë is geopen vir ’n gemeenskap godvresende manne en vroue onder wie dwase en beginsellose persone nooit verontskuldig en as edel voorgestel word nie; waar persone wat goddeloos of onchristelik optree, tereggewys word en waar daar spoedig met beoefenaars van onreinheid en goddeloosheid afgereken word.
8. Hoe word Jesaja 32:16 vandag op Jehovah se volk vervul?
8 Die profeet gaan voort met sy Godgegewe boodskap en sê: “En die reg woon in die woestyn, en die geregtigheid hou verblyf in die vrugteboord” (Jesaja 32:16). Reg en geregtigheid woon beslis in Jehovah se sigbare, teokratiese organisasie. Alle ware knegte van God besef natuurlik dat hulle alles wat hulle het en geniet, onder meer hulle goeie naam by Jehovah, as onverdiende goedheid ontvang het. Hulle geregtigheid is uit God.
9. Hoe vorm die arbeid van Jehovah se getroue getuies ’n teenstelling met die werke en gesindheid van die Christendom se geestelikes?
9 Dit is so treffend anders as die eiegeregtigheid en vroom houding van die valse Christendom se prominente lede. Dit is ’n geregtigheid wat bewys word deur werke—werke wat Jehovah loof en sy gehoorsame skepsele van alle rasse en tale tot voordeel strek. Een van die belangrikste van daardie werke is die verkondiging van die Koning wat nou volgens God se wil regeer. Geen ander groep mense maak daardie verblydende feit bekend nie. En elke regskape hoorder van die boodskap wil op sy beurt graag inligting oor die seëninge van Koninkrykseenheid aan sy bure oordra.
Geseën met vrede
10. Wat beskryf Jesaja voorts in hoofstuk 32, vers 17, van sy profesie?
10 Hierdie uitbreidende globale werk, hierdie heilige diens, word verrig in ’n organisatoriese atmosfeer van vrede, rustigheid en veiligheid soos wat Jesaja voorts in hoofstuk 32, vers 17, van sy profesie beskryf: “En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid.” Dit is hierdie ware geregtigheid waarna godvresende mense van alle rasse en tale soek, en hulle vind dit nou in die organisasie van Jehovah se Getuies. Hier heers daar vrede, want almal werk saam en is “oorvloedig in die werk van die Here”.—1 Korinthiërs 15:58.
11. (a) Wie hoort nie in Jehovah se organisasie nie? (b) Hoe word hulle versamel, en met watter gevolg vir Jehovah se lojale knegte?
11 Onder God se volk is daar nie plek vir ledige praatjiesmakers en diegene wat nie in Jehovah se diens wil arbei nie. Trouens, die belofte waarop Jesus se gelykenis in Mattheüs 13:24-30, 39, 41 gesinspeel het, word nou vervul. Die engele-maaiers ‘maak inderdaad al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen uit sy Koninkryksorganisasie bymekaar’. Die engele kan onderskei wie die ware knegte van Jehovah is en wie die valse knegte is. Hulle is deeglik daartoe in staat om omstandighede te skep wat die werkers van die ongeregtigheid ontbloot sodat hulle uit die organisasie van ware Christene gesit kan word. En die gevolg? ’n Gesonde organisasie wat funksioneer tot Jehovah se lof en tot die bevordering van sy Koninkryk onder Jesus Christus.
12. (a) Watter sterk versekering gee Jehovah sy volk in Jesaja 32:18? (b) Van watter toekomstige gebeure is daar nou reeds tekens, en hoe word Jehovah se lojale knegte daardeur geraak?
12 Jesaja sê verder (32:18): “En my volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus.” Jehovah het inderdaad aan sy getroue knegte op aarde ’n plek en ’n werk gegee waaruit niemand toegelaat sal word om hulle te verdryf nie. Hulle sal voortbestaan totdat Jehovah sy voorneme met hulle duskant Armageddon volbring het (Openbaring 16:14, 16). Wat hulle betref, het Babilon die Grote die wêreldryk van valse godsdiens, reeds geval. Haar invloed neem vinnig af. Elemente van die dier wat in Openbaring hoofstuk 17 beskryf word, bekyk haar reeds en berei hulle voor om haar vlees te eet en haar heeltemal met vuur te verbrand (Openbaring 17:16). Maar Koninkryksgetuies word glad nie ontstel deur sulke gebeure in die nabye toekoms nie. Hulle deel nie die vrees en ontsteltenis van wêreldlike mense nie. Aangesien Jehovah ons geseën het met voorkennis van toekomstige verwikkelinge, kan ons die toekoms tegemoetgaan met vertroue oor die verloop van sake. “Die wat [Jehovah se] wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.”—Psalm 119:165.
13. Watter aansienlike verbetering het Jehovah in sy sigbare organisasie aangebring, en watter uitwerking het dit op die gesindheid en werk van sy volk gehad?
13 In Jesaja 60:17 het die profeet voorspel dat daar aansienlike verbeteringe in teokratiese orde en prosedures onder Jehovah se aardse knegte sou wees. Hy het dit toegelig deur die vervanging van brandbare materiaal en minderwaardige metale deur koper, silwer en goud. Dan lees ons: “Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders.” Almal in hierdie Koninkryksreklame-organisasie dien met genoeë vreedsaam saam, want al hulle take, ongeag in watter vertakking van diens hulle besig is, hou verband met die verkondiging van die Koninkryk oor die hele aarde. Hulle is dit almal eens met mekaar, en almal wil graag die werk gedaan kry. Dit verskil hemelsbreed van die selfsugtige, voortdurende oorlog tussen werkers en bestuur wat soveel probleme in die wêreld om ons skep! Almal in Jehovah se organisasie, ongeag watter posisie hulle beklee, word deur Jehovah geleer en kan dus vreedsaam en ordelik met hulle werk voortgaan.—Jesaja 54:13.
14. Watter heeltemal verskillende toekomste wag daar op (a) Jehovah se vlytige volk? (b) die valse Christendom en al haar politieke minnaars?
14 Hierdie geseënde en vlytige volk sal ongestoord voortgaan selfs wanneer die einde van Satan se stelsel verbasend skielik aanbreek. Jehovah se voltrekking van oordeel, wat die valse Christendom en die hele wêreld soos ’n swaar haelstorm gaan tref, sal die vyand heeltemal uitwis. Maar God se volk sal veilig wees onder Sy beskerming wanneer die groot “bos” van Satan se leërmag verslaan word, net soos Jesaja 32:19 voorspel: “Maar dit sal hael as die bos inmekaarstort en die stad wegsak in die laagte.” Dwarsdeur hierdie wêreldskuddende proses sal Jehovah se knegte rus met die versekering dat ‘die Engel van die HERE ’n laer trek rondom die wat Hom vrees en hulle uitred’.—Psalm 34:8.
’n Ontsaglike taak moet voltooi word
15. Watter werk moet Jehovah se volk nog doen?
15 Intussen moet daar nog ’n ontsaglike taak voltooi word terwyl Jehovah steeds menigtes in alle nasies die geleentheid bied om hulle oë te laat open en hulle ore te laat ontsluit vir die betekenis van die boodskap van redding. Diegene wat met oorgawe in sulke Koninkryksdiens arbei en wat druk besig is om die saadjies van Koninkrykswaarheid onder mense van alle nasies te saai, is voorwaar gelukkig! Hulle geluk is soos die wat beskryf word in die laaste vers van Jesaja 32, wat lui: “Welgeluksalig is julle wat by alle waters saai, wat die voet van os en esel vry laat loop!” Hierdie diere was pakdiere wat God se eertydse volk gebruik het om die grond mee om te ploeg sodat saad gesaai kon word. Jehovah het eweneens vandag die toerusting voorsien wat sy hedendaagse getuies nodig het sodat die sade van Koninkrykswaarheid vinnig en doeltreffend gesaai kan word met die vaste hoop dat Jehovah dit sal seën in die vorm van ’n ryk oes.
16. Watter bewys het ons dat Jehovah nou sy Koninkryksgetuies oor die hele aarde ryklik seën?
16 Sien ons nie, wanneer ons na die veld, naamlik die wêreld, kyk, Jehovah se duidelike seën op ons pogings om die Koninkryksboodskap ywerig en gereeld te verkondig nie? Groter en beter takkwartiere huisves die toenemende getal gewillige werker-bedienaars wat nodig is om die Bethelwerk in baie lande te doen. Moderne druktoerusting en tydbesparende prosedures is in land na land beskikbaar gestel sodat die produksie van Bybels, Bybelhandboeke en tydskrifte geweldig toegeneem het. Al hoe meer toegewyde, gedoopte knegte van God bied aan om as gewone en hulppioniers te dien en bestee ieder en elke dag tyd aan die lewensbelangrike diens om Koninkrykswaarheid in die harte van baie persone te plant. Koninkryksverkondigers in feitlik alle gemeentes probeer om hulle bediening te vergroot en doen dit uit diepe waardering vir die seëninge wat Jehovah reeds op hulle uitgestort het.
17. Wat is uniek omtrent Jehovah se Getuies en hulle werk in ons dag?
17 Slegs Jehovah se Getuies doen hierdie lewegewende werk ten behoewe van God se Koninkryksregering. Slegs hulle is verheug oor die oes wat nou reeds te sien is. En die saad wat Jehovah vir sy gewillige veldarbeiders voorsien, word so goed gekeur en gekies! Ons Bybelstudiehulpe word voorberei om die harte te roer van baie wat nog bymekaargemaak en in Jehovah se vreedsame organisasie, die Christengemeente, wat in Mattheüs 13:30 met sy Seun se “skuur” vergelyk word, ingebring moet word.
18. Waarom moet ons vasbeslote wees om met tevredenheid en vreugde in ons Koninkryksdiens voort te gaan?
18 Ons is inderdaad in die dag van Jehovah, die dag waarop sy “grootste en kosbare beloftes” aan sy toegewyde volk verwesenlik word (2 Petrus 1:4). Vrede en eenheid gedy onder ons. Ons het ’n duidelike begrip van ons God se voornemens ontvang. Ons geniet gemoedsrus te midde van ’n vreesbevange en angstige wêreldbevolking. Daar wag ’n toekoms met steeds groter seëninge op ons. Is ons nie verheug om die ontvangers van al hierdie seëninge van Koninkrykseenheid te wees nie? En is ons nie vasbeslote om met ons Koninkrykswerk voort te gaan tot Jehovah se ewige lof nie?
Wat is jou antwoord?
□ Hoe vorm die gesindheid van Jehovah se knegte ’n teenstelling met dié van diegene in die valse Christendom?
□ Wat het die uitgieting van God se gees meegebring?
□ Watter seëninge geniet Jehovah se volk nou in ooreenstemming met Jesaja 32:17, 18?
□ Watter bewys het ons dat Jehovah sy Koninkryksgetuies seën?
[Prent op bladsy 28]
Die nodigheid om ‘die Koning en die Koninkryk te adverteer’ is tydens die byeenkoms van Jehovah se volk in 1922 te Cedar Point, Ohio, beklemtoon