Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 8/15 bl. 27-31
  • Een God in drie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Een God in drie?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Uit die teologie, nie uit die Skrif nie
  • Geen Drie-eenheid in die “Ou Testament” nie
  • Wat van die “Nuwe Testament”?
  • “Twee-in-een-God”-tekste
  • Een God of drie?
  • Is dit onteenseglik ’n Bybelleerstelling?
    Moet jy aan die Drie-eenheid glo?
  • Deel 1—Het Jesus en sy dissipels die Drie-eenheidsleer verkondig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Hoe dit gekom het dat die Christendom ’n onbekende God aanbid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Studievrae vir die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?
    Ons Koninkryksbediening—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 8/15 bl. 27-31

Een God in drie?

DIE Drie-eenheid—jy weet ongetwyfeld daarvan, want hierdie leerstelling word dwarsdeur die Christendom geleer. Watter plek beklee dit in die leer van die kerke? Nog belangriker, wat openbaar God se Woord, die Bybel, in verband met die vraag of daar een god in drie persone is?

“Die Drie-eenheid is die uitdrukking wat gebruik word om die sentrale leerstelling van die Christelike godsdiens aan te dui—die waarheid dat die eenheid van die Godheid uit die Drie Persone bestaan. . . . Derhalwe, in die woorde van die Geloofsbelydenis van Athanasius: ‘die Vader is God, die Seun is God, en die Heilige Gees is God, en nogtans is daar nie drie Gode nie maar een God’ . . . . Dit, leer die Kerk, is die openbaring aangaande God se natuur wat Jesus Christus, die Seun van God, op aarde aan die wêreld kom oorlewer het: en wat [die Kerk] aan die mens voorlê as die grondslag van sy hele dogmatiek.”—The Catholic Encyclopedia.

Nie alleen is die Drie-eenheidsleer “die grondslag” van die Rooms-Katolieke Kerk se “hele dogmatiek” nie, maar dit is ook ’n belangrike vereiste vir lidmaatskap van die Wêreldraad van Kerke. Die Drie-eenheid kan inderdaad bestempel word as “die sentrale leerstelling” van die Christendom se godsdienste—Katoliek, Ortodoks en Protestants. Maar is hierdie leerstelling “die waarheid”, soos The Catholic Encyclopedia beweer?

Uit die teologie, nie uit die Skrif nie

In sy artikel “Drie-eenheid” sê ’n Protestantse werk (The Illustrated Bible Dictionary) die volgende: “Die woord Drie-eenheid kom nie in die Bybel voor nie . . . Dit het tot die 4de eeu geen formele plek in die teologie van die kerk gehad nie . . . Ofskoon die Skrif ons nie ’n geformuleerde omskrywing van die Drie-eenheid gee nie, bevat dit al die elemente waaruit teoloë die leerstelling opgebou het.”

Wie was die eerste teoloë wat met die woord “drie-eenheid” vorendag gekom het terwyl hulle “die leerstelling opgebou het”? The Catholic Encyclopedia deel ons mee: “In die Skrif is daar tot dusver geen enkele term waardeur die Drie Goddelike Persone gesamentlik aangedui word nie. Die woord trias (wat in Latyn met trinitas vertaal word) is vir die eerste keer omstreeks 180 n.C. in Theofilus van Antiochië se werk aangetref. . . . Kort daarna het die woord in sy Latynse vorm trinitas in Tertullianus se werk verskyn.” Theofilus se triade het egter bestaan uit “God, en Sy Woord, en Sy wysheid”—nouliks die Christendom se Drie-eenheid! Wat Tertullianus betref, erken die ensiklopedie dat “sy Trinitariese leer inkonsekwent is”, onder meer omdat hy aangevoer het dat “daar ’n tyd was toe daar geen Seun was nie”. Op sy minste kan daar dus gesê word dat hierdie twee manne iets heeltemal anders in gedagte gehad het as die Christendom se mede-ewige Vader, Seun en Heilige Gees.

Maar die woord “drie-eenheid” het gebly, en later het teoloë geleidelik “die leerstelling opgebou” soos ons dit vandag ken. Maar het hulle dit op die fondament van die Skrif gebou? Nee, eerder op die teologie of die filosofie. Die Encyclopædia Britannica sê: “Die Christelike teologie het die Neoplatoniese metafisika [filosofie] van substansie sowel as sy hipostaseleer [die leer oor essensie, of aard] as die uitgangspunt aanvaar om die verhouding van die ‘Vader’ tot die ‘Seun’ te vertolk.” Hulle probleem was om “God die Vader”, “God die Seun” en “God die Heilige Gees” een God in plaas van drie te maak. Jare lank het hulle gestry oor die vraag of die drie persone van die Drie-eenheid van eenderse substansie (Grieks, homoiousia) of van dieselfde substansie (homoousia) is. Hierdie twis is by die Konsilie van Nicea in 325 G.J. en Konstantinopel in 381 G.J. ten gunste van homoousia bygelê.

Die Britannica voeg by: “Die twis tussen die twee partye [by Nicea] is van die staanspoor af gevoer op die gemeenskaplike grondslag van die Neoplatoniese idee van substansie, wat glad nie in die Nuwe Testament geleer word nie. Dit is geen wonder nie dat die voortsetting van die dispuut op die grondslag van die metafisika van substansie eweneens tot idees gelei het wat geen grond in die Nuwe Testament het nie.” Die idee van ’n God in drie persone van een substansie of wese berus derhalwe op teologie of filosofie, maar nie op die Skrif nie.

Jy kan bewyse hiervan vind deur die twee dele van die Bybel wat algemeen bekend staan as die Ou en Nuwe Testament te ondersoek.

Geen Drie-eenheid in die “Ou Testament” nie

Die Dictionnaire de Théologie Catholique, ’n naslaanwerk wat uit 15 boekdele bestaan, verklaar: “Dit lyk na ’n uitgemaakte saak dat die verborgenheid van die Drie-eenheid nie aan die Jode geopenbaar is nie.” The Illustrated Bible Dictionary sê eweneens: “Daar moet onthou word dat die O[u] T[estament] geskryf is voor die Drie-eenheidsleerstelling duidelik geopenbaar is.” Hoe belaglik is dit egter om te sê dat ware aanbidders van voorchristelike tye in algehele onkunde verkeer het omtrent die ware God en dat hulle slegs een derde van die sogenaamde Godheid aanbid het! Kan jy dit glo? Nouliks. Hulle het geweet wie hulle aanbid.—Psalm 95:6, 7.

Sommige Trinitariërs probeer nogtans die Ou Testament, of Hebreeuse Skrifte, gebruik om hulle idee van ’n drieledige God te staaf. Een van hulle argumente is dat die Hebreeuse woord wat as “God” vertaal word, dikwels in die meervoud is (‘Elo-him’). Hulle vergeet blykbaar dat hierdie woord in dieselfde vorm gebruik word vir individuele heidense gode, soos Dagon (1 Samuel 5:7) en Mardoek (Daniël 1:2), wat nie drie-enige gode was nie. In verband hiermee skryf die Oxfordse geleerde R. B. Girdlestone in sy Synonyms of the Old Testament: “Baie kritici van onberispelike [Trinitariese] ortodoksie ag dit egter gerade om te volstaan waar godgeleerdes soos Cajetanus in die Kerk van Rome en Calvyn onder die Protestante bereid was om te volstaan, en om die meervoudsvorm as ’n meervoud van majesteit te beskou.” Sulke Trinitariese teoloë het ongetwyfeld besef dat, indien hulle ‘Elohim’ as ’n numeriese meervoud (gode) sou beskou, dit van hulle politeïste sou maak!

Twee ander argumente wat sommige Trinitariërs uit die Hebreeuse Skrifte haal, is (1) dat Christus in Jesaja 7:14 profeties Immanuel genoem word en (2) dat “Sterke God” een van die name is wat in Jesaja 9:5 aan hom gegee word.

Die naam Immanuel beteken “God is met ons”, maar dit beteken nie dat Christus God is nie, net so min as wat Elihu God was bloot omdat sy naam “hy is God” beteken (Job 32:1, 2). En as nietige menseregters in die Skrif “gode” genoem kan word (Psalm 82:1-7), is dit tog sekerlik gepas dat God se Seun “Sterke God” (Hebreeus, ‘El Gibbohr’) genoem sou word. Let egter daarop dat hy nie “die almagtige God” (Hebreeus, ‘El Shad·dai’) noem word nie. Daardie uitdrukking word uitsluitlik vir Jehovah gebruik. In verband met hierdie twee argumente erken The Catholic Encyclopedia: “Selfs hierdie verhewe titels het nie die Jode tot die besef gebring dat die komende Verlosser niemand anders as God self sou wees nie.” Dit bring ons ook nie tot daardie besef nie. Waar dit die sogenaamde Ou-Testamentiese bewyse van die Drie-eenheid opsom, sê die Protestantse Cyclopædia deur M’Clintock en Strong: “Dit wil dus voorkom of geeneen van die gedeeltes wat uit die Ou Test[ament] aangehaal word ter stawing van die Drie-eenheid afdoende is nie . . . Ons vind nie in die Ou Test[ament] duidelike of deurslaggewende bewys oor hierdie onderwerp nie.”

Wat van die “Nuwe Testament”?

Ons het reeds gesien dat ’n Griekse filosofiese idee teoloë in staat gestel het om die leerstelling ‘op te bou’ van ’n God in drie persone van een wese. Die Switserse Vocabulaire Bíblique sê egter: “Geen Nieu-Testamentiese geskrifte bied uitdruklike versekering van ’n drie-enige God nie.” The New International Dictionary of New Testament Theology erken ook: “Die N[uwe] T[estament] bevat nie die ontwikkelde leerstelling van die Drie-eenheid nie.” Om hierdie rede moet Trinitariërs noodgedwonge van geforseerde redenasies gebruik maak om aan ’n paar verse in die Christelike Griekse Skrifte ’n Trinitariese betekenis te gee. Laat ons ’n paar daarvan ondersoek.

Hulle kan in twee kategorieë verdeel word: (1) Tekste waarin God, sy Seun en die heilige gees in dieselfde vers of verse gemeld word en (2) tekste waarin enige twee van hulle gemeld word.

Die eerste groep sluit die tekste in wat na bewering die sogenaamde triadiese formule bevat. Hulle is Mattheüs 28:19 (Vader, Seun, heilige gees), 1 Korinthiërs 12:4-6 (gees, Here, God), 2 Korinthiërs 13:13 (Christus, God, heilige gees), Galasiërs 4:4-6 (God, Seun, gees van sy Seun), Efesiërs 4:4-6 (gees, Here, God) en 1 Petrus 1:2 (God, gees, Jesus Christus).

Maar bewys die feit dat God, sy Seun en die heilige gees saam gemeld word dat hulle mede-goddelik, mede-ewig en gelykwaardig is, soos die Drie-een-heidsdogma leer? Indien wel, kan daar ewe goed aangevoer word dat die Trinitariese “Godheid” uit God, Christus en die engele bestaan! (Kyk Markus 13:32; 1 Timotheüs 5:21.) Selfs M’Clintock en Strong se Cyclopædia erken in verband met die sogenaamde Trinitariese doopformule in Mattheüs 28:19: “Die samekoppeling van hierdie drie bewys nie dat hulle persone of gelyk aan mekaar is nie.” Nie hierdie of enige van die ander ‘triadiese formule’-tekste is bewys van die Drie-eenheidsleer nie. Kittel se Theological Dictionary of the New Testament sê onomwonde: “Die N[uwe] T[estament] praat nie werklik van drie-eenheid nie. Ons soek dit tevergeefs in die triadiese formules van die NT.”

“Twee-in-een-God”-tekste

Die tweede kategorie van passasies wat deur Trinitariërs aangehaal word om hulle dogma te ondersteun, kan “twee-in-een-God”-tekste genoem word. Waarom? Omdat hulle hoogstens sou aandui dat God en Christus een is, terwyl niks van die gees gesê word nie. Maar wanneer ons hulle objektief beskou, sien ons dat hierdie tekste eenvoudig nie die idee van ’n God in drie persone van een wese staaf nie. Kom ons beskou nietemin twee van hierdie tekste wat in teologiese werke aangehaal word.

Verbasend genoeg, die Christendom se teoloë beskou Johannes 1:1 skynbaar nie as een van die sterkste bewyse van die Drie-eenheid nie. Hulle is in die eerste plek teleurgesteld dat, soos die Dictionnaire de Théologie Catholique dit stel, “die Heilige Gees nie in hierdie proloog [Johannes 1:1-18] gemeld word nie”. Dit laat hulle met ’n “Drie-eenheid” van twee persone, wat absurd is. Daarbenewens skep die Trinitariese vertaling “die Woord was God” by die leser die indruk dat die Woord een en dieselfde persoon as God was. Maar dit is onmoontlik, aangesien dieselfde vers sê: “Die Woord was by God”, en “hierdie voorsetsel [“by”, letterlik “teenoor”] dui op omgang en derhalwe aparte persoonlikheid”.a Om hierdie rede voeg professor B. F. Westcott haastig by dat die sinsnede wat vertaal word met “die Woord was God” die “natuur van die Woord beskryf en nie Sy Persoon identifiseer nie”. Dit is alles goed en wel. Maar hierdie ware betekenis van die oorspronklike Grieks is beslis nie die gedagte wat in die meeste Bybels na vore kom nie. Sommige geleerdes, wat nie Trinitariese idees onderskryf nie, het dit vertaal met “die Woord was ’n goddelike wese” of “die Woord was goddelik”. In die Journal of Biblical Literature (Deel 92, 1973), skryf Philip P. Hamer soos volg: “Miskien kan die sinsdeel só vertaal word: ‘die Woord het dieselfde natuur as God gehad’. “Johannes 1:1 bewys dus nie eers dat daar ’n “twee-enige” God is nie, wat nog te sê ’n “drie-enige” God!

’n Teks wat deur A Catholic Dictionary beskryf word as “die duidelikste verklaring van Christus se goddelikheid in St. Paulus se werke en, trouens, in die N[uwe] T[estament]” is Romeine 9:5. In The Jerusalem Bible lui hierdie vers ten dele: “Christus wat bo alles verhewe is, God vir ewig lofwaardig! Amen.” The New International Dictionary of New Testament Theology gee toe dat selfs as ’n Trinitariese vertaling van die Grieks korrek was, “Christus nie geheel en al met God gelykgestel sou word nie, maar bloot beskryf sou word as ’n wese met ’n goddelike natuur, want die woord theos [God] het geen lidwoord nie. Maar hierdie toeskrywing van majesteit kom nêrens anders in Paulus [se geskrifte] voor nie. Die veel waarskynliker verklaring is dat die woorde ’n doksologie [lofprysing] aan God is.” Selfs A Catholic Dictionary erken: “Daar is geen grammatikale of kontekstuele rede wat ons belet om te vertaal ‘God’ wat bo alles verhewe is, kom vir ewig die lof toe, Amen’ nie.” Dit sê nie veel vir “die duidelikste verklaring van Christus se goddelikheid” nie!—Vergelyk Romeine 9:5 in die Katolieke New American Bible en die Protestantse New English Bible.

Een God of drie?

Daar is ander tekste wat deur Trinitariërs aangehaal word in hulle pogings om die sogenaamde “sentrale leerstelling van die Christelike godsdiens” te staaf. Nadat hy verskeie van hierdie tekste ondersoek het, sluit professor Johannes Schneider sy artikel oor “God” in The New International Dictionary of New Testament Theology af deur te sê: “Dit alles onderstreep die punt dat die vroeë Christelike godsdiens nie ’n eksplisiete Drie-eenheidsleerstelling gehad het soos dit later in die belydenisse van die vroeë kerk ontwikkel is nie.”

Een God of drie? Vir die vroeë Christene was die antwoord duidelik. Die apostel Paulus het dit duidelik gestel:

“Ons [weet] dat ’n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een. Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is—tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.”—1 Korinthiërs 8:4-6.

Die Bybel praat van “die Vader”, “die Seun” en ook van “die Heilige Gees”. Maar dit beskryf hulle nie as ’n drie-enige God nie. Wat die Bybel presies bedoel met die “een God en Vader van almal”, die “een Here” en die “een Gees” sal in ons volgende nommer ondersoek word.—Efesiërs 4:4-6.

[Voetnoot]

a The Expositor’s Greek Testament, onder redaksie van W. Robertson Nicoll, 1967, Deel 1, bladsy 684.

[Prent op bladsy 29]

Jesus het beveel dat mense ‘in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees’ gedoop moet word. Het hy bedoel dat God drie persone in een is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel