Insig in die nuus
Gewers word bevoordeel
“Hoewel daar nie in die dae van St. Lukas spanningstoetse en elektrokardiogramme was nie, was hy medies akkuraat toe hy geskryf het [in Handelinge 20:35, waar hy Jesus aangehaal het]: ‘Dit is saliger om te gee as om te ontvang’”, skryf Denise Foley in die tydskrif Prevention. “Ons het nog altyd geweet dat mense met ’n vrygewige gees gewoonlik gelukkiger is, maar nou sê dokters dat hulle ook gesonder is en langer lewe.”
Waarom is dit die geval? Een rede wat aangevoer word, is dat spanning doeltreffend teëgewerk word wanneer ’n mens ruimhartig van jouself gee tot voordeel van ander, en spanning is juis ’n faktor by talle siektes, waaronder hoë bloeddruk en koronêre hartsiekte. Daarbenewens het studies getoon dat eensaamheid ’n grondoorsaak van voortydige sterftes is. “Die opdrag om jou naaste lief te hê soos jouself is nie net ’n morele opdrag nie”, sê dr. James Lynch van die Universiteit van Maryland se mediese fakulteit. “Dit is ’n fisiologiese opdrag. Besorgdheid is biologies. Een voordeel wat jy verkry as jy vir ander omgee, is dat jy nie eensaam is nie. En hoe meer jy by die lewe ingeskakel is, hoe gesonder is jy.” Maar, sê die navorsers, die gewer sal slegs bevoordeel word indien hy waarlik uit die goedheid van sy hart gee en nie net om iets in ruil te ontvang of om in ’n behoefte te voorsien nie.
Sulke vrygewigheid hou nie alleen fisiese voordele in nie, maar bring ook God se goedkeuring. “God het ’n blymoedige gewer lief”, sê 2 Korinthiërs 9:7. Aan diegene wat sulke ruimhartige besorgdheid oor die Koning, Jesus Christus, se “broeders” toon, sê Jesus: “Kom, . . . beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af” (Mattheüs 25:34-40). En dit is opregte, liefdevolle belangstelling in hulle medemens wat Jehovah se Getuies beweeg om die “evangelie” van God se Koninkryk te verkondig.—Mattheüs 24:14.
‘Van ’n verleentheid tot ’n ramp’
Aan die einde van Mei het vyf mense, wat na berig word die Dierebevrydingsfront verteenwoordig, by ’n laboratorium van die mediese fakulteit van die Universiteit van Pennsilvanië ingebreek en 33 videobande gesteel waarop breinbeskadigende eksperimente op bobbejane en ape gedokumenteer is. As gevolg van die inbraak, wat nog ’n episode in die lang stryd tussen navorsers en dierebeskermingsgroepe is, was universiteitswoordvoerders genoodsaak om lang verduidelikings te gee om die eksperimente te regverdig.
“Wat skakeldiens betref”, sê die tydskrif Science, “wissel die tonele op die bande—wat gemaak is om die navorsing te dokumenteer en nie om aan die publiek vertoon te word nie—van sommige wat ’n verleentheid veroorsaak tot ander wat rampspoedig is.” Dierebeskermingsgroepe het beweer dat die eksperimente wreed is. Maar navorsers het die inbraak veroordeel en ter regverdiging van die eksperimente volgehou dat dit uiteindelik baie menselyding kan verlig.
Hoewel sinvolle eksperimente mense regstreeks tot voordeel kan strek, staan die Bybel nie onverskillig teenoor die welsyn van diere nie. Die Mosaïese Wet het bepaal dat diere genadig behandel moet word, en selfs dat hulle op die Sabbat moet rus (Deuteronomium 22:10; Exodus 23:12). En ’n Bybelspreuk sê: “Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddeloses is wreed.”—Spreuke 12:10, NAV.
“Regverdige” oorloë—Hoe regverdig?
“Elke oorlog is ’n regverdige oorlog, na die mening van diegene wat dit voer”, skryf Gwynne Dyer in The Gazette van Montreal, Quebec, Kanada. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het selfs die Nazi’s volgehou dat hulle ’n regverdige oorlog voer om aan die Duitse volk terug te gee wat hulle in die Eerste Wêreldoorlog verloor het. Maar, vra Dyer, “het hulle teenstanders waarlik ’n regverdige oorlog gevoer as daar aanvaar word dat die Nazi’s verkeerd en goddeloos—asook baie magtig en gevaarlik—was?”
Nee, antwoord hy, want hy voer aan dat die oorlog teen die Derde Ryk nie begin is weens morele verontwaardiging oor “die verskriklike dinge wat in lande onder Hitler se beheer plaasgevind het nie. . . . Die ergste van daardie dinge, soos die uitwissingskampe”, skryf Dyer, “het eers gebeur toe die oorlog geruime tyd aan die gang was.” Hy voeg by dat die oorlog “om al die klassieke redes gevoer is: Oor grondgebied . . . en veral oor mag. . . . Teen die breë geheel gesien, was die Tweede Wêreldoorlog maar net nog ’n ronde in die eindelose wedywer van soewereine state om mag en sekuriteit, binne ’n anargistiese stelsel wat uiteindelik deur militêre geweld gereguleer word.”
Dyer se kommentare herinner Christene aan die Bybel se simboliese voorstelling van wêreldmoondhede as diere (Daniël, hoofstukke 7, 8; Openbaring, hoofstukke 13, 17). Hoe gepas dan dat Christene neutraal bly! Hulle besef dat gierigheid en selfsug—nie moraliteit nie—agter die wêreld se oorloë sit.—Johannes 17:16; 18:36.