Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 6/1 bl. 20-25
  • Moet nooit vergeet dat jy ’n getuie is nie!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet nooit vergeet dat jy ’n getuie is nie!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die voorbeeld van “die getroue en waaragtige Getuie”
  • Waarom ons nooit moet vergeet nie
  • Gebruik jou tyd om ander te help
  • Wees gereed om informeel te getuig
  • Goeie gedrag—’n deel van ons getuienis
  • Bied die goeie nuus aan—Deur geleenthede te skep om informeel te getuig
    Ons Koninkryksbediening—1990
  • Praat oor die heerlikheid van God se koningskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Wees ywerig om ‘deeglik te getuig’
    Ons Koninkryksbediening—2003
  • Christengetuies vir Goddelike soewereiniteit
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 6/1 bl. 20-25

Moet nooit vergeet dat jy ’n getuie is nie!

“Julle is my getuies, spreek [Jehovah], en Ek is God.”—JESAJA 43:12.

1. (a) Wat is die grootste voorreg wat enige persoon op aarde te beurt kan val? (b) Hoe word die woord “getuie” omskryf?

DAAR is geen groter voorreg op aarde as om ’n getuie vir die ware God, Jehovah, te wees nie. ’n Getuie is “iemand wat getuienis aflê in ’n saak of voor ’n regbank” (Webster’s New Collegiate Dictionary). Dit was Jesus Christus wat vir die grootste saak in die ganse heelal getuig het—die saak van Jehovah God. Die Bybel praat van Jesus wat “as ’n getuie voor Pontius Pilatus die voortreflike openbare bekendmaking afgelê het” (1 Timotheüs 6:13, NW). En wat het Jesus vir hierdie Romeinse goewerneur gesê toe hy tereggestaan het?

2. Waarvan het Jesus Christus getuig?

2 In antwoord op ’n vraag wat aan hom gestel is, het Jesus gesê: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). Ja, Jesus het dit duidelik gestel dat hy in die wêreld gekom het om vir God se waarheid te getuig. Dit het getuienis aangaande sy posisie as Messiaanse Koning ingesluit. Jesus het ook vir God se naam, Jehovah, getuig. Daarom kon Jesus in gebed aan sy hemelse Vader sê: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het” (Johannes 17:6). Tot op die dag van sy dood as ’n mens was Jesus bewus van sy plig om ’n getuie vir Jehovah te wees. Ja, Jesus het nooit vergeet dat hy ’n getuie is nie.

Die voorbeeld van “die getroue en waaragtige Getuie”

3. (a) Wie is “die getroue en waaragtige Getuie”? (b) Wat het met die gemeente in Laodicea gebeur, en watter raad het Jesus hulle gegee?

3 Jesus het sy opdrag as ’n getuie vir Jehovah getrou en ywerig uitgevoer. En in hierdie opsig het hy vir toegewyde Christene ’n skitterende voorbeeld gestel. Let ook op Jesus se raad aan die gemeente in Laodicea. Blykbaar omdat hulle deur materialistiese begeertes verlok is, het die lede van hierdie gemeente “lou” geword as getuies vir Jehovah en die Messiaanse Koninkryk. Jesus het hulle derhalwe aangespoor om ‘ywerig te wees en hulle te bekeer’. Hy het sy raad aan hierdie gemeente laat voorafgaan met die woorde: “Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie.”—Openbaring 3:14-19.

4. (a) Hoekom het Jesus homself die “Amen” genoem? (b) Wat wou Jesus nie hê dat die Christene in Laodicea ooit moes vergeet nie?

4 Jesus noem homself eers die “Amen”. Waarom? Omdat Jehovah hom gestuur het as die “Amen” (wat beteken “laat dit so wees”) op al die goddelike beloftes. Jesus is die een wat die beloftes van God verwesenlik (2 Korinthiërs 1:20). Vervolgens identifiseer Jesus homself as “die getroue en waaragtige Getuie”. Waarom? Sodat die gemeente na hom sou kyk as hulle Voorbeeld en sodoende aangespoor sou word om berou te hê oor hulle tekortkominge en weer “ywerig” te word as getuies vir Jehovah. Die Seun van God wou hê dat daardie Christene in Laodicea nooit moes vergeet dat hulle getuies van God en van die Messiaanse Koninkryk is nie.

5. Hoe was Jesus ’n voorbeeld vir Jehovah se Getuies vandag?

5 Jesus wil hê dat al sy dissipels reg tot aan die einde van hierdie goddelose stelsel getroue en ywerige getuies moet wees. “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies”, het Jesus gesê, “en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14; Handelinge 1:6-8). “Die getroue en waaragtige Getuie” was in woord sowel as daad ’n bemoedigende voorbeeld vir ware Christengetuies van Jehovah vandag. Hulle besef watter wonderlike voorreg hulle het as verdedigers van die goddelike naam en lojale knegte van Jehovah wat sy woorde ter harte neem: “Julle is my getuies, . . . en Ek is God.”—Jesaja 43:10-12.

Waarom ons nooit moet vergeet nie

6. (a) Watter voorreg het getuies van Jehovah met betrekking tot geestelike lig? (b) Watter vrae kan ons onsself afvra?

6 As jy ’n toegewyde, gedoopte getuie van Jehovah is, moet jy altyddeur bewus wees van jou groot voorreg om die hoogste Persoon in die heelal te dien. Onthou dat “die getroue getuie” die “lig van die wêreld” was (Openbaring 1:5; Johannes 8:12). Al Jehovah se Getuies moet dus die lig aangaande God se voornemens uitstraal. Net soos dit onvanpas sou wees om ’n lig onder ’n emmer te sit in plaas van op ’n staander, so sal dit vir ’n ware Christen onredelik wees om sy lig te verberg. Hy moet so skyn dat almal wat met hom in aanraking kom die voordeel ontvang van die geestelike lig wat hy self geniet. Daarom het Jesus sy dissipels aangespoor: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mattheüs 5:14-16). As organisasie is Jehovah se Getuies vandag rondom die aarde prominent, net soos ’n stad bo-op ’n berg wat lig tot in die verte uitstraal. Maar laat jy persoonlik altyd jou lig uitstraal? Is jy deurentyd bewus van jou voorreg om ’n getuie van Jehovah te wees?

7. Om watter belangrike rede moet ons nooit vergeet dat ons getuies van Jehovah is nie?

7 Waarom moet ons nooit vergeet dat ons getuies van Jehovah is nie? Een belangrike rede is dat ons ons in ’n wêreld bevind waarin die druk van die daaglikse lewe, die sorge van die lewe en die magdom tydverdrywe maklik ons aandag kan verdeel en kan verhinder dat ons oor die ware God en sy voornemens praat. Om ons te help en te waarsku, het Jesus gemaan: “Waak dan, . . . julle [moet] ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie” (Mattheüs 24:42-44). Waarom hierdie waarskuwing? Omdat verdeelde aandag kan lei tot vernietiging—ja, vernietiging vir diegene wie se aandag verdeel is wanneer Jesus kom om oordeel aan hierdie stelsel te voltrek.—Openbaring 19:11-21.

8, 9. Hoe kan dit ons help as ons die lewenswyse van mense in Noag se dag beskou?

8 Dink aan wat in Noag se dag gebeur het. Daar was so baie dinge wat mense se aandag afgelei en verdeel het dat hulle geen betekenis aan Noag se prediking en arkbouery geheg het nie. Hulle het “nie daarop ag geslaan” nie, is onverhoeds betrap weens die afleidings en is vernietig.—Mattheüs 24:36-39.

9 Gaan ons dan toelaat dat hierdie wêreld en sy baie tydverdrywe ons aandag aflei? Onthou dat dit ons vernietiging kan beteken as ons aandag so deur ander dinge in beslag geneem word dat ons nie meer ons plig as volgelinge van Jesus nakom nie. Laat ons dus gedurig op ons hoede bly. As ons altyd gereed is, nooit aan die slaap wat ons verantwoordelikhede betref nie, sal ons nie vernietig word saam met die plesiersoekers van hierdie wêreld nie.—Lukas 17:26-30; 21:34-36.

10. Watter belangrike opdrag het alle ware Christene?

10 Ons moet dus nooit vergeet dat ons die belangrike taak het om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig nie (Markus 13:10). Ongeag wie ons is of watter pligte ons in Jehovah se organisasie vervul, ons het die verantwoordelikheid om ons hoop aan ander bekend te maak (Romeine 10:10; 1 Korinthiërs 9:16). In baie lande kan ons vryelik van huis tot huis gaan met die Koninkryksboodskap. Maar in lande waar ons so vryelik kan preek, staan baie mense onverskillig teenoor godsdiens en kry jy miskien min die geleentheid om gesprekke met mense by hulle huise te voer. As dit die geval is, moet jy veral op die uitkyk wees vir ander geleenthede om jou lig te laat skyn.

11. Wat toon die feit dat Jesus se volgelinge aan “die Weg” behoort het omtrent diens aan Jehovah?

11 Al het hy ook bepaalde tye opsygesit om aan sekere aspekte van die getuieniswerk deel te neem, moet ’n toegewyde kneg van Jehovah Hom te alle tye in woord en daad loof. Doen jy dit? Van Jesus se vroeë volgelinge is daar gesê dat hulle aan “die Weg” behoort (Handelinge 9:1, 2). Hulle het God dus nie net ’n paar uur per maand gedien nie. Hulle diens was ’n lewenswyse! Is ons soos die eerste-eeuse Christene as ons ongereelde Koninkryksverkondigers is wat selde aan die getuieniswerk deelneem? Kan ons onsself tereg Jehovah se Getuies noem as ons selde indien ooit met ander oor ons hoop praat?

Gebruik jou tyd om ander te help

12, 13. (a) Hoe kan ons onsself geestelik versterk? (b) Waarom moet ons ’n aantekening maak van belangstellendes wat ons in die veldbediening teëkom?

12 Ons moet ons tyd verstandig gebruik as ons ander op die weg na die ewige lewe in God se regverdige Nuwe Orde wil help. Maar voor ons ander kan help, moet ons onsself versterk. Ons moet gereeld geestelike voedsel inneem en sterk word in die geloof. Ons wil nie “kinders” bly nie, maar “voortgaan tot rypheid” (Efesiërs 4:14; Hebreërs 6:1, NW). Het ons, in ons gewone getuieniswerk van huis tot huis, die bykomende verantwoordelikheid aanvaar om regskape persone in die oog te hou? Wat doen ons wanneer mense na ons Bybelboodskap luister en belangstelling in God se Woord en sy Koninkryk toon? Is ons besorg genoeg om ’n aantekening te maak van die naam en adres en die onderwerp waaroor ons gesels het, en om dan die belangstelling op te volg?

13 As ons geestelik wakker is, kan ons te eniger tyd en plek geleenthede skep om God se Woord te verkondig. Mag ons dit met vreugde doen, met harte wat oorloop van die dinge wat ons by ons Groot Leermeester, Jehovah, geleer het.—Jesaja 30:20, 21, NW.

Wees gereed om informeel te getuig

14. (a) Deur watter soort getuieniswerk het sommige God se waarheid geleer? (b) Is informele getuieniswerk ’n plaasvervanger vir jou gewone veldbediening?

14 Sommige leer God se waarheid ken weens kontak met familielede, vriende, kollegas, bure en so meer. Uit een groep van 238 gedoopte Getuies het 40 persent byvoorbeeld die Bybel se waarheid deur ’n informele getuienis geleer. Dit is natuurlik geen plaasvervanger vir die veldbediening, jou gewone getuieniswerk van huis tot huis of by herbesoeke, ensovoorts, nie.—Handelinge 5:42; 20:20.

15. Watter voorbeeld het Jesus ten opsigte van informele getuieniswerk gestel?

15 Jesus, “die getroue en waaragtige Getuie”, het egter vir ons ’n goeie voorbeeld gestel wat informele getuieniswerk betref. Terwyl hy eendag op die pad was, het Jesus byvoorbeeld “’n man met die naam van Mattheüs by die tolhuis [sien] sit” en met hom gepraat. Dit het goeie vrugte afgewerp (Mattheüs 9:9). En by ’n ander geleentheid het Jesus, hoewel hy moeg was, die geleentheid aangegryp om die waarheid te verkondig aan ’n vrou wat kom water skep het by ’n fontein in Sigar. Daardie gesprek het tot gevolg gehad dat baie Samaritane geloof gestel het in Jesus as die Messias.—Johannes 4:5-30, 39-42.

16. Watter goeie voorbeeld het die apostel Paulus in die getuieniswerk gestel?

16 Die apostel Paulus het ook elke geleentheid benut om oor Jehovah se Woord te praat. Toe hy in Athene was, het Paulus “elke dag op die mark [gepraat] met die wat hom teëkom” (Handelinge 17:17). En toe hy in Rome onder huisarres was, het die apostel “almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid” (Handelinge 28:30, 31). Dit alles behoort ons sekerlik te beweeg om nooit geleenthede vir ’n getuienis deur die vingers te laat glip nie!

17. Watter geleenthede benewens die gewone veldbediening is daar om vir ander te getuig?

17 Afgesien van ons gewone veldbediening is daar baie ander geleenthede om te getuig. Ons kollegas by die werk, skoolmaats, familielede en kennisse moet almal van Jehovah en sy voornemens hoor. Terwyl ons in ’n bus, vliegtuig of trein is, kan ons miskien ’n gesprek aanknoop wat tot ’n Koninkryksgetuienis kan lei. Ons kan dalk ook die “goeie nuus” met hotel- en motelbestuurders, pompjoggies, restaurantwerkers of taxidrywers deel. By die huis kan ons vir verkopers of afleweraars getuig. En selfs as ons in die hospitaal is, kan ons moontlik vir verpleegsters, dokters en pasiënte getuig! Baie getuies van Jehovah het al, terwyl hulle in ’n hospitaal aangesterk het, ander pasiënte gehelp om van God se Nuwe Orde te leer waarin mense blakende gesondheid sal geniet.

18. (a) Wat word aanbeveel indien jy huiwerig is om geleenthede vir ’n getuienis te benut? (b) Watter eienskappe moet ons aan die dag lê wanneer ons vir familielede en kennisse getuig?

18 Hoe noodsaaklik is dit dan dat jy, as een van Jehovah se Getuies, die Koninkryksboodskap by elke geleentheid verkondig! Met ander woorde, moet nooit vergeet dat jy ’n getuie is nie! Maar wat kan jy doen as jy huiwerig is wanneer jy ’n geleentheid sien om te getuig? Bid dan vir moed om die waarheid te spreek. Jy sal ryke seëninge ontvang wat jy andersins nie sou gehad het nie. (Vergelyk Handelinge 4:29-31.) Dit kan natuurlik ’n bietjie makliker wees om vir familielede en kennisse te getuig. Maar wees taktvol, vriendelik en geduldig met hulle, en moet jou nie vryhede veroorloof omdat jy hulle so goed ken nie. Wees versiende en bou geleidelik ’n waardering vir Bybelwaarheid in hulle op.

Goeie gedrag—’n deel van ons getuienis

19. Watter verband is daar tussen ons getuieniswerk en ons gedrag?

19 Ons getuienis is nie net mondeling nie. Die apostel Paulus het getoon dat ons deur goeie gedrag soos ligte kan skyn. Hy het die Christene in Filippi aangespoor om ‘alles sonder murmurering en teëspraak te doen, sodat hulle onberispelik en opreg kon wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag, onder wie hulle geskyn het soos ligte in die wêreld’ (Filippense 2:14, 15). In ’n sedelik verdorwe en verduisterde wêreld moet die getuie van Jehovah uittroon soos ’n helder lig. Ja, die getroue Christen straal die woord van waarheid uit deur mondeling te getuig en skyn weens sy goeie sedelike gedrag. Mag al Jehovah se Getuies toon dat hulle lojale ligdraers is deur hulle lewenswyse en deur die woorde van Skriftuurlike waarheid wat hulle spreek!

20. Watter uitwerking kan ons goeie gedrag op ander hê?

20 Die apostel Petrus het dieselfde punt beklemtoon toe hy geskryf het: “Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat . . . hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking” (1 Petrus 2:12). Ons weet natuurlik dat nie almal God op die dag van sy besoeking sal verheerlik en Jehovah se Getuies sal word nie. Die meeste sal hulle nie aan die kant van God se Messiaanse Koninkryk skaar en die hoë gedragstandaarde daarvan handhaaf nie. Maar daar sal regskape ooggetuies wees wat sal sien dat ons die ware Christelike geloof verteenwoordig. Ons goeie gedrag sal hulle beïndruk, en hulle sal begin om saam met ons “hierdie evangelie van die koninkryk” te verkondig (Mattheüs 24:14). Hoe bly is ons tog wanneer hierdie mense Jehovah saam met ons as sy getuies verheerlik!

21. Met watter gesindheid moet Jehovah se Getuies God se wil doen?

21 Doen Jehovah se werk en wil dus van ganser harte (Mattheüs 22:37). Onthou dat ’n getuie van Jehovah Hom deurentyd moet loof. “Halleluja! Loof [Jehovah], o my siel! Ek wil [Jehovah] prys solank as ek lewe” (Psalm 146:1, 2). Ja, ‘prys Jehovah solank as jy lewe’. En dit kan vir ewig wees, mits jy nooit vergeet dat jy ’n getuie is nie.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat is die grootste voorreg wat enige persoon op aarde te beurt kan val?

◻ Hoe was Jesus Christus ’n voorbeeld vir getuies van Jehovah vandag?

◻ Watter belangrike werk het al Jehovah se Getuies?

◻ Kan jou gewone veldbediening deur informele getuieniswerk vervang word?

◻ Watter verband is daar tussen ons gedrag en ons getuieniswerk?

[Prent op bladsy 22]

Jesus het nooit vergeet dat hy ’n getuie vir Jehovah is nie

[Prent op bladsy 24]

Getuig ywerig in die gewone veldbediening asook informeel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel