„Gaan voort om ordelik te wandel in hierdie selfde roetine”
„Laat ons in ieder geval, in die mate waarin ons vordering gemaak het, voortgaan om ordelik te wandel in hierdie selfde roetine”—FILIPPENSE 3:16
1, 2. (a) Hoe is voorbeeldige kinders ’n bron van bemoediging? (b) Maar watter vrae aangaande hulle kom by ons op?
TOE Alisa skaars twee jaar oud was, het sy almal vermaak deur die name van al 66 boeke van die Bybel te sing, die name van die 12 apostels op te sê en met gebare die nege vrugte van God se gees te beskryf (Mattheüs 10:2-4; Galasiërs 5:22). Teen die tyd dat sy in standerd drie was, het sy ’n weeklikse Bybelstudie met ’n dogtertjie in standerd een gehou, wat weer haar ouer broer se belangstelling in die Bybel gaande gemaak het. Alisa en haar maatjie het vir hulle ’n doelwit gestel. Hulle sien daarna uit om eendag metgeselle in die voltydse predikingswerk as spesiale pioniers te wees.
2 Dit sal beslis vir enigeen van ons ’n vreugde wees om sulke kinders te ken, en bes moontlik ken jy wel sulke kinders. Maar terselfdertyd wonder ons onwillekeurig: Wat sal die uitslag wees wanneer hulle eers groot is? Sal hulle aanhou om geestelik te ontwikkel totdat hulle hulle doelwit bereik? Of sal ander dinge hulle aandag aftrek sodat hulle die spoor byster raak?
Volgehoue vooruitgang
3. Wie moet vooruitgang maak?
3 Dit spreek vanself dat sulke kinders heelwat geestelike vooruitgang moet maak voordat hulle hulle doelwit bereik. Maar is dit net kinders of nuwelinge wat vooruitgang moet maak? Trouens, moet ’n mens net vooruitgang maak totdat jy geestelike rypheid bereik of aan die vereistes vir ’n sekere voorreg voldoen? Nee. Beskou die apostel Paulus. In plaas van tevrede te wees met wat hy bereik het, het hy in sy brief aan die Filippense gesê: „Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.”—Filippense 3:12.
4. Watter „doel” het die apostel Paulus nagejaag?
4 Dit is duidelik dat Paulus nie van vordering tot rypheid gepraat het nie, want hy was onteenseglik reeds ’n ryp Christen. Tog het hy gesê dat hy na iets „jaag” wat hy nog nie „verkry” het nie. Wat was dit? Paulus het voorts verduidelik: „Ek . . . jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:14). Die doel wat hy nagejaag het, was nie bloot Christelike rypheid of bevoegdheid vir ’n sekere amp nie, maar dit was iets groters. Vir hom en ander gesalfde Christene was dit „die hoë roeping”, die hoop op hemelse lewe deur ’n opstanding.
5. (a) Waarom is volgehoue groei noodsaaklik? (b) Wat kan dit behels om ,die dinge te vergeet wat agter is’?
5 Dit help ons om te sien waarom ons moet aanhou om geestelik te groei en te ontwikkel ongeag hoe lank ons al in die waarheid is. Watter blywende voordeel sou dit inhou om vooruitgang te maak slegs tot die punt waar ’n mens ryp geag word, of waar jy vir die een of ander spesiale voorreg in aanmerking kom? Rypheid en spesiale voorregte is geen waarborg dat ons ons uiteindelike doelwit—die ewige lewe—sal bereik nie. Ons moet eerder doen soos die apostel Paulus gedoen het: „Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is” (Filippense 3:14). Nie alleen moet ons afsien van die nuttelose dinge wat ons moontlik gedoen het voor ons ’n kennis van die waarheid verkry het nie, maar ons moet ook op ons hoede wees dat ons nie selfvoldaan raak oor wat ons van daardie tyd af gedoen het nie. Met ander woorde, die advies is om nie op jou louere te rus nie, maar om onverpoosd voort te gaan. Doen jy dit, of is jy om die een of ander rede besig om uit te sak?—Kyk 1 Korinthiërs 9:26
6. Wat kan omtrent vooruitgang gesê word wanneer ons Filippense 3:12 en 3:15 met mekaar vergelyk?
6 Met hierdie moontlikheid in gedagte het Paulus vervolg: „Laat ons almal dan wat volmaak [„geestelike volwasse”, NAV] is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar” (Filippense 3:15). Vroeër, in vers 12, het Paulus gesê dat hy homself nog nie as „volmaak” beskou nie. Maar hier praat hy van „ons almal . . . wat volmaak is”. Dit is nie ’n weerspreking nie. Dit beteken bloot dat selfs ryp Christene soos Paulus in gedagte moet hou dat hulle nog nie die einddoel bereik het nie en dat hulle moet aanhou om vordering te maak ten einde dit te bereik. Daarom het hy dit soos volg opgesom: „Laat ons in ieder geval, in die mate waarin ons vordering gemaak het, voortgaan om ordelik te wandel in hierdie selfde roetine.”—Filippense 3:16, NW.
Ordelike roetine
7. Watter „roetine” het Paulus Christene aangespoor om te volg?
7 Het Paulus, toe hy Christene aangemoedig het om ,voort te gaan om ordelik te wandel in hierdie selfde roetine’, bedoel dat hulle ’n gemaklike werkpatroon moet aanvaar en dan maar net moet wag totdat hulle hulle beloning ontvang? So ’n handelwyse sou ooreenkom met dié van die dienskneg in Jesus se gelykenis wat die een talent wat sy heer hom gegee het, begrawe en eenvoudig op die heer se terugkeer gewag het (Mattheüs 25:14-30). AI het die dienskneg nie die talent verloor of sy pos verlaat nie, is hy ’n „slegte en luie dienskneg” genoem en deur die heer verwerp. Paulus het beslis nie gesê dat ons maar net moet hou wat ons het uit vrees dat ons dit kan verloor nie. Hy het gepraat van vordering maak. Met „roetine” het Paulus klaarblyklik doelgerigte vooruitgang bedoel, soos dié van ’n soldaat wat nie op aandag staan nie maar voorwaarts marsjeer.
8. Waaraan moet ons aandag skenk wat ons diens aan God betref?
8 Paulus se advies help ons om te besef hoe belangrik dit is om ons onverpoosd in te span om vooruitgang te maak en te verbeter in Jehovah se diens. „Ons hoofdoel moet wees om, in die mate waarin ons vordering gemaak het”, hetsy as ouere manne, bedieningsknegte, pioniers of verkondigers, die kwaliteit en, indien moontlik, die kwantiteit van ons diens te verbeter. Ons moet versigtig wees dat ons nie in dieselfde gemoedstemming verval as die ontroue Israeliete van Maleagi se dag wat gedink het dat hulle skotvry daarvan sou afkom as hulle minderwaardige offers aan Jehovah bring nie. Maar hoe het Jehovah daaroor gevoel? „Julle bring gesteelde, lam, siek diere, julle bring dit as offers!” het hy gesê. Toe het hy bygevoeg: „Moet Ek ingenome wees daarmee dat julle vir My sulke goed bring?”—Maleagi 1:13, NAV.
9. Hoe hou Paulus se raad in Romeine 12:6-8, 11 met vooruitgang verband?
9 Ons moet eerder ons diens aan God ernstig opneem. Soos Paulus die Romeine vermaan het, moet ons ons diensvoorreg, wat dit ook al is, „met ywer” vervul en ,nie traag wees nie’ (Romeine 12:6-8, 11). Iemand wat traag is, is gewoonlik doelloos en maak geen vooruitgang om ’n bepaalde doelwit te bereik nie. Dit is interessant dat die Griekse woord wat hier gebruik word, letterlik „lui” beteken, ’n baie gepaste beskrywing. Hoewel ’n luidier vinnig kan beweeg as hy wil, toon ’n berig dat een van hierdie diere, gedurende ’n tydperk van 168 uur, 139 uur lank geslaap of geheel en al roerloos gebly het—83 persent van die tyd. Geen wonder dat ons vermaan word om nie „lui” te wees nie maar eerder „vurig van gees” en om ,die Here te dien’! Wat kan ons help om dit te doen?
10. Waarom moet ons intens belangstel in Paulus se raad aan Timotheüs in 1 Timotheüs 4:12-16?
10 In 1 Timotheüs 4:12-16 het die apostel Paulus breedvoerig uiteengesit wat Timotheüs moes doen sodat sy vooruitgang „vir almal duidelik [kon] wees”. Die dissipel Timotheüs was op daardie tydstip nie meer ’n kind of ’n nuweling nie. Trouens, hy het teen daardie tyd reeds meer as tien jaar ten nouste met Paulus saamgewerk en het aansienlike verantwoordelikheid en gesag in die Christengemeente gehad, ongetwyfeld weens die vooruitgang wat hy tot op daardie tydstip reeds gemaak het. Nogtans het Paulus vir Timotheüs hierdie raad gegee. Dit betaam ons beslis om noukeurig ag te slaan op wat Paulus te sê gehad het
Wees ’n voorbeeld in woord en wandel
11, 12. (a) Waaraan moet ons eerste aandag skenk as ons vooruitgang wil maak? (b) Waarom is dit belangriker as vooruitgang in kennis of vaardigheid?
11 Paulus begin in vers 12 deur te sê: „Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ’n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid.” Hierdie lys herinner ons aan „die vrug van die Gees” wat Paulus in Galasiërs 5:22 beskryf het. Wie kan ontken dat elkeen van ons hierdie vrug in ’n groter mate in ons lewens moet voortbring? Die meeste van ons doen groot moeite om die nege vrugte van die gees te leer en te memoriseer, en om dit vir kinders en nuwelinge te leer. Maar doen ons ten minste net soveel moeite om daardie vrugte aan te kweek? Paulus wys daarop dat diegene wat ryp is, voorbeeldig moet wees in hierdie sake. Dit is beslis een gebied in ons lewe waar ons almal maklik vooruitgang kan maak.
12 In sekere sin is hierdie eienskappe miskien selfs ’n beter aanduiding van ons geestelike vordering as wat kennis en vaardigheid is, aangesien eersgenoemde produkte van God se gees is, terwyl laasgenoemde verband hou met ’n mens se natuurlike vermoëns en opvoeding. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs van Jesus se dag was goed onderlê in die Skrif, en hulle het angsvallig die fynste besonderhede van die Wet onderhou. En tog het Jesus hulle veroordeel en gesê: „Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste [„gewigtiger sake”, NW] van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou” (Mattheüs 23:23). Hoe belangrik is dit tog dat ons aanhou om vooruitgang te maak deur hierdie „gewigtiger sake” in ons lewens aan te kweek!
Lê jou toe op voorlesing, prediking, en onderrigting
13. Hoe kan aangestelde opsieners by Paulus se raad in 1 Timotheüs 4:13 baat vind?
13 Vervolgens het Paulus Timotheüs vermaan om hom daarop toe te lê „om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee” (1 Timotheüs 4:13, NAV). Elders in sy briewe het Paulus met lof van Timotheüs gepraat as ’n bekwame en getroue bedienaar (Filippense 2:20-22; 2 Timotheüs 1:4, 5). Hy het Timotheüs nietemin aangeraai om steeds aandag te skenk aan hierdie noodsaaklike verantwoordelikhede van ’n opsiener. Hou jy aan, indien jy ’n aangestelde opsiener in die gemeente is, om jou op hierdie sake ,toe te lê’? Neem jy byvoorbeeld die wenke in die Teokratiese Bedieningskool-Handleiding ernstig op en probeer jy om te verbeter, of dink jy dat hierdie raad net vir die beginners is? Bestudeer jy die Bybel en die Genootskap se publikasies noukeurig sodat jy kan „vermaan, met alle lankmoedigheid en onderrigkuns”?—2 Timotheüs 4:2, NW; Titus 1:9.
Moenie die gawe van diens verwaarloos nie
14. Hoe kan ons vooruitgang maak in ons veldbediening?
14 Hoewel net ’n paar aangestel is om in die gemeente onderrig te gee, is alle Christene deur Jesus Christus beveel om die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak (Mattheüs 24:14; 28:19). Dit beteken dat ons die Bybelwaarheid aan regskapenes moet leer en hulle moet aanspoor om veranderinge in hulle lewe aan te bring en hulle aan Jehovah se kant te skaar. ,Lê jy jou daarop toe’ om jou vaardigheid in die bediening te verbeter? Pas jy pligsgetrou die wenke toe wat in Ons Koninkryksbediening en die weeklikse Diensvergadering gegee word sodat jy ,die werk van ’n evangelis kan doen en jou bediening kan vervul’?—2 Timotheüs 4:5.
15. Wat was Timotheüs se „genadegawe”, en wat van vandag?
15 Paulus het Timotheüs vroeër vermaan: „Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge” (1 Timotheüs 4:14). Timotheüs is blykbaar, deur die werking van die heilige gees, aan gewys vir en later aangestel in die een of ander spesiale diens in die Christengemeente (1 Timotheüs 1:18; 2 Timotheüs 1:6). Net so is daar vandag baie in die organisasie wat hulle Godgegewe vermoëns ontwikkel het en mettertyd as reisende opsieners, sendelinge, gewone of spesiale pioniers, ouere manne, ensovoorts aangestel is. Hoewel geen spesiale profesie of handoplegging daarby betrokke is nie, is die raad om ,nie die genadegawe wat in jou is te verwaarloos nie’ nog net so toepaslik.
16. Wat kan verhoed dat ons ons „genadegawe” verwaarloos?
16 Volgens die woordeboek verwaarloos ’n mens iets wanneer jy weinig aandag daaraan skenk of dit weens nalatigheid ongedaan laat. Iets wat alledaags raak, word maklik verwaarloos. Dit kan gebeur as ons ophou om vordering of vooruitgang te maak, maar ons pligte as vanselfsprekend beskou. Ons kan dus baat vind by wat Paulus in Kolossense 3:23, 24 gesê het: „Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.”
Volgehoue inspanning lei tot seëninge
17. Hoe alleen kan ons seker maak dat ons die vrug van ons werk sien?
17 Wanneer ons sorgvuldig aandag skenk aan die bogemelde sake, kan ons daarvan seker wees dat ons nie in die strik van oorgerustheid of selfvoldaanheid sal beland nie. „Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees”, het Paulus gesê (1 Timotheüs 4:15). Die doel van die „vooruitgang” is natuurlik nie om te spog of ander te imponeer nie. Wanneer ons, jonk en oud, geestelik groei en ontwikkel, is ons ’n bron van vreugde en bemoediging vir almal met wie ons omgaan, soos die geval was met jong Alisa en haar maatjie, wat vroeër in hierdie artikel gemeld is.
18. Watter dubbele seën wag op ons as ons Paulus se raad noulettend toepas?
18 ’n Dubbele seën wag op ons as ons Paulus se raad noulettend toepas. „Let op jouself en op die leer”, het Paulus gesê. „Volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor” (1 Timotheüs 4:16). Ja, deur onsself gedurig te ondersoek en seker te maak dat ons doen wat ons ander leer om te doen, dit wil sê, om te vorder, te groei en geestelik te ontwikkel, sal ons die tragedie vermy van ,self verwerplik te wees’ (1 Korinthiërs 9: 27). Inteendeel, die heerlike vooruitsig van lewe in God se beloofde Nuwe Orde word verseker vir ons en vir diegene wat ons die aangename voorreg het om te help. Laat ons dus, tot ons seën en tot seën van ander, en tot lof van Jehovah God, „voortgaan om ordelik te wandel in hierdie selfde roetine”!—Filippense 3:16.
Onthou jy?
◻ Wat is die uiteindelike „doel” wat ons voor oë moet hou? Hoe jaag ons dit na? (Filippense 3:12-14)
◻ Wat is die „roetine” waarin ons moet wandel? (Filippense 3:16, NW)
◻ Waarom moet ons gedurig verbeter in die Christelike woord en wandel? (1 Timotheüs 4:12)
◻ Hoe kan ouere manne, bedieningsknegte en ander vooruitgang maak in hulle vaardigheid as onderrigters? (1 Timotheüs 4:13)
◻ Waarom moet ons nie „die genadegawe” wat aan ons toevertrou is, verwaarloos nie? (1 Timotheüs 4:14)
[Prent op bladsy 14]
Alisa en haar Bybelstudentjie het die voltydse bediening as doelwit gestel