Macao—’n Reputasie vir volharding
AS DIE oudste Westerse nedersetting op die Chinese kus hou Macao al ver oor die 400 jaar uit. Maar in hierdie land van kontraste kan ’n ander soort volharding gesien word—volharding wat tot hoop lei.—Romeine 5:3, 4, vgl. NW.
Kort nadat Columbus Amerika ontdek het, het die Portugese ontdekkingsreisiger Jorge Alvares by hierdie klein skiereiland van 1,6 by 4,8 kilometer by die monding van die Pearl-rivier uitgekom. Omdat Portugal besef het hoe belangrik Macao as ’n poort tot die beroemde China van Marco Polo se reise is, het hulle die besit van Macao verseker deur in 1557 ’n verdrag met China te sluit. Dit het weldra die besigste handelspos in die Verre Ooste geword.
Die godsdienslewe aldaar
Daar is gesê dat die Katolieke Kerk net ’n halwe tree agter die ontdekkingsreisigers en handelaars was. Teen die tyd dat Macao as handelspos belangrik geword het, het dit ook “die voorpos van die Christendom in die Ooste” geword. Gedurende sy “goue eeu” het die bisdom van Macao jurisdiksie oor die kerk se belange in die hele China en Japan uitgeoefen. Deesdae hang die meeste van Macao se inwoners, daar hulle Chinese is, geen bepaalde godsdiens aan nie, behalwe miskien die tradisionele Chinese gebruike wat met vooroueraanbidding of Boeddhisme gepaard gaan. Hulle maak ’n groot ophef van troues, begrafnisse en feesdae.
Dit is egter ’n paradoks dat hierdie “voorpos van die Christendom in die Ooste” in werklikheid sy naam van ’n Oosterse godheid gekry het. Die Catholic Encyclopedia sê vir ons dat die Portugese naam Macao “glo van Chinese oorsprong is en saamgestel is uit Ma, die naam van ’n plaaslike godheid en gau, ‘hawe’”. A-Ma is inderdaad die tradisionele naam van ’n Chinese godin van matrose en vissers, en haar heiligdom is die Ma Kwok-tempel. In ’n poging om dit te kersten, het die Portugese die amptelike naam “A Cidade do Santo Nome de Deus de Macau”—’n Stad van die Heilige Naam van God van Macao—gebruik.
As enige god vandag die “God van Macao” genoem kan word, is dit waarskynlik die “Geluksgod”. Daar is gesê dat Macao meer kerke as die Vatikaanstad en meer dobbeltafel as Monte Carlo het. Benewens die casino’s met hulle groot verskeidenheid Chinese en Westerse spele, is daar jai alai, perdetentoonstellings, windhondwedrenne sowel as motor- en motorfietswedrenne tydens die jaarlikse Grand Prix in Macao. Dit lok dobbelaars van dwarsoor die wêreld en hulle hou Macao finansieel aan die gang. Die lewenswyse aldaar word grootliks deur hulle beïnvloed, indien nie oorheers nie.
Hoe ware godsdiens Macao bereik het
Dit was eers in 1961 dat ’n ligstraaljie omtrent die ware God in hierdie ‘Stad van die Heilige Naam van God’ begin skyn het. Dit was die begin van ’n belangriker voorbeeld van volharding.
’n Getuie van Jehovah het van Portugal af saam met haar man, wat in die leër was, na Macao gekom. Haar pogings om onder die Portugeessprekendes te preek, was nie baie geslaag nie, en nuwe “vriende” het haar weldra vermy. Die een persoon wat belangstelling getoon en die Bybel begin studeer het, het nie Portugees gepraat nie, en het stadig gevorder. Die suster se man is egter kort daarna uit Macao verplaas en daar was niemand om met die predikingswerk voort te gaan nie.
Omdat hulle so naby is, laat Macao Chinese inwoners van Hongkong toe om sonder spesiale visums of permitte te kom en te gaan. In Februarie 1963 het twee Chinese spesiale pioniers (voltydse predikers) dus van Hongkong af gekom om weer met die Koninkrykswerk te begin, veral onder die oorwegend Kantoneessprekende bevolking. Ofskoon dit “ongebraakte grond” was, is die boodskap omtrent die ware God en sy hemelse Koninkryksregering nie hartlik verwelkom nie. Die meeste mense was net te besig en het te veel gesukkel om ’n bestaan te voer om in geestelike dinge belang te stel. Die pioniers het nietemin ’n belangstellende gesin van Indonesië teëgekom. Deur ’n mengsel van Kantonees, Engels sowel as Indonesies het die ouer seun, Johnnie, en sy suster, Shirley, uiteindelik die Bybel se waarheid aanvaar. Nou dien Shirley en haar man, wat in 1975 van Hongkong af gekom het, ook as spesiale pioniers in Macao.
Hoewel die aanvanklike getuieniswerk in Macao redelik gou twee verkondigers van die goeie nuus opgelewer het, het die daaropvolgende jare buitengewone volharding geverg. Beproewinge en ontmoediging het uit talle oorde gekom. Tussen 1963 en 1968 is nege spesiale pioniers na Macao gestuur, maar teen Augustus 1968 was slegs een oor om die groepie, wat toe uit vyf bestaan het, te help. Wat het gebeur?
Druk uit talle oorde
Aangesien daar slegs ’n afgesonderde groepie Getuies in Macao was, is slegs verkorte weeklikse vergaderinge gehou. Mense se reaksie op die Koninkryksboodskap was stadig, net soos die lewenswyse. Dit het party wat kom help het, ontmoedig of met heimwee gevul. Hulle het gevolglik teruggekeer Hongkong toe. Ander is om persoonlike redes weg.
Op ’n dag in 1965 het die Portugese geheime polisie in Macao onverwags by ’n Getuiegesin se huis aangekom waar ’n Bybelvergadering aan die gang was. Hulle het al die Bybels en Bybellektuur gekonfiskeer en almal daarteen gewaarsku om sulke vergaderinge by te woon. Daar die werk van Jehovah se Getuies op daardie tydstip in Portugal verbied was, het die Macao-owerheid twee susters wat spesiale pioniers was in hegtenis geneem en gedeporteer. Dit was natuurlik ’n groot terugslag vir die groepie nuwes wat Jehovah begin dien het.
Die paar Getuies het nietemin standvastig gebly. ’n Paar maande later het ander spesiale pioniers aangekom om saam met die broers te werk en hulle te bemoedig. Omdat hulle versigtig moes wees, het hulle net vir die Chinese gepreek ten einde nie weer teenkanting te wek nie. Maar nog beproewinge van volharding het voorgelê.
In 1966 het die onrus op die Chinese vasteland woelinge in Macao veroorsaak. Opstande en ander druk is op die Portugese regering van Macao uitgeoefen om Chinese eise en soewereiniteit te erken. Dit het toe vir die Getuies noodsaaklik geword om nie net die Portugese gebied te vermy nie, maar ook enige gebied met sterk kommunistiese neigings ten einde gepeupelmolestasie of selfs ernstiger situasies te voorkom. Maar soms is die pioniers onverwags deur groepe dreigende en fanatiese mense gekonfronteer. Stille gebede en waaksaamheid het hulle uit talle sulke noue ontkomings laat kom.
Sedertdien het dinge baie bedaar. Dit, tesame met die amptelike erkenning van Jehovah se Getuies in Portugal, het beteken dat die paar Getuies in Macao hulle werk met min inmenging van die Chinese of Portugese owerheid kon voortsit.
Werk- en huisskaarste, weens die instroming van vlugtelinge en ander immigrante was nog ’n hindernis vir die Getuies. Omdat hulle moet meeding vir die werk wat daar wel is, werk die meeste mense van vroeg tot laat vir karige lone en kry hulle slegs twee dae per maand af. Die huur is so hoog dat ’n klein vertrekkie of selfs net ’n hoekie vir ’n slaapbank in ’n woonstel die meeste van hulle inkomste verorber. Dit is maklik om te sien waarom talle dit moeilik vind om toe te pas wat hulle uit die Bybel geleer het.—Mattheüs 6:33; 13:22.
As gevolg hiervan was die vordering stadig. Oor die jare heen moes party wat die waarheid aanvaar het, wegtrek, terwyl ander geswig het voor die druk en versoekinge van hierdie stelsel. Daarom is daar selfs vandag net 11 verkondigers van die goeie nuus aan die een gemeente in Macao verbonde. Daar heers nietemin ’n goeie, gelukkige en positiewe gees en die broers is nie ontmoedig nie. Die besoeke van reisende opsieners van Hongkong af en die bywoning van kring- en streekbyeenkomste is hoogtepunte wat die paar verkondigers uiters geloofversterkend vind.
Onlangse uitbreiding
In Augustus 1979 het ’n sendelingegpaar van Portugal in Macao aangekom om saam met die gemeente te werk. Dit was ’n groot seën. Want hulle was nie net in staat om ’n deeglike getuienis vir die Portugese gemeenskap te gee nie, maar hulle leer ook Kantonees sodat hulle onder die Chinese bevolking kan werk.
Dit het egter nie by die Katolieke Kerk onopgemerk gebly nie. Kerkpublikasies het waarskuwings oor die “gif” van Jehovah se Getuies bevat en Katolieke is gemaan om nie met die sendelinge te praat tensy hulle “voorbereid” is nie. Maar sulke “waarskuwings” het net die teenoorgestelde uitwerking gehad. Dit het tot talle interessante gesprekke gelei en mense wat voorheen geen belangstelling getoon het nie, wou die Bybel bespreek.
Die Genootskap het onlangs ’n sendelinghuis gekoop om as woonkwartier vir die sendelingegpaar en ’n spesiale pionier te dien. Die “ruim” woonkamer dien ook as ’n goeie Koninkryksaal. In Maart 1983 het 38 persone die Herdenking van Christus se dood bygewoon. Alle vergaderinge word saans gehou om hierdie belangstellendes op ’n gereelde grondslag te help, aangesien talle van hulle sewe dae per week moet werk. Omtrent 20 kom elke week na die openbare Bybeltoespraak toe; talle van hulle woon ook die ander vergaderinge by. Die paar broers berei week na week al die vergaderingdele getrou voor sonder om te kla. Wat ’n uitstekende voorbeeld van volharding!
Oor die afgelope 20 jaar of wat is baie, baie ure daaraan bestee om tienduisende stukke Bybellektuur onder die Portugese sowel as Chinese inwoners van Macao te versprei. Ofskoon die vermeerdering wat getalle betref klein was, gaan die paar getroue Getuies hier voort om ’n uitstekende reputasie vir volharding op te bou. Hulle onthou Jehovah se woorde aan Esegiel: “Jy moet hulle my woorde verkondig, of hulle al luister of nie” (Esegiel 2:7). Dit doen hulle, en hulle sal voortgaan om dit te doen, tot lof van Jehovah.
[Kaart op bladsy 29]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
CHINA
MACAO
TAIWAN
FILIPPYNE
[Kaart]
CHINA
MACAO