Moenie terugdeins nie
TWEE groot leërs kom teenoor mekaar te staan. Die troepe is in slagorde gestel. Elke soldaat wag in groot spanning op die aanvalsbevel. Energieke optrede en vasbeslotenheid word nou vereis. Geen vrees mag gekoester word nie, slegs gedagtes van oorwinning. Die individuele soldaat besef dat dit hom sy lewe kan kos. Tog weet hy dat dit vir die saak rampspoedig kan wees as hy op hierdie kritieke oomblik sou terugdeins. Hy moet dink aan die ideale waarvoor hy staan en lojaal sy plig nakom.
Ware Christene word soldate van Christus genoem. Die apostel Paulus het vir Timotheüs geskryf: “Dra jou deel van die ontberinge soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus” (2 Timotheüs 2:3, NAV). Ja, die soldaat moet hom daarop voorberei om ontbering te verduur en moet vasbeslote bly om sy plig te vervul. In hierdie opsig is die Christensoldaat geen uitsondering nie. Hy stry vir die allerbelangrikste, universele saak van God.
Hoe word iemand ’n soldaat van Jesus Christus? Deur God se reëling vir redding deur Jesus Christus te aanvaar en hom onvoorwaardelik en lewenslank aan die Allerhoogste toe te wy. Die individu onderteken as ’t ware hierdie toewyding deur waterdoop.
Wat behels die Christensoldaat se stryd alles? Die voorbeeld van Jesus Christus en sy apostels toon dat die Christensoldaat nie die reg het om vleeslike wapens te gebruik nie. Die Christen gebruik eerder die swaard van die gees (dit wil sê, die Woord van God) teen bose geeste in die lug (Efesiërs 6:12, 17). Sulke geestelike oorlogvoering verskaf aan mense lig teen die magte van die duisternis, wat boosheid voorstel. Die individu stem in tot hierdie geestelike oorlogvoering wanneer hy sy lewe aan God toewy.—Mattheüs 5:14-16; Romeine 13:12.
Die Christensoldaat besoek mense van huis tot huis en soek na belangstellendes (Lukas 10:5, 6; Handelinge 5:42). Wanneer hy hulle vind, besoek hy hulle week na week en leer hy hulle die waarhede van Jehovah se Woord. So help die Christensoldaat hulle om van godsdiensdwaling bevry te word. (Vergelyk Johannes 8:31, 32.) As hierdie belangstellendes eers Bybelwaarheid verstaan, word hulle ook soldate van Christus.
Hou die doel voor oë
In teenstelling met wêreldlike botsings wat op lewensverlies uitloop, neem geestelike oorlogvoering die vorm van reddingswerk aan wat niemand skade berokken nie. Om hierdie rede is ’n intense begeerte om lewens te red, tesame met liefde vir God en naaste, noodsaaklik indien ’n persoon wil volhard as ’n getroue krygsman onder die leiding van Jesus Christus.
Die bose geeste is natuurlik daarop uit om die Christen se geestelike oorlogvoering in die wiele te ry. Hulle bevind hulle in die omgewing van die aarde en verskerp hulle pogings om die hele mensdom van God te vervreem (Openbaring 12:12). Materiële dinge wat mense tot seën kan strek, is middele wat Satan en sy demone kan gebruik om persone te verstrik. Rykes sowel as armes kan slagoffers word van ’n lewenswyse wat blyk gee van oormatige besorgdheid oor materiële dinge. Selfs sommige van God se knegte kan begin om die wêreld en die dinge wat dit aanbied lief te kry, en hulle kan swig voor “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe”.—1 Johannes 2:15, 16.
Die najaging van materiële dinge het al daartoe gelei dat lede van die Christengemeente die stryd gewonne gee of traag word in hulle geestelike oorlogvoering. Hoe jammer tog! Wanneer die oorlog woed, kan ’n soldaat nie bekostig dat ander dinge sy aandag aftrek nie. Hy moet dink aan hoe hy die oorwinning kan behaal. Aangesien lewe op die spel is, kan die Christensoldaat nie toelaat dat sy oë hom weglei van die doel van die geestelike stryd nie. Die apostel Paulus het vir Timotheüs gesê: “Hierdie boodskap vertrou ek aan jou toe, . . . ooreenkomstig die profesieë wat vroeër aangaande jou uitgespreek is, sodat jy daardeur die goeie stryd kan stry en aan die geloof en ’n goeie gewete vashou” (1 Timotheüs 1:18, 19). Hierdie stryd sal vir die Christen al hoe feller word totdat Jehovah God, deur middel van sy Seun, alle teenstanders van Sy soewereiniteit vernietig.—Openbaring 19:11-16.
Lojaliteit noodsaaklik
Hoe noodsaaklik is dit tog dat die Christen lojaal bly! Maar wat sal hom help? As ’n enkele soldaat in konvensionele oorlogvoering teen ’n oormag van duisende te staan sou kom, sou hy geen hoop op oorwinning hê nie. Ten spyte van sy moed sal hy oorweldig word. Dieselfde kan met die Christensoldaat gebeur wat voor hordes demone te staan kom. Hy moet onthou dat hy nie alleen is nie. Omdat hy die ondersteuning van Jehovah God, Jesus Christus en miriades engele het, kan die Christen, in assosiasie met medegelowiges, die oorwinning behaal.
Dit is noodsaaklik dat ons gebruik maak van die versterkende hulp wat God se organisasie ons kan gee. Deur gereelde omgang met een van die meer as 46 000 gemeentes van Jehovah se Getuies, kan ’n mens leiding ontvang in die gebruik van geestelike wapens en wapenrusting (Efesiërs 6:10-20). Die persoon wat hom uit keuse van ander gelowiges afskei, is soos die soldaat wat duisende vyande op eie houtjie aandurf. Daarom werk ons wyslik met God se georganiseerde volk saam in ons geestelike oorlogvoering en vermy ons die verlokkinge wat ons van ons Christelike werk kan laat afwyk.
Moet nooit vergeet dat die Christen stry om lewens, sy eie lewe inkluis, te red nie (1 Timotheüs 4:16). Moenie terugdeins nie, maar voer die geestelike stryd deur ywerige prediking en onderrigting. As “’n goeie soldaat van Christus Jesus” kan jy die wêreld oorwin.—2 Timotheüs 2:3, 4; Hebreërs 10:38; Johannes 16:33.