Vrae van lesers
■ Waarom doen die kinders van Jehovah se Getuies nie skoolwerk wat met feesdae verband hou nie, terwyl ander leerlinge sulke take verrig ongeag aan watter kerk hulle behoort?
Jehovah se Getuies spoor hulle kinders aan om ywerige en saamwerkende leerlinge op skool te wees. Maar hulle meen dat dit indruis teen die gesin se diepgesetelde godsdiensoortuigings as hulle kinders deelneem aan skoolwerk wat gebaseer is op feesdae wat hulle nie vier nie.
Openbare skole is oop vir alle kinders, ongeag of hulle gesinne by ’n kerk, sinagoge of tempel aanbid, of geen godsdiens het nie. Soms hou klastake verband met ’n godsdienstige of nasionale feesdag wat die meeste mense in die gemeenskap vier. ln baie lande sluit skoolwerk gedurende Desember byvoorbeeld Kersmusiek of -kuns in. Leerlinge uit Joodse, Hindoeïstiese of ander nie-Christelike gesinne vier nie Kersfees tuis nie. Sommige van hulle meen nietemin dat hulle feesliedere kan sing of prente met Kersvader, Kersbome en dies meer daarin kan teken. Hulle redeneer dalk dat hulle dit objektief doen sonder om Kersfees te vier.
Ander leerlinge vra om verskoon te word van sulke werk in verband met feesdae. Joodse leerlinge doen dit moontlik op grond van wat Jehovah God eertydse Israel beveel het. “As jy kom in die land wat die Here jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie.” “Neem jou dan in ag dat jy nie . . . na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien?—dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie.”—Deuteronomium 18:9; 12:30, 31.
’n Spesifieke voorbeeld (wat al verkeerdelik toegepas is op die versiering van ’n Kersboom, maar in werklikheid verwys na die maak van ’n afgod) is waar Jehovah gesê het: “’n Boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers.” Dit moes nie as ’n blote kunsvorm beskou word nie. Jehovah het onomwonde beveel: “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie.”—Jeremia 10:2-4.
Die kinders van Jehovah se Getuies gaan skool omdat hulle ’n redelike opleiding wil verkry. As ’n kunstaak kan ’n onderwyser al die leerlinge vra om ’n prent te teken of ’n ander projek te voltooi waarin daar takbokke, sneeu en dennebome is. Min Getuie-ouers sal waarskynlik hierteen beswaar maak, mits dit bloot ’n kunstaak is en nie met Kersfees verband hou nie. Maar Jehovah se Getuies voel deur die gewete verplig om hulle te onthou van skoolbe-drywighede wat bots met hulle Bybelse begrip van God se wil. Hulle probeer om in hulle lewens toe te pas wat Jesus gesê het: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). As die taak dus van die leerlinge vereis om mee te doen aan onbybelse feesbedrywighede, sal Getuies hulle daarvan onthou al vind ander, wat ’n verskillende standpunt huldig, dit vreemd. Maar in ooreenstemming met godsdiensvryheid en hulle begeerte om goeie leerlinge te wees, sal Jehovah se Getuies moontlik versoek om ’n ander taak te verrig wat nie gods-diensaspekte het nie.—Vergelyk 1 Petrus 4:3, 4.
Die brosjure Die skool en Jehovah se Getuies sit die saak soos volg uiteen: “Om gewetensredes neem Jehovah se Getuies glad nie aan hierdie feesbedrywighede deel nie—of dit nou singery, die speel van musiek, deelname aan toneelstukke of parades, die teken van prente, bywoning van partytjies, eet en drink, ensovoorts is. Maar ons maak nie daarteen beswaar dat ander sulke feesdae vier nie en ons probeer ook nie om hulle te verhinder nie. Ons stel dit baie hoog op prys wanneer onderwysers ons kinders vriendelik verskoon van deelname aan alle bedrywighede wat met hierdie feesdae in verband staan.”—Bladsy 21.