Behou ’n vaste geloof
“Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes?”—1 KONINGS 18:21, NAV.
1. Hoe reageer sommige op die waarheid?
DIE neiging om te twyfel, wat vandag so alledaags is, kan selfs jou eie gesindheid teenoor God en die Bybel raak. Party mense hoor die waarheid, hou daarvan en bestudeer die Bybel ’n ruk lank. Hulle woon ’n paar Christelike vergaderinge by maar besef nie werklik dat die diens van God hulle doel in die lewe moet wees nie.—Mattheüs 13:3-9.
2. (a) Hoe reageer ander? (b) Watter goeie raad bevat Hebreërs 10:36-39?
2 Daar is ander wat die waarheid aangeneem het, hulle lewens deur Jesus Christus aan Jehovah God toegewy het en daardie toewyding deur waterdoop gesimboliseer het. Maar hulle maak nie vordering nie. Hulle bestee af en toe ’n uur of twee aan die veldbediening. Maar hulle vervul nie werklik hulle toewyding nie, want onvoorwaardelike toewyding aan God beteken dat ’n mens Hom met volle oorgawe en ywer dien.—Mattheüs 16:24; Hebreërs 10:36-39.
3. Wat het Elia oor ’n enigsins soortgelyke situasie gesê?
3 Weifelaars hou dalk van die waarheid, maar hulle hou ook van die wêreld. Hulle verlang miskien nog na sommige van die ou weë. Hulle lojaliteit is verdeel. Lank gelede het Elia vir die Israeliete gevra: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As [Jehovah] God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!” Een vertaling stel dit so: “Hoe lank gaan julle op die draad sit?”—1 Konings 18:21, The New English Bible.
4. Wat is die waarde van ywerige diens?
4 Jehovah se volk vind vreugde en verkwikking in ywerige diens (Titus 2:13, 14). Dit help hulle om geestelik aan die lewe te bly. Baie, veral die wat al jare lank in God se diens staan, toon opmerklike ywer. Maar berigte uit baie plekke dui daarop dat sommige jonger of nuwer Getuies die wêreld nog baie aanloklik vind en dat hulle nie met hart en siel in Jehovah se diens ywer nie. Dink aan die vreugdes en seëninge wat hulle kan smaak as hulle die waarheid stewig vasgryp en kragtig vooruitgaan in heilige diens, miskien as voltydse pioniers wat ander ywerig attent maak op die dringendheid van ons tyd.
5. Watter vrae kan jy jouself gerus afvra?
5 Jy kan jouself gerus afvra: Is ek werklik standvastig in die geloof, of hink ek op twee gedagtes? Laat ek toe dat dinge wat genotvol is maar weinig waarde het my tyd in beslag neem? Bestee ek meer tyd aan die televisie, aan sport of aan ander aangename maar tydrowende dinge as wat ek aan God se diens wy? Of is my lewensdoel werklik om God nederig te gehoorsaam en te dien? As dit jou lewensdoel is om die goddelike wil te doen, sal God jou ondersteun en sal jy jou vir ewig in sy seëninge kan verbly.
6. Watter raad in die brief van Jakobus kan ons help om ’n vaste geloof te behou?
6 Dit is belangrik om positiewe stappe te doen om jou geloof sterk te hou met die oog op ewige lewe in God se Nuwe Orde. Elia het ander aangespoor om ondubbelsinnig standpunt in te neem vir wat reg is. Jakobus het geskryf: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges [besluiteloses, NW].” Jakobus het geskryf aan diegene wat hulle moes bekeer omdat hulle besluitelose harte hulle beweeg het om dinge te doen wat God mishaag het. Sy raad kan vir jou van nut wees as jy deur die wêreld se weë versoek is. Jakobus het geskryf: “Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”—Jakobus 4:7-10.
Kennis bou geloof
7. (a) Hoe hou kennis met geloof verband? (b) Waarom moet jy die Bybel gebruik om geloof te bou?
7 Geloof is ’n daad van vertroue. Dit is gegrond op juiste kennis en ervaring. Hoe meer jy van God weet en hoe meer ervaring jy met sy Woord en sy weë het, hoe sterker sal jou geloof wees. Die Bybel sê: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop” (Hebreërs 11:1). Hoe kan jou geloof vas of seker wees as jy net ’n oppervlakkige kennis van Jehovah se dade het? God het jou met intellek, intelligensie en begripsvermoë begaaf. Dit is gawes daardie, en hy verwag dat jy dit sal gebruik om van hom te leer. As jy vir iemand ’n brief skryf, verwag jy dat hy dit moet lees en nie net op ’n rak sit of as ’n ornament op ’n tafel laat nie. Het jy al God se briewe aan ons—sy geskrewe Woord—gelees en bestudeer? ’n Studie en begrip daarvan sal aan jou dinge openbaar wat jy nie andersins sou geweet het nie. Dit is belangrik dat ons die waarde van die inligting in die Bybel besef. Een Christen-ouere man het gesê: “Persone wat twyfel uitspreek, studeer gewoonlik nie baie nie. Hulle weet nie baie van die Bybel af nie—hulle maak nooit regtig die waarheid hulle eie nie.”
8. Wat word aanbeveel as iemand ’n vraag opper wat jy nie kan beantwoord nie?
8 Gestel iemand opper ’n vraag wat jy nie kan beantwoord nie. Moet dit jou geloof laat wankel? Natuurlik nie. Geen mens is alwetend nie. Doen dus navorsing. Ondersoek die teks. Lees die omliggende verse en gaan die saak na. Die Comprehensive Concordance of the New World Translation of the Holy Scriptures, die boek Aid to Bible Understanding en die registers van Wagtoringpublikasies kan jou help om verwante tekste, agtergrondinligting en ’n uiteensetting van die onderwerp te vind. Meer ervare Christene kan ook help. ’n Getuie met jarelange ondervinding het gesê: “Ek het nog altyd ’n bevredigende antwoord gekry.”
9. Wat kan ons uit die voorbeeld van die Bereane leer?
9 Ons moet soos die Bereane wees wat in die Bybel geprys word omdat hulle “elke dag die Skrifte ondersoek” het om seker te maak dat die dinge wat die apostel Paulus hulle geleer het die waarheid is. Hulle was nie teleurgesteld met wat hulle gevind het nie. “Baie van hulle het dan ook gelowig geword.” Een van hulle, met die naam Sopater, het die voorreg gehad om die apostel Paulus op sy derde sendingreis deur Macedonië te vergesel.—Handelinge 17:10-12; 20:4.
Nederigheid noodsaaklik
10. (a) Hoe kan kennis misbruik word? (b) Watter uitwerking dink jy behoort Spreuke 16:5 op ons gesindheid te hê?
10 Kennis is nie ’n doel op sigself nie. Dit is eerder ’n middel wat ons behoort te help om Jehovah God en sy Woord te waardeer. Juiste kennis, gepaard met liefde, behoort nederigheid by ons te wek, nie ’n oordrewe dunk van ons eie belangrikheid nie. Party mense studeer, nie om te leer hoe om God beter te dien nie, maar om hulleself en hulle eie opinies te verhef. Hulle kan opgeblase raak en ander kritiseer—ouer broers en selfs die Christengemeente en die versameling Bybelwaarhede wat die gemeente verkondig.—Spreuke 16:5; 1 Korinthiërs 8:1.
11. Waar kom ons kennis en intelligensie vandaan, en wat behoort dit ons omtrent nederigheid te leer?
11 Ons het egter niks wat ons nie uit ’n ander bron ontvang het nie. Ons het ons intelligensie van ons ouers geërf, maar dit is ons Skepper, Jehovah God, wat dit oorspronklik aan die mensdom gegee het. Ons kennis het ons te danke aan die mense wat ons gehelp het, die dinge wat ons gelees het en aan God, wat die bron van waarheid is. Trouens, alles wat ons het, kom oorspronklik van God af. Die apostel het geskryf: “Wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”—1 Korinthiërs 4:7.
12. Watter belangrike punt word in Psalm 25:9 en Jakobus 4:6 gestel?
12 Jehovah oordeel ons nie na die intelligensie wat ons geërf het nie, maar na ons nederigheid en na ons gewilligheid om sy weg te leer en dit te volg. Nederigheid en geloof gaan hand aan hand. Die Bybel sê dat God sy weg aan “die ootmoediges” sal leer. Dit sê ook: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”—Psalm 25:9; Jakobus 4:6.
13. Meld voorbeelde van persone wat bereid was om te leer.
13 Nederigheid beteken dat ’n mens bereid is om reggehelp te word. Die apostels Petrus en Thomas was uitsonderlike voorbeelde hiervan. Petrus was die vernaamste woordvoerder, maar daarmee tesame is hy ook die meeste reggehelp, berispe en selfs bestraf. Petrus was nietemin ’n ywerige, aktiewe dader, en sy geloof, inisiatief en moed is vir ons almal ’n uitmuntende voorbeeld. Thomas het nie geglo dat Jesus uit die dood opgewek is nie, maar toe hy met die bewys gekonfronteer is, het hy dit dadelik aanvaar. Toon ons soortgelyke nederigheid wanneer ons foute of misvattings deur die Skrif uitgewys word?—Johannes 20:24-29.
Toets jou geloof
14. Wat doen een Christen- ouere man wat hom help om ’n vaste geloof te behou?
14 Een Christen- ouere man, wat al lank in die waarheid is, vra homself dikwels af waarom sy geloof nog sterk is terwyl party van sy ou metgeselle weggedryf het. Hy sê dat hy altyd Paulus se raad in gedagte hou: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef” (2 Korinthiërs 13:5). Hierdie ouere man stel homself dikwels op die proef terwyl hy werk toe ry. Hy hersien Bybelwaarhede in sy gedagte en verbeel hom dat hy by ’n bespreking van hierdie waarhede betrokke is. Dan verduidelik en verdedig hy hulle voor allerhande mense. Hierdie broer wys daarop dat openbare toesprake by die Koninkryksaal ons dikwels opnuut daarvan oortuig dat die Bybel waarlik die Woord van God is. Maar hy vra: “Hoe sou ons hierdie dinge weet as ons nie by die vergaderinge is waar hulle bespreek word nie?” Hy dink gereeld na oor God se goedheid en Sy organisasie. Hierdie Christenopsiener spreek ook sy dankbaarheid vir hierdie dinge in sy gebede uit, en sê: “Ek dank Jehovah dat hy my toegelaat het om by sy volk te bly.” Sal dit jou baat om jouself op soortgelyke wyse te beproef en te kyk of jy werklik “in die geloof” is?
Gebed is onontbeerlik
15, 16. Waarom is gebed so onontbeerlik indien ons ’n vaste geloof wil behou?
15 Hierdie voorbeeld beklemtoon twee dinge wat onontbeerlik is indien ons ’n vaste geloof wil behou: gebed en Christelike vergaderinge. Persone met swak geloof bid gewoonlik maar selde. Een Christenvader hou in gedagte dat Daniël verskeie male op ’n dag gebid het, selfs nadat ’n verbod op gebed ingestel is (Daniël 6:6-10). Hierdie vader wend hom verskeie male elke dag tot Jehovah vir wysheid en leiding.
16 Is jy huiwerig om te bid? Die psalm sê: “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.” Jesus het gesê: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Psalm 145:18: Mattheüs 7:11). Jehovah sal inderdaad “goeie dinge” gee aan die wat hom nederig in geloof daarom vra.
Die rol van vergaderinge
17. Watter Bybelse voorbeelde toon die belangrikheid daarvan om saam met medegelowiges te vergader?
17 Benewens gebed is gereelde vergaderinge saam met medegelowiges ook noodsaaklik vir geloof. Elke Israelitiese man moes drie maal elke jaar in Jerusalem “voor die aangesig van die Here HERE verskyn”. Omdat hulle die groot geestelike waarde van sulke geleenthede besef het, het baie mans hulle hele gesin met hulle saamgeneem (Exodus 23:14-17; Lukas 2:41-45). Paulus het boonop uitgesien na geloofversterkende bemoediging van die gemeente in Rome. Hy het daarna verlang om by sy medegelowiges daar te wees sodat hulle ‘deur mekaar se geloof’ bemoedig en geestelik versterk kon word.—Romeine 1:11, 12, NAV.
18. Hoe beskou persone met sterk geloof Christelike vergaderinge?
18 Mense met sterk geloof maak van al die Christelike vergaderinge gebruik. Hulle gaan nie na die eerste uur huis toe, of kom net vir die tweede uur nie. Hulle waardeer hierdie vergaderinge en besef dat dit hulle ’n geleentheid bied om te leer, om bemoedig te word en om geseën te word. Hulle weet ook dat hulle by sulke vergaderinge hulp van liefdevolle broers kan ontvang en mekaar “tot liefde en goeie werke” kan aanspoor (Hebreërs 10:24, 25). Hoe kan ons sulke bemoediging kry as ons nie omgaan met die wat dit kan gee nie?
Getuieniswerk en ons geloof
19. Hoe versterk Christelike getuieniswerk ons geloof?
19 Christelike getuieniswerk is nog ’n middel wat geloof bou. Jakobus het geskryf: “Wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood” (Jakobus 2:18, 26, NAV). ’n Vername werk van Christene is om ander te leer, en enigeen van Jehovah se Getuies sal vir jou sê: ‘Getuieniswerk bou beslis geloof!’ Dit hou nie net voordeel in vir die leerling nie, maar ook vir die onderrigter. Dit is ’n opbouende, geloofversterkende werk. Getuieniswerk gee jou die geleentheid om jou geloof te verdedig. Dit slyp jou verstand. Ja, en Koninkryksgetuieniswerk bring seëninge van God, waaronder die leiding van sy gees.—Markus 13:11; Romeine 10:14, 15.
Vertroue in die “dienskneg”
20, 21. (a) Wat moet ons altyd onthou in verband met die “getroue en verstandige dienskneg”? (b) Hoe het een Christen hom hieroor uitgespreek?
20 Dit is ook belangrik dat ons onthou waar ons aanvanklik die waarheid geleer het. Wie het ons gehelp om ons geloof in die Bybel en Bybelbeloftes op te bou? Hoe het ons te wete gekom wat die Bybel vandag vir ons beteken? Jesus het gesê dat hy by sy terugkeer ’n “getroue en verstandige dienskneg” sou aantref wat geestelike voedsel verskaf en dat daardie “dienskneg” oor al sy heer se besittings aangestel sou word.—Mattheüs 24:45-47.
21 Een Christeneggenoot het gesê: “Jehovah se sigbare organisasie is ’n ongelooflik betroubare bron. Dit het my nog nooit in enige opsig mislei nie. Alles wat dit gesê het, was op God se Woord gebaseer en was vir my beswil, vir die beswil van my gesin en van almal wat ek ken. Wat my betref, is hierdie feit geweldig geloofversterkend.”
22. Watter vrae kan jou help om vas te stel hoe goed jy na jou geloof omsien?
22 Het jy Jehovah se Woord bestudeer, dit aanvaar en geglo? Het jy jou lewe aan God toegewy en daardie toewyding deur waterdoop gesimboliseer? Lewe jy nou in harmonie met daardie toewyding? Vra jy God om leiding, kennis en geloof? Hou jy vol met jou persoonlike studie, en doen jy dit gereeld en ywerig? Is jy altyd aanwesig by Christelike vergaderinge? Is jy aktief en ywerig in God se heilige diens? En verbeter jy die gehalte van jou dissipelmaakwerk, of het jy toegelaat dat dit blote roetine word?—Mattheüs 28:19.
23. Hoe moet ons probleme, beproewinge en struikelblokke tegemoetgaan?
23 Ons het natuurlik almal probleme, en elkeen het sy eie tekortkominge. Maar wanneer ons voor beproewinge en struikelblokke te staan kom, moet ons nie weifel, op twee gedagtes hink of draadsitters wees nie. Ons wil eerder doelgerig wees en vas staan in die geloof. Jakobus het geskryf: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.” Paulus het vermaan: “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk” (Jakobus 1:2; 1 Korinthiërs 16:13). Om as getuies van Jehovah in die ware geloof te bly, moet ons hierdie vrug van God se heilige gees, geloof, aankweek.—Galasiërs 5:22, 23, NW.
24. Waarom is dit so belangrik om ’n vaste geloof te hê?
24 Waarom moet jy dit doen? Omdat geloof ’n skild teen Satan is, wat ‘rondloop soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind’. “Neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (1 Petrus 5:8-10; Efesiërs 6:16). As jy ’n vaste geloof behou, sal jy dinge op God se manier wil doen. Jou hart sal reg wees. Jou dade sal met sy bevele strook en jy sal vooruitgaan, immer voorwaarts op die smal weg wat na die lewe lei.—Mattheüs 7:14.
By wyse van hersiening:
◻ Waarom twyfel sommige mense, en wat kan hulle daaromtrent doen?
◻ Wat het jy omtrent kennis en nederigheid geleer?
◻ Hoe kan jy jou geloof versterk?
◻ Waarom is dit so belangrik om ’n vaste geloof te behou?
[Prent op bladsy 8]
Wagtoringpublikasies is ’n groot hulp by navorsing oor Bybelonderwerpe en -vrae