Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 10/1 bl. 4-6
  • Ons “swaar tye”—Hoe raak dit jou gesin?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons “swaar tye”—Hoe raak dit jou gesin?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die gesin van die 20ste eeu
  • “Ongehoorsaam aan hulle ouers”
  • “Sonder natuurlike liefde”
  • Is daar ’n geheim om gesinsgeluk te geniet?
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ouers onder druk
    Ontwaak!—1997
  • Wanneer geweld die huis tref
    Ontwaak!—1993
  • Ouers—Stel ’n goeie voorbeeld vir julle kinders
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 10/1 bl. 4-6

Ons “swaar tye”—Hoe raak dit jou gesin?

Eie haard is goud waard

Oos, wes, tuis bes

HIERDIE spreekwoorde was eens op ’n tyd waar. Maar in vandag se wêreld het die situasie verander. Die huis is dikwels ’n slagveld. Die natuurlike liefde wat ’n mens graag by die gesin wil aantref, ontbreek in gans te veel huise. Maar hoekom? Is daar iets unieks omtrent sulke hedendaagse gesinsprobleme?

Die gesin van die 20ste eeu

In vorige eeue was die gesin dikwels ’n selfversorgende eenheid. Dit beteken dat almal—ouers en kinders—saamgewerk het om die huis te bou, die meubels te maak, die landerye te bewerk en die vee op te pas (Genesis 37:2; Spreuke 31:16). Maar met die koms van die industriële revolusie het dinge verander.

Namate veral die Westerse nasies meer geïndustrialiseerd geraak het, het baie gesinne na die stede verhuis op soek na werk in fabrieke. Nou moes mense elke dag weg van die huis af werk. Gesinne het al hoe minder tyd saam bestee. Goed soos klere en meubels is gekoop in plaas van gemaak. En soos die boek The Family, Society, and the Individual sê:

“Soos verwag kan word, het hierdie veranderinge ’n merkbare uitwerking op . . . die huislewe gehad. Die gesin produseer nie meer as ’n ekonomiese eenheid nie. Vandat daar wette is wat kinders verplig om skool te gaan en wat kinderarbeid verbied, het kinders ekonomiese laste in plaas van bates geword.” Watter uitwerking het dit op die grootmaak van kinders gehad? “Die patriargale aard van die gesin het verander, en dissipline en eerbied vir gesag is nie juis meer hoekstene van die goeie lewe nie.”

Sulke veranderinge het beteken dat daar unieke, en in sommige gevalle groter, druk op die gesin van die 20ste eeu uitgeoefen word. En hierdie probleem is nie tot die Westerse wêreld beperk nie. Kolonisasie en gevolglike industrialisasie het selfs in lande van die sogenaamde Derde Wêreld tradisionele gesinsrolle versteur. In sommige gevalle het vrouens gekrenk begin voel omdat hulle nie as vennote beskou word nie. Een vrou in Afrika het derhalwe gekla: “Hoekom laat die mans dit aan ons oor om die bagasie te dra? Ek gaan na die lande toe met ’n skoffel oor my skouer en ’n kind op my rug. Hy dra niks. Dan kom ek terug met die skoffel, die kind, en ’n groot emmer water op my kop. Hy dra nog steeds geen deel van die vrag nie. Die geld word op drank uitgegee, nie op ons of op die kinders nie. Ons deel die werk, of doen meer daarvan, maar hy vat al die geld en sê dat dit syne is—dat hy dit verdien het. Dit is ’n grap.”

Die gesin van die 20ste eeu word beïnvloed deur nog iets wat nooit voorheen bestaan het nie—televisie. Daar word geskat dat ’n jong persoon op die ouderdom van 18 reeds sowat 15 000 uur voor die televisie bestee het in vergelyking met sowat 11 000 uur in die klaskamer. Op die ouderdom van 14 het die gemiddelde Amerikaanse kind sowat 18 000 moorde op TV gesien. Wat is die gevolg? M. S. Miller se boek Childstress! gee die antwoord: “Baie sielkundiges en regters hou televisie aanspreeklik vir die geweld wat jongmense naboots. Toe ’n negejarige knaap ’n bank in die stad New York met sy speelpistool van honderd dollar beroof het, het hy gesê dat hy ‘gesien het hoe die ouens op TV dit doen’.” Die tydskrif The Family Coordinator voeg by: “Ofskoon die regstreekse uitwerking van hierdie blootstelling op die jeug nog nie proefondervindelik bewys is nie, is dit duidelik dat ’n aantal waardes wat in die media uitgebeeld word ongetwyfeld ’n invloed op die lewe en latere leefwyse van die jeug sal hê.”

Dit ly geen twyfel dat die gesin van die 20ste eeu hom in besondere en unieke lewensomstandighede bevind wat hom aan druk en invloede onderwerp wat geen presedent in die mensegeskiedenis het nie. Maar het dit werklik gesinsprobleme veroorsaak wat bykomende bewys lewer dat ons in “die laaste dae” lewe?

Die apostel Paulus het tot in die fynste besonderhede voorspel dat “die laaste dae” gekenmerk sou word deur “swaar tye”.a Watter uitwerking sou sulke “swaar tye” op die gesinslewe hê? Paulus antwoord: “Die mense sal . . . ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde [wees].”—2 Timotheüs 3:1-3.

“Ongehoorsaam aan hulle ouers”

Kinders is hulle ouers se vlees en bloed en staan by hulle in die skuld vir tallose seëninge. Dit is skrikwekkend wanneer kinders nie aan hulle ouers die eer, respek en sorg gee wat hulle toekom nie. Soos een Bybelgeleerde dit gestel het: “Dit is die teken van ’n uiters dekadente beskawing wanneer die jeug alle respek vir die ouderdom verloor en nie besef dat hulle ’n onvereffenbare skuld en basiese plig het teenoor diegene wat aan hulle die lewe gegee het nie.” Is dit werklik die geval met gesinne van die 20ste eeu?

“Ek is bang vir my eie kind”, het ’n moeder gesê terwyl sy gepraat het oor een van die ontnugterendste bewyse van kinders wat teen hulle ouers rebelleer—ouermishandeling. In ’n hewige uitbarsting is hierdie vrou se skouer deur haar sewentien-jarige seun uit lit geskop. Hoe algemeen is sulke geweld teen ouers? In ’n verslag oor die resultate van navorsing oor gesinsgeweld in die Verenigde State het die boek Behind Closed Doors gesê: “Elke jaar slaan een uit drie kinders tussen die ouderdom van drie en sewentien jaar hulle ouers.” Toon dit nie gewoonlik ’n gruwelike gebrek aan respek wanneer ’n kind sy hand teen sy ouers oplig nie?—Vergelyk Efesiërs 6:1-3.

Kinders rebelleer ook op minder gewelddadige maniere teen hulle ouers. In die sestigerjare was dit hippieklere en lang hare. Maar toe grootmense hierdie neigings begin naboots, moes jongmense nuwe maniere soek om te rebelleer. Die boek Childstress! verduidelik: “Deur al die kreatiwiteit heen neem beproefde metodes van uittarting in intensiteit toe—hulle gebruik dwelmmiddels, sterk drank, draai stokkies en loop van die huis af weg. Soos die oupas en oumas sê: ‘Ek sal nie graag vandag kinders wil begin grootmaak nie.’”

Dit is nie net jong kinders wat nalaat om aan hulle ouers die liefde en respek te toon wat hulle toekom nie. Daar is ’n ander groep—volwassenes wat bejaardes mishandel. Hoe? Psychology Today verduidelik: “Die mishandeling van bejaardes kan die vorm aanneem van fisiese geweld, uitbuiting (deur byvoorbeeld ’n ouer se spaargeld te gebruik), verwaarlosing (versuim om voedsel of medikasie te verskaf) of sielkundige mishandeling (deur hulle uit te skel). Mishandelaars dreig ook dikwels om hulle ouers op die straat te sit of om hulle na ’n sielsieke- of verpleeginrigting te stuur as hulle oor die mishandeling kla.”

Dit is veral betreurenswaardig dat baie volwasse kinders nie ’n verantwoordelikheid teenoor hulle bejaarde ouers voel nie. F. Ivan Nye het byvoorbeeld in ’n verhandeling wat in Journal of Marriage and the Family gepubliseer is, gesê: “Die meerderheid van die proefpersone [in hierdie navorsingstudie] besef dat dit hulle plig is om met familielede in aanraking te bly en finansiële bystand te verleen in noodgevalle, maar 30 persent stem nie saam dat so ’n (finansiële) plig bestaan nie, en minder as 40 persent van albei geslagte spreek hulle misnoeë uit met ander wat nie sulke verpligtinge nakom nie.” Dit het aanleiding gegee tot Nye se gevolgtrekking dat “verwantskappe” “aan die verdwyn is uit die normatiewe struktuur” en heel moontlik ’n opsionele gesinsfunksie sal word. Is dit nie “die teken van ’n uiters dekadente beskawing” nie?—Vergelyk 1 Timotheüs 5:3-8.

Nie alle kinders verwerp ouerlike gesag nie. Maar berigte van kinders wat teen hulle ouers rebelleer, is wydverspreid genoeg om sonder twyfel te bewys dat die apostel Paulus se woorde vandag bewaarheid word: “Mense sal . . . ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig [wees].”

“Sonder natuurlike liefde”

Dit is nie net kinders wat deur hierdie “swaar tye” geraak word nie. Paulus het ook voorspel: “Mense sal . . . sonder natuurlike liefde [wees].”—2 Timotheüs 3:2, 3.

Dit is doodnatuurlik om te verwag dat jou gesin ’n ondersteunende groep sal uitmaak. Daar moet ’n atmosfeer van liefde in die huis heers—liefde vir jou huweliksmaat en jou kinders. Maar die apostel Paulus het getoon dat ’n gebrek aan “natuurlike liefde”b “die laaste dae” sou kenmerk. En net soos hy voorspel het, is die huislike atmosfeer in baie gevalle allesbehalwe aangenaam. Hoe so?

In die voorafgaande artikel het ons na ’n verskynsel gekyk wat ’n ontstellende gebrek aan natuurlike liefde weerspieël—vrouemishandeling. Geen vrou verdien tog om geskop, geslaan of op ander maniere mishandel te word nie. Hoe ver wyk dit tog nie af van die Skriftuurlike vermaning dat mans hulle vrouens “soos hul eie liggame” moet liefhê nie! Dit is natuurlik. Om jou vrou te slaan, is nie!—Efesiërs 5:28-33.

Wat miskien selfs verbasender is, is die aantal gevalle van manslanery. In een geval was ’n man “gedurig vol littekens en kneusplekke” wat veroorsaak is deur sy vrou wat hom met “histerie, skreeubuie en wrede fisiese geweld gekarnuffel het”. Party sosioloë skat dat daar elke jaar in die Verenigde State alleen sowat 282 000 mans is wat deur hulle vrouens geslaan word. Is dit nie ook ’n skokkende voorbeeld van die gebrek aan natuurlike liefde in talle gesinne van die 20ste eeu nie?—Vergelyk Efesiërs 5:22-24, 33.

Hoewel sulke berigte ontnugterend is, is die berigte van toenemende kindermishandeling selfs hartverskeurender. Dit is glad nie vreemd om opskrifte soos die volgende te lees nie:

“Mishandelde kind, nou volwasse, praat oor littekens.”

“Vrou erken dat sy haar vier kinders in hulle slaap verdrink het.”

“Sterftes weens kindermishandeling styg in Denver en staat.”

“Kinderverwaarlosing ‘skaad Brittanje se liefdevolle beeld’.”

Ons spaar jou die grusamer besonderhede.

Hoe algemeen is sulke kindermishandeling presies? Waar dit verslag doen oor navorsing oor gesinsgeweld, beraam die boek Behind Closed Doors dat “tussen 3,1 en 4 miljoen kinders [in die Verenigde State] op die een of ander tydstip in hulle lewe deur ’n ouer geskop, gebyt of met die vuis geslaan is; . . . tussen 900 000 en 1,8 miljoen kinders tussen die ouderdom van drie en sewentien is al op die een of ander tydstip deur een van hulle ouers met ’n vuurwapen of ’n mes gedreig of aangeval.”

Hoewel kinders, veral kleuters, kwesbaar is en met tye veeleisend kan wees, is daar sekerlik geen kind wat verdien om mishandel te word nie—hetsy fisies, emosioneel of op enige ander manier. Die Bybel sê immers: “Seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning.”—Psalm 127:3.

Die gesin van die 20ste eeu ondervind ongetwyfeld druk en spanning soos nog nooit tevore in die mensegeskiedenis nie. U.S. News & World Report sê: “Waarom die toename in gesinsprobleme? Dr. Bertrand New, ’n psigiater verbonde aan die Westchester- Mediese Sentrum van New York se Mediese Kollege, skryf dit toe aan persoonlike en ekonomiese terugslae, alkoholisme en die groter druk wat die moderne samelewing op baie gesinne plaas.”—Ons kursiveer.

Hierdie toename in gesinsonenigheid is maar een deel van die samegestelde teken wat “die laaste dae” kenmerk. Verdere nommers van Die Wagtoring sal ander aspekte van Paulus se woorde in 2 Timotheüs 3:1-5 in besonderhede bespreek. Maar een ding staan soos ’n paal bo water: Berigte van kinders wat teen ouerlike gesag rebelleer en ’n afname in natuurlike liefde, soos Paulus voorspel het, is wydverspreid genoeg om deel uit te maak van die duidelike bewys dat ons in “die laaste dae” van hierdie stelsel lewe.

Ons lewe beslis in “swaar tye”. Hierdie “swaar tye” hoef egter nie jou gesinsgeluk te bederf nie. Jehovah God het praktiese riglyne in die Bybel voorsien wat selfs nou ’n gelukkige, suksesvolle gesinslewe sal verseker indien dit toegepas word. Wat meer is, as jy daardie instruksies getrou navolg, kan jou gesin een van die gelukkige gesinne wees wat vir ewig sal lewe in God se regverdige nuwe orde wat nou ophande is.—2 Petrus 3:13; Spreuke 3:13-18.

[Voetnote]

a Die Griekse woord vir “swaar tye” (chalepos) word in Mattheüs 8:28 (NAV) met “gevaarlik” vertaal, waar dit gebruik word om twee duiwelbesetenes te beskryf wat uiters gewelddadig en gevaarlik was. “Die laaste dae” sal dus besonder onheilspellend, dreigend en gevaarlik wees.

b Die Griekse woord storgé verwys na gesinsliefde, liefde vir bloedverwante. Maar die woord vir “sonder natuurlike liefde” is ástorgos, wat presies die teenoorgestelde beteken—’n verbrokkeling van die natuurlike liefde wat tussen gesinslede behoort te bestaan.

[Prent op bladsy 6]

Hy sien hoe mense geskiet, geslaan, vermoor word. Hoe raak dit hom?

Wanneer jy die riglyne in die Bybel toepas, kan jy selfs nóú ’n gelukkige gesinslewe geniet

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel