Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 7/15 bl. 22-25
  • Deuteronomium spoor ons aan om Jehovah met innige vreugde te dien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Deuteronomium spoor ons aan om Jehovah met innige vreugde te dien
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Moses se eerste toespraak
  • Moses se tweede toespraak
  • Laaste toesprake, lied en seën
  • Van blywende nut vir getroue knegte
  • Glanspunte uit die boek Deuteronomium
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Bybelboek nommer 5—Deuteronomium
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • “Jehovah ons God is een Jehovah”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Leer ken Jehovah se weë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 7/15 bl. 22-25

Deuteronomium spoor ons aan om Jehovah met innige vreugde te dien

JEHOVAH se aanbidders moet hom getrou en met innige vreugde dien. Die Bybelboek Deuteronomium dra hierdie gedagte duidelik oor (Deuteronomium 28:45-47). Die aansporing daarin om sulke getroue, vreugdevolle diens te lewer, is van groot belang in die lewens van getuies van Jehovah in die twintigste eeu.

Die Hebreeuse profeet Moses het Deuteronomium in 1473 v.G.J. op die vlaktes van Moab geskryf en dit dek ’n tydperk van sowat twee maande. Josua of hoëpriester Eleasar het waarskynlik die laaste hoofstuk bygevoeg. Deuteronomium bestaan uit vier toesprake, asook ’n lied en ’n seën deur Moses toe Israel op die punt gestaan het om die Beloofde Land binne te gaan (Deuteronomium 1:3; Josua 1:11; 4:19). In Deuteronomium het Moses sekere gedeeltes van die Wet verduidelik en daaroor uitgewei. Die boek toon onder andere dat Jehovah uitsluitlike toewyding vereis. Dit waarsku ook teen valse aanbidding en spoor God se volk aan om getrou te wees in sy heilige diens.

Op watter spesifieke maniere het die woorde in Deuteronomium die Israeliete egter gehelp? En hoe kan hierdie boek Jehovah se Getuies vandag tot voordeel strek?

Die Israeliete was reeds ongeveer 40 jaar in die woestyn toe Moses hulle toespreek. Hy vertel kortliks van die rigters wat aangestel is om hom by te staan. Hy meld die tien verkenners se slegte verslag wat tot wederstrewigheid en hulle omswerwinge in die woestyn gelei het. Hy het ook oorwinnings wat God moontlik gemaak het, herroep. Moses waarsku teen die maak van afgode en beklemtoon dit deur te sê: “Die HERE jou God is ’n verterende vuur, ’n jaloerse God [’n God wat uitsluitlike toewyding vereis, NW].” Hierna het hy hulle aangespoor om Jehovah te gehoorsaam.—Deuteronomium 1:1-4:49.

In ’n tweede toespraak herhaal Moses eers die Tien Woorde en vertel hoe hulle die Wet ontvang het. Liefde vir Jehovah met hulle hele hart, siel en al hulle krag word beklemtoon. Aandag word op die onderrig van kinders gevestig. Sewe nasies van Kanaan en hulle afgode word vir vernietiging aangewys. Moses sê vir die Israeliete dat hulle nie ter wille van hulle geregtigheid gekies is nie, maar omdat Jehovah getrou is aan sy verbonde. Wanneer hulle in die Beloofde Land is, moet hulle gehoorsaam bly en God nie vergeet nie. Gevalle van ongehoorsaamheid word herroep en die noodsaaklikheid van opregte liefde en vrees vir God word beklemtoon. Seëninge en vloeke word voor Israel gestel en hulle word aangespoor om aan God gehoorsaam te wees.—Deuteronomium 5:1-11:32.

Daarna word wette rakende lewe in die Beloofde Land gemeld. Daar is onder meer voorskrifte oor die vernietiging van enige spoor van onreine godsdiens, die eet van vleis en die hantering van bloed, optrede teenoor valse profete en afvalliges, oor rein en onrein voedselsoorte en tiendes. Besonderhede word verstrek oor kwytskelding van skulde, slawerny en eerstelinge van die vee. Die drie jaarlikse feeste word bespreek, asook sekere geregtelike sake en wette vir konings en Leviete. Na waarskuwings teen spiritisme word die koms van ’n profeet soos Moses voorspel.—Deuteronomium 12:1-18:22.

Ander voorskrifte wat gemeld word, het betrekking op vrystede, vrystelling van militêre diens, die versoening van bloedskuld, huwelike met krygsgevange vroue, die eersgeboortereg, wederstrewige seuns, agting vir ander se besittings en vir die lewe, geslagsake en persone wat nie in die vergadering mag kom nie. Ander wette handel oor slawe, rente en geloftes. Hierdie toespraak word afgesluit met reëls oor sake soos egskeiding, lenings, barmhartigheid teenoor wese en weduwees, swaershuwelik, akkurate gewigte, die offer van die eerstelinge van die oes en tiendes.—Deuteronomium 19:1-26:19.

Moses se derde toespraak begin met die bevel om die Wet op groot klippe te skryf. Seëninge sou van berg Gerisim en vervloekinge van berg Ebal af uitgespreek word. Die seëninge vir gehoorsaamheid aan God se bevele word dan vergelyk met vervloekinge weens ongehoorsaamheid.—Deuteronomium 27:1-28:68.

In Moses se vierde toespraak is daar ’n vernuwing van die verbond tussen Jehovah en die Israeliete. Moses herinner hulle aan God se sorg in die woestyn. ’n Waarskuwing word gerig teen ongehoorsaamheid en Jehovah se barmhartigheid word beklemtoon. Laastelik word ’n keuse tussen die lewe of die dood voorgelê. Die nasie Israel ‘kan lewe deur Jehovah lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang’.—Deuteronomium 29:1-30:20.

Moses spoor die Israeliete aan om dapper te wees wanneer hulle die Beloofde Land binnegaan, want Jehovah trek voor hulle uit. Na die benoeming van Josua as leier word die wederstrewigheid van Israel voorspel. Hierna verheerlik Moses Jehovah in ’n lied, waarin hy die smarte weens Israel se ontrouheid voorspel maar afsluit met die versekering van goddelike wraak en die oproep: “Jubel, o nasies, oor sy volk”. Moses spreek laaste seëninge uit. Hierna sien die 120-jarige profeet die Beloofde Land, sterf hy en word hy deur Jehovah in ’n onbekende graf begrawe.—Deuteronomium 31:1-34:12.

Die voorgaande opsomming prikkel moontlik jou geestelike aptyt. Maar terwyl jy Deuteronomium deurlees, duik daar dalk belangrike vrae op. Kom ons beskou nou ’n paar van hulle.

Moses se eerste toespraak

• 4:15-24—Beteken hierdie vermaning teen die maak van beelde dat dit verkeerd is om foto’s van mense ten toon te stel?

Hierdie verse belet die maak van beelde vir valse aanbidding. Maar die Israeliete is nie belet om beelde vir einder gebruike te maak nie. Daar was byvoorbeeld afbeeldings van gerubs op die tabernakel se tentdoeke en die bedekking van die heilige ark wat God goedgekeur het. Dit sou onvanpas wees om die gewone neem en vertoon van foto’s met afgodediens te vereenselwig, tensy dit doelbewus vir valse aanbidding gebruik word. Daar is oor die algemeen geen Skriftuurlike beswaar teen foto’s, skilderye of beeldhouwerke wat ’n nuttige of kunstige doel dien in die uitbeelding van mense of voorwerpe nie.

Moses se tweede toespraak

• 6:6-9—Moet hierdie bevel om ‘God se wet op hulle hand te bind’ letterlik verstaan word?

Hierdie verse steun nie die gebruik om gebedsrieme (klein dosies wat Bybeltekste bevat) te dra nie. Die bewoording dui eerder op ’n figuurlike toepassing. (Vergelyk Exodus 13:9; Spreuke 7:2, 3.) Dit sê nie dat die gebooie op iets geskrywe moes word en dan deur ’n persoon gedra of aan deurposte en poorte vasgemaak moes word nie. Die Israeliete moes God se gebooie te alle tye in gedagte hou, hetsy hulle by die huis of op die pad of naby die stadspoorte was waar die oudstes regsake behartig het. Hulle moes God se wet in hulle hart bewaar, dit vir hulle kinders leer en deur hulle dade (afgebeeld deur die hande) toon dat hulle dit onderhou. Die volk moes hulself in die openbaar as handhawers van Jehovah se wet identifiseer, asof dit tussen hulle oë geskrywe was vir almal om te sien. Jehovah se Getuies wend vandag eweneens ’n poging aan om te toon dat hulle God se gehoorsame knegte is. Hulle harte beweeg hulle om sy Woord te gehoorsaam, en hulle vul hulle verstande met dinge wat waar, eerbaar, regverdig, lieflik, deugsaam en loflik is. Hulle probeer om in alles te toon dat Jehovah se bevele altyd voor hulle is.—Filippense 4:8; Kolossense 3:23.

• 8:3, 4—Beteken dit bloot dat die klere-voorraad aangevul is?

Die voorsiening van die manna was ’n voortdurende wonderwerk. Dit was ook die geval met die klere wat nie verslete geraak het en die voete wat gedurende die 40 jaar in die woestyn nie geswel het nie. As die voorraad klere net gewoonweg hernieu is, sou dit nie ’n wonderwerk gewees het nie. Dit sou nie ’n probleem wees om gedurende al daardie jare dieselfde klere te gebruik nie, want kinders se klere kon vir jongeres gegee word en klere sou vir ander beskikbaar word namate volwassenes gesterf het. Aangesien daar omtrent net soveel Israeliete aan die einde van die trek deur die woestyn was as aan die begin, sou die oorspronklike voorraad klere dwarsdeur die 40 jaar min of meer voldoende gewees het.—Numeri 2:32; 26:51.

• 14:21—Waarom kon die Israeliete “aas” (’n dier wat gevrek het) aan ’n vreemdeling gee of aan ’n uitlander verkoop, aangesien hulle dit self nie kon eet nie?

As die Opper-Wetgewer het Jehovah die reg gehad om sekere beperkinge net aan die Israeliete op te lê. Hulle was vir hom “’n heilige volk”. Ander nasies het nie hierdie verbod gehad op die eet van ’n dier wat gevrek het nie. Dit was nie onregverdig om ’n bloederige karkas vir ’n vreemdeling te gee of aan ’n uitlander te verkoop nie, want die Israeliete het nie die ontvanger of koper ’n rat voor die oë gedraai nie, en hulle het dit vrywillig aanvaar. Daar kan bygevoeg word dat Deuteronomium 14:21 ooreenstem met Levitikus 17:10 waar die vreemdeling belet is om bloed te eet. ’n Vreemdeling wat ’n proseliet was, mag nie bloed geëet het nie, maar hierdie verbod was nie van toepassing op ’n vreemdeling wat nie ’n volle proseliet was nie. So ’n persoon kon moontlik gebruike vind vir ’n bloederige karkas wat ’n getroue Israeliet of proseliet as onrein beskou het.

• 17:5-7—Waarom was dit ’n vereiste dat die hand van die getuies eerste teen ’n persoon moes wees wat tereggestel moes word?

Almal in Israel moes ’n ywer hê vir ware aanbidding en moes besorg wees om toe te sien dat die organisasie rein bly en dat geen oneer op Jehovah se naam gebring word nie. Die getuies moes hierdie ywer toon deur die leiding te neem om hierdie oordeel te voltrek. (Vergelyk Numeri 25:6-9; Deuteronomium 13:6-11.) Dit was natuurlik een ding om teen iemand te getuig en iets heeltemal anders om ’n persoon tereg te stel. Dit sou ’n getuie baie versigtig laat dink het wanneer hy getuienis aflê, en net ’n goddelose persoon sou valse getuienis lewer wetende dat hy die eerste een sou wees om die man of vrou om die lewe te bring. Jehovah se Getuies kan hierdie beginsels toepas deur ywerig te wees vir die reinheid van die gemeente en deur ook seker te maak dat hulle eerlike getuienis aflê. Ons moet tog elkeen aan die Opper-Regter, Jehovah, rekenskap gee.—Mattheüs 12:36, 37.

• 22:5—Betaam dit ’n vrou, in die lig van hierdie verbod, om ’n langbroek te dra?

Die doel van hierdie wet was klaarblyklik om geslagmisbruike en -verwarring te voorkom. Wat voorkoms en kleredrag betref, wil ’n man gewoonlik soos ’n man lyk, en ’n vrou soos ’n vrou. As ’n Israeliet strydig met hierdie innerlike sin van wat betaamlik is, gehandel het, kon dit tot homoseksualiteit aanleiding gee. Hoewel mans sowel as vroue destyds jurke gedra het, was daar ’n verskil tussen die drag van mans en dié van vroue. Mans sowel as vroue in party dele van die aarde dra vandag eweneens langbroeke, hoewel die style vir die twee geslagte verskil. Die beginsel in hierdie teks maak dit nie vir ’n Christenvrou onbetaamlik om soms ’n langbroek te dra om byvoorbeeld ’n taak by die huis of op ’n plaas te verrig nie. En in ooreenstemming met plaaslike gebruike en omstandighede kan langbroeke in koue klimaatstreke die gewenste kleredrag wees. Die Bybel vermaan vroue dat hulle hulle moet “versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid”.—1 Timotheüs 2:9, 10.

• 24:6—Waarom sou dit wees asof die lewe as pand geneem word, as die handmeul of die boonste maalklip as pand geneem word?

Daar is gewoonlik daagliks brood gebak en graan moes dikwels tot meel gemaal word. ’n Gesin se daaglikse brood het dus van die handmeul afgehang. God se wet het dus genadig verbied dat ’n persoon se handmeul of die boonste maalklip as pand geneem word. As een van die twee as pand geneem word, sou dit die gesin hulle daaglikse brood ontneem en daarop neerkom dat ’n “lewe” of “lewensmiddel” as pand geneem is.

Laaste toesprake, lied en seën

• 32:39—Hoe kan daar geen god naas Jehovah wees nie as Johannes 1:1 (NW) sê: “Die Woord was by God en die Woord was ’n god”?

Hierdie tekste bespreek totaal verskillende sake. Die gedagte in Deuteronomium 32:39 is dat valse gode niks met die ware God, Jehovah, gemeen het wat sy reddingswerke betref nie. Hulle kan nie hulle aanbidders uit rampe verlos nie, en sulke gode het Jehovah in niks gesteun wat hy gedoen het nie. Hoewel die “Woord” ’n god of magtige een is, is hy nie ’n teenstander of mededinger van Jehovah soos die valse gode was nie.—Deuteronomium 32:12, 37, 38.

• 33:1-29—Waarom is Simeon nie in hierdie seën ingesluit nie?

Simeon en Levi was saam skuldig aan ’n wrede daad, en hoewel hulle ook ’n erfdeel in Israel ontvang het, het dit van die ander stamme se erfdele verskil. Daar is 48 stede dwarsoor die land aan die Leviete gegee, terwyl Simeon se aandeel deur die gebied van Juda omsluit is (Genesis 34:13-31; 49:5-7; Josua 19:9; 21:41, 42). Toe Moses dus sy aandag op Juda gevestig het, het hy geweet dat Simeon se erfdeel daarby ingesluit was. Die stam van Simeon was buitendien by die algemene seën ingesluit: “Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ’n Volk wat deur die HERE verlos is.”—Deuteronomium 33:29.

Van blywende nut vir getroue knegte

Deuteronomium strek tot die blywende voordeel van Jehovah se knegte, en ons kan waardevolle raad daaruit put. Tydens die inval van Kanaan het Josua byvoorbeeld raad wat nou in hierdie boek opgeteken is, noukeurig gevolg. Ons behoort eweneens goddelike leiding geredelik te aanvaar (Deuteronomium 20:15-18; 21:23; Josua 8:24-29). Jesus het uit Deuteronomium aangehaal toe hy Satan met welslae teengestaan het. Soos Jesus erken ons dat die mens van die woorde van Jehovah moet lewe, dat ons God nie op die proef moet stel nie en dat ons heilige diens hom alleen toekom.—Mattheüs 4:1-11; Deuteronomium 5:9; 6:13,  16; 8:3.

Hierdie boek identifiseer Jehovah as ’n God wat uitsluitlike toewyding vereis (Deuteronomium 4:24, vgl. NW; 6:15, vgl. NW). Dit sê ook: “Jy [moet] die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag” (Deuteronomium 6:5). Deuteronomium spoor ons dus hoofsaaklik aan om Jehovah getrou te dien. Mag ons derhalwe met innige vreugde ons heilige diens aan hom lewer.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel