Die herinneringe en bevele van die God van ’n nuwe stelsel
“Ek het u bevele en u herinneringe onderhou, want al my weë is voor u.” PSALM 119:168, NW.
1. Hoe maak herinneringe Jehovah se volk gelukkig?
GOD se regverdige nuwe stelsel is ophande! Jehovah se Getuies, wat sy regverdige wet liefhet, moet op lewensgevaarlike tye herinneringe uit sy Woord en deur sy organisasie kry. Omdat hulle sulke goddelike herinneringe bewaar, is hulle gelukkig. Sulke herinneringe beweeg hulle om na hom te soek, en dit bring geluk mee. Die Afrikaanse vertaling van die Hebreeuse woord ’edoth’ as “herinneringe” in plaas van “getuienisse” ([martyriá] volgens die Griekse Septuaginta) is sterker en meer doelgerig. Dit toon dat Jehovah ons, soos nodig, herinner aan sy wet, sy bevele, sy voorskrifte, sy gebooie en insettinge. So laat hy ons nie heeltemal daarvan vergeet nie. As sulke herinneringe ons nie irriteer nie, word ons gelukkig omdat ons hulle bewaar.
2. Watter grondslag het die skrywer van Psalm 119 gehad om soveel herinneringe te beklemtoon?
2 As die psalm op die laatste in die vyfde eeu voor ons Gewone Jaartelling geskryf is, sou die psalmis al die Hebreeuse Skrifte van Genesis tot Maleagi tot sy beskikking gehad het. Die vyfde boek heet Deuteronomium (Griekse Septuaginta, wat hierbo te sien is), en dit beteken “Tweede Wet”. Die inhoud van hierdie boek is klaarblyklik beskou as merendeels ’n verduideliking van die Wetsverbond wat Jehovah met Israel deur middel van die profeet Moses gesluit het. Die boek Deuteronomium moet dus herinneringe bevat, maar al die ander boeke van die Bybel bevat eweneens God se herinneringe vir ons.
3. (a) Waaraan herinner die aanhalings uit die Hebreeuse Skrifte ons? (b) Hoe kan ons geluk selfs groter wees as dié van die psalmis?
3 Die honderde aanhalings uit die Hebreeuse Skrifte in die Christelike Griekse Skrifte dien nie alleen as herinneringe aan wat Jehovah sy volk onder die Wet geleer het nie, maar ook aan sy wonderlike voornemens met die Christengemeente en die vrygekoopte mensdom. Die hedendaagse dissipels van Jesus Christus, die Grotere Moses, het meer herinneringe van Jehovah God as wat die psalmis gehad het, en deur dit getrou te bewaar behoort hulle groter geluk as die psalmis te smaak. Wanneer hulle deur middel van ’n Bybelstudie na Sy herinneringe soek, soek hulle in werklikheid met hulle hele hart na Jehovah.
4. Wat is die regte gesindheid in navolging van die psalmis, eerder as om deur God se herinneringe geïrriteer te word?
4 Dit wat vir ons goeie raad gee en verhoed dat ons die lot van die goddelose deel, is iets wat op prys gestel moet word. Dit is hoe die psalmis oor God se herinneringe gevoel het (Psalm 119:24, 119, 167, NW). Jehovah se Getuies van vandag raak eweneens nie geïrriteerd omdat God dit goeddink om hulle òf in hulle Bybelstudie òf deur middel van sy organisasie te herinner aan dinge wat met sy wet in verband staan nie. Hulle verkies lojaal om by sy herinneringe te bly “Ek kleef u [herinneringe] aan, o HERE, maak my nie beskaamd nie!”—Psalm 119:31, vgl. NW.
5. (a) Van watter nut is herinneringe uit God se Woord en van sy organisasie? (b) Hoe kan ons persoonlik die hoë agting vir Jehovah se herinneringe toon wat die psalmis gehad het?
5 God gee nie sy herinneringe om sy Getuies beskaamd te maak nie, maar hy beskerm hulle daardeur teen ’n skandelike weg. Hulle wil hê dat hulle setel van toegeneentheid moet neig tot dinge wat waarlik tot in ewigheid voordelig sal wees; en daarom bid hulle saam met die psalmis: “Neig my hart tot u [herinneringe] en nie tot winsbejag nie” (Psalm 119:36, vgl. NW). Geen wonder dat ons nie hierdie permanent voordelige dinge wil verloor deur op te hou om die Bybel te studeer of gereeld vergaderinge saam met Jehovah se toegewyde volk by te woon nie (Psalm 119:111, NW). Dit is liefde vir God met hulle hele siel wat hulle beweeg om hierdie weg te bewandel. Selfs al beteken dit ernstige teregwysing vir hulle, verheug Jehovah se Getuies hulle daarin dat Jehovah hulle lei in die weg van sy herinneringe, sodat hulle nie wegdwaal en vir ewig verlore raak nie: “Ek is vrolik in die weg van u [herinneringe] soos oor allerhande rykdom.”—Psalm 119:14, vgl. NW.
6. Hoe het Jehovah se Getuies probeer om eerlik met hulself te wees voor God?
6 Hoewel hulle al ernstig gekritiseer en selfs deur baie verwerp is omdat hulle foute begaan het, was Jehovah se Getuies eerlik met hulself voor hulle God. Hulle wil die weg bewandel wat sy boek met herinneringe vir hulle aandui. Hulle hedendaagse geskiedenis toon dat hulle opgetree het net soos die psalmis van die ou tyd: “Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u [herinneringe]” (Psalm 119:59, vgl. NW). Slegs deur dit te doen, kon hulle tot God bid om hulle lewend te bewaar sodat hulle sy toegewese werk kon bly doen ondanks hulle bloeddorstige vyande (Psalm 119:88, vgl. NW). Hulle bely dat hulle God se slawe is omdat hulle hulle deur Christus aan hom toegewy het en dat hulle die ware begrip moet verkry van wat hy in sy geskrewe Woord laat aanteken het wanneer hulle sê: “Ek is u kneg; maak my verstandig, dat ek u [herinneringe] kan ken.”—Psalm 119:125, vgl. NW.
7. Waarom is hulle dankbaar, en wat het hulle in gebed gesê?
7 Die dinge wat God sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 in sy Woord geopenbaar het, is vir hulle wonderlik, sodat hulle wil doen wat hierdie openbaringe vir hulle aantoon (Psalm 119:129, vgl. NW). Jehovah is ten volle daarop geregtig om sy herinneringe onder ons aandag te bring en ons dit as gebooie op te lê. Ons is bly om dit biddend met die woorde van die psalmis te erken: “In geregtigheid het U u [herinneringe] beveel en in louter trou” (Psalm 119:138, vgl. NW). Dankie tog vir so ’n lojale God!
8. Hoe is die ewige lewe afhanklik van ’n begrip en die onderhouding van God se herinneringe?
8 Jehovah se Getuies besef vandag terdeë dat die verkryging van die ewige lewe in God se regverdige nuwe stelsel daarvan afhang of hulle snap wat hy onder hulle aandag bring en dit dan op intelligente wyse gehoorsaam (Psalm 119:144, vgl. NW). In ’n vyandige wêreld moes hulle tot die goddelike Hoorder van die gebed bid om hulle uit die allerdreigendste situasies te red, veral in hierdie dae wanneer alle nasies versamel word vir “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon (Openbaring 16:13-16). Die volgende gebed is uiters gepas: “Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u [herinneringe] kan onderhou.”—Psalm 119:146, vgl. NW.
9. Watter versekering het ons dat goddelike herinneringe steeds tot ons beskikking sal wees?
9 Hoewel al die geskrewe herinneringe van Jehovah God 1 900 jaar gelede gegrond is met die voltooiing van die Bybel met sy 66 boeke, is hulle vandag beskikbaar en sal hulle tot in die onbepaalde toekoms vir ons beskikbaar bly. Psalm 119:152, wat tot God gerig is, blyk waar te wees: “Lankal het ek geweet uit u [herinneringe, NW] dat U hulle vir ewig gegrond het.” In die lig van die kennis van sommige van Jehovah se herinneringe is daar in Julie 1879 begin om die tydskrif Zíon’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence te publiseer. Vandag, na 105 jaar van publikasie, word hierdie tydskrif nog steeds versprei, en dit wêreldwyd in 102 tale. Selfs al sou die vyande van Jehovah se Getuies toegelaat word om ’n einde aan die tydskrif te maak, sal hulle nooit ’n einde kan maak aan die heilige Bybel wat Jehovah se herinneringe bevat wat op ’n ewige grondslag rus nie.
Die uitvoering van ons Owerste se bevele
10. Hoe goed laat Psalm 119 God se “bevele” uitkom?
10 Nadat die psalmis die geluk van diegene wat in die wet van Jehovah wandel en sy herinneringe bewaar in die eerste twee verse besing het, sê hy voorts dat hulle “ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel. Ú het u bevele gegee om dit trou te onderhou” (Psalm 119:3, 4) Die skrywer gebruik die woord “bevele” 21 keer in hierdie psalm en hou dit aldus in gedagte.
11. (a) Waarom het die psalmis noukeurig op sy gedrag gelet, soos getoon in Psalm 119:168? (b) Wat is die betekenis van die woord “bevele”?
11 Die psalmis sê vir ons hoe hy gevoel het en wat hy omtrent daardie goddelike “bevele” gedoen het. In hierdie opsig was hy ’n betroubare voorbeeld vir ons vandag. Hy het besef dat God sy lewensweg aanskou en dat hy versigtig moes wees hoe hy hom onder Jehovah se Wets-verbond gedra het. Hy het tereg gesê: “Ek onderhou u bevele en u [herinneringe], want al my weë is voor U” (Psalm 119:168, vgl. NW). Herinneringe prikkel die geheue, maar bevele is opdragte van ’n owerste aan ’n ondergeskikte. Dit sit uiteen wat die dienskneg; slaaf, werknemer of soldaat dienswillig moet doen en hoe dit gedoen moet word. Bevele is sterker as leringe; en die Hebreeuse woord wat so vertaal word, naamlik piqudim’, beteken “bepalings; opdragte”. Was hierdie goddelike bevele vir die psalmis swaar of onaangenaam, veral as die onderhouding daarvan meebring dat ’n mens valslik beskuldig of verkeerd voorgestel word? Kom ons luister na hom: “Aanskou dat ek u bevele liefhet; o HERE, maak my lewend na u goedertierenheid.”—Psalm 119:159, 169.
12, 13. (a) Hoe het die standaard wat die psalmis gestel het God se knegte in staat gestel om beproewinge gedurende en na die Eerste Wêreldoorlog te verduur? (b) Wie se bevele het die oorblyfsel gehoorsaam, al is hulle “leuens toegedig”?
12 Watter hoë standaard het die psalmis tog gestel vir ware Christene wat verbonde is aan Jehovah se sigbare organisasie te midde van hierdie wettelose, liefdelose wêreld! Dit was lonend om dit na te leef. In hulle omgewing vol vyande van hulle God voel hulle net soos die psalmis gevoel het, naamlik soos ’n “vreemdeling” (Psalm 119:19, 54, vgl. NW). Maar hulle meen dat niks vergelyk met God se voorskrifte vir ’n korrekte lewe nie. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog van 1914-18 het hulle ’n noue ontkoming gehad. In daardie oorlogsjare het die vyande personeellede met verantwoordelike posisies in Jehovah se sigbare organisasie bygekom om die vernietiging van sy volk te verhaas. Hulle het selfs sover gegaan om die president en ander hoogs verantwoordelike manne by die hoofkwartier van die Wagtoring-Bybel- en Traktaatgenootskap ten onregte in die tronk te stop. Die ondervinding kom ooreen met wat Psalm 119:69 beskryf: “Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele.” Die allerhoogste God, hulle Owerste, moet gehoorsaam word eerder as mense hier onder op God se voetbank.
13 Ja, met sulke oënskynlike welslae teen die onderhouers van God se bevele toe die Eerste Wêreldoorlog ’n hoogtepunt bereik het, het die vyande gemeen dat hulle op die punt gestaan het om sy gehoorsame, toegewyde volk uit te wis. Laasgenoemde kon dus sê: “Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ék het u bevele nie verlaat nie” (Psalm 119:87). Die Opperwese in die heelal het die gemene komplot van die vermetele vyande verydel.
14. In watter sin kon die oorblyfsel die woorde van Psalm 119:45 spreek?
14 Ná hulle verlossing na die oorlog was hulle meer as ooit tevore bewus van die nodigheid om na God se bevele te soek ten einde uit te vind wat hy wou hê hulle in die onverwagte tydperk van vrede moes doen. Hulle kon die woorde van Psalm 119:45, (NW) uiter: “Ek wil op ’n ruim plek wandel, want u bevele het ek gesoek.”
Nou en tot in die toekoms
15. (a) Watter beskouing wat in Psalm 119 uiteengesit word, het God se volk verkry? (b) Waarop het hulle hulle sedert 1919 toegespits?
15 Namate hulle Koninkrykswerk na die eindes van die aarde uitgebrei het, het hulle vyande toegeneem. Maar dit het hulle nie bang gemaak sodat hulle God se instruksies uit hulle gedagtes verban het nie. Hulle volhard onverskrokke (Psalm 119:93, 94). Hulle is nie vergeetagtige hoorders van God se Woord, sy positiewe bevele inkluis, nie, maar het daders van sy werk geword. Wat kan hulle gevolglik nou sê om die eer aan Jehovah te gee sonder om groot te praat? Die volgende: “Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele” (Psalm 119:100, 104). Sedert die na-oorlogse jaar 1919 het hulle geen belang meer by die planne en reëlings van die nasies nie. Hulle het die Koninkryk van God in die hande van Christus onversetlik verkondig as die een en enigste hoop vir die mensdom, in plaas van die Volkebond en sy huidige opvolger, die Verenigde Volke. Hoe ‘verstandig’ tog!
16. Waarvan is ons oortuig, al word daar druk op ons uitgeoefen om te doen wat verkeerd is?
16 Wanneer God se Woord vir ons wat in hierdie tydvak van die Verenigde Volke lewe, sê om nie hierdie wêreld en die dinge daarin lief te hê nie, deel dit ons die goddelike bevele vir ons mee. Ons moet hulle as reg beskou; en dit is hulle wel! Ons stem volkome saam met Psalm 119:128: “Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek.” As gevolg van ons onversetlike standpunt sal wêreldlinge op ons neersien, maar dit is God se beskouing van ons wat tel, en daarom wil ons nie hê dat sy opdragte ons moet ontgaan nie.—Psalm 119:141.
17. Wat lê voor, en hoe sal Jehovah se volk goddelike beskerming vind wanneer teenstanders op hulle toesak?
17 Ondanks die feit dat God se Koninkryk in die hande van Christus nou al meer as 60 jaar lank intensief as die enigste hoop vir die wêreld van die mensdom verkondig word, slaan die knoeiers en beplanners van wêreldaangeleenthede geen ag daarop nie. Die hele mensdom word nou deur uitwissing deur middel van oorlogvoering met kernwapens bedreig. Daarbenewens word al hoe meer menseharte deur antigodsdienstige haat verbitter. Nadat alle vorme van valse godsdiens vernietig is, sal God se vyande met Jehovah se Getuies probeer afreken. Wanneer die ongodsdienstige teenstanders van God se Koninkryk op die oorblywende getuies van Jehovah toesak, sal laasgenoemdes meer as ooit tevore bomenslike hulp nodig hê. Hulle sal oordek moet word met die beskermende skadu van ’n almagtige hand, God se hand. Hulle sal ’n grondslag hê om te versoek dat daardie goddelike hand hulle tot hulp moet kom, net soos Psalm 119:173 sê: “Laat u hand my tot hulp wees, want ek het u bevele verkies.” Onder daardie uiters beproewende omstandighede sal Jehovah se hand nie te kort wees sodat dit nie ver genoeg kan reik om Godvresende onderhouers van sy bevele te red nie.—Jesaja 50:2.
18. (a) Waarom moet ’n mens in die regte geselskap wees om die einde van hierdie stelsel te oorleef? (b) Wat sal voortdurend vir ons ’n saak van erns wees aangesien ons weet wat die uitslag sal wees vir diegene wat Jehovah vrees?
18 In wie se geselskap wil ons aangetref word terwyl ons die katastrofiese einde van hierdie wettelose, liefdelose stelsel nader, asook die einde van die skeiding van die lede van die nasies soos wanneer ’n herder sy skape van die bokke skei? In die geselskap van die “bokke” wat vir ewig vernietig gaan word of in die geselskap van die “skape” wat Jehovah God liefhet? (Mattheüs 25:31-46). Ons kan nie ’n oomblik uitstel om die regte metgeselle te kies nie. Dit is nou die tyd om die keuse van die psalmis te doen, wat van die Opperwese gesê het: “Ek is ’n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou” (Psalm 119:63). Ons weet wat die lot sal wees van diegene wat Jehovah God vrees, en ons wil met hulle deel in hierdie sielsbevredigende lot, tot Jehovah se vreugde. Omdat ons hom liefhet, is dit vir ons ’n saak van groot en voortdurende erns om hom te behaag deur te doen wat hy van ons vereis. Die psalmis stel ons vaste voorneme goed wanneer hy sê: “Ek wil u bevele oordink en op u paaie let.”—Psalm 119:15.
19. Watter wonderlike werk word nou gedoen?
19 Sedert die einde van ’n wêreldoorlog, die eerste van sy soort, in 1918, het die allerhoogste God ’n wonderlike werk te midde van ’n geopponeerde wêreld gedoen. Dit is die werk om sy Getuies “hierdie evangelie van die koninkryk . . . in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” te laat verkondig met die oog op die naderende “einde” van hierdie stelsel wat duisende jare oud is (Mattheüs 24:14). Ons wil graag ’n aandeel in sy werk hê. Ons wil sy wil doen, en daarom vra ons hom om ons sy wil te laat doen. Ons hartgrondige gebed is nog steeds dié van Psalm 119:27: “Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink.”
20. Watter van God se wonderlikste werke moet nog gedoen word, en wat sal diegene wat behoue bly oor God se bevele sê?
20 Een van God se grootste wonders, wat nog verrig moet word, sal die beskerming van sy getroue en lojale getuies deur die komende einde van hierdie stelsel tot in die Nuwe Orde wees (2 Petrus 3:13). Dit sal regverdig van hom wees om hulle reg deur die dood van hierdie dodelik siek stelsel te bewaar. Hy sal hierdie geïnspireerde gebed van hulle verhoor: “Gewis, ek het ’n begeerte tot u bevele, maak my lewend deur u geregtigheid” (Psalm 119:40). Laat dit jou gebed wees. Na die grootste verdrukking in die hele wereldgeskiedenis en wanneer jy veilig in die poorte van die nuwe en regverdige stelsel is, sal jy opreg beweeg word om te sê: “Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak.”—Psalm 119:93.
’n Geheuehulp
◻ Watter “herinneringe” van God is vir jou beskikbaar?
◻ Hoe kan jy baat vind by God se herinneringe?
◻ Wat is Jehovah se “bevele”?
◻ Waarom behoort dit jou begeerte te wees om hulle uit te voer?
[Prent op bladsy 22]
God se knegte het vandag meer “herinneringe” waarby hulle baat kan vind
[Prent op bladsy 24]
Het jy verkies ‘om ’n metgesel te wees van “die skape” wat God se bevele onderhou’?