Vrae van lesers
■ Waarom het Paulus geskryf: “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense”, as die Christelike lewenswyse nou reeds lonend is?
Ware Christelikheid is inderdaad ’n goeie en bevredigende lewenswyse. Maar die apostel Paulus se kommentaar in 1 Korinthiërs 15:10 toon dat ’n persoon ellendig of bejammerenswaardig sou wees indien hy ter wille van sy hoop gely het en daardie hoop ongegrond was.
Daar is oorgenoeg rede om te sê dat die lewenswyse wat uit die beoefening van die ware Christelike geloof voortspruit ’n goeie lewenswyse is. Beskou enkele bewyse hiervan. ’n Ware Christen maak deel uit van ’n gemeente van rein, kerngesonde en liefdevolle persone wat in hom belangstel en bereid is om hom geestelik sowel as materieel te help. Omdat hy op God se raad ag slaan, word die Christen beskerm teen talle fisiese gevare en siektes, soos dié wat verband hou met onsedelikheid, strawwe drinkery, die rookgewoonte en dwelmmisbruik (Romeine 1:26, 27; 1 Korinthiërs 6:18; 2 Korinthiërs 7:1; Efesiërs 4:18, 19). Hy dwaal nie doelloos rond omdat hy onseker is van die sin of rigting van die lewe nie. Hy waardeer eerder sy verhouding met sy Skepper en put bevrediging daaruit om God se wil te doen. Omdat hy hom deur Bybelbeginsels laat lei, geniet hy groter sekuriteit en voorspoed in sy gesinslewe. Weens sy eerlikheid kan die Christen ’n waardevoller werknemer wees en miskien minder gevaar loop om afgedank te word.
Selfs hierdie verkorte lys toon dat die Christelike lewenswyse waarlik ryk en lonend is.
Maar soms sal ’n Christen teenstand, vervolging of selfs mishandeling ondervind (2 Timotheüs 3:12). Jesus het voorspel dat dit so sou wees (Mattheüs 24:9, 10; Markus 8:34; 10:30; Lukas 21:12; Johannes 16:2). Die Christene in eertydse Korinthe het dit geweet. Hulle het besef dat Paulus, wat “die gemeente van God vervolg het”, nou die skyf van vervolging was. Hy het vir hulle geskryf: “Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit” (1 Korinthiërs 15:9; 4:12; 2 Korinthiërs 11:23-27). Hy het egter geredeneer: “Waarom is ons ook elke uur in gevaar? Ek sterf dag vir dag . . . As ek in Efese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want more sterf ons!”—1 Korinthiërs 15:30-32.
Die vervolging wat Christene verduur het, het dus verband gehou met hulle hoop. As hierdie hoop blote misleiding was, was hulle vervolging sinloos. Daarom kon Paulus sê: “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.”—1 Korinthiërs 15:19.
Maar hy het vir seker geweet dat Christus opgewek is. Jesus het na sy opstanding aan honderde getuies, waaronder Paulus self, verskyn (1 Korinthiërs 15:3-8). Gevolglik het hy die Korinthiërs aangespoor: “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”—1 Korinthiërs 15:58.
Paulus was daarvan oortuig dat nòg hy nòg ander Christene wat ter wille van Christus gely het bejammerenswaardig was. Hy het ’n vol, aangename, selfs benydenswaardige, lewe gelei. Dit kan met ons ook wees soos dit met hom was, naamlik dat ‘die godsaligheid nuttig is vir alles, omdat dit belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het’.—1 Timotheüs 4:8.
■ Beteken Jesus se woorde oor ‘die liefde van die meeste wat sal verkoel’ dat dit vandag onder ware aanbidders sal gebeur?
Ons het goeie rede om te glo dat Jesus nie ’n grootskaalse verkoeling van liefde onder Jehovah se volk voorspel het nie.
Die apostels het gevra vir ‘die teken van Jesus se koms en van die voleinding van die wêreld’. Jesus het oorloë, aardbewings, hongersnode en die vervolging van Christene voorspel. Hy het bygevoeg: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.”—Mattheüs 24:3-12.
’n Groot deel van daardie profesie het in vervulling gegaan tussen 33 G.J., toe dit uitgespreek is, en die groot verdrukking wat die Romeine in 70 G.J. oor Jerusalem gebring het. (Vergelyk Lukas 19:41-44; 21:5-28.) Het die liefde van die meeste gesalfde Christene gedurende daardie tydperk afgekoel? Nee. Diegene wat gedurende daardie geslag van die Christelike geloof afvallig geword het, was klaarblyklik in die minderheid. Die meeste Christene wat deur die Jode vervolg is, het aangehou om ‘die woord van die evangelie te verkondig’ en om liefde teenoor God, teenoor ongelowiges en teenoor mede-Christene te openbaar (Handelinge 8:1-25; 9:36-42). Maar die liefde het wel verkoel onder die Jode, wat beweer het dat hulle ware aanbidders is. Die meeste van hulle het Jesus se waarskuwing in die wind geslaan, teen Rome in opstand gekom en hulle nasie met geweld probeer verdedig.
Jesus se profesie reik verder as die eerste eeu en ondergaan vandag ’n groter vervulling (Openbaring 6:2-8). Net soos die Jode van daardie tyd het mense al hoe minder daadwerklike liefde. Miljoene het ateïste geword. Selfs in die sogenaamde Christendom toon mense minder naasteliefde, en kerkbywoning en algemene Bybelkennis is aan die afneem. Baie wat vroom lyk, probeer om menseprobleme langs politieke kanale op te los. Dit is dus onder sulke beweerde aanbidders van God dat die liefde verkoel.
Ware Christene moet egter nie oorgerus raak nie. Aangesien sommige Christene in die eerste eeu hulle eerste liefde verlaat of, as gevolg van probleme, verwaarloos het, kan ons vind dat ons liefde besig is om te verkoel (2 Timotheüs 2:16-19; Openbaring 2:4). Hoewel ons uitsonderings op die meeste van Jehovah se dienaars sou wees indien dit met ons gebeur, onderstreep dit die nodigheid om te ‘volhard tot die einde toe’ as ons gered wil word.—Mattheüs 24:13.