Wat word van die gesinslewe?
“KAN u my asseblief help? My man mishandel my en ek kan dit nie meer verduur nie. Ek het niemand na wie ek kan gaan nie. Ek is alleen, buiten my eenjarige seuntjie. My man het ’n verskriklike humeur en my arms was al met tye pimpel en pers geslaan. Twee weke gelede het hy my op die neus geslaan en my neus het vreeslik gebloei. Toe het hy my een aand in die bed begin verwurg, en dit was eers toe ek my bewussyn verloor het dat hy besef het wat hy doen. Ek het dae lank swaar gesluk. . . .
“My man skreeu en breek goed in die huis en maak die baba bang. Nadat my man my een aand platgeslaan het, het die baba van pure skrik geskreeu en ek was beseer en te bang om iets te doen. . . . Ek het vir hom gesê dat ek ’n egskeiding wil hê. Nou durf ek nie sê ek wil gaan nie, of hy begin, en ek vrees vir my eie of my seun se lewe.”—Uit die boek Scream Quietly or the Neighbours Will Hear, deur Erin Prizzey.
’n Alleenstaande geval? Glad nie! Daar word geskat dat daar elke jaar in die Verenigde State alleen sowat 1,8 miljoen vrouens is wat deur hulle mans mishandel, dit wil sê, geskop, gebyt, met die vuis of ’n voorwerp geslaan, gedreig of met ’n mes of vuurwapen aangeval word. Voeg hierby die gevalle van seksuele misbruik en die emosionele verwaarlosing van kinders, die mishandeling van ouers en grootouers, en die prentjie word selfs treuriger. Gevolglik ontstaan die vraag: Wat word van die gesinslewe?
Jy het rede om besorg te wees. ‘Hoekom ek?’ vra jy dalk. ‘Ek kan jou verseker dat sulke dinge nie in my huis gebeur nie!’ Jy behoort nogtans in sulke gesinsprobleme belang te stel. Waarom? Omdat daar lank gelede in die Bybel voorspel is dat sulke gesinsprobleme deel sou uitmaak van die duidelike bewys dat ons in ”die laaste dae” van hierdie hele wêreldstelsel lewe.a Let op wat die apostel Paulus voorspel het: “Weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, . . . ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde.”—2 Timotheüs 3:1-3.
Word Paulus se woorde werklik vandag vervul? Wat is die omvang van sulke ge-sinsonenigheid presies? Staaf dit die vervulling van Paulus se profesie wat toon dat ons waarlik in “die laaste dae” lewe?
[Voetnoot]
a Let daarop dat die Bybelprofesieë aangaande “die laaste dae” ’n samegestelde teken uitmaak. Dit beteken dat wanneer al die dinge wat voorspel is in een geslag gebeur, dit ’n bewys sal wees dat ons in die tyd van die einde lewe. In hierdie reeks artikels gaan ons die aandag op een aspek van die profesieë vestig, naamlik die uitwerking wat ons “swaar tye” op gesinne het.