God se Woord is lewend
Die ryk man en Lasarus—Wat is die les?
JESUS CHRISTUS het dikwels onderrig deur ’n verhaal te vertel. Hier is ’n prentjie van een van sy bekende verhale. Jesus het dit so begin: “Daar was ’n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was ’n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.”
Jesus het dus bloot gesê dat ’n sekere man ryk was, duur aangetrek en goed geëet het, terwyl Lasarus honger en vol swere was en deur die honde gelek is. Was dit ’n verhaal oor werklike mense? Nee. Die Katolieke Jerusalem Bible verduidelik in voetnoot dat dit ’n “gelykenis in verhaalvorm, sonder verwysing na enige geskiedkundige persoon” is. Let op die rede hiervoor uit wat Jesus volgende sê: “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.”—Lukas 16:19-24.
Soos jy kan sien, het Jesus nie gesê dat die ryk man ’n verdorwe lewe gelei het wat vurige pyniging verdien nie; die man se tekortkoming was dat hy nie die armes gevoed het nie. Boonop het Jesus nie gesê dat Lasarus goeie dinge gedoen het wat vir hom ’n plek in die hemel sou verseker nie, iets wat volgens sommige kerke deur die boesem van Abraham voorgestel word. Buitendien was Abraham, soos Dawid, dood en in sy graf, wat beteken dat engele Lasarus nie letterlik na sy boesem kon dra nie (Handelinge 2:29, 34; Johannes 3:13). En as die ryk man wel in ’n letterlike vuur was, sou Lasarus hom beslis nie met ’n enkele druppel water kon help nie!
Wie is dan deur die ryk man en deur Lasarus afgebeeld? Wat het hulle dood voorgestel? Die ryk man het die verwaande godsdiensleiers afgebeeld wat versuim het om die mense geestelik te voed, en Lasarus was die gewone mense wat Jesus Christus aanvaar het. Hulle dood het ’n verandering in hulle toestand voorgestel.
Hierdie verandering, of dood ten opsigte van die vorige toestand van die ryk man en Lasarus, het plaasgevind toe Jesus die verwaarloosde mense, wat soos Lasarus was, gevoed het. Hulle het dus die guns van die Grotere Abraham, Jehovah God, verkry. Die verwaande Joodse godsdiensleiers het terselfdertyd “gesterf” wat God se guns betref en is deur die leer van Christus en sy volgelinge gepynig. Toe Stefanus hulle byvoorbeeld in die openbaar ontmasker het, “was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners. . . . en hulle ore toegestop”. Hulle het pyn verduur.—Handelinge 7:51-57.
Jesus se verhaal leer dus nie dat daar na die dood pyniging in ’n brandende hel is nie, maar beskryf eerder die verandering wat sy leringe onder twee groepe mense teweeggebring het.
[Prente op bladsy 8]
Wie is “Lasarus?”
Wie is “die ryk man” wat gepynig word?