God se Woord is lewend
Watter God sal jy dien?
DIE bogemelde vraag is vandag net so gepas soos dit byna 3 000 jaar gelede was. Jehovah se profeet Elia het destyds vir die volk van Israel gevra: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes?” Die volk kon nie besluit watter God hulle wou dien nie. Elia sê dus hier: “As [Jehovah] God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!”
Hoe kan die volk tot ’n besluit kom? Elia stel ’n vuurtoets voor. ‘Laat julle 450 profete van Baäl ’n jong bul neem’, sê hy, ‘dit in stukke verdeel en op die hout sit as ’n brandoffer, maar sonder om vuur te maak. En ek sal ’n ander jong bul neem en dieselfde daarmee doen. Laat hulle dan die naam van Baäl aanroep en ek sal die Naam van Jehovah aanroep. En die God wat met vuur antwoord, Hy is die ware God.’ Die hele volk stem in dat dit ’n goeie toets is.
Die profete van Baäl maak eerste ’n jong bul vir hulle altaar gereed. Dan roep hulle van die môre tot die middag: “o Baäl, gee ons antwoord!” Maar daar is geen antwoord nie. Teen die middag begin Elia met hulle spot: ‘Roep hard, miskien is hy besig om hom te ontlas. Of miskien slaap hy en moet hy wakker gemaak word.’ Hierop roep die profete van Baäl so hard as wat hulle kan en kerf hulleself met swaarde en spiese stukkend totdat die bloed loop. Maar steeds antwoord Baäl nie.
Nou herstel Elia die altaar van Jehovah wat afgebreek is. Hy verdeel die jong bul in stukke en lê dit bo-op die hout. Dan laat hy drie maal water op die brandoffer, die hout en die klippe van die altaar uitgiet. Hy vul ook die groot sloot wat hy rondom die altaar gemaak het met water.
Eindelik word dit aand, en Elia bid: “Antwoord my, [Jehovah], antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, [Jehovah], God is.” Daarop val vuur van Jehovah neer. Dit verteer die brandoffer, die hout, die klippe en die stof, en die water wat in die sloot is. Wanneer die volk dit sien, val hulle op hulle aangesig en sê: “[Jehovah], Hy is God, [Jehovah], Hy is God!”—1 Konings 18:21-40, vgl. NW.
Het jy al besluit watter God jy gaan dien? Jy kan nie op twee gedagtes hink nie. Daar is net een regte weg. Die god van hierdie stelsel, Satan die Duiwel, word vandag aanbid, maar nie soseer deur diens aan die een of ander landbougod soos Baäl van die ou tyd nie. Satan word eerder aanbid wanneer mense materiële dinge eerste stel en hulle eie belange bevorder in plaas daarvan om die wil van hulle Skepper, Jehovah God, te doen. Die keuse is dus joune. Jesus Christus het getoon wat die regte keuse is toe hy uit God se Woord aangehaal en gesê het: “Die Here [Jehovah] jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”—Mattheüs 4:10, vgl. NW.