Dringend nodig—meer arbeiders in die oes!
“Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur.”—LUKAS 10:2
1. Hoe kan jy redeneer in verband met Jesus se woorde in Lukas 10:2, maar wat sou dit gerade wees om te doen?
VOEL jy dat hierdie woorde van Jesus jou raak? Aangesien dit meer as 19 eeue gelede geuiter is, is jy miskien geneig om te dink dat dit nie meer van belang is nie. So ’n oorylde gevolgtrekking sal inderdaad ’n fout wees. Laat ons, om die volle betekenis van Jesus se woorde te snap, kyk wat gebeur het toe daardie woorde oorspronklik geuiter is, en laat ons dan ons eie situasie ondersoek.—Vergelyk 1 Korinthiërs 10:11.
2. Voor watter dringende situasie het Jesus in 32 G.J. te staan gekom, en wat het hy gedoen?
2 In 32 G.J., na afloop van die huttefees, was daar nog net ses maande oor voor Jesus aan ’n folterpaal sou sterf. Om die predikingswerk te bespoedig, het Jesus 70 dissipels “twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom”. Hulle het uitgegaan met Jesus se woorde wat nog in hulle ore weerklink het: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur.”—Lukas 10:1, 2.
’n Groot oes word ingesamel
3. Beskryf sommige van die resultate van die verskerpte prediking gedurende die laaste paar maande van Jesus se bediening.
3 Wat was die gevolg van hierdie verskerpte prediking? Ons lees: “En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: “Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.” Wat ’n wonderlike vertoning van God se mag oor die demone! Jesus was beslis verheug oor so ’n uitstekende diensrapport, want hy het gesê: “Ek het die Satan soos ’n bliksem uit die hemel sien val” (Lukas 10:17, 18). Jesus het geweet dat Satan en sy demone uiteindelik, na die geboorte van die Messiaanse Koninkryk in die hemele, uit die hemel gewerp sou word. Maar terwyl Jesus nog op aarde was, was hierdie uitwerping van onsigbare demone deur blote mense vir hom ’n addisionele versekering van daardie komende, blye gebeurtenis. Daarom het Jesus van daardie toekomstige val van Satan uit die hemel as ’n sekerheid gepraat.—Openbaring 12:5, 7-10.
4. Wat was die doel van die oeswerk wat Jesus en sy dissipels voor 14 Nisan 33 G.J. gedoen het?
4 Die oes waarvan Jesus gepraat het, was nie ’n oes van graan of vrugte nie, maar ’n oes van mense, sagmoedige mense wat geredelik op die Koninkryksboodskap sou ag slaan. Die vrugte van hierdie oes het reeds sigbaar geword. Maar die oeswerk wat gedurende daardie paar oorblywende maande voor 14 Nisan 33 G.J. deur Jesus en sy volgelinge gedoen is, was bloot die aanvoorwerk vir ’n baie groter oes wat ná Jesus se dood en opstanding ingesamel sou word.—Vergelyk Psalm 126:1, 2, 5, 6.
5. Watter opwindende dinge het op Pinkster, 33 G.J., gebeur, en hoe is die oeswerk wat sou volg daardeur geraak?
5 Pinksterdag, 33 G.J., het nou aangebreek. Ongeveer 120 van Jesus se volgelinge het in Jerusalem byeengekom. “En daar kom skielik uit die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. . . . En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” Dit was die begin van ’n fenomenale oes! “Daar is op die dag omtrent drieduisend siele toegebring” (Handelinge 1:15; 2:1-4, 41). “Dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel . . . terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is” (Handelinge 2:46, 47). Later vind ons: “En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue.” Nog later: “Die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ’n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.”—Handelinge 5:14, 6:7.
6. Watter uitwerking het teenstand teen die predikingswerk op die Koninkryksoes gehad?
6 Teenstand teen die Koninkryksboodskap het nou fel geword. Het dit die oeswerk vertraag? Nee, want “die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig”. Filippus het na die stad Samaria gegaan; skares het gretig na hom geluister; duiwelbesetenes, verlamdes en kreupeles is almal genees. Geen wonder dat daar “groot blydskap in daardie stad” was nie.—Handelinge 8:1-8.
7. In watter mate is Jesus se bevel aan sy dissipels in Handelinge 1:8 uiteindelik uitgevoer?
7 Die verrese Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Weens die uitgestrektheid van die arbeidsveld was meer werkers nodig—dringend nodig! Wat ’n oes van dissipels is nie nou verwag nie! En dit was reeds besig om te gebeur—alles onder die leiding van God se heilige gees. Na die bekering van die moorddadige Saulus, word ons meegedeel: “Die gemeentes deur die hele Judea en Galilea en Samaria het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die HERE en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder” (Handelinge 9:31). Namate die insameling van sagmoedige mense vaart gekry het, het daardie vroeë dissipels seker gedurig teruggedink aan Jesus se woorde: “Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur.” Het Jehovah, “die Here van die oes”, daardie gebed verhoor? Hy het inderdaad! Hoe kon die volgende woorde andersins opgeteken gewees het: “Die hoop van die evangelie . . . wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel”?—Kolossense 1:23.
Vandag nog dringender
8. Waarom is die behoefte aan meer Koninkrykswerkers in die 1980’s groter as ooit tevore?
8 Vandag, in die 1980’s, is die behoefte aan meer arbeiders in die oes groter as ooit tevore. Waarom? Omdat die omvang van die wêreldveld baie groter is. Gevolglik is die oes wat ingesamel moet word veel groter. Dit klop met wat Jesus voorspel het. Hy het gesê dat sy volgelinge, wat die verkondiging van die goeie nuus betref, groter werke sou doen as wat hy op aarde gedoen het.—Johannes 14:12.
9.(a) Hoe is die dringendheid van die hedendaagse predikingswerk beklemtoon in ’n gesig wat Johannes in Openbaring 7:1-3 beskryf het? (b) Watter belangrike gevolgtrekking kan gemaak word uit die woorde in Openbaring 14:4 aangaande “eerstelinge vir God en die Lam”?
9 Die dringendheid van die hedendaagse predikingswerk blyk duidelik uit die dramatiese agtergrond van ’n gesig wat aan Johannes gegee is, soos opgeteken in Openbaring hoofstuk 7:1-3. Johannes het “vier engele op die vier hoeke van die aarde sien staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou”. Hoe lank gaan hulle nog daardie “vier winde” in toom hou? Net tot ‘die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël is’. Hoe lank sal dit duur? ’n Aanduiding word gegee deur die feit dat net 9 081 by die Gedenkmaal op 15 April 1984 bely het dat hulle lede van die 144 000 is. Die gesalfdes vandag is die laaste lede van die groep wat in Openbaring 14:4 beskryf word as “hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam”. Dit wil dus voorkom asof die meeste van die “eerstelinge” reeds ingesamel is. Maar beteken die woord “eerstelinge” dat daar ’n verdere oes is wat ingesamel moet word? Maar natuurlik! Dit word goed gesimboliseer deur die oorvloedige oes wat aan die einde van die Joodse landboujaar ten tye van die huttefees ingesamel is.—Deuteronomium 16:13-15.
10. Watter twee insamelings geskied in ons dag, en hoe onderstreep hierdie feit die dringende behoefte aan meer arbeiders in die oes?
10 Dit is dus duidelik dat, terwyl die insameling van die oorblyfsel van die gesalfdes ten einde geloop het, ’n ander oesinsameling sou begin. Word dit nie weerspieël deur wat Johannes vervolgens in die gesig gesien het nie? “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale.” Johannes is meegedeel: “Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom” (Openbaring 7:9, 14). Daar is net ’n kort tydjie oor om die insameling van die “groot menigte” af te handel. As daardie “vier winde van die aarde” eers losgelaat word, wat die begin van “die groot verdrukking” sal beteken, sal dit te laat wees! Kan jy nie die dringende behoefte sien aan meer arbeiders om die menigtes in te samel wat nog gevind moet word nie?
Duisende gee nou gehoor
11. (a) In watter mate neem Jesus se “ander skape” aan die oeswerk deel? (b) Waarop dui die opkoms by die Gedenkmaal van 1984?
11 Jesus het hierdie uitbreiding van sy insameling van “skape” voorspel toe hy gesê het: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Johannes 10:14, 16). Daar is reeds meer as 2 800 000 van hierdie “ander skape” wat hulle daadwerklik by daardie “een kudde” geskaar het. Van daardie getal is 179 421 gedurende die diensjaar 1984 gedoop! Tog was die opkoms by die Gedenkmaal 7 416 974. Wat sê dit vir ons? Dat daar baie ander is wat die Herder se stem gehoor het maar wat om die een of ander rede nog nie gehoor gegee het aan Jesus se hartlike uitnodiging: “Volg My” nie.—Lukas 5:27.
12. Watter belangrike vrae moet ons ons nou afvra?
12 Wat is jou posisie in hierdie lewensbelangrike oeswerk gedurende die ‘voleinding van hierdie wêreld’? (Mattheüs 13:39). Tel jy onder die gelukkige skare wat nou deel in die vreugde van die oes? Of is jy nog ’n toeskouer wat geneig is om terug te deins en nie openlik die Goeie Herder se uitnodiging, naamlik: “Volg My”, te aanvaar nie? Daar is sekerlik niemand wat vandag verskonings wil maak soos die drie manne in Lukas hoofstuk 9 wat in die vorige artikel bespreek is nie. Dink aan wat daardie drie manne verloor het—die vreugde van Koninkryksdiens, wat dalk die voorreg ingesluit het om sommige van duiwelbesetenheid te bevry!—Lukas 9:57-62; 10:17.
13. Waarom is geloof belangrik indien jy ’n gewillige arbeider in die oes wil wees?
13 Die apostel Paulus het gesê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6). 0 ja, dit verg beslis geloof om eiebelang te laat vaar en jou lewe vrywillig aan God toe te wy as ’n arbeider in die oes. Jy het moontlik ’n ernstige gesondheidsprobleem; miskien is sommige lede van jou gesin of familie heftig gekant teen Jehovah se Getuies; miskien dink jy dat jy te oud is om die nodige veranderings in jou lewe aan te bring; of jy kan voel dat jy nie die portuurdwang by die skool kan verduur nie. Wat ook al jou omstandighede, moet nooit vergeet dat Jehovah jou probleme beter verstaan as enigiemand anders nie. Hy is bowendien bereid om tot jou te nader en jou te ondersteun in jou besluit om hom te dien indien jy self sekere noodsaaklike stappe doen.—Psalm 103:13, 14; Jakobus 4:8.
Geloof versit ‘berge’
14. Verduidelik wat Jesus bedoel het met sy woorde in Mattheüs 17:20.
14 Jesus het gesê: “As julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” Dit was die ondervinding van baie van daardie honderdduisende wat gedurende die 1980’s gehoor gegee het aan die oproep om meer arbeiders in die oes. Met Jehovah se hulp het hulle persoonlike probleme en struikelblokke te bowe gekom wat eens vir hulle soos ‘berge’ gelyk het (Mattheüs 17:20; 19:26). Beskou die volgende ondervindinge:
15, 16. Beskryf hoe ’n jongman in die Verenigde State en ’n Katolieke man in Brasilië groot probleme te bowe gekom het sodat hulle gedoop kon word.
15 ’n Jongman in Kalifornië, V.S.A., was ’n polio-slagoffer, erg gestrem en heeltemal verwaarloos deur sy gesin. Toe het een van Jehovah se Getuies hom tydens sy besoeke van huis tot huis gevind. ’n Bybelstudie is begin. Maar hy was so skaam dat, toe die Getuie gekom het om die studie te hou, hy sy rolstoel in ’n hoek van die kamer getrek en met sy gesig na die muur gesit het sodat sy gesig nie gesien kon word nie. Dit het hierdie jongman maande geneem om sommige van sy probleme te bowe te kom. Maar hy het, en nou is hy ’n gelukkige, gedoopte Getuie.
16 ’n Katolieke egpaar in Brasilië was ontevrede met hulle godsdiens en het later die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Hulle het gevoel dat hulle geestelike behoefte nou bevredig word, maar daar was ’n berg van ’n probleem: die man, Antonio, was ’n kettingroker. Hy het meer as 48 jaar gerook, sedert hy sewe jaar oud was! Deur die jare het hy probeer om met die gewoonte te breek, maar sonder welslae. Maar hierdie keer was dit anders, soos Antonio vertel: “Nou het ek geleer dat ek sou móés ophou rook as ek God wou behaag en my wou toewy om sy wil te doen. Na baie gebede het ek uiteindelik daarin geslaag.” Hoe bly was hy tog nie om sy toewyding aan Jehovah deur waterdoop te simboliseer nie!—Psalm 66:19; Markus 11:24.
17.(a) Watter bose invloed wat Jesus en sy dissipels teëgekom het, is vandag sterker as ooit tevore? (b) Wat het Jesus en sy dissipels in die eerste eeu in verband met duiwelbesetenheid gedoen, en wat word vandag gedoen?
17 Duiwelbesetenheid onder Jode was ’n probleem wat Jesus en sy dissipels gedurig teëgekom het. Dieselfde bose invloede is vandag aan die werk, veral noudat Satan en sy demonmagte uit die hemel na die aarde neergewerp is (Openbaring 12:7-9, 12, 17). Anders as toe die ware Christelike geloof in sy beginstadium was, het Jehovah nie vandag aan sy volk die wonderdadige vermoë gegee om duiwels uit te dryf nie. Maar die geestelike wapenrusting waarmee hy Christene toegerus het, kan as beskerming teen demoninvloed dien, en dit kan ook gebruik word as ’n middel om ander van demonbeheer te bevry (Efesiërs 6:10-18). Die volgende berig kom uit Ghana: “Deur die doelgerigte pogings van die broers word baie mense van die invloed van die demone verlos.” Een Getuie het ’n vrou in die bediening ontmoet, en toe ’n Bybelbespreking begin is, het die vrou “aan die huil gegaan”. Wat was die moeilikheid? Die Getuie het vertel: “’n Gees het van haar besit geneem, en wanneer dit gebeur het, het dit haar laat huil, en as sy geld by haar gehad het, het dit verdwyn.’ ’n Gereelde Bybelstudie het haar gehelp om van hierdie demonteistering bevry te word, en sy het haar lewe aan Jehovah toegewy.—Johannes 8:32.
18. Watter ondervinding lig toe dat engele die predikingswerk daadwerklik rig?
18 Probleme soos die bogenoemde kan naderhand so onoorkoomlik word in ’n mens se verstand dat selfmoord na ’n uitweg kan lyk. Kyk na die geval van ’n jong vrou in Nieu-Seeland. Die Getuie wat haar aanvanklik besoek het, het opgemerk dat sy “emosioneel gespanne en duidelik ontsteld was oor iets”. Later het hierdie persoon erken dat “sy haar voorgeneem het om selfmoord te pleeg en besluit het om eers tot God te bid en hom te vra om haar te help”. Dit was toe dat die Getuie aan haar deur geklop het, en sy “het God werklik bedank dat hy haar gebed verhoor het”. Was dit blote toeval? Waarom gebeur sulke dinge dan so dikwels? Wat het Jesus gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei.” (Mattheüs 25:31, 32; kyk ook Openbaring 14:6.) Die engele help Jesus met die herderswerk, en hulle lei die Here se “medewerkers” na almal wat Hom om hulp roep.—1 Korinthiërs 3:6, 9; kyk Handelinge 8:26-39; 16:9, 10.
19. Watter wêreldwye situasie bestaan vandag, en watter optrede verg dit van ons kant?
19 Waar ons ook al woon, daar is vandag duisende mense wat swaar gebuk gaan onder die einste probleme wat talle van Jehovah se volk reeds te bowe gekom het. Sommige van hulle woon dalk reg langs jou! Hulle het dringend hulp nodig. Dit is waarlik soos Jesus gesê het: “Die oes is wel groot.” Ons bid die Here van die oes om nou gedurende die jaar 1986 meer arbeiders in sy oes uit te stuur. Mag jou hart jou beweeg om gehoor te gee aan die oproep: Dringend nodig—meer arbeiders in die oes!
Hersieningsvrae
◻ Wie is die Here van die oes?
◻ Watter twee oeste is in ons dag ingesamel?
◻ Wat is die groter werke wat Jesus gesê het sy volgelinge sou doen?
◻ Waarom het alle arbeiders in die oes geloof nodig?