Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 7/15 bl. 4-7
  • Het God reeds jou lot bepaal?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het God reeds jou lot bepaal?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorbestemming—die implikasies
  • God se voorkennis
  • Deur God voorbestem
  • Noodlot
    Redenering uit die Skrif
  • Jehovah verkondig “van die begin af die uiteinde”
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Kan voorbeskikking met God se liefde versoen word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Die Here se Aandmaal
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 7/15 bl. 4-7

Het God reeds jou lot bepaal?

BAIE mense is daarvan oortuig dat God wel ’n persoon se lot voorbestem, en dat die Bybel hierdie gedagte ondersteun.

Sommige sal byvoorbeeld na die geval van Esau en Jakob verwys. Hulle was nog in die baarmoeder toe God voorspel het: “Die oudste sal die jongste dien” (Genesis 25:23). God het eweneens voor die tyd geweet dat Simson, Jeremia en Johannes die Doper magtige dade in hulle diens aan hom sou doen (Rigters 13:3-5; Jeremia 1:5; Lukas 1:13-17). Beteken dit nie dat hierdie individue tot ewige redding voorbestem was nie?

En wat dan van Judas Iskariot? Lank voordat hy gebore is, het Bybelse profesieë voorspel dat die Messias verraai sou word (Psalm 41:10; 55:13, 14). Die Bybel sê selfs dat Jesus Christus “van die begin af geweet het wie hom sou verraai.”—Johannes 6:64.

Wat lei jy uit die voorgaande punte af? Leer die Bybel wel dat God sommige tot ewige redding en ander tot veroordeling voorbestem het? Het God reeds jou lot bepaal?

Voorbestemming—die implikasies

Voordat jy hierdie vrae beantwoord, moet jy nadink oor die implikasies van voorbestemming. Indien hierdie leerstelling waar is, sou dit beteken dat God vooraf geweet het van alles wat uit sy skepping van die mens sou volg—die afwyking van Adam en Eva, die oorloë, die verdrukking, die leuens, die huigelary, die siekte. Deur sy woorde: “Laat Ons mense maak”, sou God dus al hierdie goddeloosheid aan die gang gesit het! (Genesis 1:26). Die vooruitsig op die ewige lewe wat God voor Adam en Eva gestel het, sou derhalwe bedrog gewees het. Dieselfde sou geld vir die Bybel se uitnodiging: “Laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”—Openbaring 22:17.

Maar die Bybel sê dat Jehovah ’n God is wat “groot van goedertierenheid en trou” is (Exodus 34:6). Hy sou ’n mens nooit iets aanbied wat hy geweet het onmoontlik is om te verkry nie. Jesus Christus het gevra: “Watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee; . . . As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Mattheüs 7:9-11). En indien God lank gelede presies voorbestem het wie ewige redding sal verkry en wie vir ewig vernietig sal word, ontstaan die vraag: Waarom sê die Bybel: “[Jehovah] is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom”?—2 Petrus 3:9.

Voorbestemming is dus strydig met wat die Bybel in werklikheid oor God leer. ‘Maar sou dit nie God se almag ondermyn as sy kennis van die toekoms beperk word nie?’ vra jy miskien. Glad nie. Ons leer byvoorbeeld in Titus 1:2 dat “God . . . nie kan lieg nie”. Maar ondermyn dit God se almag? Nee, dit beklemtoon eerder God se waarheidliewendheid.

Die apostel Paulus het Christene wat die gawe van profesie ontvang het, vermaan: “Gawes van die gees van die profete moet deur die profete beheer word. Want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korinthiërs 14:32, 33 NW). Sulke profete sou nie onoordeelkundig spreek nie, maar sou hulle profetiese boodskappe op ’n ordelike wyse met ander deel. Selfbeheersing was hiervoor nodig. God is dan ongetwyfeld ook in staat om sy voorkennis selektief te gebruik, slegs wanneer daar ’n rede of doel is om dit te gebruik.—Vergelyk Genesis 22:1, 12.

God se voorkennis

Slegs 40 jaar nadat die Israeliete as ’n nasie georganiseer is, het God voorspel dat hulle sy verbond met hulle sou verbreek. Maar hierdie voorkennis was nie ongegrond nie aangesien die nasie reeds weerspannig was en in opstand gekom het. God het derhalwe gesê: “Want Ek ken hulle gedagtes wat hulle vandag koester voordat Ek hulle inbring in die land wat Ek met ’n eed beloof het” (Deuteronomium 31:20, 21). Jehovah kon sien watter rigting die nasie sou inslaan net soos ’n vaardige bouer kan voorspel dat ’n gebou wat met minderwaardige materiale gebou is, sal ineenstort. Individue kon en het egter gehoor gegee aan en dus baat gevind by die raad wat God se profete gegee het.—Jeremia 21:8, 9; Esegiel 33:1-20.

Jesus Christus het eweneens ondergang vir die geestelike leiers, die skrifgeleerdes en Fariseërs, voorspel (Mattheüs 23:15, 33). Dit het egter nie beteken dat elke Fariseër of skrifgeleerde tot Gehenna bestem was nie. Die apostel Paulus was self voorheen ’n ywerige Fariseër!—Handelinge 26:4, 5.

God het weliswaar die handelwyse van sekere individue, soos Jakob en Esau, voorspel. Maar dit was nie voorbestemming nie. God het in die geval van Esau en Jakob eenvoudig voor die tyd geweet watter van die twee volksgroepe wat van hulle sou afstam oor die ander een sou heers (Genesis 25:23-26). Maar daar is geen aanduiding dat God hulle ewige lot bestem het nie. ’n Kind se geaardheid en temperament word skynbaar grotendeels deur genetiese faktore bepaal. Jehovah het miskien die genetiese samestelling van die ongebore Esau en Jakob in ag geneem om vas te stel watter seun oor die ander een sou heers.—Vergelyk Psalm 139:14-16.

Jehovah het op soortgelyke wyse sy voorkennis met betrekking tot Simson, Jeremia en Johannes die Doper gebruik. Hierdie voorkennis was egter nie ’n waarborg dat hulle tot die dood toe getrou sou bly nie. God het ook voorspel dat een van Dawid se seuns Salomo genoem sou word en dat hy gebruik sou word om die tempel te bou (1 Kronieke 22:9, 10). Salomo het nietemin afvallig geword toe hy ouer was.—1 Konings 11:4, 9-13.

Maar wat van Judas Iskariot? Is die verraderlike optrede van een van Jesus se dissipels nie vooraf duidelik voorspel nie? Ja, maar die profesieë het nie gesê watter dissipel die verraaier sou wees nie. Trouens, gestel Jesus het geweet dat Judas die verraaier sou wees. Dan sou Hy “medepligtig” gewees het aan daardie verraaier se sondes aangesien Hy Judas as ’n apostel aangestel het. (Vergelyk 1 Timotheüs 5:22, NAV.) God sou self ook ’n medepligtige gewees het aangesien Jesus vurig tot Jehovah gebid het voordat hy Judas verkies het.—Lukas 6:12-16.

Tog was Jehovah ‘nie onbekend met Satan se planne nie’. (Vergelyk 2 Korinthiërs 2:11.) Hy het geweet dat Satan die Duiwel al voorheen ’n man se boesemvriend as ’n verraaier gebruik het, soos hy in die geval van Dawid se vriend Agitofel gedoen het. Dit was derhalwe Satan, nie God nie, wat dit “in die hart van Judas Iskariot, die seun van Simon, ingegee” het om Jesus Christus te verraai (Johannes 13:2; 2 Samuel 15:31). Judas het toegelaat dat sonde die oorhand oor hom kry in plaas daarvan om sataniese invloed te weerstaan. En Jesus kon op die een of ander stadium Judas se hart lees en gevolglik sy verraad voorspel (Johannes 13:10, 11). Jesus het dus “van die begin af van Judas se verraad geweet—nie van sy eerste kennismaking met Judas af nie, maar van die “begin” van Judas se verraderlike optrede af.—Johannes 6:64.

Deur God voorbestem

God gebruik dus nooit voorkennis weens die een of ander gier nie. Die apostel Paulus het aan sy gesalfde mede-Christene gesê: “Ons [is] vantevore daartoe verordineer [voorbestem, NW] . . . ooreenkomstig die voorneme van Hom [Jehovah God] wat alles werk volgens die raad van sy wil” (Efesiërs 1:11). Sedert die mens se sondeval is dit God se doel om Sy naam deur middel van Sy Koninkryk te regverdig. Daarom het God by tye sy vermoë om die toekoms te voorsien vir daardie doel gebruik. Hy het byvoorbeeld voorbestem dat daar ’n klas medeerfgename saam met Jesus Christus in die Koninkryk sal wees, hoewel individue getrou moet bly om ’n deel daarvan te word.—2 Petrus 1:10, 11.

Kennis van die Bybel se duidelike leer oor die saak kan jou help om ’n gesonde beskouing van die toekoms te hê. God bepaal nie jou lot vooraf nie. Jy kan eerder die vrye wil gebruik wat Jehovah God gegee het aan skepsele wat “na sy beeld” geskape is (Genesis 1:27). Jy kan die verstandige keuse doen en heelhartig op Jehovah se aanbod van die ewige lewe reageer.—Johannes 17:3.

[Prent op bladsy 5]

Indien God geweet het dat Adam en Eva tot mislukking gedoem was, sou dit wrede bedrog gewees het om die ewige lewe voor hulle te stel

[Prent op bladsy 6]

Wanneer het Jesus besef dat Judas hom sou verraai?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel