Gereinig en ywerig vir goeie werke
‘Jesus Christus het Homself gegee om vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.’—TITUS 2:13, 14.
1. Waarom moet getuies van Jehovah rein en ywerig wees?
JEHOVAH is heilig, goed en regverdig. Hy en sy Seun verrig ook uitmuntende werk met ywer (Levitikus 19:2; Psalm 25:8, NAV; Johannes 5:17). Daarom moet alle getuies van Jehovah rein en ywerig vir goeie werke wees.
2. (a) Hoe het die apostel Paulus reinheid met ywer in verband gebring? (b) Watter vrae sal ons nou bespreek?
2 Die apostel Paulus het reinheid sowel as ywer gemeld toe hy geskryf het dat Jesus hom deur God se onverdiende goedheid “vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke” (Titus 2:11-14). Wat word vereis van diegene wat deur Jesus gereinig is? In watter goeie werke moet ons ywerig wees? En watter seëninge geniet gereinigde en ywerige getuies van Jehovah?
Geestelike reinheid noodsaaklik
3. (a) Watter standaard van reinheid moet Jehovah se knegte handhaaf? (b) Hoe is daar klem gelê op reinheid toe Joodse ballinge uit Babilon bevry is?
3 Jehovah se knegte moet ‘n hoë standaard van fisiese, morele en geestelike reinheid handhaaf (Exodus 30:17-21; Deuteronomium 23:12-14; Efesiërs 5:25-27; 2 Korinthiërs 7:1). Hierdie basiese vereiste is in die sesde eeu v.G.J. beklemtoon toe
Joodse ballinge uit Babilon bevry is (Esra 1:1-4). Hulle sou eerlank na hulle vaderland terugkeer en vreugdevol die heilige voorwerpe wat koning Nebukadnesar uit God se tempel in Jerusalem verwyder het met hulle saamneem. Hoe noodsaaklik dat daardie tempelvoorwerpe slegs deur rein aanbidders van Jehovah gedra word! Heel tereg is hulle dus beveel: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die Here!” (Jesaja 52:11). Daardie draers moes rein wees van alle besoedeling deur Babilon se godsdienstige en sedelike onreinheid.
4. Wat word van alle getuies van Jehovah vereis, in ooreenstemming met 2 Korinthiërs 6:14-17?
4 Die apostel Paulus het daardie oproep om reinheid op gesalfde Christene toegepas wat Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, verlaat. Hy het geskryf: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie” (2 Korinthiërs 6:14-17; Openbaring 18:4, 5; Jeremia 51:45). Jehovah vereis inderdaad geestelike reinheid van Jesus se gesalfde volgelinge en hulle metgeselle, die “groot menigte”.—Openbaring 7:4-9.
‘Verloën die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede’
5. Wat moet volgens 2 Korinthiërs 4:2 waar wees van ons bediening?
5 Diegene wat as geestelik rein getuies van Jehovah dien, word onder meer vermaan om “die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën” (Titus 2:11, 12). Soos Paulus elders gesê het: “Ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan” (2 Korinthiërs 4:2). Soos die apostel moet hedendaagse Christene onberispelik wees in hulle bediening, vry van enige gegronde beskuldiging van verdorwenheid of slinksheid in hulle handelinge (2 Korinthiërs 8:20, 21, vgl. NW; Psalm 101:1-8). Hulle moet hulle nie deur die wêreld se wysheid en selfsugtige, sondige gees of werkende krag laat lei nie.—1 Korinthiërs 1:21; 2:12; 3:19; Efesiërs 2:1, 2.
6. Wat kan ons doen as ons ‘n stryd voer teen neigings soos slinksheid en onbehoorlike vleeslike begeertes?
6 Mense met ‘n wêreldse gees maak dikwels van slinkse metodes gebruik om hulle doelwitte te bereik. Maar as ‘n verklaarde Christen dit doen, het hy nie ‘die goddeloosheid verloën’ nie en geniet hy geen vertroulike omgang met Jehovah nie (Spreuke 3:31, 32, NW). En as ‘n persoon deur onrein, vleeslike hunkeringe oorheers word, het hy nie ‘wêreldse begeerlikhede verloën’ nie (Galasiërs 5:19-21; 1 Johannes 2:15-17). Maar gestel ons voer ‘n stryd teen sulke ongeestelike neigings soos slinksheid en onbehoorlike vleeslike begeertes. Dan sou dit gepas wees om te bid soos Dawid gebid het: “Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Psalm 51:12, 13; Johannes 15:19). As ons so bid en ten volle gebruik maak van die hulp wat beskikbaar is deur God se Woord, gees en organisasie, sal ons ons denke kan regstel en getrou as Jehovah se rein aanbidders kan dien.
7. Waarom moet onboetvaardige sondaars uitgesit word?
7 As sommige onder ons ‘n uiters onrein weg inslaan sonder om berou te toon, moet hulle uitgesit word sodat Jehovah se naam nie ontheilig word nie, sy organisasie skoon gehou word en sy getroue knegte beskerm word en die erns van growwe oortreding sal besef (Levitikus 22:31-33; Deuteronomium 13:6-11). Jare gelede het God se volk besef dat ‘n onboetvaardige sondaar nie meer hulle broederskap waardig is nie. In 1904 het die Wagtoringgenootskap se eerste president, Charles Taze Russell, byvoorbeeld geskryf: “Die Kerk moet sy gemeenskap en enige en alle tekens of blyke van broederskap aan hom onttrek” (The New Creation, bladsy 290). Vandag volg Jehovah se volk eweneens die Skriftuurlike raad om ‘die slegte mens onder hulle uit te verwyder’.—1 Korinthiërs 5:9-13.
8. Watter riglyne bied Lukas 3:8 en Galasiërs 6:1 oor hoe ouere manne teenoor oortreders moet optree?
8 Die verantwoordelikheid om Jehovah se organisasie rein te hou is vir aangestelde ouere manne ‘n saak van groot erns. Hulle moet natuurlik barmhartig wees waar daar ‘vrugte is wat by berou pas’, net soos Jehovah barmhartigheid toon wanneer dit gepas is (Lukas 3:8, NW; Psalm 86:15; 130:3, 4). En as ‘n medegelowige ‘n misstap begaan voor hy daarvan bewus is, moet diegene wat die geestelike hoedanighede het hom “in ‘n gees van sagmoedigheid” probeer reghelp.—Galasiërs 6:1, NW.
Hoe ouere manne kan help
9. Meld twee maniere waarop ouere manne ander Christene geestelik kan help.
9 Hoe kan opsieners ander Christene help om geestelik rein te bly? Een manier is deur opbouende toesprake te hou. Nog ‘n manier is deur persoonlike besprekings en herderlike besoeke (1 Petrus 5:1-4). By sulke geleenthede gebruik ouere manne tereg die Bybel om medegelowiges te leer, te herinner, te vermaan en selfs tereg te wys.
10. (a) Hoe moet ouere manne openbare toesprake beskou? (b) Waarom moet geestelike herders ywerige studente van die Bybel wees?
10 Paulus het getoon hoe belangrik dit is om ander te leer toe hy sy medewerker Titus soos volg aangespoor het: “Spreek jy wat by die gesonde leer pas” (Titus 2:1). Nederige Christen- ouere manne soek nie eer as openbare sprekers nie, maar is gretig om die
Bybel behoorlik te gebruik om ander te leer (Spreuke 25:27, NW). Dit is interessant dat ‘n eertydse president van die Verenigde State, John Quincy Adams, gesê het: “Ek maak dit nou al baie jare lank ‘n gebruik om die Bybel een maal elke jaar deur te lees.” Elke koning van Israel moes ‘n afskrif van God se wet maak en “al die dae van sy lewe daarin lees”. Josua het soortgelyke instruksies gevolg (Deuteronomium 17:14-20; Josua 1:7, 8). Hoe kon sulke manne van eertydse Israel verstandig opgetree of ander geestelik gehelp het sonder die kennis wat hulle op daardie manier verkry het? Het jy, as jy ‘n aangestelde ouere man is, al die hele Bybel deurgelees, miskien baie male? Dit sal jou ongetwyfeld beter in staat stel om ander, met inbegrip van toegewyde Christene wat self al dikwels die Skrif deurgelees het, van raad te dien. Diegene wat as geestelike herders dien, moet toegewyde studente van God se Woord, die grondslag van “die gesonde leer”, wees.
11. (a) Watter Skriftuurlike herinneringe het die eerste-eeuse Christene in Kreta nodig gehad? (b) Wat moet aangestelde ouere manne bekwaam wees om te doen waar dit by Bybelse herinneringe kom?
11 Paulus het ook vir Titus gesê: herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys” (Titus 3:1, 2). Die eerste-eeuse Christene op die eiland Kreta het daardie uitdruklike herinneringe nodig gehad. Wanneer daar vandag ‘n probleem ontstaan, moet ouere manne eweneens die aandag op gepaste Skriftuurlike herinneringe kan vestig. En mag ons altyd dankbaar wees wanneer Jehovah se herinneringe onder ons aandag gebring word.—Psalm 119:99, 129, NW.
12. (a) Wat beteken dit om te vermaan? (b) Met watter gesindheid moet vermaning gegee word?
12 Titus is ook beveel: “Vermaan die jong manne net so om ingetoë te wees” (Titus 2:6). Die woord “vermaan” beteken “ernstig waarsku; . . . aanspoor tot verbetering” (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal). Weens opregte liefde en besorgdheid het Paulus nie die nodige vermaning agterweë gehou nie. Trouens, hy kon vir die ouere manne van Efese sê: “Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Handelinge 20:31). Hedendaagse ouere manne wat dieselfde gesindheid het, en wat gepaste raad of vermaning gee, is inderdaad ‘n seën vir die gemeente!
13. (a) Wat is teregwysing? (b) Met watter gesindheid moet ouere manne ander teregwys?
13 Paulus het ook teregwysing gemeld en Titus aangespoor: “Jy [moet] hulle streng teregwys, sodat hulle gesond kan word in die geloof. Hulle moet hulle nie langer besig hou met Joodse verdigsels en met die voorskrifte van mense wat van die waarheid afgedwaal het nie” (Titus 1:13, 14, NAV). Om tereg te wys, beteken “om iemand op sy nalatigheid te wys gew[oonlik] met die vriendelike bedoeling om hom reg te help of te help”, of “om afkeuring te kenne te gee teenoor” ‘n persoon weens sy woorde of gedrag (Webster’s New Collegiate Dictionary). Paulus het gepraat van teregwysing, maar met ‘n edel doel—“sodat hulle gesond kan word in die geloof”. Net so vermy ouere manne vandag onchristelike hardvogtigheid. Anders as murmurerende afvalliges probeer ware Christen- ouere manne nie om oor die geloof en lewe van ander gelowiges te “heers” nie. Hulle tree eerder op as bestuurders en medewerkers tot die vreugde van hulle broers deur hulle te help om vas te staan in die geloof.—1 Korinthiërs 1:24; 1 Korinthiërs 4:1, 2.
14. Wat sal ons help om geestelik rein te bly?
14 Gehoorsaamheid aan die Bybel se leer, herinneringe, vermaning en teregwysing sal ons help om geestelik rein te bly. Dit maak ons geskik vir God se heilige diens. Maar met watter gees moet ons daardie diens verrig?
Toon ‘ywer in goeie werke’
15. (a) Hoe kan ywer omskryf word? (b) Wat is die beste werk wat ‘n Christen kan doen?
15 As ‘n georganiseerde liggaam van toegewyde Christene is Jehovah se Getuies “ywerig in goeie werke”. Ywer is “gretige en vurige belangstelling in die strewe na iets” (Webster’s New Collegiate Dictionary). Volgens Paulus se brief aan Titus moet alle Christene ‘n breë spektrum van “goeie werke” nastreef. Jong vroue moet byvoorbeeld kuis, goeie huisvrouens en onderdanig aan hulle mans wees. Titus moes “‘n voorbeeld stel van goeie werk”, onder meer deur sy leer suiwer te hou en gesonde woorde te gebruik (Titus 2:1-14, NAV). Die beste werk wat ‘n Christen kan doen, is natuurlik om ander te help om van God te leer en Hom te dien. Is jy, as jy ‘n getuie van Jehovah is, waarlik ywerig in hierdie ‘goeie werk’? Eerste-eeuse Christene het ywerig die evangelie verkondig, selfs tydens vervolging.—Handelinge 11:19-21.
16. (a) Wat is ‘n basiese rede vir die bestaan van die Christengemeente? (b) Wat is al oor die evangelisasiewerk van Jehovah se Getuies gesê?
16 Ten spyte van die vervolging wat Jehovah se Getuies vandag ondergaan, beweeg God se gees hulle om die Koninkrykspredikingsopdrag uit te voer—’n basiese rede vir die bestaan van die Christengemeente (Mattheüs 24:14; 28:19, 20; Jesaja 61:1, 2). Soos die vroeë Christene doen hulle ywerig die goeie werk om die “evangelie” van huis tot huis en by ander geleenthede te verkondig (Handelinge 5:41, 42; 20:20, 21). In sy boek Evangelism, Inc. bespreek G. W. Target predikingsmetodes, waaronder “evangelisasie van huis tot huis”, en maak hy die opmerking dat “sommige mense dit selfs die algemeenste metode sou noem—veral na die laaste besoek deur die Jehovahsgetuies. . . . Ander leer vinnig, maar die Jehovahsgetuies is steeds op die voorpunt.” Aangaande die gebruik van Bybellektuur erken Target: “Die Jehovahsgetuies [is] weer eens op die voorpunt. . . . In teenstelling met hulle . . . is daar baie min denominasies wat werklik evangelisasiestof publiseer.” Ja, Christelike lektuur wat met behulp van God se heilige gees gepubliseer word en teen ‘n bydrae van Jehovah se Getuies verkrygbaar is, help voorwaar die sagmoediges oor die hele aarde om God se wil te leer en te doen.
17. Watter bewys is daar dat God die predikingswerk van Jehovah se Getuies seën?
17 Jehovah het die predikingswerk van die vroeë Christene geseën. Gemeentes is op een plek na die ander gestig—Rome, Korinthe, Efese, Filippi, Kolosse, Thessalonika en elders. Jehovah seën eweneens die predikingswerk van sy hedendaagse knegte, in so ‘n mate dat daar nou wêreldwyd meer as 46 000 gemeentes van Jehovah se Getuies is. God kom die eer toe vir hierdie wonderlike groei.—Jesaja 60:22; 1 Korinthiërs 3:6, 7.
Ons baie seëninge
18-20. Wat is sommige van die seëninge wat ons as God se knegte geniet?
18 Jehovah se volk geniet waarlik vandag baie seëninge en voordele vanweë hulle rein en ywerige diens (Spreuke 10:22). As God se gereinigde knegte put ons byvoorbeeld bevrediging uit die wete dat ons hom behaag (1 Petrus 1:13-16). Goddelike waarheid het ons bevry uit Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens (Openbaring 18:4, 5). Ons is nie die slagoffers van bygeloof, vrees vir die dode en so meer nie (Prediker 9:5, 10; Johannes 8:32). Die ‘vrede van God bewaar ons harte en sinne’ (Filippense 4:6, 7, 13, vgl. NW). Ons gereelde vergaderinge saam met rein aanbidders gee ons ‘n gevoel van veiligheid, soos dié van “skape in ‘n kraal” (Miga 2:12). Omdat ons God se heilige gees besit, kan ons die vrug daarvan openbaar, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22). Hoeveel rede het ons tog nie om te juig nie!
19 As ywerige Koninkryksverkondigers dien ons die Universele Soewerein—die grootste voorreg wat enige mens kan hê. Ons het “die heilige werk van die goeie nuus”. Om die waarheid te sê, geen ander aardse bedrywigheid bring groter vreugde as die werk om die boodskap van “die gelukkige God” te verkondig en ander te help om van hom te leer nie!—Romeine 15:16, NW; 1 Timotheüs 1:11, NW.
20 ‘n Intieme verhouding met God is nog een van ons talle seëninge. Ons kan tot hom bid met die vertroue dat hy ons hoor (1 Johannes 5:14, 15). Hoe wonderlik is dit om so na aan Jehovah te wees! Soos die psalmis dit gestel het: “Dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.”—Psalm 73:28.
21. Wat moet ons vaste voorneme as lede van Jehovah se gereinigde en ywerige volk wees?
21 Laat ons dan, met die oog op ons baie seëninge as lede van God se gereinigde en ywerige volk, vasbeslote wees om geestelik rein en vol godvrugtige ywer te bly. Dan kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons as sy getuies sal ondersteun en sal rig. Bowendien sal reinheid en ywer in God se heilige diens gedurende hierdie laaste dae vir ons, deur sy onverdiende goedheid, die weg open om tot in alle ewigheid rein en ywerige werke tot Jehovah se lof te verrig.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat is nodig om ‘n lid van Jehovah se gereinigde volk te wees?
◻ Hoe kan aangestelde ouere manne ander help om geestelik rein te bly?
◻ ln watter goeie werk moet God se volk veral ywerig wees?
◻ Wat is sommige seëninge wat Jehovah se gereinigde en ywerige getuies geniet?
[Prent op bladsy 18]
Ouere manne moet ywerige Bybelstudente wees en moet die Bybel gebruik om ander te leer, te herinner, te vermaan en selfs tereg te wys