Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 8/15 bl. 21-24
  • ’n Doeltreffende bediening wat tot meer dissipels lei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Doeltreffende bediening wat tot meer dissipels lei
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die grondslag? En die boodskap?
  • Val jy aan of trek jy aan?
  • Hoe om die hart te bereik
  • Wie se dissipels?
  • Hoe om bekwame bedienaars te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Wie is vandag God se bedienaars?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Moet alle ware Christene bedienaars wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • “Vervul jou bediening”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 8/15 bl. 21-24

’n Doeltreffende bediening wat tot meer dissipels lei

“Dít is die ‘gawes’ wat Hy ‘gegee het’: . . . evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens.”—EFESIËRS 4:12, NAV.

1. Hoe het Christus oor mense gevoel?

JESUS CHRISTUS was nie ’n kluisenaar nie. Sy bediening was geheel en al op mense ingestel. In die vier Evangelieverslae het Jesus feitlik altyd met mense te doen. Op sy reise het hy hulle ware toestand gesien en innig jammer vir hulle gevoel. Voel jy, as jy ’n Christenbedienaar is, innig jammer vir die mense wat jy teëkom?—Mattheüs 9:35, 36.

2. Hoe volg Jehovah se Getuies Jesus se voorbeeld?

2 Die Christelike bediening moet vandag ook op mense ingestel wees. Omdat Jehovah se Getuies van daardie feit bewus is, het hulle ’n aanpasbare benadering in hulle diens aan God. Rondom die wêreld kan ’n mens hulle met mense sien praat—op straat, by die deure, in besige winkelgebiede, by bushaltes, moltrein- en spoorwegstasies, in fabrieks-, kantoor- en sakegebiede. Net waar mense aangetref word, daar dien die Getuies as evangeliste. Waarom? Omdat die woord “evangelie” kom van die Griekse woord euaggelion, wat “goeie nuus” beteken. Elke Christengetuie van Jehovah moet, net soos Christus, ’n bedienaar van die goeie nuus, ’n evangelis, wees. Daarom moet elke Getuie ook op mense ingestel wees.—2 Timotheüs 4:5; Efesiërs 4:11, 12.

3. Wat is die doeltreffendste metode om die Christelike bediening te vervul?

3 Hoe moet hierdie evangelisasiewerk op bekwame wyse gedoen word? Is die radio-en-TV-benadering wat deur so baie gelowe gebruik word werklik die oplossing? Wel, vra jouself af: Kan die radio en TV jou vrae spontaan beantwoord? Nee—dit is in ’n sekere sin onpersoonlike kommunikasiemedia. Die doeltreffendste bediening is nog steeds die van Jesus en sy dissipels, die een wat ’n mens van aangesig tot aangesig bring met persone wat na die waarheid soek. Maar dit verg tyd en inspanning, iets wat Paulus met ’n eenvoudige gelykenis aangedui het: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.”—1  Korinthiërs 3:5-7.

4. Watter drie stadiums is deel van ’n doeltreffende bediening?

4 Hierdie woorde dui op drie stadiums in die Christelike bediening—daar word geplant, bewerk en gemaai. Hoe so? Eers word daar geplant, die aanvanklike kontak met die Koninkryksevangelie. Dan volg die bewerking, onder meer die benatting van wat geplant is. Hoe word dit gedoen? Deur verdere gesprekke om vrae te beantwoord en twyfelgedagtes uit die weg te ruim. Dit lei dikwels tot ’n gereelde Bybelstudie wat Bybelwaarheid diep in die persoon se verstand en hart plant; met God se seën vind groei plaas. Die eindresultaat is nog ’n bedrywige dissipel van Christus Jesus, nog ’n bedienaar. Maar hoe kan ons almal as bedienaars daardie blye seën smaak om ’n dissipel te maai?

5. Wat sal ons bedienaars help om bekwame te wees?

5 Soos ons vorige artikel gesê het, het Jesus sy dissipels die praktiese manier geleer om hulle bediening te vervul. En Paulus het gepraat van sy “metodes in Christus Jesus” (1 Korinthiërs 4:17, NW). Die string gemeentes wat hy in Klein-Asië en Griekeland help stig het, getuig van sy welslae. Ons het reeds sommige van sy (en Jesus se) metodes bespreek. Maar is daar meer wat ons vandag effektief kan gebruik?

Wat is die grondslag? En die boodskap?

6. Wat moet die hoeksteen van ons bediening wees?

6 Waarop moet die Christelike boodskap berus? Op menslike wysheid en filosofie? Paulus se brief aan Timotheüs verstrek ’n duidelike antwoord: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet . . . dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering.” Dit is duidelik dat die Bybel, die Woord van God, die hoeksteen van ons bediening moet wees.—2 Timotheüs 3:14-17.

7, 8. Hoe het Jesus en Paulus ’n voorbeeld gestel in die gebruik van tekste?

7 In hierdie opsig het Christus Jesus die voorbeeld gestel—hy het voortdurend die Skrif aangehaal; so ook die apostel Paulus. Het hy byvoorbeeld in Thessalonika opgedaag en Griekse filosofie begin verkondig? Nee, want die verslag deel ons mee: “Volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte na mekaar met hulle geredeneer aan die hand van die Skrifte, waarby hy deur middel van verwysings verklaar en bewys het dat die Christus moes ly en uit die dode moes opstaan.”—Handelinge 17:1-3, NW.

8 Wat was die gevolg? “Sommige van hulle het gelowiges geword.” In navolging van Paulus se metode moet ons prediking vandag op God se Woord gebaseer word. Dit is waarom ons ’n voorgestelde Bybeltema vir bespreking in ons bediening het. So kan die weg van die waarheid van God se Woord weerklank vind by diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte.—Handelinge 17:4, NW.

9, 10. (a) Wat moet vandag die tema van ons prediking wees? (b) Verstrek voorbeelde uit Paulus se bediening.

9 Die volgende vraag is nou: Watter boodskap moet ons verkondig? Wel, wat was die tema van Christus se bediening? Jesus was terdeë bewus van sy opdrag, want hy het gesê: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.” Met verwysing na die laaste dae van ons huidige stelsel het hy gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Lukas 4:43; Mattheüs 24:14.

10 Ons vind dat dieselfde onderwerp in Paulus se prediking beklemtoon word. Hy het byvoorbeeld “vrymoediglik drie maande lank met [Jode in ’n sinagoge] geredeneer en hulle probeer oortuig van die dinge wat die koninkryk van God aangaan”. Vir diegene in Rome ‘het hy die saak uitgelê deur kragtig oor die koninkryk van God te getuig’. “Die koninkryk van God” moet dus vandag die kern van ons Christelike bediening wees.—Handelinge 19:8; 28:23, 31.

Val jy aan of trek jy aan?

11. Hoe reageer mense dikwels wanneer hulle ’n Getuie teëkom, en hoe kan ons dit teëwerk? (Handelinge 17:17, 18)

11 Net soos in die eerste eeu is mense vandag deur godsdiens, ras en nasionaliteit verdeel (Handelinge 2:7-11). Dit beteken dat die meeste mense hulle eie vooropgesette idees oor godsdiens het. Wanneer hulle ’n Getuie teëkom, voel hulle dikwels bedreig en neem hulle ’n verdedigende houding aan. Hoe kan ons dit verander? Deur vriendelik, taktvol en aanpasbaar te wees.

12, 13. Hoe het Paulus met afgodsaanbidders in Athene gepraat? Hoe het hulle gereageer?

12 Kyk hoe het Paulus so ’n situasie in afgodsaanbiddende Athene hanteer. Sy eerste reaksie toe hy so baie afgodsbeelde sien, was een van irritasie. Het hy, toe hy in die Areopagus opgestaan het om te praat, dadelik hulle afgodediens aangeval? Sy inleiding was: “Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is. Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ’n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ’n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.”—Handelinge 17:16-23.

13 Het Paulus sy gehoor met daardie inleiding vervreem? Glad nie. Sy benadering was taktvol, nie dogmaties nie. Hy het hulle nie veroordeel nie, al was hulle aanbidding in God se oë tevergeefs. Hy was daar om die Koninkryks-boodskap te verkondig, nie om hulle aan te val nie. Hy het besef dat hulle baie godsdienstig is en het dit gebruik as ’n aanknopingspunt vir sy tema oor die ware God en Sy verteenwoordiger, die verrese Jesus. Wat was die gevolg van hierdie taktvolle benadering? Sommige het wel gespot, maar “ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.” Ja, hy het ’n uitnodiging gekry om ’n herbesoek te doen!—Handelinge 17:22-32.

14. Hoe kan ons Paulus se voorbeeld in ons bediening volg?

14 Hoe kan ons vandag hierdie metode in ons bediening toepas? Eerstens, ons moet wakker wees vir tekens van ’n persoon se godsdiensbeskouing—moontlik ’n godsdiensitem wat hy dra of wat op die deur of in die voorportaal van die huis vertoon word. Net soos Paulus kan ons dus dikwels ’n goeie idee kry van die ander persoon se godsdiensbeskouing. Dit gee ons ’n leidraad vir ’n vriendelike, boeiende maar nie-omstrede inleiding. Onthou, ons besoek die persoon hoofsaaklik om oor God se Koninkryk te praat—nie om uit die staanspoor in ’n leerstellige bespreking gewikkel te raak nie. Ons wil mense win, nie net argumente nie.—Vergelyk 2 Timotheüs 2:23-26.

15. Watter ander goeie lesse kan ons uit Jesus se bediening leer? (Lukas 10:38-42)

15 Wat nog kan ons uit Christus se voorbeeld leer? Wanneer ons sy bediening ondersoek, sal ons stellig sy oortuiging en eenvoud herken. Geen situasie het hom van stryk gebring nie, maar hy het in allerhande omstandighede, hetsy gunstig of ongunstig, vir die Koninkryk van God opgekom. Hy kon in die privaatheid van ’n huis preek of voor ’n skare opstaan en ’n preek hou—sonder notas, Bybel of klanktoerusting! Hy was ook menslik. Die geringes het hom genaakbaar gevind. Hy het hulle taal gepraat—oor landerye en oeste, oor nette en vissery. Sy gelykenisse was aards al het hulle ’n diepe betekenis gehad. Openbaar ons daardie selfde voortreflike eienskappe in ons bediening?—Mattheüs 4:18-25; 13:1-33; Lukas 5:1-3.

Hoe om die hart te bereik

16. Waarom moet ons bekwame onderrigters wees?

16 Dit verg gewoonlik tyd en deeglike studie voordat ’n persoon oortuig is van Bybel se boodskap oor God se Koninkryk. Dit is waarom ons die reëling het van ’n gereelde tuisbybelstudie, sonder enige koste of verpligting, met enige persoon wat graag God se beloftes deur Christus wil ondersoek. Sulke studies strek oor ’n lang tydperk en dek baie onderwerpe en vrae. Dit beteken beslis dat ons bekwame onderrigters moet wees. Maar wat is werklik die kern van onderrigting?—1 Timotheüs 4:16.

17. Wat was een metode wat Jesus gebruik het om die hart te bereik?

17 Ons wend ons weer eens tot Jesus vir die antwoord. Hoe het hy onderrig? Ondersoek asseblief die volgende tekste en kyk of jy Jesus se eenvoudige stelsel om ander te leer, kan raaksien: Lukas 6:9, 32-34, 39-42. Wat was dit? Hy het oordeelkundige vrae gestel. Waarom het hy dit gedoen? Om sy gehoor te help om te redeneer en hulself in die lig van sy leerstellings te ondersoek. Met sy vrae het hy taktvol hulle harte bereik. Hulle moes toon of hulle waarlik sy volgelinge wou wees en of hulle beweegredes om te luister oppervlakkig was.—Mattheüs 13:10-17; Markus 8:34-38.

18. (a) Waarom gebruik Jehovah se Getuies so dikwels vrae in hulle publikasies? (b) Watter metode moet ons nie baie gebruik wanneer ons ander leer nie?

18 Feitlik al die Bybelstudiehulpe wat Jehovah se Getuies in hulle bediening gebruik, het vrae vir elke paragraaf van teksverklaring. Dit is ’n leermiddel wat diegene wat die Bybel bestudeer, help om hulle gedagtes met hulle eie woorde uit te druk. Dan word dit duidelik of die persoon die materiaal verstaan of nie. Maar hoewel Jesus by baie geleenthede vrae gestel het, het hy dit nooit in ’n blote raaispel verander deur self die eerste woord of lettergreep van ’n antwoord te voorsien nie. Het jy soms gevind dat jy met party Bybelstudente in daardie gewoonte verval? Waarom is dit nie ’n goeie metode om gereeld te gebruik nie? Omdat kennis van God en Christus wat tot redding lei, gebaseer moet wees op rede en logika, nie op oppervlakkige raaiwerk nie.—Johannes 17:3; 1 Johannes 5:20.

Wie se dissipels?

19, 20. Watter woordjie van waarskuwing is hier nodig? Waarom?

19 ’n Woordjie van waarskuwing is hier nodig. As ons op bekwame wyse in vrugbare gebied preek en onderrig, bring ons eindelik dissipels voort. Maar wie se dissipels is hulle? Moet ons dink dat hulle “my skape” is? En moet ons toelaat dat ons as bedienaars op ’n voetstuk van verering geplaas word? Let op hoe Paulus en Barnabas gereageer het toe die mense van Listre hulle soos gode wou behandel. Hulle het tot die skare uitgeroep: “Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God.”—Handelinge 14:14, 15.

20 Paulus en Barnabas het nie probeer om die aandag op hulleself te vestig nie. En hoewel Paulus Christene vermaan het om hom na te volg net soos hy Christus nagevolg het, wou hy nie hê dat hulle sy volgelinge moes wees nie. Ons bediening moet altyd strek tot eer van God, nie tot eer van mense nie.—1 Korinthiërs 3:6, 7; 11:1.

21. Waarom word dissipels ook bedienaars?

21 Mettertyd word dissipels bedienaars. Hoe vind dit plaas? Wel, wat gebeur wanneer ons werklik goeie nuus het? Kan ons stilbly daaroor? Inteendeel, ons brand om dit vir iemand anders te vertel. Jesus het gesê: “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; . . . want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.” Dit is ook die geval met die goeie nuus van die Koninkryk. Die dissipel wie se hart geroer is, wil ander leer en gereeld en vrywillig aan die bediening deelneem. Dan volg toewyding aan God en doop. So gaan die kettingreaksie onder bedienaars voort ooreenkomstig die beginsel in Paulus se raad aan Timotheüs: “Vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.”—Lukas 6:45; 2 Timotheüs 2:2.

22. (a) Waarom het Jehovah ’n organisasie onderrigters en evangeliste voortgebring? (b) Watter werk lê nog voor?

22 Rondom die aarde het Jehovah God vandag die bes opgeleide organisasie onderrigters, evangeliste en bedienaars van die 20ste eeu. Meer as 2 600 000 van hulle neem deel aan die finale getuienis wat gegee word voordat die einde vir hierdie bose stelsel aanbreek. Maar hierdie toenemende skaar word voorberei vir ’n selfs groter uitdaging—die opleiding van duisendmiljoene wat in die opstanding gaan terugkeer. Is jy voorbereid vir deelname aan so ’n wonderlike voorreg? Is jou bediening nou produktief? Laat dit ons bede wees dat ons lig tot eer van God sal skyn terwyl ons as bekwame bedienaars dien.—Mattheüs 5:16; Johannes 5:28, 29.

Gedagtes wat bespreek is

◻ Wat is die doeltreffendste manier om die goeie nuus te verkondig?

◻ Waarop moet ons onderrig berus? Wat is die boodskap?

◻ Watter eienskappe is nodig om mense na ons te laat luister?

◻ Hoe het Jesus die hart van sy hoorders bereik?

◻ Waarvoor moet ons oppas wanneer ons ander onderrig?

[Prent op bladsy 22]

Jehovah se Getuies preek net waar mense aangetref word

[Prent op bladsy 24]

Wanneer ons getuig, moet ons oplet na tekens van ’n persoon se geloof

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel