Turkse Hooggeregshof stel Jehovah se Getuies vry
DAAR was groot vreugde onder die 23 getuies van Jehovah wat op 14 Junie 1985 vrygestel is nadat hulle ’n jaar in die tronk in Ankara deurgebring het. In 1984 het die Staatsveiligheidshof in Ankara hulle tot tussen vier en ses jaar tronkstraf gevonnis. Daardie hof het hulle skuldig bevind aan die skending van artikel 163 van die strafreg, wat godsdiensbedrywighede met die doel ‘om die maatskaplike, ekonomiese, politieke of regsorde van die staat te verander’ verbied. Die hof het hulle status as ’n godsdiens verwerp.—Kyk Die Wagtoring, 1 April 1985.
Daar is appèl aangeteken teen die uitspraak, en op 29 Mei 1985 is ’n verhoor in die Hooggeregshof van Turkye toegestaan. By daardie verhoor is daar versoek dat die uitspraak nietig verklaar word op grond daarvan dat Jehovah se Getuies inderdaad ’n godsdiensgroep is en dat daar geen bewys is van die misdaad waarvan hulle aangekla is nie.
Die verdediging het aangevoer dat Jehovah se Getuies in alle vorige hofsake in die land van dieselfde aanklag vrygespreek is, en dat alle regsgeleerdes wat oor die afgelope 20 jaar die bedrywighede van Jehovah se Getuies ondersoek het nooit enige skending van die wet kon vind nie. Die prokureurs het ook daarop gewys dat die uitspraak op vooroordeel en valse inligting gebaseer was.
Die hof se beslissing
Op 19 Junie 1985 het die Hooggeregshof sy eenparige beslissing gegee. Dit het die uitspraak van die Staatsveiligheidshof nietig verklaar en beveel dat die 23 Getuies onmiddellik vrygestel word. Die Hof het dit beklemtoon dat alle godsdienste onder Turkye se grondwet dieselfde reg het om te aanbid en hulle opvattinge te verkondig, mits hulle hulle nie in die sake van die staat inmeng nie.
Die Hooggeregshof het getoon dat die beskuldigdes skuldig bevind is “bloot omdat hulle . . . Jehovah se Getuies is”. En daardie uitspraak was gebaseer op verslae van twee godsdienstig bevooroordeelde “deskundiges”. Hulle het gesê Jehovah se Getuies is “afkeurenswaardig wat godsdienseenheid en aanbidding betref”. Maar die Hooggeregshof het getoon dat dit geensins bewys was dat die bedrywighede van die Getuies artikel 163 geskend het nie.
Die Hof het tot die gevolgtrekking gekom dat Jehovah se Getuies nie die perke van godsdiensvryheid wat deur die grondwet gewaarborg word, oorskry het nie. Die Hof het getoon dat daar derhalwe “nie ’n skending en misbruik van vryheid met kwaadwillige oogmerke was nie”.
Hierdie uitspraak is in ooreenstemming met die feite. Dit is ook in ooreenstemming met die beslissing van die Appèlhof in 1980. Daardie hof het duidelik getoon dat die bedrywighede van Jehovah se Getuies nie ondermynend is nie en nie ’n gevaar vir die land inhou nie. Dit het ook gesê: “As die dinge waarin die beskuldigdes glo eendag sou gebeur en God se heerskappy oor die aarde opgerig sou word, sal straf van die beskuldigdes as gevolg van so ’n opvatting nie sulke gebeure keer nie. Maar as hulle verwagting net ’n fantasie en ydele opvatting is, kan hulle opvatting die wêreldlike orde van die Staat geensins skade berokken nie.”
Al die beskuldigings, sowel as die inligting wat deur die twee godsdienstig bevooroordeelde “deskundiges” verskaf is, is dus vals bewys. Die nie-politieke en suiwer godsdienstige aard van Jehovah se Getuies se werk is weer eens bevestig.
Algehele vryspraak verlang
Hoewel die uitspraak nietig verklaar is, is die saak oorgegee aan die Staatsveiligheidshof vir herondersoek. Daar word gehoop dat die hof hierdie keer volgens die feite sal oordeel en die beskuldigdes heeltemal van die beskuldigings sal vryspreek.
Vryheidsliewende mense dwarsoor die wêreld sal steeds wag op die uitslag van hierdie saak. Hulle wil sien of Jehovah se Getuies algehele vryheid van aanbidding sal geniet. As dit gebeur, kan daar tereg gesê word dat Turkye probeer om sy bewering dat dit ’n demokratiese land is, na te kom.