Soek jy werklik ware geloof?
SOEK jy werklik naarstig na die waarheid? Jy sal waarskynlik antwoord: “Natuurlik!”
Maar baie mense soek nie werklik na die waarheid nie. Trouens, hulle wil dalk nie eens glo nie. Waarom sou iemand nie wil glo dat God bestaan en dat die Bybel, met sy treffende beloftes oor die toekoms, sy wonderlike Woord is nie?
Sommige sal veranderinge in hulle lewenswyse moet aanbring as hulle hierdie feite aanvaar. Maar omdat hulle nie hulle lewens na God se weë wil skik nie, moet hulle twyfelgedagtes en besware versin en hulself oortuig dat die Bybel nie waar is nie.
Dit kan selfs waar wees van sommige individue in die Christengemeente. Die waarheid klink vir hulle goed, maar hulle hou steeds vas aan ’n geheime gebruik wat hulle weet God se Woord verbied. Hulle bly dus agter of hulle dryf stadig weg. Die Bybel sê: “Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely.”—1 Timotheüs 1:19, NAV.
Toe Jesus Christus op die aarde was, het die waarheid baie mense ontstig. Omdat hulle dinge op hulle manier wou doen, het hulle geweier om betroubare getuienis te aanvaar. Deur vroeëre profetiese woorde aan te haal, het Jesus gesê dat hulle hart stomp geword het. Hulle het hulle oë en ore toegesluit “sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer” sodat hulle geestelik genees kon word nie.—Mattheüs 13:14, 15.
Sulke mense sal dalk sê dat dinge nie duidelik gemaak is nie. Sommige van Jesus se teenstanders het vir hom gevra: “Hoe lank hou U ons in onsekerheid? As U die Christus is, sê dit vir ons ronduit.” Maar dit was nie Jesus se skuld dat hulle dinge nie verstaan het nie; dit was hulle eie. Jesus het geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, en julle glo nie. Die werke wat Ek doen in die Naam van my Vader, dié getuig van My. Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie.”—Johannes 10:24-26.
As iemand nie wil hoor en die waarheid verstaan en hom wil bekeer en genees word nie, sal Satan die Duiwel daardie feit benut. Satan verblind die sinne van die ongelowiges “sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie”.—2 Korinthiërs 4:4; kyk ook Mattheüs 13:10-15.
Beteken dit dat mense geen hoop het om die goeie nuus te hoor en te verstaan nie? Natuurlik is dit nie wat dit beteken nie! Wat dit wel beteken, is dat baie van jou, die hoorder, afhang.
Die Bybel sal eg klink as jy werklik ware geloof soek. Die trotse en hoogmoedige godsdiensleiers wat nie wou luister nie, het Jesus teengestaan. Maar wat van die skares? Hulle was “verslae oor sy leer”! Selfs die geregsdienaars wat gestuur is om hom in hegtenis te neem het teruggekom en berig: “Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie.”—Mattheüs 7:28; Johannes 7:46.
As jy die waarheid soek, God se weg soek en bereid is om sy Woord in jou lewe toe te pas, sal jy ware geloof vind. Jesus het gesê: “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” “Ek ken my eie en word deur my eie geken.” “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.” “Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.”—Mattheüs 5:6; Johannes 10:14, 27; 18:37.
Geloof is ’n vrug van God se heilige gees (Galasiërs 5:22, 23, NW). As jy om juiste kennis en geloof bid en werklik ’n poging aanwend om dit te verkry en daarvolgens te leef, sal God jou help. Jesus het gesê: “[Hou aan] bid, en vir julle sal gegee word; [hou aan] soek, en julle sal vind: [hou aan] klop, en vir julle sal oopgemaak word.”—Mattheüs 7:7, vgl. NW.
Selfs al het jy ’n probleem waarop jy jou moet toelê, sal God jou help. Die geïnspireerde Skrif sê: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”—Spreuke 3:5, 6.
God “sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Hy weet of jy na waarheid en geregtigheid soek en of jy bereid is om dinge op sy manier, die regte manier, te doen. Nader tot God, en hy sal tot jou nader.—Jakobus 4:8.
Is jy so ’n persoon? Soek jy waarlik ware geloof? Het jy die Vader se leer gehoor en jou verstand daarvoor geopen? Het jy dit geleer en dit aangeneem? En het jy dinge wat probleme in jou lewe was, reg gestel ten einde jou na God se regverdige weë te skik?
Dan kan Jesus se volgende woorde jou moed gee: “Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.”—Johannes 6:45.
Watter rede het enigiemand om aan hierdie belofte te twyfel? Soos ons in die volgende artikel sal sien, is dit moontlik om vas te staan in die geloof sonder om enigsins te twyfel.
[Venster op bladsy 6]
Bewaar julleself in God se liefde
Nuwe en swak Christene is kwesbaar. Trouens, ons almal is. Ons moet gevolglik ons eie geloof bewaak en ander ywerig help om hulself geestelik te versterk. Hoe kan dit gedoen word? Die dissipel Judas het op een manier gewys toe hy geskryf het: “Julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.”—Judas 20, 21.