Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 12/15 bl. 4-7
  • Kersfees—Waarom is dit gevaarlik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kersfees—Waarom is dit gevaarlik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die agtergrond
  • Het die vroeë Christene Kersfees gevier?
  • Afvallige Christene en heidense winterfeeste
  • Waarom Kersfees so gevaarlik is
  • Moet jy Kersfees vier?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Kersfees—Waarom so gewild in Japan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Wat het geword van die tradisionele Kersfees?
    Ontwaak!—1993
  • Die oorsprong van die hedendaagse kersfees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 12/15 bl. 4-7

Kersfees—Waarom is dit gevaarlik?

“KERSFEES”, het George Bernard Shaw in 1897 geskryf, “word deur die winkeliers en die pers aan ’n teësinnige en verergde nasie opgedring.” Was dit die geval? Belangriker nog, is dit vandag waar?

In sy Kersfeesboodskap vir 1983 het The Star van Johannesburg gekla: “Vanweë die luide aansporings om te koop, koop, koop, wat geblêr word oor die radio, die televisie en in supermarkte, in koerante en in tydskrifte, het baie mense die boodskap van liefde weens ’n koorsagtige kopery uit die oog verloor.”

Met die oog op sulke dinge dring godsdienstige mense aan: Sit Christus terug in Kersfees. Maar Christene het rede om te vra: Was Christus ooit deel van Kersfees? Dit is uiters belangrik, want ware Christene besef die gevaar. As hulle aan godsdiensbedrywighede deelneem wat God nie goedkeur nie, sal hulle nie sy seën hê nie. Wat is dus die oorsprong van Kersfees?

Die agtergrond

Die antieke noordelinge het gevrees dat die langdurige donkerte van Desember die son sou oorwin. As deel van ’n towerritus het hulle hulle huise met huls, klimop, mistel, louriere en ander immergroen plante versier omdat dit skynbaar ’n bonatuurlike vermoë gehad het om aan die lewe te bly. Kerse en vure is aan die brand gesteek in ’n poging om die sterwende son te laat herleef. In dele van Europa word ’n stomp steeds seremonieel verbrand. Wat sit agter hierdie gebruik wat nou ’n Kersfeesgebruik is? “Dit was skynbaar die samesmelting van twee ou gebruike—ligte met immergroen plante—wat ons ons hedendaagse Kersboom gegee het”, is Michael Harrison se gevolgtrekking in The Story of Christmas.

Die antieke Romeine het ’n winterfees gehad wat die Saturnalieë genoem is, en dit het op 17 Desember begin en tot die 24ste geduur. Dr. Conway beskryf daardie fees in sy boek Ancient Italy and Modern Religion soos volg: “Die gang van die alledaagse lewe is eenparig versteur; mense het ernstige beroepe laat vaar, en wanneer hulle nie by mekaar se huise feesgevier het nie, het hulle in die strate rondgedwaal en mekaar ‘Io Saturnalia’ toegewens net soos wat ons ‘Geseënde Kersfees’ sê . . . Daar is verwag dat jy met hierdie fees ’n geskenk vir al jou vriende gee; . . . jy is as ’n uiters asosiale persoon beskou as jy dwarsdeur die Saturnalieë nugter was!”

Omstreeks 85 G.J. het die digter Martial twee boeke, Xenia en Apophoreta, met 350 kort gedigte uitgegee. Die doel was dat hierdie gedigte oorgeskryf en saam met Saturnusfeesgeskenke gestuur moes word om, soos dr. Conway verduidelik, “’n aangename literêre kleur” te verleen. Klink dit nie na vandag se Kerskaartjies nie? En net soos sommige moderne Kerskaartjies, was ’n aantal van Martial se gedigte uiters onsedelik.

Die Saturnalieë was skaars verby of die Romeine het die Nuwejaarsfees van Calendae gevier. “In die middel van hierdie tydperk van algemene vrolikheid”, verduidelik The Story of Christmas, “is ’n dag opsygesit vir spesiale verering van die son wie se oënskynlike herlewing op die Wintersonstilstand oorspronklik die rede verskaf het vir al hierdie wydverspreide heidense jolyt. Hierdie dag het bekend gestaan as Dies Solis Invicti Nati, die Dag van die Geboorte van die Onoorwonne Son, en dit het op die dag geval wat ooreenkom met 25 Desember op ons kalender.” Hierdie viering is later Kersfees genoem sodat die Romeinse bevolking aangetrek kon word tot ’n dekadente “Christelike godsdiens”.

Ja, Kersfees het sy oorsprong in nie-Christelike sonaanbidding. Die viering kan verder teruggespoor word na antieke Babilonië waar die mense die songod Sjamasj aanbid het. “Daar is opvallende parallelle in die Nuwejaarsvierings van Babilon en Kersfeesgebruike”, erken geskiedskrywer Pimlott in The Englishman’s Christmas.

Kan jy derhalwe sien waarom die woord “gevaar” met Kersfees verbind moet word? Die Bybel rig ’n duidelike waarskuwing aan Christene ten opsigte van Babilon die Grote (godsdiens wat op antieke Babiloniese leerstellings gegrond is). God se Woord vermaan: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4). Party meen miskien dat dit ’n oordrywing is om Kersfees as ’n geestelike gevaar te beskou. Maar kom ons kyk na die geskiedkundige feite oor hoe die vroeë Christene die viering van ’n feesdag beskou het wat veronderstel was om Jesus se geboorte te herdenk maar in werklikheid met ’n heidense viering verband gehou het.

Het die vroeë Christene Kersfees gevier?

“Die vroeë Christene”, sê professor Ferguson in sy boek The Religions of the Roman Empire, “het nie Jesus se verjaarsdag gevier nie; sy geboortedag is nie aangeteken nie”. Die Bybel verstrek nie die datum van Jesus se geboorte nie. Daarbenewens toon dit dat Jesus nie in die koue reënmaand Desember of Januarie gebore is nie, maar in ’n warmer seisoen. Hoe kan ons dit sê?

Omstreeks die tyd van Jesus se geboorte het die Romeinse keiser Augustus beveel dat onderdane na hulle geboortestad moet reis en geregistreer word. Die Bybel berig: “Almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad” (Lukas 2:1-7). Josef en Maria het meer as 110 kilometer van Nasaret na Betlehem gereis. Sou dit prakties of moontlik gewees het in die koue, reënerige Desember?

Maar dit is nie al nie. Die Bybel sê verder omtrent die tyd van Jesus se geboorte: “En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het” (Lukas 2:8). Hierdie beskrywing pas nie in by Israel se reënerige maand wat met ons huidige Desember ooreenkom nie—’n tyd wanneer die temperature in die omgewing van Betlehem baie laag kan daal.—Esra 10:9, 13; Jeremia 36:22.

Daar is nog ’n belangrike punt. As Jesus wou gehad het dat sy volgelinge sy geboorte moes vier, waarom het hy hulle nie beveel om dit te doen nie? Wat die dag van sy dood betref, het hy ’n eenvoudige viering uiteengesit en beveel: “Doen dit tot my gedagtenis” (Lukas 22:19). Jesus het nie so ’n bevel omtrent sy geboorte gegee nie.

Die woord “Kersfees” verskyn nie eens in die Bybel nie, want daar was geen sodanige viering onder Jesus se vroeë dissipels nie. Dr. R. S. Conway verduidelik: “Die groot teoloog Origenes, vroeg in die derde eeu, herhaal etlike kere ’n opmerking wat hy beweer hy van een van sy voorgangers gekry het, naamlik dat geen regverdige man of Christenheilige ooit ’n verjaarsdag gehou het nie, nie sy eie of enigiemand anders s’n nie. Dit is slegs bose persone soos Farao en Herodes wie se verjaarsdagvierings in die Skrif gemeld word. Dit toon duidelik dat as hy ooit van ’n fees soos Kersfees gehoor het hy dit heeltemal verwerp het.”

Afvallige Christene en heidense winterfeeste

Die vroeë Christene het die versoeking weerstaan om saam met hulle bure aan heidense feesviering deel te neem. Maar die Bybel het voorspel dat daar mettertyd ’n groot afval onder Christene sou ontstaan (Handelinge 20:29, 30; 2 Thessalonicense 2:3; 1 Timotheüs 4:1-3; 2 Petrus 2:1, 2). Teen die einde van die tweede eeu moes die skrywer Tertullianus “Christene” bestraf omdat hulle deelgeneem het aan “die feesviering van Saturnus, en van Januarie, en van die Wintersonstilstand”. Hy meld die “uitdeel van geskenke” en spreek verbasing uit oor die feit dat talle hulle huise met “lampe en louriere” versier het.

Ondanks sodanige vermaning is die oorspronklike, rein Christengemeente verderf. Afvallige Christene het van kwaad tot erger gegaan, en het hulle weg geregverdig deur die heidense vierings ’n “Christelike” naam te gee. Die boek Christmas erken: “Dit het die Christelike Kerk . . . in die 4de eeu gepas om die heilige, heidense dag van 25 Desember, die wintersonstilstand, oor te neem . . . Die geboorte van die son het die geboorte van die Seun van God geword.”

Waarom Kersfees so gevaarlik is

Sommige meen dalk dat die viering van Kersfees gevaarlik is omdat dit selfsug bevorder. Danie Martins, wat soms kinders vermaak, het tydens ’n radioprogram gesê dat hy geskok was om te leer hoe kinders Kersfees beskou. Hy het hulle by kinderpartytjies gevra waarom ‘ons Kersfees vier’. Die algemene antwoord: “Om presentjies te kry.” Ouers en skrywers Martin en Deidre Bobgan wys op ’n ander gevaar: “Talle volwassenes vertel kinders leuens en verdraaiings wat uiteindelik tot ateïsme kan lei. ’n Kind kan redeneer dat as Sinterklaas wat as die waarheid voorgestel is ’n leuen is, God wat as die waarheid voorgestel is miskien ook ’n leuen is.”

Maar die ernstigste gevaar wat die viering van Kersfees inhou, is dat dit tot die verlies van God se guns kan lei. Waarom? Daar is ’n aantal redes. Kersfees bevorder byvoorbeeld afgodediens, iets wat in die Bybel verbied word (1 Johannes 5:21). Dit word openlik voor talle tonele van Jesus se geboorte, soos die een in die Aracoeli-kerk, Rome, beoefen. Wat van die invoering van die heidense Kersboom in talle Protestantse kerke? Grens dit nie aan afgodediens nie?

Daarbenewens het die viering van Kersfees die aanbidding van Jesus in plaas van sy Vader, Jehovah God, bevorder. Dit is nog ’n vorm van afgodediens, aangesien die verheerlikte Here Jesus Christus “die begin van die skepping van God” is. (Openbaring 3:14; kyk ook Romeine 1:25.) Die sing van Kersliedere het hierdie verkeerde idee op miljarde jong harte ingeskerp. Een gewilde Kerslied bevat hierdie woorde: “In die gure midwinter was ’n stal voldoende vir die Here God Almagtig Jesus Christus.”

Die feit is dat Jesus nooit beweer het dat hy God Almagtig was nie. Jesus het eerder gesê: “My Vader [is] groter . . . as Ek” (Johannes 14:28). Hy het alle aanbidding na sy Vader gerig en gesê: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Mattheüs 4:10). Selfs na sy opstanding het Jesus voortgegaan om die aanbidding na sy hemelse Vader te rig.—Johannes 20:17.

Kersfees gee ’n godsdiensvoorkoms aan wat in werklikheid ’n tyd van onmatigheid en losbandigheid is. Losbandigheid by Kerspartytjies is ’n bekende oorsaak van huweliksprobleme. Volgens die Britse Nasionale Huweliksvoorligtingsraad het dubbel die gewone weeklikse getal egpare ná die Kersseisoen in 1983 raad kom soek. Kerspartytjies, sowel as die “gebrek aan geld vir kos, geskenke en speelgoed”, is uitgewys as een van die oorsake. Sulke dinge hou verband met nog ’n ernstige probleem. “Gedurende hierdie tyd styg die aantal selfmoorde en pogings tot selfmoord onrusbarend”, aldus ’n psigiater van Johannesburg.

Ons kan ook nie die feit ignoreer dat diegene wat onder die godsdiensbekoring van “Babilon die Grote” bly in groot gevaar verkeer nie. Bybelprofesie toon dat die tyd vir haar oordeel baie naby is.—2 Timotheüs 3:1-5.

Die wêreldryk van valse godsdiens, met sy heidense gebruike en feesdae, sal inderdaad binnekort vir ewig uit die weg geruim wees. Jy moet jou nou, terwyl daar nog tyd is, van haar aanloklike bedrywighede afsonder. Assosieer eerder met ware Christene wat gered sal word om ewige vrede en welwillendheid onder mense te geniet.—Psalm 37:29.

[Prent op bladsy 5]

Hou tonele van Jesus se geboorte, soos hierdie een in ’n kerk in Rome, met ware Christelike aanbidding verband?

[Prent op bladsy 7]

ln Rome word kinders met Kerstyd gebring om hierdie beeld in die Aracoeli-kerk te aanbid

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel