Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 12/1 bl. 9-14
  • Gelukkig is die wat wakker gevind word!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gelukkig is die wat wakker gevind word!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Waaksame Joodse oorblyfsel
  • Vroeë Christelike waaksaamheid
  • Christelike verwagting ná 70 G.J.
  • ‘Gelukkig is die wat wakker gevind word’
  • Wees altyd gereed!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Hoe die Christelike verwagting vervaag het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Wat het geword van Christelike waaksaamheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die “reikhalsende verwagting” van die skepping
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 12/1 bl. 9-14

Gelukkig is die wat wakker gevind word!

“Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die Heer wakker sal vind as hy kom.”—LUKAS 12:37

1. Waarom het Jehovah se knegte hom nog altyd “bly verwag”, maar watter vraag kan oor die Christendom se kerke gestel word?

“JEHOVAH is ’n God van die gerig. Gelukkig is almal wat hom bly verwag” (Jesaja 30:18, NW). Sedert Jehovah die uiteindelike vernietiging van die Slang en verlossing deur die Beloofde Saad aangekondig het, lewe sy getroue knegte in afwagting van die vervulling van daardie belofte (Genesis 3:15). Maar help die Christendom se teoloë die lidmate van hulle kerke om wakker te bly met die oog op daardie finale verlossing uit die kloue van Satan en sy saad?

2. Waarom moet die “nasies” in afwagting van “Silo” wees?

2 In sy sterfbedprofesie het Jakob voorspel dat die Saad van die belofte deur die stam van Juda sou kom. Jakob het aan die Saad die simboliese naam Silo gegee en gesê: “Aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.” Volgens die Griekse Septuaginta sou Silo ‘die verwagting van nasies wees’ (Genesis 49:10). Die “nasies” behoort des te meer op die uitkyk na Silo te wees, want Jehovah het aan Jakob se grootvader Abraham gesê: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word” (Genesis 22:18). Maar daardie Saad, Silo, of die Messias, moes eers onder Abraham se nakomelinge na die aarde kom en in die stam van Juda gebore word.

’n Waaksame Joodse oorblyfsel

3. Wat sê Lukas oor die Joodse volk se verwagting in 29 G.J., en staaf die geskiedenis dit?

3 Die Joodse geskiedskrywer Lukas deel ons mee dat mense “in die vyftiende jaar van die regering van die keiser Tiberius [29 G.J.]” “in verwagting was, en almal [het] in hulle hart oorweeg . . . aangaande Johannes [die Doper] of hy nie miskien die Christus [Hebreeus, Ma·shi’ach, Messias] was nie” (Lukas 3:1, 15). Word hierdie woorde van Lukas deur die sekulêre geskiedenis gestaaf? Die nuwe Engelse uitgawe van Emil Schürer se History of the Jewish People in the Age of Jesus Christ vra: “Het hierdie hoop [Messiaanse verwagting] voortdurend lewend gebly onder die volk?” Dit antwoord: “In die laaste voorchristelike eeue, en veral in die eerste eeu n.C., het dit weer baie lewendig geword, soos die Pseudepigrafa [Joodse apokaliptiese literatuur], Qumran [geskrifte van die Dooie See-gemeenskap], Josephus en die Evangelies onteenseglik toon. . . . Die gesigte van die boek Daniël . . . het ’n diepgaande invloed op die ontstaan van die messiaanse gedagte uitgeoefen.”

4, 5. (a) Waarom het die Jode die Messias op daardie tydstip verwag, en hoe word dit bevestig? (b) Watter soort Messias het baie Jode verwag, maar aan wie het Jehovah die koms van die ware Messias geopenbaar?

4 Een geleerde het die volgende kommentaar op Mattheüs 2:2 gelewer: “Daar was op daardie tydstip ’n heersende verwagting dat die een of ander merkwaardige persoon in Juda sou verskyn. Die Jode het gretig uitgesien na die koms van die Messias. Deur die tyd te bereken wat deur Daniël gemeld is (hfst. ix. 25-27), het hulle geweet dat die tyd van die Messias se verskyning nader gekom het.” Daar kan ook gesê word dat Romeinse geskiedskrywer Suetonius en Tacitus, sowel as Joodse geskiedskrywer Josephus en Philo, melding maak van hierdie toestand van afwagting. Die Franse Manuel Biblique, deur Bacuez en Vigouroux (Deel 3, bladsy 191), bevestig dit en sê: “Mense het geweet dat die sewentig jaar-weke van Daniël ten einde loop; niemand was verbaas toe Johannes die Doper aangekondig het dat die koninkryk van God naby gekom het nie.”

5 Daar is dus geskiedkundige bewys dat die Jode die koms van die Messias, of Beloofde Saad, verwag het, en dit omrede hulle op die uitkyk was na die vervulling van ’n tydprofesiea (Daniël 9:24-27). Die meeste eerste-eeuse Jode wat aan die verskillende sektes van die Jodedom behoort het, het weliswaar op ’n politieke Messias gehoop wat, soos The Concise Jewish Encyclopedia sê, “Israel se vyande sou vernietig en ’n volmaakte tydperk van vrede en volmaaktheid sou inlui”. Maar ’n oorblyfsel getroue Jode was noulettend op die uitkyk na die ware Messias. Onder hulle was Sagaria en Elisabet, Johannes die Doper se ouers, sowel as Simeon, Anna, Josef en Maria (Mattheüs 1:18-21; Lukas 1:5-17, 30, 31, 46, 54, 55; 2:25, 26, 36-38). Vir hulle, maar nie vir die godsdiensleiers van die Jodedom nie, het Jehovah bevestig waarna Daniël se tydprofesie hulle in staat gestel het om op die uitkyk te wees, naamlik, die koms van die Beloofde Saad, of Messias, “toe die volheid van die tyd gekom het”.—Galasiërs 4:4.

Vroeë Christelike waaksaamheid

6. Hoe is jong Jode grootgemaak, en hoe het dit sommige gehelp om Jesus se dissipels te word?

6 Josef en Maria het geweet dat die kind Jesus vir wie hulle grootgemaak het, uiteindelik die Messias sou word. Waar dit van sy opvoeding praat, sê The New Encyclopœdia Britannica: “Jesus het heel waarskynlik grootgeword in die vroomheid wat in die huis en in die sinagoge gekweek is (waaronder Bybelstudie, gehoorsaamheid aan die Wet, gebed en verwagting van die uiteindelike koms van die Messias).” Ander kinders wat grootgeword het in die huise van die getroue Joodse oorblyfsel is met die Messiaanse hoop besiel, en hierdie regmatige verwagting het ten minste sommige van hulle in staat gestel om gou gehoor te gee aan die oproep om Jesus se dissipels te word.—Markus 1:17-20; Johannes 1:35-37, 43, 49.

7. (a) Het Jesus geleer dat die Koninkryk binne-in die individuele Christen is? (b) Waarna moes Christene op die uitkyk bly?

7 Naby die einde van sy aardse bediening het Jesus sy dissipels geleer om te waak met die oog op sy toekomstige teenwoordigheid” en die koms van sy Koninkryk. Die Britannica sê: “Hierdie tradisionele grondidees aangaande die einde van die wêreld, die Laaste Oordeel en die nuwe wêreld van God ontbreek nie in die leringe van Jesus wat in die Evangelies bewaar is nie. Jesus het derhalwe geensins die Koninkryk van die Hemele in ’n suiwer godsdienstige belewenis van die individuele mensesiel verander of die Joodse eskatologiese afwagting voorgestel as ’n evolusionêre proses wat immanent is aan die wêreld of as ’n doel wat deur mensepogings bereik kan word nie. . . . Hy het nie die hoop op ’n volks-messias gedeel of aangemoedig nie . . . net so min as wat hy die pogings van die Selote gesteun het om die koms van die Koninkryk van God te verhaas.” Nee, hy het vir Christene ’n veelledige teken gegee waardeur hulle ten eerste die nabyheid van Jerusalem se vernietiging sou kon onderskei en dan, baie later, ook die ‘teken van sy koms (“teenwoordigheid”, NW) en die voleinding van die wêreld’.—Mattheüs 24:3 tot 25:46; Lukas 21:20-22.

8. Wat toon dat Jesus nie geglo het dat hy spoedig sy Koninkryk sou ontvang nie, en watter raad het hy derhalwe aan sy volgelinge gegee?

8 Vrydenkers en selfs sommige van die Christendom se teoloë beweer dat die vroeë Christene geglo het dat Christus se parousia, of teenwoordigheid, in hulle dag sou plaasvind. Sommige meen glad dat Jesus self geglo het dat hy baie gou sy Koninkryk sou ontvang. Maar in sy gelykenisse van die talente en die ponde het Jesus getoon dat hy eers “ná ’n lang tyd” met koninklike mag sou terugkeer en sou afreken met sy diensknegte aan wie hy sy besittings toevertrou het (Mattheüs 25:14, 19; Lukas 19:11, 12, 15). En in sy profesie oor die ‘teken van sy teenwoordigheid en van die voleinding van die wêreld’ het hy erken dat “niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” Hy het bygevoeg: “Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.”—Mattheüs 24:3, 14, 36, 42, NAV.

9. Het die apostel Paulus die indruk gewek dat hy Christus se teenwoordigheid in sy dag verwag het? Verduidelik.

9 ’n Geleerde naslaanwerkb sê die volgende aangaande die bewering dat die vroeë Christene geglo het dat Christus se teenwoordigheid ophande is: “Die saak vir die veronderstelling dat Paulus in 1 Thess. die parousia verwag het, is allesbehalwe oortuigend. Reeds in 1 Thess. 5:10 hou Paulus rekening met die moontlikheid dat hy kan sterf. Die moontlikheid kan nie oor die hoof gesien word dat Paulus, waar hy in 1 Thess. 4:15 en 17 van ‘ons’ praat, hom met die laaste geslag vereenselwig het sonder om noodwendig te bedoel dat hy self daartoe behoort het nie.” In sy tweede brief aan Timotheüs het Paulus duidelik gesê dat hy nie hoop om sy beloning te ontvang voor “dié dag” nie, die dag van Christus se “verskyning” in sy Koninkryk, wanneer Hy “die lewende en die dode sal oordeel”.—2 Timotheüs 4:1, 8.

10. Hoe het behoorlike Christelike waaksaamheid die eerste-eeuse Judese Christene se lewe gered?

10 Christene moes waaksaam gebly het terwyl hulle Jesus Christus se teenwoordigheid en die koms van sy Koninkryk afgewag het. Behoorlike Christelike waaksaamheid het die Judese Christene in staat gestel om die teken te herken wat Jesus aangaande die naderende vernietiging van Jerusalem gegee het (Lukas 21:20-24). Toe Cestius Gallus Jerusalem in 66 G.J. aangeval het, het wakker Christene sy skielike, onverklaarbare onttrekking benut en uit die stad asook uit die omliggende gebied van Judea gevlug. Volgens die vroeë kerkgeskiedskrywers Hegesippus, Eusebius en Epifanius het die Judese Christene oor die Jordaan gevlug na ’n plek met die naam Pella. Omdat hulle geestelik wawyd wakker was, is hulle van die dood of gevangenskap gered toe die Romeinse leërs in 70 G.J. onder generaal Titus teruggekeer en Jerusalem vernietig het. Hoe bly moet daardie Christene tog gewees het omdat hulle bly waak het!

Christelike verwagting ná 70 G.J.

11, 12. Wat sou ná die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. die regte gesindheid vir Christene wees, en hoe sou dit hulle beskerm?

11 Wat sou die regte gesindheid vir Christene ná Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. en deur die eeue heen tot in die tyd van die einde wees, aangesien Jesus eers “ná ’n lang tyd” teenwoordig sou wees? Moes die Christelike verwagting as ’t ware op die lange baan geskuif word? Nee! Die apostel Johannes se drie briewe en die Openbaring, of Apokalips, is almal ná 70 G.J. geskryf. In sy eerste brief waarsku Johannes teen die “Antichris” en beveel hy Christene om in harmonie met Christus te bly terwyl hulle op Sy “teenwoordigheid” en Sy verskyning gewag het (1 Johannes 2:18, 28, vgl. NW; 3:2). In al drie briewe waarsku Johannes teen afvalliges. En die Openbaring is van begin tot einde gerig op Christus se koms in die heerlikheid van sy Koninkryk, soos blyk uit sy voorlaaste uitdrukking: “Amen, ja kom, Here Jesus!”—Openbaring 22:20.

12 Christene moes ingestel wees op die parousia. Met ander woorde, hulle moes dag vir dag in afwagting van Christus se “teenwoordigheid” lewe. Ernst Benz, ’n professor in die kerkgeskiedenis, skryf: “Die ‘laaste dinge’ was, in terme van dringendheid, die eerste dinge vir gelowiges van die vroeë kerk. Die sentrale inhoud van hulle geloof en hulle hoop was die komende Koninkryk van God.” Al sou die Koninkryk nie gedurende hulle lewe kom nie, sou hierdie gepaste afwagting Christene beskerm teen geestelike lomerigheid en betrokkenheid by Satan se wêreld—1 Johannes 2:15-17.

13, 14. Watter twee uiterstes het in die tweede en die derde eeu G.J. onder afvallige Christene bestaan?

13 Daar moet erken word dat, namate die afval ná die dood van die apostels ontwikkel het, sommige Christene verkeerde idees omtrent die nabyheid van Christus se koms in sy Koninkryk gekry het. In sy werk The Early Church and the World sê C. J. Cadoux: “Irenaeus [tweede eeu G.J.] en Hippolitus [einde van tweede, begin van derde eeu G.J.] het albei gedink dat dit moontlik is om met ’n mate van juistheid te bereken wanneer die einde sou kom.” Sommige het, weens foutiewe chronologie, gedink dat 6 000 jaar van die mensegeskiedenis byna verstryk het en dat die begin van die sewende millennium ophande was. Hulle het dit natuurlik mis gehad. Maar hulle het ten minste probeer om geestelik wakker te bly.

14 Die meeste afvallige Christene het andersyds alle gevoel van dringendheid en afwagting van die Koninkryk verloor. Die Theological Dictionary of the New Testament deel ons mee: “Beïnvloed deur die metafisika [filosofie] van Plato en die etiek van die Stoïsyne het die Christenapologete [“kerkvaders” van die tweede en vroeë derde eeu] weinig gebruik gemaak van die begrip die koninkryk van God. Versover hulle ’n eskatologie gehad het, is dit oorheers deur die gedagte van die volmaaktheid van die individuele Christen. . . . Griekse idees van onsterflikheid, die ewige lewe en kennis was belangriker as die Bybelse begrip van die [Koninkryk van God]. . . . Net so was daar by Origenes [c. 185-c. 254 G.J.] . . . feitlik geen plek vir die Bybelse boodskap oor die koninkryk van God nie.”

15. Watter houding het die gevestigde kerke teenoor die leer van die “Laaste Dinge” aangeneem namate die afval ontwikkel het?

15 Dit was in hoofsaak die gesindheid wat deur die eeue heen onder die sogenaamd Christelike kerke geheers het. The Encyclopœdia Britannica deel ons mee: “Sedert die tyd van die Romeinse keiser Konstantyn (oorlede 337) word die politieke erkenning van die Christelike geloof beskou as ’n verwesenlikte hoop ten opsigte van die Koninkryk van Christus. Die futuristiese eskatologie het in die onderdrukte, ondergrondse sektes voortbestaan.” “In die tydperk voor die 16de-eeuse Hervorming het kettergroepe . . . die Roomse Kerk daarvan beskuldig dat hy die oorspronklike, eskatologiese, onmiddellike verwagting verloën het.”

‘Gelukkig is die wat wakker gevind word’

16. Watter groepe het in die 19de eeu verskyn, en wat het sommige van hulle geglo?

16 Aangesien “die meer gevestigde Christelike kerke” nie meer op die uitkyk was na Christus se teenwoordigheid en sy aanvaarding van Koninkryksmag nie, is hierdie verantwoordelikheid oorgelaat aan wat daardie kerke “kettergroepe” genoem het. In die 19de eeu het verskeie sodanige groepe in lande verskyn waar die Bybel en die middele om dit te bestudeer vir die gewone mense beskikbaar was. Die groot kerke, vir wie die hele leer van die “Laaste Dinge” sinloos geword het, het sulke groepe neerhalend adventiste of chiliaste genoem, omdat hierdie groepe op die uitkyk was na Christus se tweede koms en geglo het dat Christus duisend jaar lank sou regeer. Baie van hierdie groepe het verwag dat Christus na die aarde sou terugkeer om sy duisendjarige Koninkryk op te rig. Sommige van hulle het uitgereken dat Christus se tweede koms in 1835 (die Irvingiete, in Engeland), 1836 (Bengel se volgelinge, in Duitsland), 1843 (Miller se volgelinge, in die Verenigde State) en 1889 (’n Mennonitiese groep in Rusland) sou plaasvind.

17, 18. Hoe het die Christendom se gevestigde kerke gereageer, maar waarna het Jesus gesê dat hy by sy ‘koms’ sou soek?

17 “Die meer gevestigde Christelike kerke” het hulle natuurlik verheug toe hierdie voorspellings verkeerd geblyk het. Die Katolieke, Ortodokse en vernaamste Protestantse Kerke het inderdaad nie sulke foute begaan nie. Die leer van die “Laaste Dinge” was vir hulle “sinloos”. Hulle het lank tevore al opgehou om te “waak”.—Markus 13:37.

18 Jesus het egter vir sy dissipels gesê: “Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. . . . Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind.”—Lukas 12:37-43.

19, 20. (a) Watter groep het in die sewentiger-jare van die negentiende eeu op die toneel verskyn, en waarom het hulle hulle van ander groepe gedissosieer? (b) Watter tydskrif het die amptelike orgaan van hierdie groep geword, en hoe het hierdie tydskrif ’n toenemende aantal ware Christene gehelp?

19 Onder die sogenaamde kettergroepe wat in die laaste derde van die 19de eeu op die uitkyk was na die teken van Christus se wederkoms was ’n Bybelstudieklas onder leiding van Charles Russell in Pittsburgh, Verenigde State. Russell het geskryf: “Van 1870 tot 1875 was daar ’n voortdurende toename in die genade en kennis en liefde van God en sy Woord. . . . Maar ons het toe maar net die breë trekke van God se plan begin verstaan en baie langgekoesterde vergissings verleer. . . . Ons was diep bedroef oor die vergissing van die Tweede Adventiste, wat Christus in die vlees verwag het.”

20 Russell en sy metgeselle het gou begryp dat Christus se teenwoordigheid onsigbaar sou wees. Hulle het hulle van ander groepe gedissosieer en, in 1879, begin om geestelike voedsel in Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence te publiseer. Van die eerste jaar van publikasie af het hierdie tydskrif, op grond van grondige Skriftuurlike berekening, vooruitgewys op die jaar 1914 as ’n tydvakskeppende jaar in Bybelse chronologie. Gelukkig was daardie Christene dus wat wakker gevind is toe Christus se onsigbare teenwoordigheid in 1914 begin het! Hierdie tydskrif, nou genoem Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan, help al meer as ’n eeu lank ’n immer toenemende aantal ware Christene om ‘op hulle hoede’ en ‘waaksaam’ te wees (Markus 13:33, NAV). Hoe dit presies gedoen is, word in die volgende artikel behandel.

[Voetnote]

a Kyk die boek “Let Your Kingdom Come” bladsye 58-66, vir ’n volledige bespreking van hierdie tydprofesie.

b The New International Dictionary of New Testament Theology, Deel 2, bladsy 923.

Enkele hersieningsvrae

◻ Wat bewys dat eerste-eeuse Jode die Messias verwag het?

◻ Hoe het waaksaamheid Judese Christene gehelp?

◻ Watter uitwerking het die afval op Christelike verwagting gehad?

◻ Na watter soort dienskneg sou Jesus soek wanneer die tyd van die einde nader gekom het?

◻ Watter groep Christene het aan hierdie vereistes voldoen, en met behulp van watter tydskrif?

[Prent op bladsy 12]

Die uitgewers van hierdie tydskrif was nog altyd waaksaam

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel