Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 8/15 bl. 15-20
  • Hoe om bekwame bedienaars te word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om bekwame bedienaars te word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie se metodes moet ons gebruik?
  • Die eerste hindernis
  • Hoe mense reageer
  • Van vreemdelinge tot vriende
  • ’n Doeltreffende bediening wat tot meer dissipels lei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Moet alle ware Christene bedienaars wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Voer jy jou bediening ten volle uit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Word progressiewe en aanpasbare bedienaars
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 8/15 bl. 15-20

Hoe om bekwame bedienaars te word

“Daarom het ek Timotheüs . . . na julle gestuur. Hy sal jul herinner aan my handelwyse in Christus, soos ek oral in elke gemeente leer.”—1 KORINTHIËRS 4:17.

1, 2. Wat is ’n noodsaaklike faktor voordat’ n persoon deur die waarheid getrek sal word? (Handelinge 8:12)

NA DIE uitgieting van die heilige gees op Pinkster, 33 G.J., het die Christengemeente gegroei en vinnig versprei (Handelinge 2:40-42; 4:4; 6:7; 11:19-21). Wat was die sleutel tot sy sukses? Waarom het soveel Jode en toe Samaritane en nie-Jode Christus en die boodskap oor God se Koninkryk aangeneem?—Handelinge 8:4-8; 10:44-48.

2 Voordat ’n persoon die Christelike evangelie kan aanneem, moet sekere faktore in die spel kom. Eerstens, ’n mens moet waardering hê vir God se onverdiende goedheid teenoor die mensdom deur die inisiatief te neem om sy Seun as ’n losprysoffer na die aarde te stuur. Die Bybelskrywer Johannes het dit soos volg gestel: “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes.”—1 Johannes 4:9, 10.

3. Waarom moet ’n mens bewus wees van jou geestelike behoefte?

3 Nog ’n belangrike faktor is elke persoon se gesindheid teenoor geestelike waardes. Jesus het gesê: “Gelukkig is diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle. Gelukkig is die wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Mattheüs 5:3, 6). ’n Selfvoldane, eiegeregtige persoon is gewoonlik nie bewus van enige geestelike behoefte nie en is nie langer vatbaar vir die waarheid nie. Wanneer Jehovah se Getuies die Koninkryksboodskap na so ’n persoon bring, sal hy dikwels antwoord: ‘Ek stel nie belang nie. Ek het my kerk.’ Die persoon wat diep betrokke is by materiële strewes sal eweneens nie tyd vir geestelike sake hê nie.—Mattheüs 6:33, 34; 7:7, 8; Lukas 12:16-21.

4. Watter vrae gaan nou bespreek word?

4 Maar wat van diegene wat “bewus is van hulle geestelike behoefte” en gereed is om God en sy Koninkryk te soek? Hoe kan hulle gevind en uitgeken word? Is daar enigiets wat ons as bedienaars van God se Woord kan doen om ons boodskap begrypliker te maak? Hoe kan ons bekwamer bedienaars wees?

Wie se metodes moet ons gebruik?

5. Wat sou Timotheüs die Korinthiërs volgens Paulus leer?

5 Toe die apostel Paulus sy eerste brief aan die Christene in Korinthe geskryf het, het hy vir hulle gesê dat hy Timotheüs na hulle stuur en dat dié ‘hulle sou herinner aan Paulus se metodes in Christus Jesus’. In plaas van “metodes” praat sommige vertalings van “handelwyse”, “lewenswyse” of “die manier waarop ek lewe”. Maar professor Thayer se Greek-English Lexicon of the New Testament doen die volgende aan die hand as ’n vertolking van hierdie teks: “Die metodes wat ek as Christus se bedienaar en apostel volg ter vervulling van my amp.” Aangesien Paulus die sin afsluit met “soos ek oral in elke gemeente leer”, is dit redelik om aan te neem dat sy opmerkings betrekking het op sy daadwerklike bediening en nie net op sy persoonlike Christelike gedrag nie.—1 Korinthiërs 4:17.

6. Waarom was Jesus se bediening doeltreffend?

6 Jesus se bediening was nie lukraak nie. Sy prediking was ook metodies. Hy het byvoorbeeld sy apostels, en later die 70 evangeliste, sorgvuldig geleer hoe om op bekwame wyse te preek. Sy voortdurende gebruik van gelykenisse, vrae en Skrifaanhalings was vir hulle ’n voorbeeld. Dit is vandag nog steeds die beste metode.—Lukas 9:1-6; 10:1-11.

7. Hoe kan ons die goeie nuus aan die grootste getal mense verkondig?

7 Die Christelike bediening is ’n saak van ewige lewe of dood. Hoe kan ons dan die goeie nuus aan die grootste getal mense verkondig? Ja, hoe kan ons “rein [wees] van die bloed van almal”? Deur elke vertakking van die diens te benut, en soos die apostel Paulus gesê het, sluit dit die bediening “van huis tot huis” in. Een Spaanse kommentaar oor Handelinge 20:20 sê: “Hier het ons die predikingsmetode wat Paulus in Efese gevolg het.”—Handelinge 20:20-27, vgl. NW.

Die eerste hindernis

8, 9. (a) Wat is dikwels die eerste hindernis in die bediening? (b) Waarom kon Jesus met vrymoedigheid spreek?

8 Die eerste hindernis wat ons in die bediening te bowe moet kom, is heel dikwels onsself. Party voel selfbewus, onvolwaardig en nie geleerd genoeg vir die mense wat hulle teëkom nie. Maar hoe het Jesus gevoel? Het hy aan die rabbynse skole gestudeer? Het hy universiteitsopleiding gehad? Hoe het sy eie volk egter gereageer toe hy gepreek het? Mattheüs deel ons mee: “Hulle was verslae en het gesê: Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan?” Jesus was weliswaar volmaak, die Seun van God. Maar sy metodes was ook prakties vir sy grotendeels “ongeletterde” dissipels wat hom moes navolg. Watter reaksie het hulle by mense, selfs by hulle godsdiensvyande, uitgelok? “Toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.”—Mattheüs 13:54; Handelinge 4:13.

9 Maar waar het Jesus al daardie dinge wat hy geleer het, gekry? Waarom was hy so suksesvol in sy bediening? Het hy soos hedendaagse TV-predikers oordrewe emosie gebruik om sy gehoor mee te sleep? Nee. Jesus se grondslag was die eenvoud self—hy het die taal van die gewone mense gepraat, hy was bewus van hulle geestelike behoeftes en, van die grootste belang. Jesus het geweet dat hy sy Vader se steun gehad het. Hy het dit duidelik gestel toe hy sy bedieningsopdrag in die sinagoge in sy tuisdorp, Nasaret in Galilea, aangekondig het. Hy het uit die boekrol van die profeet Jesaja gelees: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan die gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. . . . . Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.”—Lukas 4:16-21.

10, 11. (a) Hoe moet ons oor ons bediening voel? (b) Hoe antwoord Paulus?

10 Ons het vandag dieselfde steun in ons bediening—Jehovah God, die Soewereine Heer van die heelal. Ons verkondig sy boodskap, sy wysheid. Ons beroep ons op sy Woord en ons gebruik dit vryelik in ons gesprekke. Moet ons dan huiwer om selfs vir meer geleerde of ryker persone te preek?

11 Paulus antwoord: “Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? . . . Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.”—1 Korinthiërs 1:18-29.

12. Waaruit spruit sukses in ons bediening? (Jakobus 4:8)

12 Welslae in die bediening spruit nie uit ons geleerdheid of herkoms nie. Dit spruit uit die Koninkryksboodskap self wat ingang vind in die hart van die persoon wat bewus is van ’n geestelike behoefte. Nog ’n faktor is Jehovah se toegeneentheid vir daardie persoon, want Jesus het gesê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie.”—Johannes 6:44.

13. (a) Hoe het Paulus en Barnabas op teenstand gereageer?(b) Hoe kan ons altyd vreugde in die bediening smaak?

13 As ons dus op Jehovah se steun vertrou, kan ons ons bediening met oortuiging vervul net soos Paulus en Barnabas in die eerste eeu gedoen het. Toe hulle in Ikonium gepreek het, het hulle bediening ’n groot meningsverskil veroorsaak en teenstand uitgelok. Het dit hulle laat terugdeins? Lukas se verslag deel ons mee: “Hulle het toe ’n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind.” As ons eweneens positief ingestel is op die mense in ons gebied en die resultate in Jehovah se hande laat, sal die bediening altyd vreugde verskaf en nooit ’n las wees nie.—Handelinge 14:1-3; Jakobus 1:2, 3.

Hoe mense reageer

14. Hoe het mense op Paulus se prediking gereageer?

14 Jesus en Paulus se prediking het nie altyd ’n gunstige reaksie uitgelok nie. Hoe het die publiek byvoorbeeld gereageer toe Paulus in Athene gepreek het? Die verslag deel ons mee: “Sommige van die Epikureïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy ’n verkondiger is van vreemde gode—omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het. En hulle het hom geneem en op die Areopagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word? Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore.”—Handelinge 17:18-20.

15. Hoe reageer mense op jou bediening? Maar wat moet ons onthou?

15 Ons moet besef dat ons boodskap en die media en teenstanders se weergawe daarvan ook vir ons hedendaagse publiek vreemd kan klink. Baie mense wat deur hoorsê beïnvloed is, oordeel die saak gevolglik vooruit en verwerp ons sonder om na ons te luister. Ander, soos die mense in Athene, win meer inligting in voordat hulle ’n besluit neem. Nadat hulle geluister het, kan hulle natuurlik nog steeds met die Koninkrykshoop spot as iets wat ongelooflik is. Onthou egter dat dit Christus en sy boodskap is wat deur hulle verwerp word, nie jy nie.—Handelinge 17:32-34; Mattheüs 12:30.

Van vreemdelinge tot vriende

16. (a) Hoe sal ons dalk reageer wanneer vreemdelinge ons huis besoek? (b) Wat moet ons inleiding doen?

16 Hoe voel jy wanneer vreemdelinge na jou huis kom? Watter vrae kom by jou op? Waarskynlik: Wie is hulle? Wat wil hulle hê? Gaan hulle my moeite gee? Ons moet dit in gedagte hou wanneer ons as bedienaars by iemand anders se deur aanklop. Ons inleiding moet hulle dus gerusstel wat daardie vrae betref. Maar hoe? Wel, wat het Jesus as ’n inleiding aan die hand gedoen? Hy het gesê: “As julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer.”—Mattheüs 10:12, 13.

17. Hoe kan ons ’n persoon in ons inleiding op sy of haar gemak stel?

17 “Laat julle vrede daarop kom.” Wat dui dit aan? Dat ons elke persoon en huisgesin in ons bediening ons vrede toewens. Ons eerste woorde moet gevolglik toon dat ons vredeliewende bedienaars van God is. Tot vandag toe gebruik Jode en Moslems die begroeting “Vrede vir jou” of “Vrede” (“Shalom aleichem” of “Shalom” in Hebreeus, en “Assalām ’alaikum” of “Salām” in Arabies). Ons begroeting sal natuurlik van land tot land verskil afhangende van die plaaslike gebruik. Maar die doel is dieselfde—om die persoon op sy of haar gemak te stel sodat hy of sy na die Koninkryksboodskap sal luister. As jy eers jou naam verstrek en selfs melding maak van waar jy woon, sal dit help om hulle op hulle gemak te stel. Dit toon dat jy niks het om weg te steek nie. Jou doel en eerlikheid is vir almal opvallend. Dan doen jy wat Paulus gesê net: “Sorg dat julle openbare gedrag onberispelik is. Lewe in vrede met almal, sover dit van julle afhang.”—Romeine 12:17, 18, Phillips.

18. Watter standaard moet ons altyd in ons bediening bereik?

18 Of ons nou van huis tot huis of op straat in die bediening is, ons is in die publiek se oog. Ons gesprekke en gedrag moet altyd onberispelik en onaanstootlik wees. Maar hoewel ons aanbieding sag en vreedsaam moet wees, moet dit nie apologeties wees nie. Ons is nie skaam dat ons openbare bedienaars van God is nie.—Markus 8:38.

19, 20. (a) Hoe kan ’n mens meer ingetoë mense op straat nader? (b) Waarom het Jesus welslae behaal met die informele benadering?

19 In sommige nasies is mense meer ingetoë en konserwatief. Sommige word in die verleentheid gestel wanneer hulle op straat genader word deur iemand met tydskrifte in die hand. In daardie geval kan hulle gerus taktvoller genader word. ’n Mens kan taktvol ’n gesprek aanknoop met ’n persoon wat nie haastig is nie en dan Bybellektuur op ’n natuurlike wyse uithaal.

20 Jesus het ’n soortgelyke predikingsvorm beslis bekwaam gebruik. Aangesien die Jode gewoonlik neergesien het op Samaritane en vroue, het Jesus die onsedelike Samaritaanse vrou by die fontein van Jakob versigtig benader. Sy gesprek is ’n model vir informele getuieniswerk en getuieniswerk op straat. Dit is ook ’n goeie voorbeeld van medelydende en opbouende onderrig.—Johannes 4:5-30.

21. Watter ander noodsaaklike faktor word deur Paulus se bediening toegelig?

21 Nog ’n noodsaaklike faktor moet inag geneem word wanneer ons begin om oor die goeie nuus van die Koninkryk te praat. Paulus was ’n meester op hierdie gebied. Kyk of jy dit kan raaksien in sommige van sy inleidings wat aangetref word in Handelinge 13:16-20; 17:22 en 22:1-3. Let op dat hy by elke geleentheid gesoek het na iets wat hy met sy gehoor gemeen gehad het. Hy kon hom met hulle en hulle agtergrond vereenselwig. Die gevolg was dat hulle geluister het selfs al het hulle nie met hom saamgestem nie. In ons inleiding kan ons ons eweneens op die huisbewoner se menslikheid beroep deur die punt wat ons met hom gemeen het, te gebruik. Jy merk dalk op dat daar kinders in die huis is, en jy is self ’n ouer. Dan het julle iets gemeen, ’n vriendelike grondslag. Jy het ’n punt van bespreking wat na die Koninkryksboodskap kan lei!—Mattheüs 18:1-6.

22. Watter vrae moet nou beantwoord word?

22 Maar hierdie wenke is slegs die begin. Watter verdere stappe is nodig om eindelik nog ’n dissipel voort te bring? Ja, wat nog is nodig om iemand anders te help om deur Christus ’n verhouding met God te hê? Watter eienskappe sal jou bediening doeltreffender maak?

Wat sal jy sê?

◻ Wat is sommige van die faktore wat ’n rol speel by ’n persoon se aanvaarding van die Koninkryksboodskap?

◻ Hoe kan ’n mens skugterheid en selfbewustheid in die bediening te bowe kom?

◻ Wat moet die doel van ons inleidings in die velddiens wees?

◻ Hoe kan Jesus en Paulus se voorbeeld ons help in die wyse waarop ons mense benader?

[Prent op bladsy 17]

Jesus het sy dissipels doeltreffende metodes vir die bediening geleer

[Prent op bladsy 19]

Watter vrae kom by jou op wanneer ’n vreemdeling by jou deur aanklop?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel