Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 12/1 bl. 14-19
  • Wees altyd gereed!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees altyd gereed!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Op die uitkyk waarna?
  • Wie was “waaksaam”?
  • Wakker of lomerig?
  • Gelukkig is die wat wakker gevind word!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die “reikhalsende verwagting” van die skepping
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Wat het geword van Christelike waaksaamheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Lig op Christus se teenwoordigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 12/1 bl. 14-19

Wees altyd gereed!

“Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”—LUKAS 12:40.

1. Wat het Christus gesê oor die nodigheid om waaksaam te bly?

JESUS Christus het sy volgelinge aangespoor om waaksaam te wees. Hy het byvoorbeeld gesê: “Julle moet . . . op julle hoede wees. Ek het alles vir julle vooruit gesê. . . . Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. . . . Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos ’n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die more vroeg nie, sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”—Markus 13:23-37, NAV.

2. Hoe vooronderstel die Onse Vader waaksaamheid, maar hoe het die Christendom se kerke die Koninkryksverwagting afgewater?

2 Die voorgaande artikels het oorvloedige bewyse uit neutrale bronne aangevoer dat die Christendom se kerke nie ‘waaksaam gebly’ het nie. Volgens The Catholic Encyclopedia het hulle die Koninkryksverwagting afgewater deur te beweer dat “die koninkryk van God . . . op die heerskappy van God in ons harte dui”, wat beteken dat die modelgebed, of Onse Vader, geheel en al sinloos word. The New Encyclopœdia Britannica sê egter: “Die versoeke in die Onse Vader vooronderstel die erg onrusbarende feit dat God se naam en wil geskend word, dat sy Koninkryk nog nie gekom het nie.” Ja, die Onse Vader vooronderstel waaksaamheid. Maar na watter dinge moet Christene in die besonder op die uitkyk bly?

Op die uitkyk waarna?

3. Waarom moes Christene nie die tydfaktor uit die oog verloor nie?

3 ’n Noukeurige ondersoek van Bybelprofesieë in verband met die “Laaste Dinge” toon duidelik na watter dinge Christene op die uitkyk moes bly. Hulle moes ten eerste nie die tydfaktor uit die oog verloor nie, want Jesus Christus het van ’n “tyd” gepraat waarvan net sy Vader geweet het (Markus 13:32, 33). Daarbenewens het Jesus vir sy dissipels gesê dat Jerusalem “vertrap [sal] word deur die nasies totdat die tye van die nasies [heidene] vervul is” (Lukas 21:24). Dit lê voor die hand dat Jesus hierdie inligting aan sy volgelinge gegee het om hulle te help om die tyd van die einde te eien, want dit maak deel uit van sy antwoord op die vraag: “Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur?”—Lukas 21:7.

4. Na watter “teken” moes Christene op die uitkyk bly?

4 Behalwe dat hulle op die tydfaktor moes let, moes Christene ook hulle oë oophou vir die gevraagde “teken”, wat ook in Mattheüs 24:3 en Markus 13:4 gemeld word. Hierdie veelledige teken—wat internasionale oorloë, hongersnood, aardbewings, pessiektes en die vervolging van ware Christene insluit—sou gepaard gaan met die vervulling van tydprofesieë om die “geslag” aan te dui wat ‘sekerlik nie sal verbygaan’ voordat al die dinge wat in die tyd van die einde moet gebeur inderdaad plaasgevind het nie.—Lukas 21:10-12, 32.

5. Hoe sou Christus deur die eeue heen met sy ware volgelinge wees, maar is dit al wat hy bedoel het toe hy die teken van sy “teenwoordigheid” gegee het?

5 Watter belangrike gebeure in verband met “die voleinding van die wêreld” sou deur hierdie teken aangekondig word? Jesus se dissipels het hom gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid [Grieks, pa·rou·si’a] wees?” (Mattheüs 24:3, NW). Wat sou Christus se “teenwoordigheid” beteken? Baie meer as dat hy geestelik met sy ware volgelinge sou wees wanneer hulle byeengekom het of hulle opdrag uitgevoer het om dissipels te maak. Hy sou sy volgelinge deur die eeue heen op hierdie manier ondersteun (Mattheüs 18:20; 28:18-20). Selfs die Christendom se teoloë erken dat die woord “teenwoordigheid” ’n spesiale betekenis aangeneem het. The New International Dictionary of New Testament Theology sê: “Die idee van die parousia word nou verbind met die kerk se verwagting van Christus se verskyning aan die einde van die tyd.” Van voor tot agter vermaan die Christelike Griekse Skrifte Christene om in afwagting van Christus se teenwoordigheid te lewe.—Mattheüs 24:3, 27, 37, 39; Jakobus 5:7, 8; 2 Petrus 3:3, 4; 1 Johannes 2:28; Openbaring 1:7; 22:7.

6. (a) Wat sou Christus se teenwoordigheid vir hierdie bose stelsel beteken? (b) Hoe sou Christus se teenwoordigheid gesalfde Christene raak wat getrou gesterf het, asook die wat nog lewend op aarde is?

6 Christus se teenwoordigheid sou niks minder as “die voleinding van die wêreld” beteken nie (Mattheüs 24:3; Markus 13:4). Dit sou beteken dat die huidige bose stelsel sy “tyd van die einde”, of “laaste dae”, ingegaan het (Daniël 12:4, 9; 2 Timotheüs 3:1-5). Dit sou beteken dat Christus die bevel van sy Vader ontvang het om Koninkryksheerskappy oor die aarde uit te oefen ‘te midde van sy vyande’ (Psalm 110:2; 2:6-9; Openbaring 11:15-18). Voordat hy die wêreld in die algemeen oordeel, sou Christus eers sy gemeente ondersoek en gesalfde Christene wat getrou gesterf het, opwek (1 Korinthiërs 15:21, 23; 1 Thessalonicense 2:19; 3:13; 4:13-17; 2 Thessalonicense 2:1). Daardie gesalfde Christene wat nog lewend op die aarde is en wat getrou as Christus se “dienskneg” optree deur geestelik wakker te bly en geestelike “voedsel op tyd” te verskaf, sou deur Christus “oor al sy besittings”, of Koninkryksbelange op aarde, aangestel word (Mattheüs 24:45-47; Lukas 12:42-44). Hierdie “getroue en verstandige dienskneg” sou moes deelneem aan en toesig hou oor die wêreldwye werk om “hierdie evangelie van die koninkryk” te verkondig, en “dan sal die einde kom”.—Mattheüs 24:14.

7. Na watter ander teken moes Christene selfs gedurende Christus se teenwoordigheid op die uitkyk wees, en waarom sou hulle steeds bid dat God se Koninkryk moet “kom”?

7 Ware Christene moes ‘waaksaam bly’ en op die uitkyk wees na al hierdie dinge wat sou bewys dat hulle in die tyd van Christus se teenwoordigheid en “die voleinding van die wêreld” lewe. Maar selfs gedurende “die tyd van die einde” moes hulle op die uitkyk bly na “die teken van die Seun van die mens”, sy ‘koms’ om oordeel aan Satan se bose stelsel te voltrek (Mattheüs 24:30, 44; Markus 13:26, 35; Lukas 12:40; 21:27; 2 Thessalonicense 1:7-10). Ofskoon hy dus ‘teenwoordig’ sou wees en sy Koninkryk reeds opgerig sou wees, sou hy én sy Koninkryk nog moes “kom” om die nasies en koninkryke van Satan se wêreld ‘te verbrysel en daar ’n einde aan te maak’ (Daniël 2:44). Dit verklaar waarom Christus, nadat hy die aspekte van die “teken” van sy teenwoordigheid gemeld het, bygevoeg het: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur” (Lukas 21:31). Ja, selfs gedurende Christus se teenwoordigheid sou Christene nog bid dat God se Koninkryk moet kom, en hulle sou steeds ‘op hulle hoede’ en “waaksaam” moes bly sodat hulle die vasgestelde tyd van “die einde” en hulle “verlossing” sou kon onderskei.—Markus 13:7, 29, 32-37; Lukas 21:9, 28.

Wie was “waaksaam”?

8. Meld kortliks die dinge waarna Christene op die uitkyk moet bly.

8 Ons het pas gesien dat Christene in afwagting van die einde van “die tye van die nasies” moes lewe. Hulle moes op die uitkyk wees na ‘die teken van Christus se teenwoordigheid en van die voleinding van die wêreld’. Hulle moes die opstanding van gesalfde Christene wat getrou gesterf het te wagte wees, asook die duidelike identifisering van “die getroue en verstandige dienskneg”-klas wat oor die aardse belange van Christus se Koninkryk aangestel sou word. Laastelik sou hierdie “dienskneg” aanhou om geestelike voedsel te voorsien, terwyl hy die leiding gee in die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk . . . in die hele wêreld” voor “die einde” kom. “Die teken van die Seun van die mens” sou verskyn deurdat hy “kom” om Satan se bose stelsel te vernietig.

9. Wie was op die uitkyk na die einde van “die tye van die nasies”, en hoe het Zion’s Watch Tower Christene gehelp om geestelik wakker te bly?

9 Wie het “waaksaam” gebly ten opsigte van al hierdie dinge? Reeds in 1876 was Charles T. Russell van Pittsburgh, Pennsilvanië, noulettend op die uitkyk na die einde van “die tye van die nasies”, of “tye van die heidene” (King James Version). In daardie jaar het hy ’n artikel met die titel “Heidense Tye: Wanneer eindig hulle?” gepubliseer. Daarin het hy gesê dat “die sewe tye in 1914 n.C. sal eindig”. Van 1880 af is daardie selfde inligting in Zion’s Watch Tower gepubliseer. Die nommer van Maart 1880 het gesê: “‘Die Tye van die Heidene’ strek tot 1914, en die hemelse koninkryk sal eers dan ten volle heerskappy uitoefen.” Die Bybelstudente wat daardie artikels geskryf het, het weliswaar nie op daardie tydstip die juiste Bybelse en historiese begrip gehad van wat die einde van daardie “tye van die nasies” presies sou beteken, soos ons hierdie dinge vandag verstaan nie.a Maar die belangrike punt is dat hulle “waaksaam” was en hulle mede-Christene gehelp het om geestelik wakker te bly.

10. Hoe is die ware betekenis van Christus se “teenwoordigheid” duidelik gemaak?

10 Dieselfde groep Bybelstudente wat aan Charles Russell en die tydskrif Zion’s Watch Tower verbonde was, het opregte Christene ook gehelp om te verstaan dat Christus se “teenwoordigheid” as iets onsigbaar beskou moes word, en dat hy nie na die aarde sou terugkeer om as ’n vleeslike koning te heers nie. Hulle het voortdurend die aandag van die Heer se “diensvolk” op wêreldgebeure in verband met “die teken” van Christus se teenwoordigheid en “die tyd van die einde” gevestig.

11. (a) Wat is nie destyds ten volle begryp in verband met aardse koninkryke en in verband met die ‘wegvoering’ van gesalfde Christene nie? (b) Watter beter begrip het ons vandag van Daniël 2:44 en 1 Thessalonicense 4:15-17?

11 Dit is wel so dat hulle gedink het dat die oprigting van die Koninkryk in die hemel die onmiddellike vernietiging van aardse koninkryke sou beteken en dat gesalfde Christene “weggevoer” sou word om aan te sluit by gestorwe, gesalfde Christene wat bestem was om ten tye van Christus se teenwoordigheid opgewek te word (2 Thessalonicense 2:1). Maar wie kan hulle kwalik neem dat hulle nie destyds ten volle verstaan het dat ’n groot insamelingswerk tussen die begin en die einde van die vervulling van Daniël 2:44 moes plaasvind, of dat die ‘wegvoering’ wat in 1 Thessalonicense 4:15-17 gemeld word, betrekking het op ’n onmiddellike opstanding van die gesalfdes wat ná die begin van die eerste opstanding te sterwe kom nie?—1 Korinthiërs 15:36, 42-44; Romeine 6:3.

12. (a) Wat het Christus verwag dat sy getroue “dienskneg” sou doen wanneer hy gekom het om sy huis te ondersoek, en wie het hy so besig gevind? (b) Wat het die getroue “dienskneg”-klas sedertdien aangehou om te doen?

12 Ons verstaan vandag hierdie dinge, danksy die toenemende lig wat deur middel van die “getroue en verstandige dienskneg”-klas op God se Woord gewerp is (Spreuke 4:18). Jesus het van daardie “dienskneg” gesê: “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Mattheüs 24:45-47). Toe die gekroonde Here Jesus sy huis in 1919 ondersoek het, het hy gevind dat die groep Christene verbonde aan die tydskrif The Watchtower lojaal probeer om “waaksaam” te bly met behulp van geestelike “voedsel op tyd”. Tot vandag toe het daardie “dienskneg”-klas getrou aangehou om geestelike voedsel te voorsien om die Heer se “diensvolk” en hulle metgeselle in staat te stel om ‘op hulle hoede, waaksaam’ te bly.—Markus 13:33, NAV.

Wakker of lomerig?

13. Watter vrae moet diegene wat Jehovah se Getuies kritiseer hulleself afvra?

13 Die gevestigde kerke van die Christendom en ander mense kan Jehovah se Getuies maklik kritiseer omdat hulle publikasies al met tye gesê het dat sekere dinge op ’n sekere datum kon plaasvind. Maar strook hierdie handelwyse nie met Christus se bevel om “waaksaam” te wees nie? (Markus 13:37, NAV). Het die Christendom se kerke daarenteen Christelike waaksaamheid aangemoedig deur te leer dat die Koninkryk “die heerskappy van God in ons harte” is? Het hulle nie eerder geestelike lomerigheid bevorder deur die verwagting van “die einde” as “sinloos” of “’n niksbeduidende mite” te bestempel nie? Het afvalliges wat beweer dat “die laaste dae” met Pinkster begin het en die hele Christelike Era omvat Christelike wakkerheid in die hand gewerk? Het hulle nie eerder geestelike slaperigheid veroorsaak nie?

14. Watter voorbeelde is daar van getroue knegte van Jehovah in die verlede wat oorywerig was om God se beloftes vervul te sien?

14 Sommige verwagtinge wat oënskynlik deur Bybelchronologie ondersteun is, is weliswaar nie op die verwagte tyd verwesenlik nie. Maar is dit nie veel beter om hier en daar ’n fout te begaan weens oorywerigheid om God se voornemens vervul te sien as om geestelik aan die slaap te wees met betrekking tot die vervulling van Bybelprofesie nie? Het Moses hom nie met 40 jaar misreken toe hy ontydig probeer het om Israel van mishandeling te verlos nie? (Genesis 15:13; Handelinge 7:6, 17, 23, 25, 30, 34). Was Christus se apostels nie oorywerig om die Koninkryk opgerig te sien nie, om nie te praat van hulle totale wanbegrip van wat die Koninkryk werklik is nie? (Handelinge 1:6; vergelyk Lukas 19:11; 24:21.) Was die gesalfde Christene in Thessalonika nie ongeduldig om “die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus” en “die dag van Jehovah” te sien nie?—2 Thessalonicense 2:1, 2, NW.

15. Watter voorbeelde toon dat dit nie onskriftuurlik is om chronologie te gebruik om te probeer vasstel wanneer God se voornemens vervul sal word nie, en wat was die uitroep van baie van Jehovah se getroue knegte in die verlede sowel as die hede?

15 Daar is basies niks onskriftuurliks daaraan om chronologie te gebruik in ’n poging om vas te stel wanneer “die vasgestelde tyd” vir die vervulling van God se voornemens is nie (Habakuk 2:3). Daniël het bereken wanneer Jerusalem se verwoesting sou eindig (Daniël 9:1, 2). Die eerste-eeuse getroue Joodse oorblyfsel was in afwagting van die koms van die Messias omdat hulle, met behulp van ’n profesie, die einde van ’n tydperk bereken het (Daniël 9:25; Lukas 3:15). Teen die einde van die 19de eeu en die begin van die 20ste eeu kon Christene geruime tyd voor 1914 in afwagting van God se Koninkryksheerskappy lewe omdat hulle bereken het wanneer “die tye van die nasies” sou eindig (Lukas 21:24; Daniël 4:16, 17). Dit is dus verstaanbaar dat pogings aangewend is om ander Bybelse tydaanduidings te gebruik om vas te stel wanneer die langverwagte beloftes verwesenlik sal word. Getroue knegte van Jehovah het in die verlede uitgeroep: “Hoe lank, o God?”—Jesaja 6:11; Psalm 74:10; 94:3.

16. (a) Moet ons uit Markus 13:32 aflei dat ons geen belangstelling moet toon in wanneer die einde kom nie? (b) Watter “teken” is sigbaar, maar op watter ander “teken” wag ons?

16 Aangesien Jesus duidelik gesê het dat geen mens kan weet wanneer “daardie dag en uur” sal wees wanneer die Vader sy Seun sal beveel om teen Satan se bose stelsel te ‘kom’ nie, kan sommige vra: ‘Waarom is dit so dringend om in afwagting van die einde te lewe?’ Dit is dringend omdat Jesus in feitlik dieselfde asem gesê het: “Wees op julle hoede; wees waaksaam” (Markus 13:32-35, NAV). Die “teken” van Jesus se parousia is sedert 1914 duidelik te sien. Ons wag nou op “die teken van die Seun van die mens”, wanneer hy as Jehovah se Skerpregter “kom”.

17, 18. (a) Waarom het Jesus eerste-eeuse Christene beveel om uit Jerusalem te vlug sodra hulle die teken van sy naderende vernietiging gesien het? (b) Waarom sou dit gevaarlik wees om die dringendheid van ons tye te rasionaliseer?

17 Toe Jesus vir die eerste-eeuse Judese Christene ’n teken gegee het waardeur hulle sou weet dat die tyd aangebreek het om uit Jerusalem te vlug, het hy klem gelê op die nodigheid om onmiddellik op te tree (Lukas 21:20-23). Waarom al die haas, aangesien byna vier jaar verloop het van die verskyning van die teken in 66 G.J. tot die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J? Omdat Jesus geweet het dat, as hulle getalm het, hulle sou aanhou om hulle vlug uit te stel en uiteindelik deur die Romeinse leërs oorval sou word.

18 Net so sal dit vandag vir Christene uiters gevaarlik wees om die dringendheid van ons tye te rasionaliseer en ’n slap houding aan te neem wat twyfel weerspieël oor die nabyheid van die einde.

19. Watter waarskuwing het Petrus en Jesus gegee?

19 Die parousia, of teenwoordigheid, van Christus duur nou reeds 70 jaar, en sy ‘koms’ vir “die dag van die Here” se oordeel teen Satan se wêreld kom vinnig nader. Die apostel Petrus sê dat hierdie dag “sal kom soos ’n dief”, en hy voeg by dat ons ‘die koms van die dag van God moet verwag en verhaas’ (2 Petrus 3:10-12). Jesus het ons ook gewaarsku: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. . . . Waak dan.”—Lukas 21:34-36.

20. Waarvoor behoort ons dankbaar te wees, en hoe sal behoorlike Christelike verwagting ons beskerm?

20 Hoe gelukkig en hoe dankbaar behoort Jehovah se Getuies tog nie te wees dat die getroue en waaksame “dienskneg”-klas hulle geestelik wakker gehou het nie! Behoorlike Christelike verwagting sal ons beskerm gedurende hierdie gevaarlike “laaste dae” en sal ons beweeg om ywerig deel te neem aan die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk”. Daarbenewens sal ons ander help om waaksaam te bly en te oorlewe tot in die nuwe stelsel waarin “geregtigheid [sal] woon”.—2 Timotheüs 3:1-5; Mattheüs 24:14; 2 Petrus 3:13.

[Voetnoot]

a Kyk die boek “Let Your Kingdom Come”, hoofstuk 14, en die goed gedokumenteerde aanhangsel tot daardie hoofstuk aan die einde van die boek.

Kan jy onthou?

◻ Waarom moet Christene nie die tydfaktor in Bybelchronologie oor die hoof sien nie?

◻ Watter besondere betekenis het die woord “teenwoordigheid” aangeneem?

◻ Waarom is dit nog gepas om te bid dat God se Koninkryk moet kom?

◻ Hoe sou jy diegene antwoord wat Jehovah se Getuies kritiseer weens vergissings op chronologiese gebied?

◻ Waarom is dit gevaarlik om die dringendheid van ons tye te rasionaliseer?

[Prent op bladsy 17]

C. T. Russell en sy metgeselle het waaksaam gebly

[Venster op bladsy 18]

Dinge waarna Christene op die uitkyk moes bly

Die einde van “die tye van die nasies”.—Lukas 21:24.

“Die teken” van Christus se teenwoordigheid “en van die voleinding van die wêreld”.—Mattheüs 24:3-25:46.

Die duidelike identifisering van “die getroue en verstandige dienskneg”-klas.—Mattheüs 24:45-47.

Die “teken van die Seun van die mens”, wanneer hy “kom” om Jehovah se oordele te voltrek.—Mattheüs 24:30.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel